Martin Bossenbroek: Die Boereoorlog (uit Nederlands vertaal deur Anne-Marie Mischke)

  • 1

Die Boereoorlog
Martin Bossenbroek (vertaal deur Anne-Marie Mischke)
Uitgewer: Jacana Media
ISBN: 9781431410552

Koop Die Boereoorlog by kalahari.com

Ek heg ’n besondere waarde aan ou familiefoto’s. ’n Klein versameling pryk teen ons eetkamermuur. Een foto is van die gesin van my ouma (Anna Maria, na wie ek vernoem is) aan vaderskant. Sy is ’n jong meisie van waarskynlik ’n jaar of vyftien op die foto. Sy staan tussen die res van haar broers en susters, altesaam 10 kinders, en hul ouers, my oupa- en oumagrootjie, Reichhardts uit die Vrystaat. Die oudste onder die kinders is Bettie, ’n opgeskote jong meisie wat as oorlogsweeskind na die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) deur die Reichhardts aangeneem is. Een van hul eie kinders is dood in die verskriklike Bethulie-kamp waar hulle geïnterneer was, een van die 1 714 mense wat in daardie kamp dood is. Met Bettie se aanneming moes die kinders weer voltallig wees. Een van die dogters op die foto sou later my peetma wees, tannie Pauline. Sy was die kind, so is ons dikwels vertel, wat tydens die Boereoorlog in die veld gebore is terwyl haar ma met kraampyne en klein kindertjies om haar rokpante vir die Kakies moes vlug nadat hul plaas aan die brand gesteek is. So het die verhaal in elk geval gegaan.

Oor die oorlog het ek baie gelees. Ek wou die geskiedenis agter al die anekdotes ontrafel. Maar sober historiese verhale is dikwels vervelig, stowwerig. Boonop is baie van die Afrikaner se oorlogsgeskiedenis met ’n sterk dosis nasionalisme geskryf. Ek het dus mettertyd begin moed opgee om te vind waarna ek op soek was. Totdat ek begin lees het aan Martin Bossenbroek se vuisdikke Die Boereoorlog, deur Anne-Marie Mischke pragtig vertaal uit Nederlands.

Martin Bossenbroek (http://news.hum.uu.nl/2013/10/21/martin-bossenbroek-wins-libris-geschiedenis-prijs-for-his-book-de-boerenoorlog/)

 

Bossenbroek, as historikus verbonde aan die Universiteit van Utrecht, en skrywer van ’n hele klompie klassieke historiese boeke, skryf geskiedenis soos wat ek nog min meegemaak het. Omdat hy uit alle hoeke en vanuit alle uitgangspunte die verhaal van die oorlog vertel, kan mens hom nie maklik betrap op subjektiwiteit nie. Ook nie op geheime agendas nie. Hy skryf met ’n aansteeklike belangstelling vir die groot globale verhaal waarbinne die oorlog ontstaan het, voltrek is en afgeloop het, maar ook die klein persoonlike belewenisse van vlees-en-bloed-mense met wie die meeste van ons tot dusver nog net as historiese figure in aanraking gekom het. Jy lees hoe Paul Kruger een oggend om kwart voor vier aan Willem en Louise Leyds se deur kom klop om oor die Alois Nellmapius-saak te kom praat. Leyds en Kruger het tot halfses die oggend gepraat. Die hele tyd was Louise in haar slaapkamer. “Ek het op my bed gelê en verknies oor my mat en stoele, want julle weet dat daar nie net wyse woorde uit Oom Paul se mond kom nie, maar ook die nodige tabakspoeg.” So skryf sy die volgende dag in ’n brief aan haar ouers. Jy lees ook hoe Emily Hobhouse se “hart wild klop” as sy op 8 Januarie 1901 op die trein klim om Milner vir middagete in die Kaap te ontmoet om oor die konsentrasiekampe te praat. Jy lees hoe Churchill, wat as jong oorlogskorrespondent op die Dunnottar Castle-stoomskip van Southampton na Kaapstad toe vaar, verskriklik seesiek word, só erg dat hy dae lank niks kon doen nie, nie eens skryf nie.

Bossenbroek het nie sonder rede met hierdie boek in 2013 die gesogte Nederlandse Libris Geschiedenis Prys teen 325 ander mededingers gewen nie. Hierdie prys word toegeken aan die beste historiese boek van die jaar, ’n boek met ’n oorspronklike onderwerp tot ’n breë publiek spreek en dus goed leesbaar geskryf is, ’n boek wat gebaseer is op sterk historiese navorsing. De Boerenoorlog, ook benoem vir die Nederlandse AKO Literatuurprijs, is volgens laasgenoemde se beoordelaarsverslag “groots”, “vol” en geskryf in ’n “voortreffelike” styl. Volgens die beoordelaarsverslag vir die Libris-prys 2013 is die boek “oorspronklik, meesleurend en uitmuntend geskryf”. Anne-Marie Mischke se pragtige en soepele vertaling het gesorg dat daar niks van hierdie kwaliteite in die vertaalde weergawe verlore raak nie.

Bossenbroek vertel die verhaal van hierdie byna mities-geworde oorlog vanuit drie perspektiewe, elkeen verbind aan ’n spesifieke persoon, elkeen in ’n aparte afdeling van die boek. In die eerste deel, getiteld “Vir die goeie saak. Junie 1884 – Oktober 1899”, is Willem Leyds die spil. Leyds was die vrysinnige en kunssinnige Nederlandse juris wat in 1884 deur president Paul Kruger omgepraat is om staatsprokureur in Pretoria te word. Maar dit was nie maklik om Leyds te oortuig nie. “Wat sou hy dan nou in daardie intellektuele woestyn van Transvaal gaan soek, soos sy verloofde, Louise Roeff, dit fyntjies vir hom raakgevat het. As hy tog getwyfel het, was dit weens die persoonlikheid van die man wat hom die aanbod gemaak het. Paul Kruger het hom beïndruk, met sy postuur, sy donker oë en swaar basstem, sy selfversekerde direktheid.”

Eintlik was Kruger en Leyds mekaar se teenpole, veral wat voorkoms betref. “Die Transvaalse president was die prototipe van die Afrikaner, ’n man van die Woord, die geweer en die eindelose weivelde. ’n Man wat bowendien opvallend min aandag aan sy uiterlike bestee het.” Leyds, weer, was “’n aantreklike, gekultiveerde jong man” en boonop “versorg tot in die puntjies van sy modieuse snor. Die byna 60-jarige Boereleier se verstommende slordigheid het opgeval, veral in die luukse suite van die Amstelhotel waar hulle mekaar te woord gestaan het.” En so het Bossenbroek jou dadelik in sy greep. Wat het in die Amstelhotel gebeur en wat sou die gevolge daarvan wees?

Paul Kruger (wikipedia)
Willem Johannes Leyds (http://en.wikipedia.org/wiki/User:Doortmont/Sandbox/Wessels)
Winston Churchill (bron: wikipedia)

Leyds is in ieder geval omgepraat deur Kruger en is saam met sy jong bruid, Louise, Transvaal toe. Hulle was aanvanklik geskok oor die omstandighede wat hulle daar sou teëkom, veral die “Ou-Testamenties geïnspireerde rassisme” van die Boere, wat maar “eenvoudig van gees” was. Maar geleidelik het Leyds hom al hoe meer verbonde begin voel met die Zuid-Afrikaanse Republiek en ook met Kruger self. Kruger het veel aan Leyds te danke gehad, byvoorbeeld sy rol in die aanleg van die spoorverbinding na Lourenço Marques (vandag Maputo), ’n lewenslyn vir Transvaal. Leyds sou ook later die grootste spreekbuis van die Boeresaak in Europa en die VSA word en tot oom Paul se dood aan hom lojaal bly, selfs sy lyk per skip terugvergesel na Suid-Afrika.

In ’n onderhoud verduidelik Bossenbroek waarom Leyds so ’n belangrike bron was om die Nederlandse aandeel aan die oorlog te begryp. Sy geskrifte het die hele duur van die konflik betrek, van aanloop tot slot. “Toen hij als talentvolle 25-jarige in Zuid-Afrika belandde keek hij nog echt neer op de ’cultuurbarbaren’ die er woonden, maar hij kreeg steeds meer voeling met de Boerenzaak, vooral omdat zijn rechtsgevoel werd geschonden. Leyds werd door de Britten echt gezien als de kwade genius in het conflict. Ik kon met zijn geschriften, en die van zijn vrouw, ook psychologische diepgang aan het boek geven.”1 En dit doen Bossenbroek met sukses.

Die tweede deel van die boek draai om die fassinerende figuur van Winston Churchill, toe nog ’n bloedjong man van aristokratiese afkoms, tweede luitenant in die Britse leër en oorlogsverslaggewer vir die Morning Post. Churchill was bang vir niks nie en op soek na avontuur. Sy eskapades klink daarom maklik soos versinsels van die ooraktiewe fantasie van ’n skrywer wat geen maat ken nie. Churchill was vol bravade, maar het self gou agtergekom dat die Boere self nie lig opgeneem moet word nie. “Ons het die militêre krag en die gees van die Boere onderskat,” skryf hy in ’n brief aan sy ma. Hierdie afdeling dra die gepaste titel “Soos ’n seunsboek. Oktober 1899 – Junie 1900”.

Churchill se spannende, en by tye ook humoristiese, belewenisse in Suid-Afrika word deur die verwerking van Bossenbroek se pen smullekker leesstof. Een van die mooiste verhale is die een van die jong Winston wat onderweg is op ’n gepantserde trein wat dan deur ’n Boerekommando aangeval word. Winston word gevange geneem en na Pretoria gebring. Alhoewel dele hiervan op ’n tong-in-die-kies-manier vertel word, gaan die vertelling oor in ’n toon van erns wanneer dit nodig is. So ’n oomblik is die eerste nag van die jong Winston se aanhouding, ’n besonder donker nag. “Hy kon nie slaap nie en het gehoor hoe die Boere hul aandgesang aanhef. Erger as ontploffende granate, het hy gevind, ’dit het die vrees van God in my ingehamer’. Wat as die oorlog regtig onregverdig was en die hemel teen hulle gedraai het omdat die Boere inderdaad beter mense as hulle was?”

Via ’n toiletgeboutjie op die perseel van die Staatsmodelskool in Pretoria waar hy saam met ander aangehou word, ontsnap die onverskrokke avontuurlustige man. Hy neem tydens se vlug skuiling in ’n Engelse goudmyn, waarna hy dit sowaar regkry om met ’n trein tot in Lourenço Marques te kom. Van daar af neem hierdie “jong waaghals met ’n vaste geloof in homself en sy besondere roeping” ’n skip Durban toe, waar hy soos ’n superheld in ’n riksja rondgery word. Hy geniet elke oomblik van die aandag. Sy moeder lees hieroor in die koerante, maar ook in persoonlike briewe aan haar, want haar lieflingseun skryf getrou aan haar. Sy, ook nie ’n bang haar op haar kop nie, wil kom kyk. En sy wag nie lank om by hom te kom kuier en saam met hom terug te loop op die spoor van sy avontuur nie.

Bossenbroek vertel dit so lewendig dat jy voel jy stap saam met die windmakerige jong Winston wat sy trotse moeder opskepperig op ’n rondleiding neem.

Churchill was deurgaans ook diep bewus van die pyn en die ellende van die oorlog. In sy belewing van die geveg by Acton Homes, waaraan hy nie self deelgeneem het nie maar op ’n afstand getuie van was, blyk dit duidelik. In die laaste fase van die geveg het hy gaan help om die gewonde Boere te versorg. Hy skryf hieroor in die Morning Post: “Ek het al dikwels dooies gesien, oorlogslagoffers – duisende by Omdoerman – tientalle elders, swart en wit, maar die dooie Boere het die pynlikste emosies wakkergemaak.” Hy was nie seker waarom dit so was nie. Bossenbroek bespiegel oor die redes. “Was dit die ou veldkornet uit Heilbron, Mentz was sy naam volgens die gevange Boere, met sy grys hare en skerp gelaatstrekke, versteen met ’n uitdrukking van vasberade geregverdigdheid? ’n Koeël het sy linkerbeen verbrysel, maar volgens die vertellings wou hy niks van oorgee weet nie en het hy aanhou skiet. Grou, leeggebloei, so het hulle hom gekry, met ’n brief van sy vrou vasgeklem in sy hand. Of was dit die jongeling langs hom, nie ouer as 17 nie, met ’n koeël deur sy hart? Of daar, ’n bietjie verderaan, ’ons eie twee arme skuts met hul koppe soos eierdoppe inmekaar geslaan’?”

’n Ander keer weer was Churchill en ander manne op pad terug na ’n geveg. By hulle het ’n groepie krygsgevange Boere verbygeloop. “Dit het hom verbaas hoe gewoon hulle gelyk het, soos ’n groepie vriende op pad na ’n kroeg, ’doodgewone mense, wat sonder waardigheid gegrinnik en gesels het … dit was moeilik om te verstaan watter eienskappe hulle so ’n skrikwekkende vyand gemaak het’.”

Uiteindelik het Churchill, altyd op soek na iets nuuts, besluit om terug te keer na Engeland, waar hy sy politieke loopbaan van stapel begin stuur het. Die leser, maak nie saak aan wie se kant hy is nie, is half teleurgesteld dat Churchill se Boereoorlog-eskapades hier ophou.

Die derde spilkarakter in die derde deel van die boek – getiteld “Dood en Verderf. Junie 1900 – Mei 1902” – is Deneys Reitz, die seun van die premier van Transvaal en lid van ’n Boerekommando. Aan hand van Reitz trek die leser saam uit op kommando en beleef ook die guerrilla-aanslae waartoe daar later oorgegaan word. Voor die oë van die leser word die kommando’s al hoe meer gehawend en moet hulle later selfs meelsakke begin dra as daar van hul eie klere nog net toiings oor is. Wanneer ook die gemoedere elke nou en dan ’n laagtepunt bereik, word dit weer opgehef deur die besielde leiers en predikante, met vader Kestell as die grootste geestelike leidsman.

Wanneer lord Kitchener bevel gee vir die verskroeide-aarde-taktiek is die Boere siedend van woede. Alles word afgebrand en verbrand: hul plase, plaashuise, landerye, vee, veevoer, alles. Hul vrouens en  kinders, altesaam 115 000, word geïnterneer in haglike kampe waardeur siekte en dood soos veldbrande trek. ’n Kwart van die geïnterneerdes oorleef dit nie. Hiervan is die meerderheid kinders, na wie koningin Victoria verwys het as “darling little nuisances”. Ongeveer 10 persent van die hele bevolking van die twee Boererepublieke sterf in die kampe. Na aanleiding van Emily Hobhouse se kampbesoeke en verslae oor die rampsalige toestande kom dit onder die aandag van die wêreld. Bossenbroek vertel hoe Hobhouse dit nie altyd maklik gehad het nie. Hy self het ook (soos baie ander) kritiek op die weinig aandag vir dieselfde soort kampe waar bruin en swart mense geïnterneer was, waar die kinders ook en masse gesterf het.

Die Boere is nie net woedend oor die verskroeide-aarde-beleid en die konsentrasiekampe nie, maar ook omdat bruin en swart mense aan Britse kant ingeskakel word by die oorlogvoering. Die Boere was in elk geval oorwegend rassisties, maar nou is hulle verder in hul kwaad gesterk. Die Engelse gevangenes is soms nog met genade deur die Boere behandel, maar ’n krygsgevange “kaffer” het hierna geen kans meer gehad nie. Uiteindelik, as die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 geteken word, is dit ook die bruin en swart mense wat aan die kortste ent trek. Ten spyte van hul lojaliteit aan die Britte kry hulle geen regte nie. Hulle voel hulself mislei en gebruik.

Die leser van Die Boereoorlog kry dus drie verskillende invalshoeke tot die oorlog, en aan die begin van elkeen van hierdie drie afdelings ’n besonderse foto van elk van die drie “hoofkarakters”: drie blanke mans – ’n Nederlander, ’n Brit en ’n Boer. Maar wat dan van die groot getalle bruin en swart mense wat aan die oorlog deelgeneem het? Oor hul aandeel is ons uitgebreid ingelig in Peter Warwick se Black People and the South African War 1899–1902 (1983). Warwick het byvoorbeeld aan die lig gebring dat die Boerekommando’s aanvanklik vergesel is van tussen 7 000 en 9 000 bruin en swart agterryers en bediendes. En teen die einde van die oorlog was daar ongeveer 30 000 gewapende bruin en swart mense in Britse diens. Sou dit nie interessant en nodig wees om ook vanuit hierdie perspektief die oorlog te bekyk nie? En wat van ’n vrou? Het die vrouens se belewenisse in die kampe nie juis gemaak dat hierdie oorlog ook ’n oorlog van vroue geword het nie?

Bossenbroek verduidelik dat hy sy verhaal oor die Boereoorlog graag sou wou gekomplementeer het met egodokumente van bruin of swart Suid-Afrikaners, maar meer as Sol Plaatje se dagboek, geskryf oor en tydens die beleg van Mafeking, is niks beskikbaar nie, “en dat is te statisch voor een aparte verhaallijn”.2 En die vroue? Wel, daar is Louise Leyds en Emily Hobhouse, verduidelik Bossenbroek. Volgens my, dalk ’n rapsie te skraps.

Bossenbroek vertel in hierdie meesleurende, byna eposagtige historiese verslag nie net die verhaal van hoe die Boereoorlog – een van “de meest intrigerende conflicten in de moderne geschiedenis”3 – voltrek is nie. Hy snuffel ook uit wat agter die gordyne gebeur het in terme van diplomatieke bewegings en strategieë, tot op hoogste niveau. Ook die rou ervarings op die slagveld – emosioneel en fisies – word só lewendig beskryf dat jy jou soms verbeel jy kan die manne in die veld se angssweet ruik. Soos elke oorlog teen ’n sekere agtergrond afspeel, soos daar in elke oorlog sekere omstandighede en rolspelers is wat die wiel aan die rol sit, aan die rol hou en uiteindelik stuit, so ook hierdie een. Bossenbroek betrek al hierdie fases, invloede en rolspelers, beide vooraf en agterna. Jy lees dus nie net ’n aangrypende verhaal nie, maar jy verkry ook insig in die meganisme van oorlogvoering.

Ook plaas hy die oorlog in verhouding tot die groter verloop van die geskiedenis. So wys hy na afloop van die verhaal dat die Boere, wat oënskynlik as tragiese helde ten gronde gegaan het in die oorlog, daarna weer opgestaan het om Suid-Afrika te herskep, maar helaas dan as ’n land van blanke meesters en swart knegte. Die Boereoorlog was ’n groot voedingsbron vir wit nasionalisme wat uiteindelik in die apartheidsideologie sou uitloop. Maar ook die ontwikkeling van swart nasionalisme is nie los te sien van die Boereoorlog nie. “Die swart en bruin leiers wat sulke hoë verwagtinge van ’n Britse oorwinning gehad het, het reeds met die vredesverdrag bedroë daarvan afgekom. In die nasleep van die oorlog moes hulle nog meer sluk. Tot hulle bittere frustrasie is die swart bevolking met die instemming van die Britse administrasie – letterlik – van al hoe meer grondregte uitgesluit. Die ANC het net so min as die Nasionale Party uit die lug geval” (xvii).

Uiteindelik wys Bossenbroek hoe die bordjies in 1990 verhang word wanneer Mandela vrygelaat word en die ANC in 1994 seëvierend uit die verkiesing na vore tree. Suid-Afrika is weer terug in die hande van die swart bevolking soos dit duisende jare lank was voordat die land gekoloniseer is.

Waarom wou Bossenbroek ’n boek oor die Boereoorlog skryf? Daar is dan al soveel vanuit Afrikanerkant daaroor geskryf. Ook in Engeland vanuit Engelse perspektief. Mens dink veral aan Thomas Pakenham se The Boer War. Bossenbroek se antwoord is dat hy die oorlog wou beskryf vanuit die perspektief van die Afrikaners sowel as die groot aantal bruin en swart Suid-Afrikaners wat aan die oorlog deelgeneem het, veral in die “gruwelijke tweede fase van de oorlog”. Daarby wou hy ook oor die betrokkenheid van sy landsgenote in die oorlog vertel: “Het waren Nederlanders die voor de Boeren de spoorlijn tussen Johannesburg en Mozambique aanlegden en exploiteerden. De spoorlijn was één van de belangrijkste redenen voor de Britten om in te grijpen in de Boerenrepublieken. Je kunt rustig stellen dat ons land een missing link is in de totstandkoming van het conflict.”4

Ek is my nie bewus van enige ander soortgelyk beeldende en treffende vertelling van die Boereoorlog nie. Die neutraliteit waarmee Bossenbroek skryf, is van so ’n aard dat selfs die-hard ondersteuners van óf die Boere- óf die Britse saak tydens die lees nie ’n oomblik te na gekom sal voel nie.

Ek kyk nou op ’n ander manier na die familiefoto teen die eetkamermuur. Dit is geneem waarskynlik so vier jaar nadat die Vrede van Vereeniging onderteken is. Jy sien hulle het hul beste klere aan vir die foto, maar jy sien dat hulle ten spyte daarvan ’n tikkie gehawend lyk. Soms, as jy lank genoeg kyk, lyk dit of die oumagrootjie se boesem op en af beweeg, asof sy moeilik asemhaal, en of die oupagrootjie sy stram been effens versit. Dis Bossenbroek se skuld.

1 http://www.nrc.nl/boeken/2013/10/29/nederland-is-een-missing-link-in-de-totstandkoming-van-de-boerenoorlog

2 http://www.nrc.nl/boeken/2013/10/29/nederland-is-een-missing-link-in-de-totstandkoming-van-de-boerenoorlog

3 http://www.nrclux.nl/de-boerenoorlog-martin-bossenbroek/nl/product/1046930

4 http://www.nrc.nl/boeken/2013/10/29/nederland-is-een-missing-link-in-de-totstandkoming-van-de-boerenoorlog

Lees ook Martin Bossenbroek se De Boerenoorlog wen die Libris Geskiedenisprys.
Lees Ena Jansen se kommentaar op dié boek.

  • 1

Kommentaar

  • Watter swart bevolking het kwansuis, soos dit duisende jare lank was voordat die land gekoloniseer is, die land bewoon?
    Seker die Khoi nè, want van die suidtrekkende migrante swart bevolking, wat Afrikaners as synde noordtrekkende migrante, naby die Visrivier vir die eerste keer ontmoet het, was daar absoluut geen spoor of sprake van nie, en het hul aangekom in die teenswoordige RSA AS KOLONISTE, min of meer gelyktydig met die Afrikaners.
    Verduidelik vir my dit asseblief ... en indien die verduideliking vir die foutiewe bewering bevredigend is sal ek miskien oorweeg om die boek te lees, want die gevolgtrekking daarvan kom weereens, soos ek nou al reeds aan gewoond is, maar weer neer op op ideologiese gefomfaaiery en geskiedenis verdraaiing/ontkenning.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top