NG Kerk se Belhar-plan kerkregtelik onhoudbaar

  • 11

Duisende lidmate van die NG Kerk is landswyd besig om hulle stemme uit te bring vir of teen die insluiting van die Belydenis van Belhar as deel van die kerk se geloofsbelydenis. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) waar dié belydenis sy ontstaan in die tagtigerjare gehad het, hou die stemmery met belangstelling van die kantlyn dop. Jean Oosthuizen het met die VGKSA se moderator, Mary-Anne Plaatjies van Huffel, gesels om uit te vind wat dink sy en haar kerk daarvan. Sy verduidelik onder meer waarom die NG Kerk se voorstel volgens die VGKSA nie kerkregtelik houdbaar is nie.

Mary-Anne Plaatjies
van Huffel
Jean Oosthuizen

Baie mense in die NG Kerk sien rooi as hulle die woord Belhar hoor. Sommige sê dit is niks anders as ’n politieke dokument om blanke lidmate van die NG Kerk in ’n permanente staat van beskuldiging te hou nie. Jou kommentaar?

Die Belhar-belydenis is ontvang in ’n spesifieke historiese konteks, naamlik die teologiese regverdiging van apartheid. Dit kan nooit van die besonderse historiese agtergrond waarteen die belydenis ontwikkel het, ontsnap nie.

Ook die Heidelbergse Kategismus (HK), die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en die Dordtse Leerreëls het in ’n spesifieke historiese agtergrond ontwikkel. Tog bely gereformeerdes die inhoud daarvan wêreldwyd omdat hulle dit in ooreenstemming met die Woord van God beskou en van die voorveronderstelling uitgaan dat dit tot vandag toe tot hul konteks spreek.

Ons moet verstaan dat belydenisdokumente ’n poging van gereformeerde kerke wêreldwyd is om uitdrukking aan hulle eie verstaan van die evangelie vir hulle spesifieke tyd en omstandighede te gee. Die Barmen Teologiese Verklaring is ook gebore tydens intense konflik binne die kerk en staat in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Gedurende Augustus 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) in Ottawa onomwonde ’n status confessionis (’n staat van belydenis) afgekondig en verklaar dat die apartheidsituasie in Suid-Afrika en die teologiese en morele regverdiging van apartheid sonde is.

Gevolglik is beide die NG Kerk (NGK) en die Hervormde Kerk (NHKA) se lidmaatskap by die WBGK opgehef. Dit wil sê ook die ekumene het in die sterkste taal denkbaar die teologiese en morele regverdiging van apartheid afgewys. Enkele maande later het die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) in Oktober 1982 die WBGK daarin gevolg deur ’n status confessionis af te kondig en ’n soortgelyke verklaring met betrekking tot die afwys van die teologiese regverdiging van apartheid te maak.

Wat presies word bedoel met status confessionis?

Met status confessionis word bedoel dat ’n groep Christene, ’n kerk of ’n groep kerke oordeel dat ’n situasie ontstaan het waar die evangelie self op die spel is, sodat hulle nie anders kan as om verplig te voel om te bely en te handel teenoor die situasie nie. In so ’n situasie het die NGSK hom in 1982 bevind. Ter wille van die evangelie kon die NGSK nie langer durf swyg nie, aangesien die waarheid van die evangelie self op die spel was, en het gevolglik ’n staat van belydenis uitgeroep en die ekumeniese kerk was dit eens. Hierdie historiese agtergrond van die Belhar-belydenis kan nie weggewens of gedink of gerasionaliseer of a-histories mee omgegaan word nie, hoe graag sommige ook sou wou.

Die woord "apartheid" kom nêrens in die Belhar-belydenis voor nie maar het volgens jou verduideliking wel sy ontstaan gehad as ’n uitroep teen die onreg van apartheid. Maar het dit nog enige relevansie in ’n na-apartheidsera?

Kerke dwarsoor die wêreld wat niks met apartheid of die teologiese en morele regverdiging van apartheid te doen gehad het nie, het die Belhar-belydenis aanvaar of is besig met ’n kerkregtelike proses om dit in hul belydenisgrondslag op te neem. Die Verenigde Protestantse Kerk in België (VPKB) en die Reformed Church in America (RCA) het dit reeds aanvaar, terwyl die Presbiteriaanse Kerk in die VSA (PCUSA) tans besig is om vir ’n tweede ronde te poog om dit in hul belydenisgrondslag in te sluit.

Waarom wil buitelandse kerke wat nie deel van apartheid was nie, die Belydenis van Belhar deel maak van hulle geloofsbelydenis?

Al die kerke was op een of ander manier besig om die problematiek van die dag, byvoorbeeld rassisme, uitsluiting van die ander in kerk en samelewing, eenheid, versoening, geregtigheid, aan te spreek. Hul het egter verkies om nie ’n nuwe belydenis te skryf nie, maar eerder wêreldwyd te kyk watter belydenisse alreeds ontstaan het en het in die proses die Belydenis van Belhar gevind. Die Belydenis van Belhar is nie slegs beperk tot die Suid-Afrikaanse konteks nie. Dit roep inderdaad die kerk wêreldwyd op om alle vorme van ongeregtigheid af te weer.

Daarom is dit in 2004 as basisdokument gebruik vir die opstel van die ACCRA-belydenis, wat deur die WBGK opgestel was, en uiteraard ekonomiese onreg aanspreek. Die sentrale temas van die Belydenis van Belhar naamlik eenheid, geregtigheid en versoening vind wêreldwyd aanklank by gereformeerde Christene.

Dit kan ook gebruik word in die aanspreek van die problematiek in Suid-Afrika  na apartheid, byvoorbeeld die uitsluiting van die ander op grond van ras, taal, kultuur, geslag, onversoendheid, ongeregtigheid, ekonomiese onreg, korrupsie, ensovoorts.

Sê jy selfs blankes wat deel was van apartheid kan vandag identifiseer met die inhoud van die Belhar-belydenis?

’n Belydenis is nooit gemik op ’n spesifieke ras of taal of kultuurgroep of tydsperiode nie – ’n belydenis transendeer immers tyd en spreek tot ander kontekste. 

Die drie pilare waarop die Belhar-belydenis staan, is eenheid, geregtigheid en versoening. Sommige NG-lidmate meen die VGKSA se aandrang dat ’n omstrede belydenis soos dié deel moet wees van ’n herenigde kerk, belemmer juis eenheid en versoening.

Die VGKSA stel die Bybelse eis van eenheid in die Belydenis van Belhar duidelik, naamlik dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus gawe én opdrag is. Dit behoort as ’n werklikheid nagejaag en gesoek te word en is iets waartoe die volk van God voortdurend opgeroep behoort te word. Die Belydenis van Belhar daag elke kerk wat dit wil aanvaar, uit met betrekking tot hulle teologiese voorveronderstellings insake eenheid, geregtigheid en versoening.

Tipies Barthiaans is die VGKSA van mening dat belydenisse ’n keuse en ’n aksie is. Volgens Barth eis belydenis ’n ja of ’n nee. Dit is dus ’n keuse wat ’n kerk moet uitoefen ...  of instemmend of afwysend.

Die NG Kerk is besig met ’n ingewikkelde stemproses om die Belhar-belydenis deel te maak van hulle belydenisgrondslag. Sommige pro-Belhar-lidmate in die NG Kerk stem teen die voorgestelde wysiging. maar nie omdat hulle teen die Belhar-belydenis is nie. Hulle sê dit maak van Belhar ’n mindere belydenis omdat dit “opsioneel” is en nie op gelyke voet met die ander drie belydenisskrifte staan nie. Hoe voel die VGKSA se lidmate daaroor dat die NG Kerk ’n onderskeid tref tussen Belhar en die res van die belydenisskrifte?

Die besluit van die NGK is in detail op die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) 2013 in Durban bespreek. Die ASK het sy kerkregtelike standpunt ten opsigte van die NGK se besluit tydens hulle algemene sinode in 2013 duidelik gestel. Kritiese stemme het in die VGKSA met betrekking tot die formulering van die NGK opgeklink. Die VGKSA se Algemene Sinodale Kommissie in 2013 het onder andere die NGK se reg om sy eie konfessionele basis te formuleer, erken. Die VGKSA maak dus ’n onderskeid tussen belydenisformasie van kerke wêreldwyd, die NGK ingeslote, en die belydenisformasie van die herenigde kerk.

Net soos aan kerke wêreldwyd speel die VGKSA bloot ’n adviserende rol met betrekking tot die opneem van die Belhar Belydenis in die belydenisgrondslag van ’n kerk. Die uiteindelike besluitneming met betrekking belydenisformasie berus uitsluitlik by die besonderse kerk. Die VGKSA het dit duidelik gemaak dat ons die huidige formulering van die NG Kerk se voorgestelde wysiging van die belydenisgrondslag van die NGK nie as aanneemlik beskou vir die belydenisgrondslag van die herenigde kerk nie. Die VGKSA het dit herbevestig, soos konsekwent die afgelope 20 jaar, dat die Belhar-belydenis met dieselfde gesag as die ander belydenisskrifte in die belydenisgrondslag van die herenigde kerk opgeneem behoort te word.

Hoe kerkregtelik houdbaar is dit om twee uitlopende standpunte met betrekking tot die onderskrywing van belydenis in ’n kerkorde te probeer ondervang soos wat die NG Kerk nou probeer doen?

Die VGKSA is van mening dat dit nie kerkregtelik houdbaar is dat sommige woordbedienaars dié belydenisdokumente onderteken, terwyl ander toegelaat word om dit nie te onderteken nie. Vir gereformeerdes lê die eenheid van die kerk immers in hul gemeenskaplike belydenis. Die plaaslike gemeentes word volgens Rutgers en De Savornin Lohman (1886:18), alhoewel selfstandig, deur gemeenskaplike belydenis in onderlinge verband met mekaar verbind.

Beteken dit die hele kwessie van Belhar se status as belydenisskrif sal weer van voor af op die tafel wees wanneer daar uiteindelik oor hereniging van die NG Kerkfamilie gepraat word?

Ja, definitief. Dis nie moontlik om van kerkhereniging te praat sonder om die Belhar-belydenis vierkantig in die gesprek te plaas nie.

Maar sal dit nie beter wees om saam met die ander kerke in die NG Kerkfamilie ’n nuwe eietydse belydenis op te stel as die Belhar-belydenis dan soveel verdeeldheid bring nie?

Dit sou ’n pragmatiese oplossing wees, maar dis egter nie hoe belydenisse werk nie. Die VGKSA erken dat die proses van gereformeerde belydenisvorming nooit afgehandel is nie. Nuwe belydenis en nuwe belydenisskrifte mag altyd weer nodig word. Nié omdat die bestaande belydenisse vals is nie, maar omdat die Woord van God in nuwe omstandighede ons kan lei tot verdere belydenisvorming.

Die VGKSA is egter ook van mening belydenisse is nie net blote verklarings, deklarasies, sinodale besluite, blote menings, ’n eie perspektief van die betrokke kerk, groep gelowiges of gemeentes wat sus of só bely nie. Laasgemeldes kan enige kerklike vergadering te eniger tyd neem en/of opstel.

Belydenisse daarenteen is, soos Barth tereg opgemerk het, veel eerder ’n openbare belydenis, ’n openbare getuienis van wat kerke en gelowiges glo aangaande die waarheid van die evangelie. Die vraag is dus nie of ons ’n eietydse belydenis moet opstel nie, maar eerder moet ons vra watter waarheid van die evangelie op die spel is waaroor ons ons in belydenistaal behoort uit te druk.

Wat die VGKSA betref het julle nog altyd konsekwent gesê die Belydenis van Belhar behoort presies net soos die ander drie formuliere van eenheid behandel te word en sonder dwang. Is dit korrek?

Inderdaad is dit so.

Presies wat beteken dit as jy sê sonder dwang? Is nie maar dieselfde as wat die NG Kerk nou met Belhar doen nie?

Koop Church Dogmatics III deel 4 by Kalahari.com

Daar is ’n betekenisverskil. Die twee standpunte waarna hier gewoonlik verwys word is die quia- (Latyn vir omdat) en quatenus- (Latyn vir in soverre) standpunte met betrekking tot die onderskrywing van die belydenisse. Die VGKSA werk met die voorveronderstelling dat belydenisse ’n vrye aksie is.

Dit is ’n respons op ’n Bybelse opdrag, maar rus uiteraard op ’n vrye keuse en word ten nouste verbind met God se vrye genade. Die Gees waai immers waar Sy wil. Soos Barth tereg in sy Kerklike Dogmatiek (Church Dogmatics III deel 4) opgemerk het, kan niemand gedwing of geforseer word om dit of dat te bely nie.

Veel eerder word die dwang om te bely deur God self opgelê. Die VGKSA kan dus niemand dwing om te bely nie. Die VGKSA se standpunt is dat alle Gereformeerde belydenisskrifte altyd in beginsel onderworpe is aan die enigste en finale gesag van die Woord van God. Hulle het dus geen gesag in hulleself nie. Die VGKSA glo daarom dat die Belhar-belydenis net soos die NGB, HK en die Dordtse Leerreëls gesag het “omdat” hulle in ooreenstemming is met die Woord van God.

Dié soort verstaan van belydenisskrifte staan egter teenoor mense wat wil bely dat hulle die Belhar- of ander belydenisskrifte aanvaar “in soverre as” dit in ooreenstemming met die Woord van God is ... of die standpunt dat sommige ’n belydenis kan aanvaar en sommige hoef dit nie te aanvaar nie.

Presies wat bedoel jy daarmee?

Wat die VGKSA daardeur sê is dat die gesag van die betrokke belydenisskrif nie afhang van elke individuele gelowige se eie oordeel, insig en keuses, óf en in welke mate hulle persoonlik dink en glo dat die belydenis in ooreenstemming met die Woord is nie.

Veel eerder sê die VGKSA dat ’n belydenis, die Belhar-belydenis ingeslote, gesaghebbend is ómdat dit in ooreenstemming met Gods Woord is, en daarom nié uitgelewer aan vryheid van eie oordeel en keuse nie. Die VGKSA beskou haarself as ’n belydende kerk.

Geld die standpunt dat dit sonder belydenisdwang is, ook vir belydenisse soos byvoorbeeld die Dordtse Leerreëls, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus?

Ja. Die VGKSA aanvaar die Dordtse Leerreëls, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus sonder dwang omdat dit met die Woord van God ooreenstem.

Die VGKSA se voorloper, die NG Sendingkerk (NGSK), moes in 1986 ook besluite neem met betrekking tot die akkommodering van diegene wat nog nie gereed was om die Belydenis van Belhar as belydenis te aanvaar nie. Hoe het julle dit gedoen?

Die NGSK Sinode 1986 het besluit om diegene wat teen die aanvaarding van die Belydenis van Belhar gestem het op ’n pastorale wyse tot volle aanvaarding van die Belydenis te begelei. Teen 1990 het al diegene dit heelhartig onderskryf.

Dit was dan ook ons voorstel aan die taakgroep van die NGK dat die formulering van hulle Kerkorde se Artikel 1 (“Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie”) eerder deel behoort uit te maak van ’n funksionele besluit van die sinode en nie as deel van die wysiging van Artikel 1 voorgestel behoort te word nie.

Die rede vir die aanbeveling lê daarin dat die kerkordelike proses om die belydenisgrondslag van ’n gereformeerde kerk te wysig, gewoonlik ’n tydrowende proses is, omdat daar gewoonlik ’n tweederde-meerderheid vereis word om dit te wysig, terwyl besluite van ’n kerklike vergadering met ’n gewone meerderheid gewysig kan word nadat revisie ingedien is.

Die NG Kerk in Afrika (NGKA) en die Reformed Church in Africa (RCA) is ook nie ten gunste van Belhar as ’n belydenisskrif nie. Waarom is hulle daarteen gekant as hulle self deurgeloop het onder die onreg van apartheid?

Dit is die soort vraag wat hulle self die beste sou kon beantwoord. Uit ons gesprekke met die RCA en die NGKA en uit briefwisseling oor die onderhawige saak blyk die volgende as hoofredes vir hul nie-aanvaarding van die Belhar-belydenis:

  • Hulle was nie deel van die opstel van die Belydenis van Belhar nie.
  • Die NGSK het dit eensydig en sonder hulle opgestel.
  • Hulle het dit nooit as belydenis aanvaar nie.
  • Die formulering van artikel 3, naamlik dat God op ’n besonderse wyse die God van die armes en noodlydendes is.

Die verweer van die VGKSA is dat die geskiedenis (argivale bronne van die kerke) in die teenoorgestelde rigting wys. Beide die RCA en NGKA (asook die NGK) is onmiddellik na aanvaarding van die konsepbelydenis van Belhar in 1982 deur die NGSK daarvan in kennis gestel.

Beide die NGKA en die RCA het besluite met betrekking tot die Belydenis van Belhar reeds in die neëntigerjare geneem. Die VGKSA, RCA, NGKA en NGK, net soos die meeste gereformeerde kerke wêreldwyd, was nie een by toe die Die Dordtse Leerreëls, die Nederlandse Geloofsbelydenis of die Heidelbergse Kategismus aanvaar is nie. Tog is dit deel van ons belydenisgrondslag en bely ons onomwonde dat dit in ooreenstemming met die Woord van God is.

Die VGKSA beskou egter die Belhar-belydenis as die gemeenskaplike produk van die NGSK, NGKA en RCA aangesien die drie kerke deel was van die Broederkring, later bekend as die Belydende Kring (bestaande uit wit en swart lede) wat hulle reeds in die sewentigerjare beywer het vir kerkeenheid en hulle uitgespreek het teen die sosiale onreg van die dag.

Die belydenis plaas slegs in woorde dit wat lede van die drie kerke aan eie lyf gevoel het. Die huidige stand van sake met betrekking tot die standpuntname van die NGKA en die RCA insake die Belhar-belydenis kan aan die voete van ’n a-historiese bewussyn gelê word.

Ons het aan die NGKA en die RCA deurgegee dat die situasie destyds die NGSK met geen ander keuse gelaat het nie as om te bely nie, omdat die feit dat die integriteit van die evangelie self op die spel was, vas staan.

Die NGSK het geoordeel dat ’n oomblik van waarheid aangebreek het waarin die kerk moes aantoon op welke wyse die verkondiging, die getuienis en die geloofwaardigheid van die evangelie in die gedrang gekom het as gevolg van uitsprake wat in die naam van die evangelie gemaak was of ’n manier van lewe wat Skriftuurlik begrond en verdedig was.

Met ons onlangse gesamentlike moderatuursvergadering het die RCA en NGKA die VGKSA versoek om hulle ook voortaan in bilaterale gesprekke met advies te bedien met betrekking tot die Belydenis van Belhar, soos wat ons tans wêreldwyd doen. Dit beskou ons as ’n deurbraak.

Marry-Anne Plaatjies van Huffel en Jean Oosthuizen tydens die VGK se vorige Algemene Sinode in Namibië.

  • 11

Kommentaar

  • Dawid van Huffel

    Baie dankie aan jou Jean en Mary-Ann vir hierdie plasing. Ek hoop werlik dit klaar enige onduidelikhede op. 

  • Dr Johann I de Jager

    Dankie vir die volledige agtergrond.

     
    Ek is nie teen die Belhar-belydenis as sodanig gekant nie. Ek is nie 'n teoloog nie. Kom ons begin voor: Wat my vir dwars in die krop steek, is die blykbaar doelbewuste verswyging deur die NG Kerk se Moderator en die Sinode van die feit dat die VGK die aanvaarding van die Belhar-belydenis as 'n VOORWAARDE  vir kerkeenheid gestel het. Jy noem dit OOK nie!
     
    As kommunikasiekundige weet ek dat geen voorwaardelike verhouding tussen mense kan slaag nie. (Daarvoor is daar regskontrakte!)  Ek en my vrou is onvoorwaardelik met mekaar getroud. Dit is myns insiens on-Bybels en on-Christelik om voorwaardes te stel. Aan die kruis het Christus die tweede  'rower' onvoorwaardelik vergewe.
     
    Die VGK moet dus gaan selfondersoek doen oor hoe Christelik-liefdevol hul aanvanklike voorwaarde - wat volgens 'n redelik onlangse Kerkbode nou vier bygekry het - eintlik is. Volgens die Kerkbodeberig sal proponente wat nie die Belhar-belydenis aanvaar nie, nie gelegimiteer mag word nie. 
     
    DUS: Een voorwaarde word in interpersoonlike verhoudings mettertyd meer! Die VGK se eerste voorwaarde is die direkte oorsaak van die eerste opmerking: "Baie mense in die NG Kerk sien rooi as hulle die woord Belhar hoor. Sommige sê dit is niks anders as ’n politieke dokument om blanke lidmate van die NG Kerk in ’n permanente staat van beskuldiging te hou nie."
     
    Ek weier om 'n 'voorwaardelike' lid van my eie kerk te wees en sal kerkeenheid tot en met my laaste asemteug beveg. Ek neem die Moderator oor kwalik dat hy NIE beswaar gemaak het teen die eerste voorwaarde nie  Die saak moes nooit eers tot hier gevorder het nie - EN tot soveel ongelukkigheid en twis onder lidmate wat soos ek voel (en kerkvervreemding) tot gevolg gehad het nie.
     
    Laastens, moet my nou NIE as 'n rassis uitmaak nie. Sedert my eerste aftrede is ek 'n dosent by twee dominant swart universiteite en deel my kennis en ervaring ONVOORWAARDELIK met honderde leergierige studente. Die beste 6 jaar van my loopbaan van 46 jaar!
     
    VGK, gaan dink weer oor JULLE broederlikheid en liefde vir mede-Christene. Dan begin ons van vooraf!
  • Moderator van die VGKSA.

    Ek is in myself baie trots op hierdie duidelikmakende gesprek rondom BvB en Kerk-hereniging.Ek glo dat ons hierdie onderhoud na die verskillende gemeentes kan stuur om sodoende en in soverre almal se insigte op te vang in die onderhoud.
     
    Baie dankie
    Martin.
    Lid van  VGK Sarepta
  • In my lewe was ek lidmaat van al drie susterkerke, gebore en opgevoed  as 'n dopper, daarna by die Hervormde kerk en daarna by die NG-kerk.

    Dit is opmerklik dat mense wat die kerke verteenwoordig hoogdrawend praat van die ' waarheid van die evangelie spel' sonder om te verduidelik wat die waarheid nou eintlik behels.

    Is die waarheid maar nie dat daar in God se verlossingsplan plek is vir mense van oor al die kleurgrense heen maar dat die die aanvaarding van Jesus Christus as enigste Verlosser en Saligmaker nie noodwendig aandui op 'n fisiese eenheid nie?

    Dit is trouens die totstandkoming van die sg superkerke soos die RK-kerk wat tot talle vreemde leerstellings gelei het  en dit was ook die dominante NG-kerk wat 'afsonderlike ontwikkeling' wat later in
    'apartheid'  'n teorie en praktyk geword het op grond van die Bybel en dit later veroordeel het en so talle lidmate onseker gelaat het en tot verdere kerkstigting gelei het.

    Dit is opmerklik dat Jesus tydens sy bediening nooit die verskillende godsdienstige groeperinge bymekaar geroep het en dit 'n voorwaarde van sy boodskap  gemaak het dat die groeperinge eers hul verskille moet oplos alvorens Hy verder die evangelie verkondig.

    Na die uitstorting van die Heilige Gees is die Evangelie in baie tale verkondig en het die gelowiges eers 'n hegte eenheid gevorm maar hierdie eenheid is ook verbreek toe die vervolging van Christene begin het. Dit is juis hierdie vervolging wat tot die verspreiding van die Christene gelei het wat ook die voertuig was waardeur die Evangelie versprei en verkondig is.

    Elkeen het baie werk om te doen onder sy eie mense en dit sal 'n goeie ding wees in pleks daarvan om 'n hersenskim na te jaag eerder die evangelie te verkondig; elkeen onder sy eie mense.

  • Beste FC Boot,

    Het die Evangelie nie alreeds te veel skade aangerig nie? Wil jy dit nog verkondig ook? Help liewer om dit uit te roei.
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Die verdraaing van die Evangelie (Goeie of Blye boodskap) het inderdaad ,maar 'n boodskap van versoening met die mens se Skepper en daaruit vloeiend tussen bekeerde mense kan nooit skadelik wees nie.

     In Romeine 2 rig Paulus 'n booskap aan almal wat 'n oor het en bereid is om te luister.

    1.Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.

    2 Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel.

    3 Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?

    4 God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

    5 Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek.

    6 Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade:

    7 aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe;

    8 maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.

    9 Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood.

    10 Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.

    11 God trek immers niemand voor nie.

     12 Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word.

    13 Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.

    14 Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie.

    15 Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.

    16 Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

    17 Jy, jy sê jy is 'n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is,

    18 jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word.

    19 Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir dié wat in die duisternis is,

    20 'n leermeester van dié wat onkundig is, 'n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid –

    21 jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy nie?

    22 Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat 'n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie?

    23 Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie?

    24 Inderdaad, soos daar geskrywe staan, “as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”2:24: Vgl. Jes. 52:5; Eseg. 36:20.

    25 Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie.

    26 As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie?

    27 Ja, iemand wat kragtens sy afkoms 'n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree.

     28 Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie.

    29 Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

    Mag dit met jou goed gaan.

  • Beste FC Boot,

    Jy praat van versoening, en dan haal jy aan uit Paulus se "booskap" (sic) wat vol veroordeling, vergelding, verdoemenis, en beskuldiging is.
    Ek herhaal: die Evangelie hat al te veel skade aangerig.
    Groete,
    Angus
  • Beste Angus

    Jy lees, maar verstaan nie wat Paulus se boodskap is nie. Kan daar sprake van versoening wees as jy nie eers die hand in eie boesem steek (ondersoek jouself)?

    Geen versoening sonder skulderkenning - dus as jy nie bereid is om te erken dat jy God se gebod daagliks oortree kan daar nooit versoening met met jou Skepper deur die werk van Jesus Christus wees nie.

    Maar omdat jy soos alle ateïste Jesus se bestaan ontken sê Paulus 14: "Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie."

    En word hul volgens die wet geoordeel en veroordeel - want sonder wet is daar geen oortreding nie.

    Moenie die word heidene nou opneem as onbeskaafd nie, maar wel as ongelowig.

    Mag dit met goed gaan.

  • Beste FC Boot,

    Soos gewoonlik het broeder ouderling weer die kat aan die stert beet. 
     
    Daar is 'n yslike verskil tussen 'n ateïs en 'n heiden. Die heidene was gelowiges, party het gode aanbid, en sommiges net een god, en dit lank voordat daar so iets soos 'n Christen was. Vir die ateïs bestaan daar nie iets soos 'n god of gode nie, behalwe as karakters in storieboeke. 
     
    Die wette in die Bybel is bedoel vir Joodse en Christengelowiges. Hulle moet die God van die Bybel aanbid, voor hom kruip en dik stop met allerhande offerandes. Vir die ateïs is dit nie nodig om in 'n boek te lees wat hy moet doen nie, hy weet sommer vanself. 
     
    God se gebod is dus nie vir die ateïs bedoel nie, maar vir broeder ouderling. Dis hy wat sy stout kinders met klippe moet doodgooi, en nie die bokkie in sy ma se melk kook nie. 
     
    Groete,
    Angus
  • Jacques Gouws

    In plaas van al hierdie binnegevegte oor die aanstelling van gay dominees, onenigheid oor leerstellings, betrokkenheid oor politiek van Balfour-papiere, het die lidmate 'n geestelike reiniging nodig ten einde geestelike verblyf in God se ware organisasie op aarde te vind. As 'n organisasie het die NG Kerk reeds dekades gelede in onguns by die HERE verval agv 'n gehoereerdery met die Staat, betrokkenheid by oorloë wat nie deur God gemagtig is nie. Kyk gerus na ander NG Kerk-webwerwe wat mense uitnooi om kommentaar te lewer oor opspraakwekkende onderwerpe. Mense het geen belang nie, en staan klaarblyklik weg van die dorrre woestyn-geestelike landskap van die NG Kerk. Valse leerstellings affekteer tot dominees. Hulle gee ook pad. Almal is moeg vir die NG Kerk se vuil wasgoed in die openbaar.

  • Jacques Gouws

    Oorweeg asseblief die Universele Definisie van die Drie-Enige God: Defines one God existing in 3 co-equal, co-eternal, consubstantial Devine Person, God the Father,God the Son ...

    Psalm 90:2 maak dit duidelik dat God Almagtig geen begin het nie en derhalwe 'n ongeskepte wese is.

    Kollosense 1:15; 16 maak duidelik dat God Almagtig Jesus geskep het, voordat hy die aarde geskep het. Daar word na Jesus verwys as die Eniggebore Seun omdat hy die enigste engel is wat direk deur God geskep is.

    1Korintiers 15: 24-28

    Jesus onderwerp homself aan die gesag van sy Vader.

    Die Seun en Vader was nog nooit co-equals nie. Omdat Jesus 'n duidelike begin in die gryse verlede gehad het, is dit baie duidelik dat God Almagtig vir triljoene jare alleen was. Gevolglik het die sogenaamde Drie-Enige God vir triljoene jare nie bestaan nie.

    Jesus en Johannes die Doper het volwassenes gedoop, wat verstand gehad het om geloof te vorm. Afvallige kerke doop babas om lidmaattellings in die toekoms te verbeter. Dominees loop weg uit die bediening agv baie vals leerstellings wat hulle gewete nie meer kan verdra nie. Bovermelde is net twee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top