Heinz Winckler: "Ek wens ek was al langer ’n onafhanklike kunstenaar"

  • 0

Heinz Winckler is al lank reeds bekend as sanger, maar hou sy lyf deesdae ook akteur en skrywer. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Heinz. Hoe's dinge?

Dit gaan baie goed, dankie. Tussen ’n man wees, pa wees, sanger en besigheidsman wees is ek besig, maar gelukkig!

Jy't nogal ’n swetterjoel ysters in die vuur op die oomblik, maar kom ons praat eers oor die musiek. Jou Grootste treffers Volume 1-album is verlede jaar vrygestel. Hoe werk die besluit by ’n musikant dat dit tyd is vir ’n Grootste treffers-album? Jy het darem ook twee nuwe snitte by die album ingesluit: "Meisie van my hart" en "The moment". Het jy dit spesifiek vir die album geskep, of was dit reeds voltooide liedjies wat uiteindelik ’n tuiste gevind het? 

Ek is laas jaar Aprilmaand weg by my platemaatskappy. Aangesien ek eers by Sony was en toe Select, en die twee saamgesmelt het, besit die maatskappy al my opgeneemde musiek van my loopbaan. Hulle was dus in die unieke posisie om so ’n album vry te stel en het gekies om dit te doen. Ek sou dit graag eerder later wou gedoen het, maar dit het tog sin gemaak om einde laas jaar iets nuuts uit te kry, en hulle het gelukkig saamgestem oor die insluiting van die twee splinternuwe songs – die twee wat my eerstes is wat ek as onafhanklike kunstenaar opgeneem en vrygestel het onder lisensiëring.

Dis opmerklik dat die snitte (20 van hulle) op die versameling ongeveer een helfte Engels en een helfte Afrikaans is. In watter van die twee voel jy gemakliker wat optree betref? En in die skryfproses? Hoe verskil die ontvangs van gehoor tot gehoor in terme van die taal waarin gesing word, of is dit irrelevant vir gehoorlede? 

My eerste drie albums was Engels en die laaste drie hoofsaaklik Afrikaans. My gehoor was van die begin af egter hoofsaaklik Afrikaans. Ek het al meer in Afrikaans geskryf, of saam met ander geskryf, as wat ek al in Engels geskryf het. Ek voel gemaklik met beide, maar tog voel Engels vir my effens gemakliker om in op te tree en om in te skryf. Afhangende van waar ek optree, is my ervaring dat die meeste mense beide die Afrikaans en die Engels geniet. Daar is natuurlik die dorpe waar iemand êrens deur die loop van die aand skree vir “Die Blou Bul” of “Kaptein”...

Jou bekendheid het natuurlik gekom met die Idols-kompetisie wat jy gewen het. Jy was egter reeds voor dit ’n bedrewe en gerekende musikant. Hoe anders dink jy sou jou loopbaan gewees het as jy nooit vir Idols ingeskryf het nie? Dink jy die aard van die musiek wat jy skep sou anders wees, of watter rol dink jy sou minder (of juis dalk meer!) druk om dikwels vry te stel in so ’n alternatiewe scenario speel?

Dis moeilik om te sê. Maar ek vermoed ek sou ’n eerste album uitgebring het wat baie minder “pop” was as wat my eerste album wel was. My eerste album sou dalk meer soos my tweede album, Come Alive, geklink het. 

In dieselfde asem: Is daar besluite wat jy, terugskouend op jou loopbaan tot dusver, reken beslis die regte besluite was vir jou en besluite wat jy dink jy moontlik anders sou moes benader het? Dit is nou van die eerste woord van ’n nuwe liedjie neerpen tot die ondertekening van kontrakte en dies meer.

Ek was nog nooit spyt oor my deelname aan Idols nie. Ek glo dit was die regte ding vir my. Ek wens wel daar was beter leiding itv my bestuur en besigheidsbestuur na die kompetisie. Ek het niemand met ervaring gehad wat my gehelp het met die onbekende waters van die musiekbedryf nie. Ek het ook niks geweet van hoe om met geld te werk en hoe om ’n besigheid te bestuur nie. Ek sou baie beter besluite geneem het van die begin af indien dit anders was.

Ek wens ek was al langer ’n onafhanklike kunstenaar wat meer van my eie materiaal besit het. Dit is vir seker die ideaal. Maar dis moeilik, aangesien die “catch” is om jou eie kapitaaluitleg te hê vir die koste van die album en die bemarking daarvan.

Jy is nou al ’n geruime tyd op die toneel en het natuurlik honderde optredes agter die rug. Is daar sekere gebeurtenisse, venues en plekke wat vir jou as hoogtepunte uitstaan? En dan ook gebeure of plekke wat jy eerder sou wou vergeet? 

Een van die hoogtepunte was vir seker toe ek en my band saam met Westlife getoer het in 2005! Die show in Johannesburg se Northgate Dome was ’n droom wat waar geword het! 

Ene wat ek eerder wil van vergeet, was ’n show wat ek in ’n supermark-tipe winkel in Otjiworongo (Namibië) gehad het jarre terug. Ek was onder die indruk die supermark het my vir ’n jaareindfunksie of “awards”-aand geboek, maar toe was dit al die tyd om fisies in die winkel op ’n Saterdagoggend terwyl mense inkopies doen op te tree! Ek moes drie 30-minuut- slots doen en tussenin handtekeninge in die groentegang teken … Ja, ek’s ernstig ...

Wat is volgende vir jou as musikant? Wat hoop jy om teen, sê maar, vyf jaar van nou af te bereik wat jy nog nie gedoen het nie, of dink jy nie werklik in daardie terme nie?

Ek droom steeds daaroor om op ’n internasionale vlak op te tree. Die VSA wink vir my … Ek sal graag vyf jaar van nou af al twee internasionale vrystellings agter die blad wil hê. Verder wil ek nog toneelspeel in films en betrokke wees by die musiek van films. Dis ’n opwindende veld en die gogga het behoorlik gebyt tydens Moorivier!

Mooirivier is natuurlik geensins jou eerste toneelervaring nie. (Rent moes ’n hoogtepunt wees?) Hoe het jy by die film betrokke geraak, en hoe was die ervaring? Hoop jy om nog meer op die plaaslike toneelfront spore te laat?

Ek was genooi om ’n oudisie te doen, en gelukkig het dit goed gegaan! Ek het dit baie geniet om Dave Meyer te speel. Die ervaring op stel en met die wonderlike span van Kaapland Films en René as regisseur was ontsettend lekker en vervullend. Ek wil vir seker dit weer en nog baie doen! 

Jy het ook ’n boek wat pas verskyn het: In ritme met God. Vertel ’n bietjie oor die aard van die boek en die inspirasie daaragter? Die geloofselement verskyn ook dikwels in jou musiek - voel jy ooit druk om dit óf verder te beperk óf in te perk? Gewilde sangers wat geestelike albums uitreik is beslis nie ongewoon nie – wat dink jy in die algemeen van die wisselende grense in hierdie verband, en hoe dink jy sal dit nog in die toekoms verander?

Ja, my eerste boek is uit! Dit is in kort ’n getuienisgebaseerde boek waarin ek hoofsaaklik fokus op belangrike onderwerpe van identiteit en roeping. Dit is ’n tema wat sedert ek ’n wedergebore Christen geword het, my na aan die hart lê. Toe ek en my vrou in 2012 genader is deur die mense van Christelike Uitgewers oor waaroor ons graag sal wil skryf, toe was dit wat eerste by my opgekom het.

Ek vind dit is moeilik vir die publiek om my te plaas. Dis makliker as jy ’n definitiewe “iets” is wat in ’n spesifieke mark pas. Maar ek is wie en wat ek is, en is gewoond daaraan om ’n soort pionier te wees. So ek glo, bid en stap uit in geloof en vertrou dat dinge ten goede sal meewerk.

Wat is die sin van die lewe? 

Daar is net sin te vind in die lewe as jy die Een ken wat jou gemaak het. Want dan verstaan jy jou ontwerp, doel en rede vir bestaan.

Heinz Winckler se boekbekendstelling is by die US Woordfees 2015. Hier is besonderhede van die item:

Heinz Winckler: In ritme met God
Aangebied deur CUM-uitgewers
Wat maak jou wie jy werklik is? So baie jong mans soek vandag hul identiteit in die wêreld. Maar die wêreld verander elke dag – God is die enigste standvastige baken. Met In ritme met God wys Heinz Winckler, in gesprek met Elize Parker, hoe elke man sy identiteit in God kan anker.
10 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Hier is die volledige program van vanjaar se fees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top