Kuberklas Kreatief-kortverhaal: Karlie en Devon

  • 1

Karlie is in Devon se stal. Sy saal hom solank op, want oom Frans gaan enige oomblik hier wees. Devon is ’n wit hings met sterk bene.

Karlie kyk na Devon en sê: “Kom, pragstuk.”

Sy  klim op Devon se rug en gaan warm hom op vir vandag se oefensessie. Nadat sy vir Devon een keer om die oefenbaan gevat het en klaar gestrek het, kom oom Frans daar aan. Hy klim uit die modderige bakkie en gaan  na Karlie toe. Hy sê vir haar: “Mooi, jy het al opgewarm.” 

Karlie kyk op, “Middag, Oom. Ja, ek het reeds ons al twee opgewarm. Oom Frans kyk na Devon en sê: “Devon  het nogal ’n paar kilo’s verloor noudat ons hom begin oefen het.”  

“Ja, hy het, Oom,” sê Karlie.

“Nou kom laat ons begin – die dag loop.”

Karlie gaan na Devon toe. Hy blaas sy warm asem in haar nek. Karlie lag en sê: “Dit kielie, Devon.” Sy gaan na die stiebeuel, sit haar een voet in, en een, twee, drie en sy is op.

Oom Frans gaan kry sy stophorlosie in die bakkie en stel dit reg. “Reg, Karlie, is jy gereed? Jy moet probeer om vinniger as 1 minuut en 50 sekondes te gaan.”

“Reg, Oom, ek sal probeer.”

Die oom kyk na die stophorlosie en sê: “Op jou merke, gereed, gaan!”

Karlie skop Devon in die ribbes. Hy begin hardloop. Hy  hardloop op sy vinnigste tot in die middel van die veld, en daar stop hy en begin loop. Karlie skop hom in die ribbes, maar Devon gaan staan stil. Sy lê vooroor en fluister in sy oor: “Kom, seun, jy kan – kom,” maar hy tel net sy een been op en staan vas.

Karlie klim af. Sy kyk na Devon en sê: “Kom seun, kom, jy kan dit doen!”

Sy klim weer op en skop hom, maar weer roer hy nie. Karlie besef daar is fout. Sy klim van Devon af, vat sy leisels en probeer hom om die baan lei, maar hy hou sy een been in die lug en staan vas.  Karlie is bekommerd. Sy probeer vir oom Frans wys dat hy nader moet kom. Oom Frans kyk net vraend na haar. Dan stop hy die stophorlosie se tyd en hardloop nader.

 Toe oom Frans en Karlie by mekaar kom, vra hy: “Wat is fout?”  

Sy sê: “Daar is iets vekeerd met Devon se been.  Sy kyk na sy been en tel dit op, en Devon gee ’n ongemaklike runnik.  Karlie  kyk na hom en sê: “Oom, ek weet daar is iets verkeerd.”

Oom Frans sien nou ook dat iets verkeerd is en sê: “Los hom tot môre en dan kan ons kyk of hy beter is, maar ons kan nie nou verder oefen nie.”

Karlie kyk stadig op  en vra: “Sal sy been reg wees vir die kompetisie?”

“Ja, ek dink so.”

Karlie vat Devon minute later stal toe. In die stal gaan sit sy op sy hooi en vryf hom op sy rug. Devon lê gemaklik op sy sy.

Karlie praat saggies met haarself: “Hoekom moes dit gebeur? Hoekom nou?” Sy voel dat dit haar skuld is.

Dié aand sit sy op haar bed en kyk na haar perdetydskrif. Sy konsentreer nie op die boek nie – sy wonder of Devon se been reg gaan wees vir die kompetisie. Tien minute later klim Karlie van haar bed af, trek haar slaapklere met ’n prent van perde daarop aan en loop met die trappe af.  

Sy gaan sit voor die TV saam met haar ma en pa. Sy trek haar knieë op en kom nie eens agter dat sy die nuus kyk nie. Sy kyk dit nooit nie.

 Haar pa kyk oor sy bril na haar en kry ’n snaakse gevoel. Hy skakel die klank van die TV af en gaan sit langs Karlie. Karlie kyk met hartseer oë na haar pa.

Haar pa sê saggies: “Ek het gehoor wat gebeur het. Oom Henko van der Merwe maak sy arm oop en sy dogter skuif onder sy arm in. Hy sê: “Ons sal kyk of ons hom môre by die veearts kan kry.”

 “Maar Pappa, hoe gaan ons betaal?” Karlie weet hulle sukkel ’n bietjie met geld.

 Karlie se pa  kyk na haar en sê: “Skat, moenie jy bekommerd wees oor geld nie – ons sal ’n plan maak.”

 Karlie vra maar niks verder nie.

 “Hoekom gaan  maak ons nie ’n kaggelvuur nie?”

 Karlie luister net na die helfte van die sin wat haar pa gesê het. Sy sê: “Goed, maak maar so, Pappa.”

 Henko van der Merwe kyk na sy dogter en vra hom af hoekom sy dan so anders is vanaand. Hy staan op en sê vir Karlie: “Kom, kom – kom maak saam met my vuur.”

 Karlie staan op en gaan haal vir haar pa hout uit die buitekamer. Daar is ’n rak wat hy gebou het sodat die hout daarop kan staan. Sy kry ses dik stukke hout, gaan na die laai toe wat haar pa ook gemaak het, kry die pakkie vuurhoutjies en gaan in huis toe. Sy gee die hout vir haar pa en haal ’n vuurhoutjie uit die boksie. Sy gee dit vir hom met die vuurhoutjie by. Hy steek dit aan en gee weer vir Karlie die boksie. Sy gaan weer in die koue aandlug uit en gaan bêre die boksie.

Vyf minute later gaan sit Karlie langs haar pa voor die vuur. Sy staar na die vuur. Sy sien ’n prentjie van Devon: hy is besig om ’n resies te hardloop. Sy sit op sy rug, en daar gaan hulle oor die wenstreep – sy en Devon. Hulle is eerste.  Sy trek haar bene tot teen haar bors. Sy verstaan nie die prentjie wat sy voor haar sien nie. Sy wonder of dit net in haar gedagtes is dat sy vir Devon sien. Karlie knip haar oë ’n paar keer. Sy skud haar kop en praat met haarself: “Ag, dit is maar net my verbeelding.”

Sy draai na haar pa toe en vra hom: “Pappa, sien Pappa vir my en Devon in die vuur?” Haar pa draai sy kop en sê: “Nee.”

Karlie vra haar pa of  hy al iets in die vlamme van ’n vuur gesien het. Hy antwoord  sag: “Soos wat, Karlie?”

“’n Prentjie, Pappa.”

 Karlie se pa word rustig en sê: “Ja, ek kan ook partykeer ’n prentjie sien in die vuur.” 

 Karlie se ma roep haar en haar pa om te kom eet. Karlie staan stadig op, gaan na die kombuistafel, kry ’n bord en skep vir haar op. Hulle eet groente, rys en hoender. Sy gaan sit aan tafel, en hulle bid en begin eet.

 Karlie dink aan Devon. Sy dink aan sy seer been en wat gebeur het. Sy voel nie lekker in haar hart nie. Sy druk haar vurk in haar kos, maak prentjies daarmee en skuif dit rond. Haar ma kyk na haar en vra: “Karlie-kind, gaan jy eet?”

 Karlie kyk na haar ma en sê: “Ja, seker, Mamma.” Sy sit regop en begin eet. Sy eet stadig. Nadat sy geëet het, sê sy nag vir haar ma en pa. Sy gaan gly onder haar duvet met prente van perde daarop in. Haar broer het dit vir haar gegee toe hy nog in die huis gebly het. Hy is nou in die Kaap, maar hy kom kuier gereeld vir haar. Hy kom nou met die kompetisie weer kuier.

 Daardie aand, toe Karlie droom, droom sy sy en Devon hardloop ’n perderesies, maar snaaks genoeg het sy begin droom toe hulle amper klaar is met die resies. Net  toe hulle oor die wenstreep wil gaan, val Devon. Karlie skrik en val af. Sy hoor haar ma sê: “Word wakker, Karlie, word wakker.” Karlie skrik groot en sê: “Nee, nee.” Toe sy haar oë oopmaak, staan haar ma daar. Sy sien Karlie se oë oopgaan. “Word wakker, Karlie, jy is laat vir skool – jy moes al 15 minute gelede  daar gewees het.” Karlie spring uit haar bed, jaag haar ma uit en trek  so vinnig as wat sy kan aan. Toe sy klaar is, hardloop sy die trap af. Sy hardloop hulle so twee-twee af. Sy gaan na haar ma se kamer, gryp haar borsel en kam haar hare mooi netjies uit. Sy maak dit vas en gaan badkamer toe. Sy borsel haar tande, hardloop weer teen die trap op, gryp haar tas en gaan skool toe.

 By die skool gooi sy haar tas op die grond,  kyk op haar rooster by watter  klas sy moet wees  en sien sy moet by mnr Apie wees. Die kinders en personeel noem hom so, want sy ore is bak en hy lyk soos ’n apie. Dié naam dra hy al saam van sy skooldae af.

Karlie gryp haar tas en hardloop met die trap op na die boonste verdieping, waar meneer Apie se klas is. Dis die derde klas op die tweede verdieping.

By die klas aangekom, staan meneer Apie en tik op sy horlosie. Hy dui aan dat sy laat is. Karlie haal haar tas van haar rug af en sê: “Môre, Meneer, ek is baie jammer dat ek laat is.”

Mnr Apie sê: “Môre, Karlie. Dit moenie weer gebeur nie. Verstaan ons mekaar?”

Karlie knik en sê: “Ja, Meneer, ek verstaan.”

“Nou kom sit.”

Karlie tel haar tas op en gaan in die klas in. Sy gaan sit in die middelste ry en maak haar boek oop. Sy kyk na die meneer, maar sy let nie op wat hy sê nie. Sy dink aan haar droom en die prentjie van gisteraand in die vuur.

By die huis gaan sit Karlie voor haar lessenaar. Sy kyk voor haar en sien die foto van haar en Devon. Sy haal haar Afrikaanse boek uit. Sy maak dit oop, blaai ’n paar blaaie aan en stop by haar werk. Sy haal ’n pen uit en begin haar opstel skryf. Soos mens kan raai, skryf sy oor ’n perd. Dit is ’n wit perd wat mooi en sterk gebou is; hy is goed gebou vir spring en het baie sterk beenspiere, daarom kan hy en sy baas maklik oor die hoë balke gaan. Só skryf Karlie die hele storie klaar.

Toe sy klaar is, is sy in haar skik met die storie wat sy geskryf het. Sy maak haar boek toe en haal haar wiskundeboek uit. Sy doen haar laaste paar langmaalsomme, toe is sy klaar. Sy trek gou haar skoolklere uit en gaan na Devon toe.

Sy staan en vryf Devon. Hy gee so nou en dan ’n runnik van lekkerkry.

Om drie-uur kom oom Frans. Karlie hoor nie toe hy sy bakkie intrek nie.

Devon gaan lê. Karlie wil ook lê, maar sy sit maar net op Devon se hooi, waar sy altyd sit.

Oom Frans kom in. Karlie kyk om en sê: “Middag, Oom.” Sy draai weer om.

Oom Frans sê: “Middag, Karlie,” en kom sit langs Karlie op die hooi.

 Hy vra: “Hoe gaan dit met Devon?”

 Karlie sê: “Dit gaan goed met hom.” Oom Frans skuif nader aan Devon, sit sy hand op sy maag en vra of hy hom nie vir hulle veearts toe kan vat nie.

 Karlie antwoord: “Dit is reg, Oom – Pappa het gesê hy sal kyk of hy hom by die veearts kan kry.”

Oom Frans vra na wie toe hulle gaan. Karlie sê: “Ek weet  nie presies nie, Oom, maar hy het ook ’n perd. Mamma het ’n skildery van die perd gemaak. Ek sal dit gou gaan haal.”

Oom Frans sê: “Dit is reg, gaan haal hom maar – dalk ken ek die oom.”

Karlie gaan in die huis in, hardloop op na haar ma se kunskamer en soek tussen al die half geverfde skilderye en op haar lesenaar, maar sy kry dit nêrens nie. Sy wonder waar haar ma die skilderye gesit het – dié wat sy in hulle huis en in Karlie se kamer wil ophang. Karlie soek baie lank, maar sy kry dit nie. Sy hardloop teen die trap af, gaan na die kombuis toe en vra vir Martha, hulle huishulp, of sy nie die skildery van die perd gesien het nie. Martha begin hakkel: “E...e...ek het n...n...nie die s...s...skildery van ’n p...p...perd gesien  n...n...nie, m...m...maar ek h...h...het ’n  p...p...p...prentjie van ’n p...p...perd g...g...gesien op d...d...die kombuist...t...tafel. Kom e...e...ek gaan w...w...wys  j...j...jou.”

“Reg,” sê Karlie en gaan saam met Martha.

 By die kombuistafel wys Martha vir Karlie die prentjie.

Karlie sê: “Dit is nie entlik die prentjie wat ek gesoek het nie, Martha, maar dit is reg, dankie.”

“R...r... reg,” sê Martha  en gaan na die wasbak.

 Karlie vat die papiertjie en gaan na Devon se stal toe, waar oom Frans vir haar wag. Toe sy in Devon se stal kom, sien sy oom Frans met die foon teen sy oor. Karlie wonder hoekom oom Frans op die foon is – sy het hom nog nooit vantevore op die foon gesien nie. Sy weet nie hoekom hy nou op die foon is nie. Karlie gaan sit op die hooi en vryf Devon.

 ’n  Paar minute later is oom Frans klaar op die foon. Karlie wil hom nie eintlik vra met wie hy gepraat het nie, maar sy kan haarself  nie keer nie – sy is te nuuskierig. Sy vra hom: “Oom, met wie het Oom oor die foon gepraat?”

Oom Frans kyk op en sê: “Ek het met die veearts gepraat – ek het gehoor of hy nie vir my oor die foon kan sê wat met Devon se been fout is nie.”

Nog voor oom Frans verder kon praat, vra Karlie: “En wat het hy gesê? Kan hy vir Oom sê?”

Oom Frans skud sy kop en sê: “Nee, hy kan nie.”

Karlie sê net “Ooo” en haal die papier uit haar sak. Sy wys dit vir oom Frans en sê: “Ek het nie die skildery van die perd gekry nie – ek het net dié prentjie gekry.”

Oom Frans vat die prentjie uit Karlie se hand en kyk  na die perd.

Hy sê: “Ek ken die veearts; ek gaan ook na hom toe. Ek dink ek het jou  pa van hom vertel nog voordat jy gebore was. Hy is regtig ’n goeie dokter – hy werk baie sagkens met diere; dit kan ek jou verseker.”

Karlie knik haar kop.

“En wat ek nog wou sê, is dat hy nie baie duur is nie.”

Karlie knik net weer haar kop en gaan sit langs oom Frans. Sy kyk na Devon se hartseer gesig. Sy lê met haar kop op Devon se maag en sê vir hom: “Asseblief, Devon, laat jou been beter word, want dit is oormôre die kompetisie en as jou been nie reg is nie,  kan ons nie in die finale rondte gaan hardloop nie.” Toe gaan sy huis toe.

Twintig minute later kom Karlie saam met Martha in. Sy het ’n skinkbord met  twee bekers Milo en ’n paar koeksisters. Oom Frans kyk op en vra: “Is dit vir ons?”

Karlie antwoord: “Ja, dit is vir ons, Oom.” Sy vat die skinkbord by Martha en sê: “Dankie, Martha, vir jou hulp.”

Martha sê: “D...d...d...dit is ’n  p...p...p...plesier.”

“Wag, Martha,” sê oom Frans. “Dankie.”

Karlie sit die skinkbord tussen haar en oom Frans neer, gee vir hom ’n beker Milo en hou die bordjie koeksisters vir hom. Hy bedank Karlie en drink sy lekker warm Milo.

 Vieruur die middag  kom Karlie se ma en pa by die huis aan. Hulle het ’n klein boksie saamgebring. Karlie hardloop uit die huis en gaan nader. Toe sy by haar ma en pa kom, sê sy: “Hallo Mamma, hallo Pappa.” Haar ma en pa groet haar ook.

 Karlie vra haar ma: “Mamma, waar bêre Mamma die skilderye wat Mamma in die huis wil ophang?”

Haar ma laat sak haar kop en sê: “Ek het dit verkoop, Karlie.”

Karlie kan nie glo wat sy hoor nie en vra: “Het ek reg gehoor? Mamma het dit verkoop?” Haar ma knik haar kop. Ja, sy het dit verkoop. Sy sê: “Ek het dit verkoop vir Devon.”

Karlie vra: “Het Mamma dit net verkoop sodat ons Devon by die veearts kan kry?”

Haar ma sê: “Ja, my skat, dit is al waarvoor ek dit verkoop het.”

Karlie hardloop na haar ma toe en druk haar styf teen haar vas.

Sy sê: “Dankie, Mamma – Mamma is die beste ma wat ek ooit kon hê.”

Later die aand hoor Karlie haar pa in hulle kamer op die foon praat. Hy maak ’n afspraak met die veearts sodat hulle Devon die volgende dag na hom toe kan vat. Toe Karlie se pa klaar gepraat is op die foon, hardloop sy in en omhels haar pa. Sy sê: “Pappa en mamma is die beste mense in die wêreld.”

Die volgende oggend trek Karlie aan en gaan na Devon toe. Sy sê vir hom: “Devon, asseblief, laat jou been beter word, want môre is dit die kompetisie.”

Sy staan op. Haar pa kom saam met oom Frans in. Hy het vroeg vanoggend gekom om saam met haar pa te gaan. Hulle laai hom in die waentjie.

Karlie hardloop na haar ma toe. Sy sê: “Kom, jong dame, kom ek en jy gaan maak solank die kos, want as die mans terugkom, gaan hulle honger wees.”

Karlie sê: “Reg, Mamma,” en gaan help haar ma. Hulle maak rys, vleis, aartappels en pampoen gaar.

Net toe hulle klaar is met die kos, kom die mans daar aan. Hulle weet die kos is op die tafel, so hulle gaan direk kombuis toe.

In die kombuis skep almal op en hulle bid. Toe begin hulle rustig eet.

Later die middag, toe Karlie TV kyk, hoor sy hulle huisfoon lui. Sy spring op, gaan na die foon, tel dit op en sê: “Goeiedag, Van der Merwe se huis. Kan ek help?”

“Is daar ’n Henko van der Merwe in julle huis?”

Karlie sê: “Ja, daar is, moet ek die foon vir hom gee?”

“Ja, asseblief.”

“Maar voor ek die foon vir hom gee, kan ek asseblief net vra wat is Oom se naam?”

“ My naam is André. Ek is ’n veearts – julle het vanoggend ’n perd met die naam Devon vir my gebring.”

Karlie sê: “Ja, dit is reg, Oom. Ek sal nou vir my pa die foon gee. Hou net aan, asseblief.”

Sy sit die foon op die tafel neer en hardloop in die gang af. Sy gaan na haar ma en pa se kamer en sê vir haar pa dat die veearts met hom wil praat. Haar pa staan op en gaan ondertoe. Hy tel die foon op en sê: “Goeiedag, is dit dokter André?”

“Ja, dit is dokter André wat praat. Jy en ’n ander man het mos vanoggend ’n perd gebring.”

“Ja, dit is so,” sê Karlie se pa.

“Jy kan maar die perd kom haal – hy het niks ernstig oorgekom nie. Hy het net ’n spier gerek.”

Karlie se pa vra: “Sal hy môre in ’n kompetisie kan hardloop?”

“Ja, hy behoort te kan, maar ek kan nie belowe nie. Ek sal nie aanraai dat hy môre in die kompetisie moet hardloop nie, want netnou val hy omdat sy spier swak is en dan breek hy sy been, en dan sal ons hom moet uitsit.”

“Reg,” sê Karlie se pa. “Ek sal hom nou kom haal.” Hy sit die foon neer.

Karlie gaan nader en vra of  hy môre kan hardloop.

Karlie se pa sê: “My liewe skat, ek dink nie hy gaan kan hardloop nie.”

“Maar Pappa, môre is die finale resies en ek kan eers weer volgende jaar deelneem. Ek het die kans om môre die kampioen te word!”

“Ek weet jy wil so graag môre gaan ry, maar jy kan nie.”

 Karlie voel baie hartseer, want sy kan nie so ’n groot kans deur  haar vingers laat glip nie en sy wil al die harde werk hiervoor darem die moeite werd maak.

Sy hardloop met die trap op na haar kamer. Sy gaan lê op haar maag en huil. Dit voel vir  haar of alles wat sy doen, verkeerd loop. Niks werk uit nie!

’n Rukkie later kom haar ma ingestap. Sy kom sit langs Karlie op die bed, vryf haar rug en sê: “Toe maar, my skat, moenie huil nie, jy kan dalk volgende jaar die kampioen word.”

Karlie kyk op en sê: “Maar, Mamma, ek wil graag hierdie jaar die kampioen word, en ek dink ek sal die kampioen kan word.”

“En hoe gaan jy dit nogal doen?” vra Karlie se ma.

“Mamma sal sien.”

Dié aand, toe Karlie se pa TV kyk en haar ma kosmaak, sluip sy uit die huis uit. Sy gaan na haar kamervenster om die goed te kry wat sy daar uitgegooi het. Sy kry haar ryhoed en haar rystewels daar. Sy gaan na Devon se stal en sê: “Devon, my liefste dier, jy moet nou asseblief op jou voete staan.”

Sy tel: “Een, twee, drie,” trek hom aan sy leisels en los hom dan versigtig. Tot haar verbasing staan Devon op sy voete.

Sy sê: “Mooi, seun, mooi – ek het geweet jy kan!”

Karlie sit haar ryhoed op en trek haar stewels aan. Sy klim op Devon en klap haar tong liggies. Dit beteken hy moet draf.  Devon spits sy ore om te hoor as Karlie haar tong weer klap, want dan moet hulle begin hardloop. Devon draf gemaklik tot by die oefenring. Toe Karlie se ma klaar kosgemaak het, was sy haar hande by die kombuiswasbak. Toe sy by die venster uitkyk, sien sy hoe Karlie op Devon klim. Sy roep gou haar man. Hy kom so gou as moontlik. Karlie se ouers kyk na haar: hoe sy by die oefenbaan ingaan en om en om die baan gaan.

Karlie geniet dit in die koelerige aandlug en is bly dat Devon nogal lekker gemaklik hardloop. Sy hoor haar ma en pa van die ander kant van die baan af skree: “Gaan, Devon, gaan!”

Karlie verbeel haar dat sy in ’n kompetisie hardloop, en sy is heel voor. Sy en Devon maak eerste klaar – hulle het gewen!

Karlie en Devon is as die kampioene aangewys.

Karlie klim van Devon af en hardloop na haar ma en pa toe. Sy gee hulle al twee ’n stywe druk.

Die volgende oggend staan Karlie vroeg op en gaan maak koffie. Sy maak vir haar ma en pa ook koffie en vat dit op ’n skinkbord vir hulle kamer toe. Hulle geniet die koffie saam. Toe maak hulle klaar en gaan na die kompetisie toe.

By die kompetisie klim Karlie uit en gaan na die waentjie. Sy wag dat haar pa dit moet oopmaak en vir Devon uitlaat. Toe Devon uit is, gaan Karlie na sy oor en sê: “Seun, vandag is die dag wat ons twee kan wen! Jy moet onthou dat jy dit kan doen, seun – ja, jy kan!”

Tien minute later het haar pa vir hom en haar ma ’n bakkie skyfies gekoop en vir Karlie ’n energiekoeldrank. Toe hulle gaan sit, roep hulle Karlie se item uit.  Karlie is al klaar op Devon; sy gaan staan reg. Sy kyk om haar rond. Daar is ’n balk waaroor hulle moet spring. Sy en Devon het nie met balke geoefen nie. Karlie se hande begin sweet. Sy maak reg. As hulle die klokkie lui,  moet sy begin en haar tong klap vir Devon. Sy wag en wag. Dit voel vir haar soos ’n ewigheid. Toe hoor sy dat hulle sê: “Drie, twee, een,” en tiengelieng lui die klokkie.

Karlie skop vir Devon in die ribbes en klap haar tong. Devon begin hardloop. Toe hulle by die balk kom, trek Devon sy voorpote op tot  styf teen sy bors. Karlie hou haar asem op en maak haar oë toe. Toe sy voel Devon se lyf is oor, maak sy haar oë oop en blaas haar asem uit. Sy kyk om. Die balk is nog daar. Die laaste 50 meter hardloop Devon op sy heel vinnigste.

Toe hulle oor die wenstreep gaan, kyk Karlie en haar ma en pa op die bord waarop die tyd staan. Dit is 50 sekondes. Karlie het dit gemaak. Sy is die kampioen! Karlie se pa spring op en gooi sy skyfies in die lug. Die man wat agter hulle sit, is vol tamatiesous.

Karlie klim van Devon af en sê in sy oor: “Devon, ons het gewen! Ek het geweet jy kan dit doen!” Sy sien hoe kom die hoof van die perdekompetisie daar aan met die helder beker en roset. Hy sê: “Ons wenner en kampioen van die jaar is Karlie op Devien.”

Karlie help hom reg: “Dit is Devon, Oom.”

“O, skuus, dit is Karlie op Devon.”

“Ja, dit is reg,” sê Karlie.

Toe hulle ’n foto vir die koerant neem van Devon en Karlie met haar ma en pa by, eet Karlie se ma nog steeds haar skyfies, en net toe die fotograaf die knoppie druk, eet Karlie se ma ’n skyfie. Die fotograag het ’n foto van Karlie, Devon, Karlie se ma wat ’n skyfie eet en haar pa.

Dié kompetisie sal Karlie nooit vergeet nie!  

Die middag toe Karlie vir Devon stal toe vat, sê sy: “Devon, jy is baie spesiaal!”

  • 1

Kommentaar

  • Uitstekend. Goeie storielyn, boeiend  en aangenaam on te lees!  Hou so aan, jy het  baie potensiaal!

    Rian & Mimmie.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top