Onderhoudend: Alettie van den Heever

  • 0


Heinrich Ohlhoff stel vrae aan Alettie van den Heever oor haar artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Die laaste avontuur? ’n Bespreking van die Woeste Land-tema in Queste del Saint Graal.



Die onderrig en studie van die Middelnederlandse letterkunde het die afgelope jare in Suid-Afrika ongelukkig minder aandag begin kry. Waar het jou belangstelling in hierdie studieterrein begin?

Ek het in 2009 vir ’n semester lank aan die Vrije Universiteit van Amsterdam studeer. Een van my kursusse, aangebied deur Roel Zemel, het gehandel oor die misterie van die graal in die Middelnederlandse letterkunde. Dit was my eerste blootstelling aan die Middelnederlandse Artur-romans en ek het dit baie boeiend gevind.

Die Lancelotcompilatie is, wat sy aard en samestelling betref, in Suid-Afrika waarskynlik minder bekend as sekere ander Middelnederlandse tekste. Was dit Zemel se navorsing wat jou na die onderwerp gelei het en watter bydrae lewer dié navorsing tot die vakgebied?

My navorsing was in baie opsigte ’n voortsetting van Zemel s’n. As deel van die kursus oor die graal in die Middelnederlandse letterkunde het ek sy artikel oor die Woeste Land-tema in die eerste twee graalromans van die Lancelotcompilatie, sowel as The Quest of the Holy Grail / Queeste vanden Grale gelees. My opstel vir die kursus was ’n verkorte weergawe van die artikel soos dit op LitNet verskyn. Zemel het waardevolle kommentaar op my opstel gelewer en my ook aangemoedig om dit na ’n artikel te verwerk.

Die navorsing wys hoe ’n vergelykende studie van verskillende vertalings/verwerkings van ’n ridderroman tot ons verstaan van die spesifieke roman kan bydra. Dit is jammer dat ek van ’n Engelse vertaling van Queste del Saint Graal gebruik moes maak, maar dit gee wel ’n idee van die moontlikhede.

Jy konsentreer op die graalmotief en die voortlewe daarvan (en die Artur-roman) ten spyte van die doel van die Queste se skrywer. Jy raak ook aan die “Waste Land”- tema by TS Eliot. In watter mate sou navorsing oor die aard en funksie van hierdie kwessie sedert die Middeleeue ook insiggewende resultate kon oplewer?

Die wyse waarop die Woeste Land in Middelnederlandse graalromans ingekleur word, openbaar boekdele oor die tydsgees, die agenda van die skrywer/opdraggewer en die kwessies wat as belangrik beskou is. Wanneer ’n mens kyk na die Woeste Land waarin die graal in twee eietydse films, Monty Python and the Holy Grail en Indiana Jones and the Last Crusade, gesoek word, dan besef ’n mens weer eens hoe hierdie “Woeste Land” soms meer veelseggend is as die storiegegewe rondom die graal. So ’n studie sou dus, indien ’n mens dit goed en sinvol afbaken, baie insiggewende resultate kon oplewer.

Jy toon wysigings/aksentverskille aan tussen die oorspronklike Franse teks en die latere vertalings/verwerkings, maar gaan uiteraard nie in op die moontlike redes daarvoor nie (behalwe die kort verwysing na Van Oostrom). Sou jy ’n bietjie daaroor kon uitwei?

Janssens (1985)1 wys daarop dat die vertaler van Queeste vanden Grale moontlik nie die geestelike dimensie van die oorspronklike Queste del Saint Graal verstaan het nie. In die lig van die feit dat Queeste vanden Grale slegs die vierde van tien romans in die Lancelotcompilatie is, maak dit ook sin dat die geestelike dimensie aspris misgelees is. In Queste del Saint Graal word die “aardse” ridders immers veroordeel vir hulle onvermoë om hulle tot die geestelike ridderskap te bekeer. Verder word hulle met ’n avontuurlose soektog gestraf. Aangesien die hoofse ridders se avonture in die res van die Lancelotcompilatie moet voortgaan, is dit verstaanbaar dat die vertaler – ter wille van die samehang van die samestelling – die geestelike dimensie sou wou vervlak.

Soos Van Oostrom aandui, kan van die wysigings en aksentverskille ook aan politieke  redes toegeskryf word.      

Een manier om tekste uit ouer letterkundes te aktualiseer is om hulle deur nuwer teoretiese “brille” te lees. Watter bydrae sou die lees van die riddertekste in die Lancelotcompilatie met inagname van nuwe insigte in byvoorbeeld ruimtelikheid en liminaliteit kon lewer?

Dit is interessant dat die Artur-romans reeds in die proloog tot Chanson des Saxons (ca 1200) deur Jehan Bodel gekritiseer word as “in hoge mate fictief en zonder diepgang” (in Janssens 1985:19). Die vooroordeel teenoor sogenaamde genrefiksie (wat ook in Queste del Saint Graal na vore kom) is dus reeds hier sigbaar. Die tendens om nuwer teoretiese “brille” te gebruik om nou ook na genrefiksie te kyk, sou met vrug uitgebrei kon word om die Lancelotcompilatie te lees. Die wyse waarop idees rondom utopie/distopie/heterotopie deesdae toegepas word, sou interessante perspektiewe op die ridderteks kon bied. ’n Studie van die uitbeelding van vroue, die hermietfiguur en ander randfigure bied ook moontlikhede.

 

Eindnota 

1 Janssens, JD. 1985. Koning Artur in de Nederlanden: Middelnederlandse Artur- en Graalromans ingeleid en geannoteerd door JD Janssens. Utrecht: Hes Uitgevers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top