Karin Brynard by die WAT se Woordpret

  • 0

Karin Brynard, skrywer en vryskutjoernalis, was op 21 Februarie die gas by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se eerste Woordpret van die jaar. Naomi Meyer het gaan luister.

Jeanneret Momberg van Middelvlei-wynplaas was saam met Willem Botha van die WAT op skool, vertel hy toe hy haar aan die woord stel. Die gehoor kyk twee keer: eers na hom en dan na haar. Hulle lyk dalk nie heeltemal of hul tot dieselfde ouderdomsgroep behoort nie.

"Wat Willem gesê het, is effens van die waarheid ontbloot," vertel Jeanneret met 'n glimlag. "Ons was inderdaad in dieselfde skool. Hy was egter inderdaad my Afrikaans-onderwyser."

Die geleentheid is die vooraf-wynproe voor die Woordpret-aanbieding op Moedertaaldag 2014 by die WAT se kantoor in Banghoekweg, Stellenbosch.

Gepas by 'n woordgeleentheid vertel Jeanneret Momberg van die oorsprong van een van die wyne se handelsmerke: Hagelberg. Simon van der Stel het glo op 'n reënerige dag die eerste keer hierdie Stellenbosse heuwel gesien en, "tipies Hollands", die plek verklaar as "Berg van die hael".

Hierna word Karin Brynard deur Willem Botha aan die woord gestel. "Sy was vryskutjoernalis," vertel hy aan die saal vol mense. "'n Paar jaar maak sy haar nog meer vry en skryf haar debuutwerk, Plaasmoord, wat op vele vlakke bekroon is. Dan ook Onse Vaders. Ons almal sien uit na rolprente," sê hy. "Maar nou kan jy die praatwerk doen, Karin."

Karin Brynard: "Julle sal nie my broek sien bewe nie, maar hy bewe. Nou die dag hoor ek in die winkelsentrum mense praat: 'Dis nice, ek like dit kwaai, dis awesome. Check die pryse. Dis nie baie expensive nie.' En ek dink: 'Koekemakranka. Dis verskriklik erg duur, dit kan nie eens die klos bedek nie.'"

"Dis nastrewenswaardig om mooi Afrikaans te praat. Ons generasie kom uit 'n eng en streng gemeenskap, waar die taal ook suiwerder gepraat is. Al die bande is weggegooi. Wat kom na al die losbandige vryheid? Is daar enige manier waarop mens Afrikaans in sy volle register kan red? Hy word net gered as hy in sy geskrewe vorm verskyn en gepraat word. Maar ook: Hoe rigied bly 'n taal? Hy pas hom aan, hy leen by ander tale, dis altyd vloeibaar. Waar het die vryheid van 1994 ons laat uitspoel? Op watter strand het ons uitgespoel? Hoe lyk die identiteit van ons gemeenskap? Knoop ons nou 'n derde taalstryd aan?"

 

 

 

"Om vandag vyf woorde te kon borg, moes ek my Facebook-vriende vra om te help en die reaksie was oorweldigend. Ek moes kies tussen meer as 175 woorde, soos op my Facebookmuur weerspieël word."

Karin Brynard verklap nie haar woorde by die geleentheid self nie, maar agterna vertel sy aan LitNet watter woorde sy geborg het:

Moor
Moer
Moffel
Antie
N!abbas - Kalahari-truffels.

"Hoe kan dit wees dat ek so anoreksies Afrikaans praat? Dit het verskraal. Alles het 'nice' en 'cute' geword."

"In Onse Vaders het ek gespartel om verskillende dialekte reg te kry. Een van hulle was die townshiptaal, Kazi. Daar is 'n taal wat sy oorsprong het in die Fanakalo, oorgegaan in Flaaitaal, en nog verder omvorm is. Jy moet ingelig wees van die algemene leefwêreld van die mense en hulle omgewing. ‘G-string’, voorkant van die BMW. Baie woorde het nie hulle oorsprong in Afrikaans nie, maar onverwagse woorde het weer inderdaad hul wortels in Afrikaans."

Ook oor die boek Onse Vaders:Dis werklik 'n boek wat handel oor wat dit beteken om 'n pa te wees, die "blaffers by die hek". Die boek het ontspring weens 'n onderhoud wat sy gevoer het met een van die pa's rondom die Inge Lotz-saak. En agterna het sy gedink: kyk hoe vaderloos is baie mense in hierdie land, hoe op soek na 'n vader.

Hoekom skryf sy in Afrikaans?

"As ek iets wil sê wat nie uit my kop is nie, maar uit my binnewerke, skryf ek Afrikaans."

"Hoe gaan Afrikaans wees oor 'n honderd jaar? Gaan dit 'n bont rok aanhê? Of hoegenaamd nog bestaan? Terwyl ek besig is met my derde boek, Tuisland, wonder ek waar beskou ons as Afrikaanssprekendes ons tuisland, ook op die gebied van taal. Ons bespied ook ons landgenote se tuislande."

Sy was vyf-en-dertig jaar lank in die joernalistiek, waar sy haar geld verdien het met woorde. Haar woorde in die tagtigerjare was anders as vandag se woorde. Dit was streng, vroeër. "Jêm" was amper die mees avant-garde woord wat sy mag gebruik het. Dinge lyk anders, taal het anders geklink.

"Ons het ons onskuld verloor in 1976 en in PW Botha se tyd begin wonder wat gaan aan. Gedurende daardie tyd was ek by Die Vaderland. Harald Pakendorf het enigiets gepubliseer wat gesê moes word. Ek was die township-joernalis. Soms het ek oorgeslaan na my idee van Hollands in die townships, sodat ek nie my doodsertifikaat hoef te gaan haal nie."

"'n Totale moles en fantasties vir 'n joernalis. Uit soveel storm en drang kom daar altyd nuwe goed tot stand. Ons is nog steeds in daardie proses. Ons is nog steeds besig om ons identiteite te vestig. Maar waar is ons nou? Niemand weet nie. 'n Moordskrywer maak 'n fantastiese bestaan uit chaos. Die breë gemeenskap van Suid-Afrika is jou karakter. "

Willem Botha vra die eerste vraag nadat Karin Brynard gepraat het. "Hoe skryf mens misdaad – want misdaad is nie fiksie nie, dis feite?"

Karin Brynard: "Daar is dinge wat plaasvind in ons land wat te onrealisties is om te skryf. Die misdade klink meer fiktief as die fiksie self. Gaan leen by die fiksie én by die feite."

Wat wil sy met haar skryfwerk bereik? Sy wil 'n lekker storie skryf. Andrenaliengedrewe. Raaisel aan die begin van die boek. En hoe ontknoop mens dit? Wie het daai lelike ding gedoen?

"Hoekom lees ons misdaadfiksie? Is ons siek?" vra iemand anders uit die gehoor.

"Nee, ons geniet raaisels. Soos blokraaisels. En dan ook die bevrediging: die skuldige ry aan die pen."

Vraag uit die gehoor: "Is die misdaadgenre amper historiese romans – amper soos FA Venter? Misdaad is nou ons land se geskiedenis?"

Sy voel gevlei. Wat gaan die joernaliste met hierdie vraag maak? Maar nee, sy dink misdaadstories is net stories.

Nog 'n vraag uit die gehoor: "Is daar 'n mate van terapie betrokke om misdaad te skryf? Of om dit aan te bied vir jouself?"

Brynard: "Ek het al by sommige ander skrywers gehoor die skryfproses is terapeuties. Maar hoe meer ek skryf, hoe meer terapie het ek nodig."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top