
Katinka, dis jou eerste fliek in veertien jaar en die hele land is opgewonde net by die noem van jou naam. En met Chris Barnard wat die draaiboek skryf! (Is dit lekker om met jou man saam te werk, of stamp julle ook maar kop oor interpretasie van die teks?) Op hierdie wintersnag: Waarom die skepper van “Winternag”, die skrywer van Siel van die Mier, Skoppensboer” ... hoekom oor hom en hoekom nou?
Ek en Chris werk nou al 36 jaar saam. Dit klink vreemd, maar ons het nog nooit koppe gestamp oor die interpretasie van tekste nie. Ek vertrou hom as die skepper van die storie en ek en al die spelers vertolk die teks. Almal dien die teks. Hierdie draaiboek is weer eens karaktergedrewe en dis my kos. Om saam met die akteurs te delf en geloofwaardige karakters te skep. Chris skryf ritmies en sy dialoog is werklik ekonomies en funksioneel. Hierdie film word ’n intieme vertelling sonder groot gebare. Die drama ontvou stadig op ’n emosionele vlak.
Hoekom Marais? Hoekom nie? Dis tyd dat die boek oor Marais oopgemaak word. Hy was ’n ware prospekteerder. Iemand wat gedurig onder die oppervlak gemyn het en nate oopgekap het, as geesteswetenskaplike en natuurwetenskaplike. As storieverteller, regsgeleerde, joernalis, digter en kampvegter vir Afrikaans bly hy ’n misterieuse en boeiende karakter. Ons het almal grootgeword met “Winternag” en “Die dans van die reën”. Sy gedigte in Dwaalstories word steeds beskou as van die beste werk in Afrikaans. Ons loer deur ’n sleutelgat na ’n grepie uit sy lewe en ervaar hom as die argetipiese gewonde heler. Ons vertel in die eerste plek ’n storie, maar hoop om mense te prikkel om meer van hom te wil weet en daarmee saam ’n merkwaardige stuk van ons kultuurlewe te verken. Daar lê nog ’n rykdom van onontginde temas wat kreatiewe mense hopelik nog geslagte lank gaan inspireer. Ek weet eintlik nie hoe Chris dit reggekry het om nie verstrengel te raak tussen al die inligting nie.

Die lokprent maak dit duidelik: sake was nie ongekompliseerd nie, verhoudings het gesmeul en mense wou mekaar se nekke omdraai. Wat op aarde gaan aan met Marais en die jong meisie, of Marais en die mans wat so deur hom bedreig voel se vroue? Hoeveel van hierdie storie is fiksie en hoeveel hiervan het “regtig” gebeur, of laat julle dit aan die onbekende weë van al die muses betrokke oor om oor die lyne van die werklikheid in te kleur?
As ’n mens jou moes beperk tot “feite”, sou niemand ’n historiese roman of filmdraaiboek kon skryf nie. Jy moet die hiate maar met jou verbeelding en gesonde verstand invul. Dit word dus historiese fiksie. Maar in oorvertellings, joernale en briewe is dit redelik duidelik dat Maria van Rooyen (soos baie vroue voor haar) ’n bietjie meer as net aangetrokke was tot Marais. Hy was immers aantreklik, geleerd, enigmaties en sjarmant. En dis ook dikwels genoem dat Marais sy hart op Jane Brayshaw verloor het, soos voorheen op byvoorbeeld Anne en Suzanne in Londen en Hillbrow. Almal meisies wat ongeveer so oud was soos Aletta Beyers, sy vrou, wat dood is pas ná die geboorte van hulle enigste kind. Marais het Jane dikwels gehipnotiseer en het beslis ’n vreemde mag oor haar gehad. Vrugbare teelaarde vir enige verbeelding.

Van wonderwerke gepraat: jou akteurs is mooi en hulle is bekend en ervare. Maar het die diere saamgespeel vir jou storie? Laas in die Sarie het ek nog gesien jy soek ’n mak bobbejaan ...
Ja, daar word altyd gesê vermy kinders en diere. Ons het al wat ’n bobbejaan is, getoets en bekyk, maar hulle was óf te klein óf te bruin óf te geel óf te maer óf te kwaai. Ons het pragtige tonele geskiet tussen ’n trop bobbejane wat wild is, maar nog nooit deur mense bedreig is nie. Ons het versigtig gewerk en die akteurs (Dawid Minnaar en Anneke Weidemann) het hul kant gebring.
Die groot uitdaging was om ’n mak bobbejaan te vind. Daar is ’n “geleerde” kees in Namibië, maar ons begroting het dit nie toegelaat dat ons met Dawid en die kernspan Namibië toe gaan nie. Die fliek is in November klaar geskiet en ons het die spesifieke toneel wat deurslaggewend was, eers in Februarie geskiet nadat ’n advertensie in Beeld geplaas is. Die meneer genaamd Andries woon in Wolmaransstad. Hy is van kleins af grootgemaak as pleegkind. Andries was perfek. Hy rook pyp, drink ’n dop brandewyn en eet saam met sy huismense aan tafel. Dit was nie eenvoudig nie en twee kameras moes gelyk rol totdat die oomblik aanbreek. Die toneel was skaars een minuut lank, maar daarsonder sou die fliek nie werk nie. Daar was ander diere ook, soos ’n rooikat, meerkatte en ’n pofadder, maar die bobbejaan was die ster.


Kommentaar
I thoroughly enjoyed Die Wonderwerker. It is of interest to me because of Marais' connection with my family. He stayed with my mother-in-laws aunt, Hannie Preller, who gave his rocking chair to my mother-in-law. It is now in my possession and I would love to have it re-united with other pieces of his belongings.
Die Wonderwerker is die eerste Afrikaanse fliek wat ek waarlik geniet het - baie diep!
Waar het hul die akteur wat nes Eugene lyk gekry?
Dear Judy
I have in my possession, the Eugene Marais Rocking Chair. This was given to Mrs Julia Krogh by Hannie Preller, her aunt. Julia passed this chair on to my late husband, D'Arcy L Krogh. I would like to see that the chair joins his other important belongings.
Ek het 'n wonderlike ware verhaal wat plaasgevind het in die jare tussen 1908 tot 1911 en daarna. Ek het die feite, baie fotos en 'n bundel oorspronklike Hollandse gedigte wat ek ge-erf het van my Ouma wat ideaal sou wees vir 'n film wat Katinka Heyns absoluut sou pas as sy belangstel?