Innibos-onderhoud: Anna-Mart van der Merwe gesels oor haar hoofrol in Die Van Aardes van Grootoor

  • 0

 

Die Van Aardes van Grootoor, moontlik gemaak deur die LW Hiemstra-trust, die Dagbreek Trust en Media24.

"Hierdie skat uit die pen van Pieter-Dirk Uys is Innibos se opdragproduksie. Dertig jaar gelede het Die van Aardes van Grootoor Suid-Afrika verower. Dié stuk het toe vir twee jaar ononderbroke in teaters gespeel. Ons het toe heerlik vir onsself gelag en nou, in 2012, is dit weer tyd om des jare se lagkrane oop te draai. Kom kuier by die Van Aardes van Grootoor en beleef die familie-intriges wat oor drie dekades afspeel. Dit is ’n epiese 'vervolgverhaal' van ’n familie wat hulle erfgrond moet beskerm teen alles wat volksvreemd is. Hulle plaas alles wat preuts is op die spel en verdoesel in die proses ’n paar geheime. Maar jare later kruip en prut elke sondetjie uit elke holtetjie, waar dit altyd ingesteek en weggesteek is. Selfs die versteekte heilige koeie kom onder die loep, in seker een van die snaaksste toneelstukke wat nog plaaslik geskryf is." (Bron: Innibosprogram)

Naomi Meyer het Anna-Mart van der Merwe oor haar hoofrol in hierdie produksie uitgevra.

 

 

Hallo Anna-Mart, ek het die teks van Die Van Aardes van Grootoor onder oë gehad. Ek sien hierdie “epiese Boeredrama in 780 episodes in 2 landstale” was al in 1978 in die ateljee van die Baxter en is nou herskryf vir die Innibos-fees. Waarom die drama opwarm? Of is dit nie opgewarm nie, is dit iets nuuts? Sien mense in ’n ander era dieselfde era nou verskillend? Maar waarom juis nóú?

 

Die teks is nie vir Innibos herskryf nie. Na die eerste opvoering in die Baxter (1977) is dit herskryf en in 1978 deur Die Geselskap in die Laager (Markteater) opgevoer. Om die waarheid te sê, ek het geen insae in hoekom Innibos Albert Maritz genader het (of andersom?) om weer die stuk te doen nie. Ek het egter met die lees daarvan besef: Pieter-Dirk is wragtag soms profeties met van die situasies en van die dialoog wat hy die karakters in die mond lê. ’n Konstante tema in Uys se werk is om die gevare van absolute mag uit te wys. In wie se hande dit ook al mag beland. Hy’t geen vrees om hard en luid te skree: “Die Keiser is kaal!!!” nie. Ek dink die meeste van die ongemak vir die gehoor in die teks is dalk dat die skrywer die sg “Afrikaner” met homself die spot laat dryf. Eish, mens kom gou agter dis nog ’n seer puntjie ... heilige grond? Ons was (of is?) mos nie so nie?!!?!?

 

Die teks is met sy tong stewig in sy kies geskryf, van die intrapslag af al. Selfs die diskleimer is humoristies: “Soap opera must be played in all seriousness on every level”, en dan handel die stuk ook juis oor seep, KUX. (Hoe het Lux dit gevat?) Maar eintlik is hierdie satire op sy mees satiriese, as mens nou die definisie sommer hier van LitNet af kry, na aanleiding van wat Marius Ackermann oor die Zuma-skildery geskryf het - “Die woord satire se Latynse oorsprong is satura, wat letterlik ’slaaiemengelmoes’ beteken. Dit het eers later literêre betekenis gekry toe spotskrywers ’n mengelmoes vorme en style gebruik het om sosiale kommentaar te lewer. Die satirikus gebruik genadelose, skerp spot om wanpraktyke aan die kaak te stel, weliswaar met die langtermynoogmerk van regstelling of verbetering van die voorwerp van bespotting. Satire is dus in wese korrigerende sosiale kommentaar. Hoewel dit humoristiese elemente mag bevat, verskil satire van humor. Laasgenoemde wek ’n gevoel van deernis, dalk ’n kopskuddende laggie. PG du Plessis se meesterlike koöperasiestories is goeie voorbeelde hiervan. Daarteenoor is satire se spot bedoel om ongemak en spanning te skep.” In Die Van Aardes is daar vinnig al ’n “Ai, Marie, maar jou wit vel lyk pragtig ...” En sommer dadelik is die hele tafel gedek: die sosiale kommentaar binne ’n land wat obsessief is oor kleur, die verwysing na die “seep” van “sepie” ... Hoe verder mens met die teks vorder, hoe meer tragies word dit. ’n Tragiese komedie, ’n nostalgiese, landelike terugblik. ’n Woody Allen-stuk vir die Afrikaner. Of hoe? Wat is jou indrukke, as jy as aktrise die materiaal deurtrap?

Die sleutel lê juis in Pieter-Dirk se aanwysing: “Soap opera must be played in all seriousness.” Die teenstelling. Alhoewel die styl “soap opera” is, kan jy nie as speler die erns van die politieke kommentaar wat die skrywer in die teks lewer, ignoreer nie. Terselfdertyd, in die lig van satire, gaan mens juis probeer om oordadig met skerp en ongemaklike spot die absurde “soap opera”-elemente van die era uit te wys. “Langtermynoogmerk van regstelling of verbetering van die voorwerp van bespotting” – absoluut. Ek kry die gevoel Uys waarsku selfs vandag alle Suid-Afrikaners met “Van Aardes”.

 

Foto: Alwyn Mouton

 

Maak dit vir jou saak hoe die gehoor op hierdie opvoering sal reageer? Hoe dink jy sál hulle hierop reageer? (Terloops, hoe hanteer jy as aktrise dit as mense begin uitloop? Nie dat dit my voorspelling is vir Die Van Aardes nie, maar dit is ’n Afrikaanse gehoor, so mens weet nooit ...)

 

Ons bied ’n stuk teater aan. Die gehoor mag reageer soos hul wil. Teater behoort nie te preek nie. Dit hou spieëls op, vra vrae, en so neem die gehoorlede via hul onderskeie ervarings deel. Dalk verskuif die proses ons almal op een of meer vlakke. Al beteken dit nou sommige bevind hul skielik weer buite die teatergebou ...?

Wat is vir jou lekker van die Innibosfees? Of nie so lekker nie? Was jy al daar?

Innibosfees is vir my as akteur ’n fees om by te woon! Die organisasie is seepglad en ek weet nie hoe hulle dit regkry nie, maar al word die fees groter, voel dit nog steeds of al die bestuurslede bereikbaar is. Dit voel menslik.

 

Lees ook Albert Maritz se onderhoud oor Die Van Aardes.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top