Hertzogprys 2012: Dankwoord deur Adam Small

  • 0
Die Hertzogprys is op 12 September 2012 aan Adam Small oorhandig. Alhoewel Small nie self die geleentheid op Stellenbosch kon bywoon nie, is die prys deur sy vrou, Rosalie Small, in ontvangs geneem en sy het die volgende dankwoord deur Adam Small voorgelees.

Ek waardeer dit dat my man my gevra het om die volgende paar woorde namens hom oor te dra, soos volg:

Van Adam Small, ’n bedankingswoord by die oorhandiging van die Hertzogprys, ’n geleentheid wat ek vanweë swak gesondheid nie kan bywoon nie. Groot dank aan my vrou, dr Rosalie Small, vir haar bereidwilligheid om namens my op te tree, en terselfdertyd vir haar geloof aan die betekenis van my werk.

Ek betuig graag my waardering aan die huidige Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hierdie toekenning aan my van die Hertzogprys vir 2012, al kom dit – ek sê dit tong in die kies, maar tog – feitlik op my sterfbed. My hoë waardering aan prof Jacques van der Elst vir al die moeite wat hy in hierdie verband gedoen het.

Ook my groot waardering aan al die digters wat op my 75ste jaar vir my verse geskryf het. Willem Fransman Junior en ander. En spesiale dank aan prof Steward van Wyk en die personeel van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Wes-Kaapland, asook dr Michael le Cordeur – mense wat deurgaans aan die betekenis van my werk geglo het. En ook – ek durf nie vergeet nie – Jason Lloyd, ook Heinrich Wyngaard. En ek moet vir Antjie Krog dankie sê vir haar insig in die musikaliteit van Kaaps – Kaaps synde my spesiale identifikasie met Afrikaans in sover ek die grense van ons taal versit het sodat dit nou ’n baie wyer ruimte as voorheen bestryk.

Ek kon natuurlik, na al die jare, die prys geweier het. Watter sin sou so ’n kleinserige gebaar tog maak? Paradoksaal het ek begrip daarvoor dat die prys nie voor nóú aan my toegeken kon word nie – alles was voorheen deurdrenk van apartheid sodat dit ondenkbaar was dit iemand van sogenaamde “kleur” hierdie erkenning sou kry. In dieselfde asem sê ek graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is. Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.

Vergun my ook om te sê: Wat die Hertzogprys betref, mag reg – vroeër liewer as later – geskied aan Abraham de Vries, ons grootste verhaalkunstenaar, en – postuum al dan nie – my voorganger en in later jare my vriend, SV Petersen.

Hierdie was seker die letterlik mees besproke toekenning ooit van die Hertzogprys, en natuurlik is daar iets rassisties daaromtrent. Ons leef tog in Suid-Afrika, weliswaar in die wêreld! By ’n geleentheid soos hierdie is dit nodig om een of twee dinge te sê wat laat blyk aan watter soort mens die prys toegeken word. Eerstens, daar is gewag gemaak van my groot “gelowigheid”. Ja, maar dis ’n gelowigheid aan “hoë waardes” (soos Van Wyk Louw dit genoem het). Dis belangrik vir my om te sê dat ek die konvensionele begrip van die God van die Christenskap net nie in my volwasse denke kon verreken nie. Maar ook, ek is nie ’n sogenaamde ateïs nie. Niemand moet my etiketteer nie. Ek wil net maar my ongebrandmerkte self wees.

Daar is ook ’n storie gemaak van my stilte deesdae in die openbare lewe. Maar daar is twee maniere waarop hieroor gepraat kan word – die een diepsinnig in die sin van George Steiner se begrip van “language and silence”, die ander, soos heel onlangs deur ’n familielid van my, ’n bloot belaglike gebabbel wat kammakastig gemik is op ’n “peiling” van die betekenis van my stilte. Hierdie hele oefening, hoe dit my sogenaamde belangrikheid dan ook ten hemele opkook, het onseremonieel slegs my privaatheid geskend en my meer verleentheid veroorsaak as enigiets anders.

En heeltemal ten slotte, die belangrikste gedagte vir vanaand  moet wees: laat  die tesamevoeging van die name Hertzog en Adam Small ’n groot simboliek van versoening vir die mense van ons land wees. Politieke versoening is belangrik, maar intellektuele versoening, wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word, is diepsinniger en die grond van alles. Laat ons opvrolik. In daardie ewige woorde: Kô lat ons sing!

Baie dankie. 

 

Klik hier om Steward van Wyk se huldiging van Adam Small te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top