Hartepad: Die betekenisvolheid van reis

  • 0

 Titel: Hartepad
 Skrywer: Gerrit Rautenbach
 Uitgewer: Queillerie
 ISBN: 9780795800658

Koop Hartepad nou by Kalahari.com


Om oor ’n reis te skryf is nie iets wat sommer in enigeen se broek sit nie. Dis relatief maklik om ’n feitlike verslag te lewer oor watter paaie gevolg is en waar jy stilgehou het, maar om die ervarings en gewaarwordinge wat jy langs die pad teëkom, te beskryf, is iets heeltemal anders.

Gerrit Rautenbach se tweede boek, Hartepad, bou voort op die goeie  grondslag wat hy vir homself as skrywer en verteller met sy eerste bundel, Kopreis, gelê het. Hier is weer ’n reeks staaltjies, herinneringe en vertellinge oor sy wedervaringe regoor die aardbol. Van die eerste keer wat hy Mosambiek op sy eie besoek het, tot ’n gesellige kuier met vreemdelinge in ’n straatkafee in Bangkok. Rautenbach het egter nie sy reisskryf-tande met sy bundels geslyp nie. Hy is bekend vir sy stigtersaandeel in die eertydse reistydskrif, Mooiloop. Om oor ’n reis te skryf, is vir hom al byna tweede natuur.

Rautenbach se gemaklike vertelstyl gee nie vir jou spesifieke verwysings sodat jy die reis kan gaan namaak nie, dit vertel jou eerder van die mense wat jy op so reis kan ontmoet en hoe jy jouself moet instel om die reis te ervaar ­– van die gevoelens wat mens tipies met reis assosieer. Die meeste van sy reise en sy verhale daaroor is ook vir hom ’n diep persoonlike reis.

Ook sy skryfstyl is baie persoonlik, amper soos iemand wat langs jou sit en die storie oor ’n glas rooiwyn langs ’n braaivleisvuurtjie vertel. As leser sal jy die idee kry dat Rautenbach besig is om homself te vind met die skryf van sy verhale. Dit is nie net ’n geval van skryf om te onthou nie, maar eerder ook van skryf om te verstaan. Dit verduidelik ook die titel. Volgens Rautenbach is ’n hartepad nie noodwendig ’n pad van die hart nie, maar ook ’n deel hardepad. “Maar as jy terugkom, onthou jy net die uniekheid, die mooiheid en betekenisvolheid van dit waaraan jy blootgestel was.”

Daar is een reisverhaal, die eerste een, wat by elke leser sal aanklank vind. Rautenbach het ook by Hartepad se bekendstelling in Stellenbosch dié verhaal voorgelees. In “Mosambiek is nie ’n piekniek nie” vertel hy van sy eerste reis na Mosambiek nadat die vredesooreenkoms tussen Renamo en Frelimo in 1992 gesluit is. Hy het langs die pad stilgehou vir middagete toe daar ‘n klomp armsalige kindertjies naderstaan. Een van die kinders se versoek aan Rautenbach sal elke leser se hart diep in die verdriet dompel: “I want your money.” Dit was nie ’n dreigende versoek wat op ’n rooftog afstuur nie, maar eerder ’n versoek van ’n jong dromer wat ook die geleentheid wil hê om te reis, om die geleentheid te kry om, ongebonde aan jou land se verlede, te kan gaan waar jou hart jou lei. Om ook sy eie hartepad te kan reis.

Die keuse om hierdie storie met ‘n tema van diepe hartseer eerste te vertel was baie slim van Rautenbach. Met elke vertelling wat volg, van eksotiese plekke, veraf plekke en plekke wat sommer net om die hoek is, beskryf Rautenbach ’n unieke gevoel wat maak dat die leser ook sommer alles wil oppak en dié plekke gaan opsoek. Dit is ook nie net ‘n fisieke reis wat hy aanmoedig nie, met die lees van die boek maak die leser dan ook ‘n emosionele reis saam met hom mee. Die reis-gogga gaan jou sommer van voor af byt as jy klaar gelees het aan Hartepad. Die bundel het 24 reisverhale in en is die ideale geselskap vir die langpad hierdie feestyd.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top