Kan studente sosialenetwerk-omgewings gebruik om beter te kan studeer?

  • 0
Daar is uiteenlopende bevindings rakende die gebruik van sosiale netwerke in onderrig. Sommige opvoedkundiges beskou die gebruik daarvan as ’n nuttelose vermorsing van tyd en ’n fokusverskuiwing weg van akademiese doelwitte. Daarteenoor bewys opvoedkundigenavorsingsresultate dat die gebruik daarvan bemagtigend en onvermydelik is. 'n Artikel het onlangs in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) hieromtrent verskyn: Leerbestuurstelsels teenoor sosialenetwerk-omgewings: die ontwikkeling van ’n geïntegreerde tegnologiese onderrig-leer-model. Corné van Staden gee sy mening.

Na aanleiding van die artikel “Leerbestuurstelsels teenoor sosialenetwerk-omgewings” wat onlangs in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het (Du Plessis en Smith 2013, wil ek met hierdie bydrae kortliks kyk na die stand van die nuwe uitdagings wat sosialenetwerk-omgewings (SNO’s) in die leeromgewing teweeg bring vir leerders asook opvoedkundiges in ’n hoëronderwys-omgewing.

Soos die skrywers tereg in hul opsomming gesê het, blyk dit uit die literatuur dat daar uiteenlopende bevindings is rakende die gebruik van sosiale netwerke in onderrig. SNO’s bied nuwe uitdagings, nie net vir opvoedkundiges nie maar ook vir die studente wat dit moet gebruik. Die toenemende gebruik van rekenaarondersteunde kommunikasie (ROK) soos e-pos, teksgebaseerde konferensies en kommunikasie het ook teweeg gebring dat opvoeders van die veronderstelling is dat ROK studentebetrokkenheid en produktiewe besprekings bevorder. Tolmie en Boyle (2000) het gevolglik navorsing gedoen om vas te stel watter faktore ’n rol sal speel in die suksesvolle implementering van ROK. Soos deur die twee navorsers verduidelik, is SNO’s ’n onderafdeling van ROK.

Die navorsers se navorsingsvrae het die ondersoek begrens:

  • Speel SNO’s 'n leerverrykende rol in die klaskamer?
  • Kan leerbestuurstelsels (LBS’e) en SNO’s suksesvol in die klaskamer geïntegreer word?

Boyd en Ellison (2007) definieer SNO’s as webgebaseerde dienste wat individue toelaat om openbare of semi-openbare profiele te skep. Soos die navorsers tereg sê:

Die uitdaging in onderrig is nie net die gebruik van sosiale media nie, maar ook die integrasie van tegnologie in die onderrig- en leerproses om konstruktiewe betrokkenheid van studente tydens die leerproses te bevorder. Dit is verder belangrik om die werklike redes vir die gebruik van sosiale media te identifiseer. Die gebruik hiervan moet uiteindelik die leeromgewing verbeter, die leerproses ondersteun en leer vir studente meer toeganklik maak. (Smith en du Plessis 2012)

Karrer (2007) voer aan dat LBS-ontwikkelaars toenemend probeer om sosialemedia-funksies deel van die funksionaliteit van ’n LBS te maak en dat dit ’n stap in die verkeerde rigting is. Karrer (2007) is verder van mening dat elke tegnologie ’n bepaalde nis het, en dat hierdie vermenging tot nadeel eerder as tot voordeel van ’n LBS kan wees.

Die ondersoek is gemotiveer deur ’n vakkundige benadering tot onderrig en leer. ’n Vakkundige benadering lei tot ’n onderrig-en–leer-benadering wat meer op studente se leerervaring fokus, meer sistemies is, resultaat-gedrewe is en tot beter akademiese kwaliteit lei.

Die artikel lewer ’n sinvolle bydrae oor die opvoedkundige waarde van SNO’s. Die artikel het ook bepaal watter kritieke faktore nodig is om die sukses van enige SNO in ’n leeromgewing te ondersteun. Daar is ook gekyk na hoe studente se persepsies van gesamentlike leer, sosiale teenwoordigheid en vlakke van leer mekaar beïnvloed. Dit is ook belangrik om erkenning te gee aan die feit dat daar ’n duidelike onderskeid bestaan tussen inhoud wat vir ’n LBS geskik is en dit wat vir ’n SNO geskik is.

Dit is ook belangrik om te kyk na die opvoedkundiges se persepsie en beskouing van die SNO’s: sommiges beskou die gebruik daarvan as ’n nuttelose vermorsing van tyd en meen dat dit ’n fokusverskuiwing weg van akademiese doelwitte is, teenoor ander opvoedkundigenavorsingsresultate wat daarop dui dat die gebruik van SNO’s die student kan bemagtig en dat dit ’n onvermydelike beweging is weg van die “ou maniere van doen”. Die uitdaging vir opvoedkundiges is dus om hul aanbieding van leermateriaal in ’n ander leeromgewing aan te bied om sodoende studentebetrokkenheid by leer te bevorder.

Die uitdaging vir opvoedkundiges is ook om dieselfde metodes wat in die vak se stelselontleding en ontwerp (SOO) as deel van ’n inligtingstegnologie-kursus gebruik was, suksesvol op ander vakgebiede te implementeer. Hoe gereed is opvoedkundiges en studente in ander fakulteite wat nie goed vertroud is met tegnologie nie?

Die resultate wys dat daar ’n groot persentasie studente was wat nie van die SNO gebruik gemaak het nie. Daar kan seker baie redes wees vir die verskynsel; een van die redes wat in die studie aangedui is, is dat sommige studente verkies om nie hul fone vir studie te gebruik nie.

Dit is duidelik uit die data dat die gebruik van ’n LBS as ’n ROK-hulpmiddel stewig onder die studente gevestig is. Die data het ook verder bevestig wat Karrer (2007) aanbeveel, naamlik dat LBS en SNO nie vermeng en geïntegreer behoort te word nie. In die meeste gevalle is die gebruik van SNO’s as ’n positiewe toevoeging tot die akademiese leeromgewing beskou.

’n Veldtog om die voordele en gebruike van SNO’s uit te lig aan beide opvoedkundiges wat teenstribbel teen die verandering en studente, is van kardinale belang vir die suksesvolle uitrol oor fakulteite in die huidige hoëronderwys-omgewing heen. Ondersoek kan ook gedoen word na die gereedheid van opvoedkundiges om van SNO’s gebruik te maak, watter ondersteuning en opleiding beskikbaar is of benodig word om hulle te bemagtig om van SNO-tegnologie-gebruik ’n sukses te maak. Opvoeders sal hulle ook moet vergewis van die veranderende leeromgewing. Dit is ook ewe belangrik vir studente om te besef dat opvoeders van rekenaarondersteunde kommunikasie gebruik maak om boodskappe oor te dra en oor belangrike inligting te kommunikeer.

Die navorsers se voorgestelde hibridiese model het die potensiaal om studente te mobiliseer om aktief aan die leerproses deel te neem. Studente kan dus terselfdertyd ook kommentaar en bydraes lewer om die leerinhoud te verryk. Daar moet egter gewaak word teen die voorstel om die klasgrense af te breek. Daar moet dalk meer ondersoek ingestel word na intellektuele eiendom of wie insette lewer.

Die navorsingsresultate dui aan dat die tegnologie-opsies wat in die ondersoek gebruik is, mekaar komplementeer en die leeromgewing met nuwe funksionaliteite verryk. ’n Gestruktureerde benadering tot SNO is beslis ’n aanbeveling en sal ook deur opvoeders wat nie gewoond is aan die gebruik van sosiale media as ondersteuning van die leerproses en hoe om die pedagogiese aspekte van sosiale media in ’n opvoedkundige konteks te evalueer.

Bibliografie
Boyd, DM en NB Ellison. 2007. Social network sites: Definition, history, and scholarship. Journal of Computer-Mediated Communication, 13(1):210–30.

Karrer, T. 2007. E-learning technology, Desember 2007. http://elearningtech.blogspot.com/2007/12/ communities-social-networking-and-lms.html (13 Augustus 2012 geraadpleeg).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top