Nuwe Stories 3: Onderhoud met Tanya van Buuren

  • 0
Tanya van Buuren

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Draalnoot vir ’n Janfiskaal by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

Die afgelope ruk dink ek besonder baie aan rasseverhoudings in Suid-Afrika en ek wou graag ’n storie skryf oor hoe ’n wit man wat hom as ’n geharde rassis voordoen, voel wanneer hy per ongeluk verantwoordelik is vir die dood van ’n swart vrou en haar baba.

Posttraumatiese stresversteuring is ook vir my ’n interessante onderwerp en deur die jare heen het ’n paar mense wat ek ken, selfmoord gepleeg. Ek dink ek wou doelbewus al hierdie dinge uit my onderbewussyn dwing met die skryf van “Ontspoor”.

Ek het ook die boek 625 things to write about by ’n vriend present gekry en een van die sinne daarin het vir my die idee gegee om ’n selfoon by die storie in te bring.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Ek het verlede jaar ’n verhaal met die naam “’n Happy ending” in Nuwe Stories 2 gehad en toe het ek die kritiek baie meer persoonlik opgeneem.

Hierdie jaar het ek net ge-“go with the flow” en ek dink die eindproduk in beide bundels is baie beter as my oorspronklike verhale. Ek het dit laas keer ook besef, maar hierdie keer het ek vinniger aanvaar die keurders weet wat hulle doen!

Ek het ook hierdie keer ’n oud-polisieman geraadpleeg vir raad omtrent my verhaal. Hy is ’n kenner op posttraumatiese stresversteuring en ek dink hy het baie geloofwaardigheid aan “Ontspoor” verleen.

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Ek beplan gewoonlik my verhale rondom ’n slotsin so dit is altyd vir my ’n groot gesukkel om dan die hele storie rondom ’n enkele sin te bou.

Verhaalelemente soos karakters, gebeure, vertelperspektief, tydsverloop en dialoog is ook uitdagend, want dit kan baie tegnies raak.

As iets vir my sin maak in my kop, dan aanvaar ek sommer dit moet vir almal anders óók sin maak, maar skryf werk ongelukkig nie so nie!

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

“Ontspoor” bevat beslis elemente uit my onmiddellike omgewing en waarnemings en my verhaal speel in Kaapstad af omdat ek die fisieke milieu hier goed ken en verstaan. Maar dan moet ek ook bysê dat my verbeelding waarskynlik verantwoordelik is vir die meeste van “Ontspoor”.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

“I have loved the stars too fondly to be fearful of the night” – deur die digter Sarah Williams.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

50 Shades of Grey, want dan was ek nou skatryk!

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek het pas begin met Draalnoot vir ’n Janfiskaal deur Henry Cloete en ek dink dit is die antwoord op beide vrae! Wat humor aanbetref, was ek mal oor Een stad, drie rooikoppe, sewe dae deur die Radloff-susters en gaan dit bevooroordeeld klink as ek sê my ma se boek Plaasmoorde – slagoffers vertel self?

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek sal graag my rubrieke in boekvorm wil sien. Ek kom agter dit is vir my baie makliker om humoristies te skryf, hoewel ek voel my ernstiger skryfwerk is meer betekenisvol. Dan wil ek ook graag probeer om ’n ordentlike gedig te skryf, want al wat ek op die oomblik kan doen is paarrym.

 

Lees die tweede weergawe van "Ontspoor"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top