Om handskoene van onkunde te vervang
Twee nuusgebeure wat op direkte en indirekte wyse betrekking het op Suid-Afrikaanse skoolkinders se afgryslike swak vertoning in wiskunde en wetenskap, het my oog die afgelope vakansieseisoen gevang. Die een is die wyse waarop onderwysowerhede en die regering die power vaardighede van kinders in dié onontbeerlike vakke vir ’n ontluikende ekonomie wegpraat met allerhande verskonings wat geen verband hou met wat in ouerhuise en skole aangaan nie.
Tweedens het ’n fundamentele vraag oor hoe sag die handskoene moet wees waarmee vertroue in wonderwerke en die invloed en inmenging van religieuse praktyke op skoolprestasie in wiskunde en wetenskap beveg moet word, ter sprake gekom tydens ’n meningsverskil tussen twee wetenskaplikes van internasionale statuur. Peter Higgs, vader van die Higgs-boson-teorie, het Richard Dawkins, die voorste wetenskaplike kampvegter teen bygeloof en onsin, aangespreek oor sy kritiek teen religie en die dikwels buitengewone invloed wat dit op mense se denke het. Volgens Higgs is Dawkins te skerp uitgesproke krities oor religie en glo hy dit is teenproduktief. (Terloops, Higgs erken hy is self ongelowig.)
Die Higgs-boson het verlede jaar groot nuus gemaak toe wetenskaplikes by die Groot Hadron Versneller buite Genève in Switserland bekend gemaak het hulle het waarskynlik Higgs se byna vier dekades-oue teorie oor die ontstaan van die heelal as korrek bewys en dat ons nou die eerste keer behoorlik verklarings kan vind vir die ontwikkeling van materie. Weens ’n ongelukkige uitspraak deur die fisikus en Nobelpryswenner Leon Lederman wat die Higgs-boson as die God-partikel beskryf het, as sou dit ons die gedagtes van God kon laat lees tydens die skepping, het die Higgs-boson om al die verkeerde redes die nuus gehaal. ’n Oorwegend wetenskaplik ongeletterde falanks van redakteurs en joernaliste het plaaslik en oorsee weer eens in hul rapportering oor die ontdekking van die Higgs-boson bewys hoe swak die begrip van wetenskap in die media is.
Te midde van die glanspersoonlikheidskultuur van plaaslike tydskrifskouspele, die voortdurende aandag wat gegee word aan die menings van sieners, astrologiese voorspellings en ander abrakadabra-mymeraars, en die skrapping laat in 2012 deur Die Burger van “Wetenskap Vandag” – die enigste wetenskaprubriek in enige Suid-Afrikaanse media-instelling wat byna twaalf jaar lank lesers op hoogte gehou het van wetenskaplike ontwikkelings – stap die land se kinders voort op die toenemend uitdagende tegnologies- en wetenskapgeoriënteerde pad van die 21ste eeu met geen benul van hoe die heelal en die Aarde en lewe daarop werk nie. (Dat die media in Suid-Afrika plek het vir gereelde sport-, politieke, ekonomiese, kuns- en leefstylrubrieke, maar nie vir wetenskap in dieselfde formaat voorsiening maak nie, is nie net skandelik nie, maar vertel ’n eiesoortige verhaal van argeloosheid en sosiale onverantwoordelikheid.)
Was Higgs reg om Dawkins so skerp te kritiseer oor sy teenstand, dikwels hewig, teen die invloede wat bygeloof en wensdenkery op ons begrip van die werklikheid het? Dawkins, voormalige professor in die openbare begrip van die wetenskap aan die Universiteit van Oxford, het sedert die 1990’s die mantel van Darwin se bulhond by Thomas Henry Huxley in die bestryding van menslike bygeloof oorgeneem. Hier plaaslik het die vasklou aan die vrese wat ons vaders – in ouerlike, onderwys-, religieuse en mediagedaante – egter steeds hoogs suksesvol in generasies van Suid-Afrikaanse kinders se koppe ingeprent gebly.
Ek kan om verskillende redes nie met Higgs saamstem oor sy kritiek op Dawkins nie:
Jy bestry nie bygeloof deur saam met die aanhangers van astrologiese voorspellings in die bed te klim nie.
Jy beskerm nie onskuldige skoolmeisies wat veg vir die regte van hul geslag om skool te gaan en loopbaangerigte opleiding te ondergaan, teen die koeëls en pangas van frenetiese en bygelowige Middeleeuse mans deur hulle na “vriendeliker en meer verdraagsame” omgewings te verwyder nie – want wat word dan van die vrouens en skoolmeisies wat agterbly in Pakistan en Afganistan? En van hulle wat op soortgelyke wyse in Saudi-Arabië en ander Midde-Oosterse lande – en ook op ander wyses in Afrika en in Westerse lande – stry teen geslagsdiskriminasie wat gegrond is op tradisie en geloofsoortuigings?
Jy maak nie die invloed van sjamane en sogenaamde nostradamies-siener-van-rensburgiaanse filosowe wat die toekoms en die verlede kwansuis kan voorspel en verklaar ongedaan deur aan kinders en mediaverbruikers te vertel hierdie sogenaamde wysgere het die waarheid in pag nie.
Jy verwater nie kinders se kosbare tyd om opleiding in wiskunde en wetenskap tydens skoolure te ontvang deur hulle aan gebedsessies bloot te stel wat geen snars verband hou met die werklikheid wat die wetenskap en wiskunde deur middel van waarneming, eksperimentering en bewyse probeer verklaar nie.
Jy kweek nie ’n denkkultuur by kinders deur die aanvaarbaarheid by hulle in te hamer en te verkondig dat dit wat jy nie nóú kan verstaan en verklaar nie, aan een of ander vreemde raaisel van een of ander onbewese godheid se raadsplan toegeskryf moet word nie.
Jy kweek nie ’n kultuur van nuuskierigheid en belangstelling in wetenskaplike ontdekkings en wiskundige verklarings deur te ontsnap na ’n benadering waarin moeilike vrae wat gestel word, liefs vermy en selfs onderdruk moet word nie.
Jy skep nie mededingende burgers deur kinders gevange te hou in die gedagtestrominge van argaïese boeke terwyl jy hulle ook en veral behoort bloot te stel aan Darwin se The origin of species en byvoorbeeld Simon Singh se Big bang en Dawkins se The magic of reality nie.

Jy skep nie ’n wen-nasie deur onkundige en onopgeleide en bygelowige onderwysers voor klasse in lewenswetenskappe te laat staan en evolusie as “net ’n teorie” te beskryf in plaas van ’n wetenskaplike feit nie – en dan sommer willens en wetens sommer evolusie uit die sillabus te haal wanneer jy as skoolhoof of onderwyser nie daarmee saamstem nie (al verraai dit jou totale onkunde oor wat ’n wetenskaplike teorie is). Opsommend: jy sluit nie kompromieë met mense wat liewer glo in wensdenkery as bewyse nie.
Ek het in 2011 in ’n resensie in Beeld, Die Burger en Volksblad oor Hans Pietersen se uitstekende – en ongelukkig te min gelese boek juis deur die mense op wie dit gerig is – Die vrese van ons vaders: Geloof, onderrig en die Afrikanerkind (Griffel Media, 2011) verwys na twintigjaaroue navorsing deur prof Anastassios Pouris, direkteur van die Instituut vir Tegnologiese Innovasie aan die Universiteit van Pretoria, oor die wetenskapgeletterdheid van Suid-Afrikaners. In twee studies wat in 1991 en 1993 in die South African Journal of Science verskyn, bevind Pouris 32% van die land se inwoners glo astrologie is “baie wetenskaplik”, met ’n verdere 31% wat glo dis “soort van wetenskaplik”. In ’n verdere vraag trek 54% die stelling dat die menslike spesie uit vroeëre spesies ontwikkel het, in twyfel.
In my resensie het ek opgemerk dat “grootmense so totaal en skrikwekkend oningelig is, is erg genoeg maar toe Pouris sy studie uitbrei na ’n ondersoek onder 400 wit en 400 swart tieners tussen die ouderdomme 13 en 20, is die resultate ewe ontstellend: By nie een van die etniese groepe het ’n meerderheid van meer as 50% geglo dat die mens uit vroeëre spesies ontwikkel het nie. In die lig van Pietersen se boek, is dit selfs meer insiggewend dat Afrikaanse kinders die onkundigste van al die etniese groepe was oor die waarheid van wetenskaplike bevindings: net 29% het geglo bogenoemde stelling is waar, maar die syfers vir ander groepe onder tieners was nie veel beter nie – Engels (39%), Sotho (48%), Zoeloe (38%), Tswana (43%) en Xhosa (48%).”
Hoe geldig is Pouris se bevindings vandag? Ek het geen twyfel nie min het verander die afgelope twintig jaar nie. Dink maar aan die onverkwiklike debat onder Afrikaanssprekendes wat in 2009 plaasgevind het toe “die steeds alomteenwoordigheid van onwettige godsdiensindoktrinasie van kinders in veral Afrikaanse staatskole voorbladnuus was. Ek was deel van die groep wat hierteen beswaar gemaak het, maar het weens ’n onverkwiklike veldtog van beledigings en viktimisasie – ook deur ’n bekende Afrikaanse koerantredakteur wat kant gekies het vir die oningeligtes – onttrek aan ’n veldtog wat deur Pietersen verder gevoer is om skoolhoofde en onderwysers wat die skolewet bly oortree aan die kaak te stel, het ek toe in my resensie geskryf.
As Desember 2012 se bekendmaking van Suid-Afrika se graad nege-leerders se beroerde wiskunde en wetenskapvaardighede in vergelyking met ander lande as maatstaf geneem word, word Pietersen se boek ’n selfs baie groter waarskuwing – ’n dringende “wekroep tot Afrikaanse ouers, skoolhoofde en onderwysers dat onkunde van die omvang wat Pouris se studies aangetoon het, tot ernstige nadeel van die ontwikkeling van kinders is wat in ’n wetenskaplike en tegnologiese eeu hul weg moet vind”.
As Pietersen se boek nie in 2011 op elke Afrikaanse skoolhoof en wetenskaponderwyser se leeslys was nie omdat hulle hul ore liewer wou sluit en wou bly glo in blote wensdenkery en die wetenskap steeds eenkant bly skuif het, wys die 2012-resultate dat ’n drastiese kopskuif in skole, maar ook in ouerhuise nou behoort plaas te vind – en dat Pietersen se Vrese van ons vaders in 2013 dringend gelees behoort te word. Dit help nie AfriForum en Solidariteit en ander “Afri-bendes”, soos Pietersen hierdie soort Afrikaanse druk- en belangegroepe tereg gedoop het, skep Afrikaanse akademies en ander instellings waarin dieselfde ou wensdenkery maar net weer opnuut in ’n ander gewaad geklee word omdat beswaar teen die huidige onderwysbestel gemaak word nie.
Dít bly steeds die soort psigiese koppesnellery wie se bedenklike invloed die Dan Roodts, Steve Hofmeyrs, Pieter Mulders, die Sofars en die Abel Malans op die Afrikaanse denkwêreld en Afrikaanse kinders loslaat en wat die Jan-Jan Jouberts, Amanda Gouwse, Adriaan Bassons, Lizette Rabes, Dave Peplers, Anton van Niekerks en Antjie Krogs met vuis, spoeg of heilig-geseënde woord bydam.
Onlangse sensussyfers in Wallis en Engeland toon dat een in vier lede van die bevolking in daardie lande nie meer in ’n skeppende godheid glo nie, ’n skerp styging sedert die vorige sensus toe die persentasie net meer as 14 persent was. Dit wys dat dit nie meer ’n skande is om ongelowig te wees nie en dat mense nie meer beangs is om as agnostikus of ateïs “gebrandmerk” te word nie. Dr Jurie van den Heever, die Stellenbosse paleontoloog en ghoeroe van Karoo-fossiele, wys juis in sy voorwoord tot Pietersen se boek dat hierdie reg ook in skole erken moet begin word:
“Die staatskool is … nie meer die plek waar enige godsdiens voorkeurbehandeling mag kry nie. Om dit te ignoreer is ’n oortreding en dié vergryp vorm ’n belangrike deel van hierdie boek. Ons huidige grondwet bied godsdiensvryheid aan alle Suid-Afrikaners. Dit beteken nie net dat jy ongestoord in die god van jou keuse kan glo nie en dit beteken ook dat jy nie in ’n god hoef te glo nie. Om nie-godsdienstig te wees, is ’n keuse wat ewe veel respek verdien as om een of ander god te aanbid.”
Voor ons nie hierdie ingesteldheid in skoolklaskamers en ouerhuise, maar ook in die media in 2013 begin volg nie, sal ons kinders se vermoë om wiskunde en wetenskap op aanvaarbare internasionale vlak te kan bemeester steeds agterweë bly. Om Suid-Afrika mededingend as ingenieurs- en wetenskapsland te laat presteer, behoort die feit dat die land vier Nobelpryswenners vir vrede en twee in letterkunde opgelewer het, maar ’n skamele een – Max Theiler – in drie wetenskapkategorieë die afgelope 112 jaar (en dit solank as 62 jaar gelede), genoeg waarskuwingsligte oor dié donker suiderland te laat aangaan. Sagte handskoene om bygeloof te beveg, het duidelik nie gewerk nie. Is dit nie tyd om wensdenkery te bestry deur die handskoene te vervang met wapens van wetenskaplike en wiskundige kundigheid wat onkunde doeltreffend ’n uitklophou kan toedien nie?
George Claassen is die skrywer van Geloof, bygeloof en ander wensdenkery (Protea Boekhuis) en medesamesteller met Frits Gaum van God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg-uitgewers).
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter