Kaalkop die waarheid

  • 1

Om te verwag van die Hooggeregshof om die bestaan van The Spear op die nasionale en internasionale front ongedaan te maak en die verspreiding daarvan “te verbied” is nog ’n drieletterwoord — gek ...

Enige uitspraak in dié rigting sou die frase "the law is an ass (Charles Dickens)" spottend-lagwekkend op ons regstelsel van toepassing maak.

In The Spear-saga is daar wenners en verloorders — nie altyd maklik om van mekaar te onderskei nie. Ek is seker daar sal verskil wees tussen diegene wat ’n opinie het om te lug.

Onbetwisbaar ’n wenner is die “Duitse kunsversamelaar” wie se belegging in ’n minuut of wat met meer as twee maal in waarde verdubbel het. Hy het geen herstelkoste nie. Hy sal seker sy geld terugkry van die versekeraar. Hy kry minstens ’n handewringende apologie van die Goodman-galery by. Tuis hang hy sy gekogte werk teen die muur neffens ’n presiese afdruk van dit wat Brett Murray geskilder het. Hy ervaar emosionele tevredenheid bo en behalwe waarskynlike direkte en indirekte verdere finansi?le voordeel.

Onbetwisbaar ’n wenner. Die Noodlot wat die e-tv televisiespan, Barend la Grange en Louis Mabokela in "prime time" byeen gebring het.

Onbetwisbaar ’n verloorder. Paul Molesiwa wat Mabokela onnodiglik en voor miljoene wêreldwye kykers behoorlik gebakkiesbotha het.

Wenners — la Grange en Mabokela — wat beskaafd en sonder emosie hul ’joppie’ binne sekondes klinies en netjies afgehandel het. Anders as in die geval van die Europese en Noord-Amerikaanse barbare wat die verf met ’n emmer aanwend of swaelsuur verkies. Die minder morsiges onder hulle verkies ’n mes of ander skerp voorwerp om dit te skeur — of pluk ’n hamer te voorskyn ... Die onbraafstes sal lipstiffie smeer, kougom plak of in histeriese woede ’n terracottabeker gooi. Aan die bopunt van gruwelikheid het Robert Cambridge in Julie 1987 die National Gallery in London ingestap en met ’n haelgeweer op ’n Da Vinci-skildery gevuur (die splinters van die glasskerm het die skildery beskadig).

’n Pypbom het die regteronderbeen van Rodin se Denker in Cleveland VSA afgeskiet en die laaste voorbeeld is die onskuldige Klein Meermin in die hawe van Kopenhagen Haar koppie is tweemaal afgesaag. Op 24 April 1964 deur polities-gemotiveerde kunstenaars van die Situationist beweging — dié kop is steeds soek. Die nuwe kop, wat toe aan die standbeeld geheg is, is op 6 Januarie 1998 afgesaag — dié kop is na ’n anonieme oproep gevind maar die booswigte is nooit gevang nie. Op 10 September 2003 is die standbeeld met dinamiet van die voetstuk afgeskiet en later van die bodem van die see opgediep Die arme meermintjie is ook dikwels met verf bemors — die laaste (?) keer in Mei 2007 Op 8 Maart 2006 het groenverf die hele standbeeld bedek en ’n dildo is in haar hand gestop.

Wenners/verloorders: Brett Murray, die Goodman-galery en City Press?

Dit is te vroeg om te oordeel. Ek het geen probleem met hul motiewe nie.

Verloorders/wenners: Gcina Malindi. Hy is deur die ANC in ’n onhoudbare posisie geplaas. Was dit ’n siniese poging om emosie op te sweep om sodoende oor regspleging te probeer spoel? Hy was nie emosioneel opgewasse vir die taak nie. Ek het Justice Malala se Why Malindi cried (ST 27 Mei) met waardering gelees.

Verloorders: Dit is waarskynlik veel meer die geval dat Gwede Mantashe en Blade Nzimande om die behoud van hul eie bas in Mangaung aan die einde van die jaar baklei as vir Jacob Zuma. Hulle sal nie die suspisie — ook by ANC kaders — nie veel langer kan besweer nie.

Naas Viljoen

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top