James Bond, ontbloot deur Heinz Mödler

  • 1

Onthou toe Pierce Brosnan se James Bond in Golden Eye teen 'n krans af in 'n vliegtuig ingespring het? Werk goed vir 'n film. Maar kán dit? Heinz Mödler vra al die vrae oor die James Bond-films waaroor jy nog altyd gewonder het in sy Naledi-publikasie James Bond, ontbloot. Naomi Meyer kry kans om vir Heinz self 'n paar vrae te vra sonder dat hy agter Bond kan wegkruip.

Hallo Heinz! 007 mag agter allerhande identiteite wegkruip, maar wie is jy?

Naomi, ek is 'n mediese dokter. Ek het in narkose gespesialiseer, maar doen net hartnarkoses. Ek werk daagliks saam met Susan Vosloo en Willie Koen. Ons werk met kongenitale hartafwykings in babas en kinders asook met volwassenes vir hartomleidings en klepvervangings. Ook hartoorplantings. Dis my day job. Verder hou ek my besig met skryfwerk, fotografie, keramiek en ou motors.

Hoe het jou fassinasie met James Bond begin? Het één spesifieke fliek dit veroorsaak?

Elke keer wanneer ek na ’n JB-fliek kyk, dan het ek gedink daar is ’n boek om te skryf. Te veel mediese en wetenskaplike kwessies duik op wat óf waar óf vals, óf moontlik óf onmoontlik mag wees. Tydens een fliek het ek opgestaan en die boek begin skryf. Wat ’n lekker projek!

'n Ruk gelede het DStv al die James Bond-flieks wat al gemaak is, uitgesaai. Watter film staan vir jou uit?

Daar is nie een bepaalde film wat uitstaan nie, want almal is so anders. Ek moet erken dat die ouer films vir my die opwindendste is, want daar gebeur baie dinge waaroor ek kan skryf.

Ek vra oor jou fassinasie met Bond. Maar wil alle mans nie maar Bond wees nie – sterk, sjarmant, in staat om al die meisies te kry, maar altyd vry om weg te loop? Wat is jou gevoel?

Ek dink alle mans begeer om ’n Bond te wees, maar ook is daar baie vroue wat graag ’n Bond wil hê! Hy het die perfekte lewe in alle opsigte – nooit ’n tekort aan enigiets nie, reis orals rond, en eet, drink en ry net die beste.

"All the James Bonds"-plakkaat (Bron: Old Red Jalopy)

Dalk gesels ek oor 'n Bond van vroeër. In die latere flieks raak hy meer betrokke by die vroulike karakters en die wegstap is dalk nie so eenvoudig nie. Of bly die resep vir jou steeds dieselfde?

Die resep het beslis verander. Die moderne Bond is meer somber en ernstig en raak makliker geheg aan sy vroulike gesante. Ek dink dit moes so wees, want hy was nie altyd 'n very nice man wanneer dit by die skoner geslag kom nie. Hy het vrouens meestal as vermaaklike gebruiksartikels gesien. Feministe sou daarop aangedring het dat hy sy houding jeens vrouens moet verander.

Die musiek van Bond het natuurlik al kunstenaars laat uitstyg. Of, as hulle bekend is, soos Adele wat "Skyfall" gesing het, bestaan die kunstenaar se roem eerste. Watter temaliedjies staan vir jou uit?

Weer eens staan die ouer liedjies, soos dié van  Tom Jones en Paul McCartney, vir my uit. Dalk vanweë nostalgie.

Watter vroue is vir jou die top-meisies uit Bond se verlede?

Ursula Andress, Britt Ekland en Barbara Bach is seker so na aan perfek as wat meisie-wees kan kom.

En watter Bond is vir jou die beste?

Ek het saam met Roger Moore grootgeword, maar tog is Pierce Brosnan my gunsteling.

In jou boek bespreek jy wel wat alles kan gebeur en wat nie. Wou jy al in 'n Bond-fliek uitbars van die lag vir 'n onrealistiese toertjie? Wat is die mees vergesogte dinge wat Bond dalk nie in die regte lewe sou kon regkry nie?

Die ongelooflikste ding wat hy gedoen het, was om die eerste  jaar toe die Solera Sherry gebottel is, net te proe. Net 'n paar molekules van die eerste vaatjie ou sjerrie is al wat die Bond-mond nodig het. Ongelooflik!

As jy vir James Bond die volgende fliek kon maak: Wie is hy, in watter lande, saam met watter meisie, en wie sing die temalied?

Ek sou graag 'n minder ernstige en somber Bond wou sien. Craig sou kon deug, maar hy moet ontspan en meer humor inbring. As hy nie kan nie, sou ek aansoek doen en hom wys! Saam met bekende meisies soos Penelope Cruz moet hulle 'n paar onbekende jonges inbring wat niemand ken nie. Daar is soveel beeldskone meisies wat dit sou kon doen. Die Namib-woestyn sou 'n goeie vertrekpunt wees. Nie net is dit besonders nie, maar dis ook naby genoeg vir my om die dokter op die film set te wees!


Titel: James Bond, ontbloot
Skrywer: Heinz Mödler
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920654559

 

Koop James Bond, ontbloot by Kalahari.com.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top