Agnostici is geneig om, wanneer hulle dink dit hulle pas, insidente uit die natuur voor te hou en dan te sê dit is wreed en ’n aanduiding dat die Liefdevolle Godheid nie bestaan, nie, maar dat dit die resultaat van Darwinistiese tipe evolusie is. Hulle vermeld dan ook sommer gevalle van diere wat kamstig ‘wreedaardig’ op mekaar jag maak (Thys Human) en gevalle van patogeniese virale siektes soos hondsdolheid, wat kindertjies in uitsonderingsgevalle tref (Brianvds). Andersyds, laster hulle, as dit dan nie evolusie se werk is nie, dan is God daarvoor verantwoordelik by doelbewuste ontwerp.
Human en Brianvds se lasterlike, onvolwasse, onkundige en insiglose gevolgtrekking is dat God nie van bokkies en kindertjies hou, nie. Hulle reken dat God dit dan só geskep het en dat dit nie te wagte is van die Liefdevolle God, nie en meen God bestaan derhalwe nie.
Ek het dit alreeds elders vermeld, maar ons sien, in direkte teenstelling wat Human en ander wat soos hy redeneer, beweer, dat daar 'n baie fyn, onbeperk vindingryke, vernuftige balans is in die natuurlike skepping van God en dat daar juis voor en afkeure is ten aansien van habitat, voeding en assosiasie, sodat die natuurlike hulpbronne oor die spektrum heen optimaal onderling benut word in die natuurlike lewensiklus en dat die fisiese voortbestaan van alle lewende skepsels en kreature juis beplan is om op die ordelike manier verseker word deur die benutting van die natuurlike hulpbronne onderling en dat die proses weer verseker dat niks verlore gaan nie maar weer hersirkuleer om nuwe lewe te onderhou en dat dit al vir langer as menseheugenis so aangaan.
En hierdie uiters ordelike proses, met die mens aan die spits daarvan, sien ons bondig vermeld en beskrywe in die Skeppingsgebeure van Genesis in die Woord. Daar is absoluut niks wreed daaromtrent, nie. Die enigste wreedheid is wat mense teenoor mekaar pleeg en wat sommige mense teenoor diere pleeg, wat met voortbestaan en voeding min of niks te make het nie, welke loodreg strydig is met die verordeninge van God en dit gebeur juis omdat sommige mense verwyderd raak van God.
Brianvds meen dat, omdat (volgens hom) gelowige wetenskaplikes meen dat ’n komplekse virus soos dié wat hondsdolheid veroorsaak, nie deur evolusie kon ontstaan nie, dit slegs die handwerk van God kan wees wat só iets bewerkstellig. Hoe dwaas en onkundig en insigloos van Brianvds.
Baie is nog onbekend oor virusse, maar wat wél nou bekend is, is dat virusse eintlik baie noodsaaklik is vir die voortbestaan van gebalanseerde lewe.
Virusse is nie-lewende entiteite, waarvan een van die hoofsaaklike funksies is om gene van plant na plant of van dier na dier, ens te dra. Op só ’n manier is virusse juis behulpsaam om weerstand teen siektes van een organisme na ’n ander oor te dra. Dit is dan ook voor die hand liggend dat sulke virusse oor die algemeen in die gasheerliggaam bly sonder enige probleme.
Maar sodra daar sprake is van patogeniese virusse, is dit ’n teken dat iets dramaties verkeerd gegaan het, iets soos ’n mutasie of onreëlmatige beweging van gene en derhalwe aanduidend dat dit juis nié so beplan of ontwerp is, om siekte of lyding te bewerkstellig, nie.
Die voorkoms van patogene virale aberrasies by die mens, is waarskynlik toe te skrywe aan afwykende menslike gedrag wat die patogeniese mutasie veroorsaak het. ’n Goeie voorbeeld daarvan is juis die VIGS virus. Sovêr bekend, is die VIGS virus residensieel in verskeie aapsoorte sonder om enige effek op hulle te hê. Maar die vermoede is dat bestiale gedrag van sekere mense met ape juis dié virus aan mense oorgedra het en dié is patogenies en saai verwoesting in die mens – die veroorsakende gedrag is juis uitdruklik verbied deur God (Exodus 22:19; Levitikus 18:23; Deuteronomium 27:21). Net so ook met seksueel oordraagbare M.I.V./VIGS, welke seksuele dade óók deur God verbied is (Levitikus 18:22; 20:13; Deuteronomium 23:18; Romeine 1:26–27; 1 Korinthiërs 6:9; 1 Timoteus 1:10). Beskrywings van die simptome van VIGS kom al in die ween-gedigte in die Woord voor (Psalms 31:9–13; 38:5–11) en direk oor gewaarsku word in Romeine 1:27. Maar dit is eers gedurende 1981 dat dié siekte sy naam en reputasie verkry het toe die siekte weereens begin maai het onder homoseksuele praktiseerders in Amerika en het later uitgebrei na dwelmverslaafdes wat besmette naalde gebruik het, ens – vergrype wat direk en indirek deur God verbied word.
Die omringende volke van destyds was ook meestal wreedaardig en gewelddadig en moorddadig weens hulle afvalligheid van God en die gepaardgaande vervreemding van behoudende lewenstandaarde, waar materiële voorspoed (die motivering vir hulle moord- en plundertogte) die enigste oorweging was, baie soos die meeste agnostici se sienswyses deesdae.
Die hondsdolheid virus is ’n komplekse virus wat kroniese enkefalitis veroorsaak en is vermoedelik al bekend sedert vóór 2000 vC aangesien daar in Mesopotamiese geskrifte van daardie era verwysings is na die voorkoms van siekte onder Mesopotamiërs waarvan die simptome baie slaan op hondsdolheid. Die oorsaak daarvan, is waarskynlik óók ’n mutasie.
God het juis destyds, gedurende min of meer dieselfde tyd, al streng sosiale en gesondheidsregulasies ingestel in die Mosaïese wette ten aansien van persoonlike reinheid, verbode kombinasies en verbode eetgoed, ens, juis om menslike kontak met ongewenste organismes wat residensieel in, onder meer, diere en vesels is, te voorkom. Vandag sien ongelowiges (en sommige loues) uit vanweë hulle Spirituele ongeletterdheid, onkunde en insigloosheid smalend neer op daardie lewensbelangrike reëlings. Maar dit is bekend dat die antieke volke (nie - Israeliete) uiters permissiewe en losbandige lewens gely het. As mens na die talle Mosaïese wette kyk wat daardie gruwelikheid verbied, dan is dit ’n spieëlbeeld van praktyk in die naburige volke van die tyd, wat algar deur God verbied word (Deuteronomium 18:9).
Met die reëlings in plek, is dit ook insiggewend dat dié siekte (hondsdolheid) nêrens in die Israelitiese kronieke beskrywe word nie, terwyl daar nie geskroom word om ander ernstige en aansteeklike siektes, soos melaatsheid en die voorkoming en behandeling daarvan, te bespreek, nie (Levitikus 13 en 14).
Om dus voor te gee dat God dié gruwel virus en ander sodanige gemaak het met die doel om mense daarmee by te kom, is kwaadwillig, onkundig en ’n flagrante leuen en lastering.
God het die volk voorspoed en gesondheid beloof indien die volk in gehoorsaamheid teenoor Hom leef (Deuteronomium 28:1-14), maar God het wél ook die volk gewaarsku dat, indien die volk die weë van die omringende Goddeloses bewandel, die onheile wat dáár te vinde is, hulle ook uiteindelik sal tref weens die direkte gevolge van hulle afvalligheid (Deuteronomium 28:15-68). Dit geld steeds vandag vir alle mense – en hoewel die beterweterige en moedswillige agnostikus homself verlustig in sy oënskynlike en baie tydelike voorspoed en dink dat dié reëlings niks met hom uit te waai het nie, wag die hiernamaals op hom, waar die Skaal van Geregtigheid vir ewig gebalanseer sal word … en dáárvan kán hy nie ontsnap, nie.
Die grootste ongeregtigheid wat die mens kán pleeg, is om God te minag – oortreding van die eerste van die twee Groot Gebooie van God (Deuteronomium 6:5; Mattheus 22:37). Geen hoeveelheid ‘goeie werke’ kan daarvoor instaan, tensy uitgeloof en gehoorsaamheid en die Vader daardeur verheerlik word, nie (Mattheus 5:13-16).
Groete,
Kobus de Klerk