Kyk wat maak Chris Chameleon nou. Nie net is hy by die US Woordfees 2015, aan die reis, sing en skryf nie, maar hy bied ook 'n reeks aan op kykNET, waarvan hy hier onder vir Naomi Meyer vertel.
Hallo Chris, handel die Kyk wat maak ons nou-reeks op kykNET oor bekendes uit die ou dae wat gesels oor wat hulle deesdae doen? Doelbewus dubbelsinnig? Of hoe sou jy die aard van die program beskryf?
Hehe, nee, ek dink nie dit was doelbewus dubbelsinnig nie. Die program handel oor hoëfunksie-prestasies in Afrikaans; met ander woorde, ons ondersoek die uitnemendheid van die taal in soverre dit sosiaal, wetenskaplik en literêr verband hou.
In die eerste episode het jy gesê dis nie meer net die leiers wat die land moet lei nie, dis nou ons self wat moet hand uit die mou steek. Waar en hoe het jy hulle raakgeloop, dié verskilmakers met wie jy in jou programme sal gesels?
Die opsporing van hierdie mense is iets waarvoor ek hoegenaamd nie enige krediet kan kry nie. Ek lê die lof volledig voor die vervaardiger, Tienie Theunissen, se deur. Tienie is ’n baie ervare dokumentaris. Ons het lekker gelag toe ons êrens tussen Garies en Springbok in ’n gesprek agterkom dat hy die dokumentêr Beter as die wêreld se beste oor Zola Budd gemaak het in die vroeë ’80's. Dit was hierdie dokumentêr wat my geïnspireer het om ’n ernstige atleet te word – ’n droom wat ek jare lank met enorme toewyding nagestreef het voor dit duidelik geword het dat my longe te klein, my bene te kort, my arms te lank en my kop te groot is vir die doel. Ek is dus al 30 jaar ’n aanhanger van sy werk. Die FAK en vakbond Solidariteit het ook ’n baie groot bydrae gelewer in die verwesenliking van hierdie dokumentêr met navorsing en finansiële ondersteuning.
In die eerste insetsel het jy met boere gesels. Jy het self ’n plaas, of hoe? Wat is die nut van boere in hierdie land?
Dis reg, ek is ’n naweekboer. Die nut van boere in hierdie land is gelyk aan die nut van boere wêreldwyd: hulle verseker deur hulle verskaffing van voedsel die lewe van die kinders, mammas, pappas, ingenieurs, dokters, bankiers, vakmanne, kunstenaars, werkloses en die res van al die mense, hul diere en politici.
Hoe hoor mens dié stemme wat die moeite werd is om na te luister? Nie net in jou program nie, maar ook in die land?
Die vereiste vir “hoor” is universeel: dit verg dat jy luister. Ons word inderdaad oorval deur ’n oorverdowende geroesemoes, maar ons leef ook in ’n wêreld wat noukeurig gekonstrueer is om vrye keuse toe te laat; dit is selfs deel van ons Grondwet. ’n Mens kan dus in ’n groot mate kies wat jy wil hoor en daar val die onus op mense om nie oopbek op die rusbank te lê en wag vir die lepels wat voorgeskrewe happies opdis nie, maar om self ondersoek in te stel en die positiewe verhaal te konstrueer.
Is daar hoop vir die land en sy mense?
Slegs vir dié wat glo dat daar hoop is – ek glo dit.
Wie is jou helde?
My helde is selde diegene wat massaal in daardie hoedanigheid vereer word. Die helde wat deur massas uitgeroep word, is gekies, en val meestal aan die gunstige kant van ’n hele rits samevallende omstandighede wat van hulle die uitverkorenes maak van tendense wat eweneens deur ander onbekende menigtes nagestreef word. Ek probeer dus om my nie blind te staar teen die ophemeling van die deur omstandighede uitverkorenes nie, maar eerder om die heldhaftigheid in die onbekende enkeling raak te sien. My helde is daarom meestal “gewone” mense wat ek persoonlik ken.
Kyk wat maak jý, Chris ... Met watter projekte is jy, buiten hierdie program, nog alles besig?
Ek is tans in Europa besig met die laaste week van ’n konserttoer. Van hier af gaan ek Namibië toe vir nog ’n dokumentêr, hierdie keer oor hoëfunksie-prestasies in Afrikaans in Namibië. Van daar is dit ’n bietjie klam klanke tydens die Oppiwater-kunstefees, van waar ek direk Woordfees toe skiet vir optredes en die bekendstelling van ’n kinderboek, Dit was nie ek nie!, wat ek in samewerking met Salemien Grobbelaar gemaak het en deur NB uitgewers vrygestel word. Dan is daar toere na Dubai en Londen, nog Boo!-konserte, en ek dink ek moet êrens tyd maak vir ’n album in die nie te verre toekoms nie. Ek werk wanneer ek kan aan ons selfonderhoudende deeltitels vir ’n grondontwikkelingskema in die Vrystaat. En o ja, ek moet ook vrugbaarheidstoetse op my koeie doen en begin dink aan wat ek met my speenkallers gaan maak.
Chris Chameleon is 'n veelsydige kunstenaar in eie reg en tree vanjaar by twee geleenthede op tydens die US Woordfees 2015.
Chris Chameleon: Dit was nie ek nie! 14 Maart 14:00 | Die Khaya | 50min | R50 Chris Chameleon in Drie vriende 15 Maart 18:00 | Neethlingshof |60min | R95/R60 Studente |