Gerrit Komrij: Necrologie

  • 0

Gerrit Komrij (1944-2012) was ’n man met baie gesigte, aktief in baie genres en ’n uitsonderlike persoonlikheid in die Nederlandse literêre wêreld. Ongeag van wat hy gedoen het en waarmee hy besig was, hy het opgeval. So het hy ook in die laat sestigerjare as enfent terrible die literêre wêreld binne gekom en boonop dwars teen alle avant-gardistiese modes in. Komrij het niks op ’n gewone manier gedoen of gesê nie, in niemand se spoor slaafs geloop nie, al sê hy oor sy eie rol in die letterkunde: “Ik moet in mijn eentje de grote drie opvolgen. En daarvoor moet ik mij verenigen met de homoseksualiteit van de heer Reve, de scherpe pen van de heer Hermans en de ijdelheid van de heer Mulisch.” Dit raak hy skertsend kwyt. In die NRC Handelsblad van Vrydag 6 Julie, sê Arjen Fortuin: “Gerrit Komrij wilde niet serieus zijn, maar wel au sérieux worden genomen. Hij werd gedreven door een nooit aflatende nieuwsgierigheid en een diepe liefde voor literatuur, dwars tegen alle modes in.”

In sy rol as polemis en kritikus was hy gevrees en het met sy rubrieke en essays veral feministe (na wie hy as “de onwelriekende gleuvenbrigade” verwys het), argitekte en wannabe-digters die harnas in gejaag. Dit is nie vreemd dat hy dikwels kwalik geneem en verwyt is vir snedige en polities-onkorrekte uitsprake of afgemaak is as seksis, elitis en selfs rassis. Maar Komrij was deur niks en niemand te stuit nie, en hyself het niemand gespaar nie. Hy was in beginsel stroom-op en het selfs die uitspraak gemaak dat alle kuns per definisie homoseksueel is, omdat die kuns teen die natuur in gaan en dus konfronterend is. Oor homself het hy gesê: “Ik ben een kameleon die altijd in de verkeerde kleur schiet.”

As digter was hy een van Nederland se grootstes, (wenner van die P.C. Hooftprijs, tot sy teleurstelling nie vir sy poësie nie, maar wel vir sy essays) en eerste “Dichter des Vaderlands” (2000-2004).

Aan die begin van die jare tagtig het hy ook ’n besonderse affiniteit met die toneelwêreld ontwikkel. Hy begin Shakespeare dramas met flair vertaal, nie bang om opvallende hedendaagse Nederlands te gebruik nie.

As bloemleser was hy eiesinnig en het die Nederlandse lesers juwele uit die poësie laat herontdek deur sy bloemlesings soos De Nederlandse poëzie van de 19de en 20ste eeuw in duizend en enige gedichten (1979) en De 21ste eeuw in 185 gedichten (2010). Sy bloemlesing Kakafonie. Encyclopedie van de stront (2006) was ook ’n hilariese treffer, soos Arjen Fortuin dit stel “een prachtboek over poep in al zijn verschijningsvormen”. Komrij se eiesinnigheid betreffend sy bloemlesings het veral te make gehad met die feit dat hy ou en vergete digters weer afgestof het, nuwe soms byna onbekende digters in die kollig geplaas het en die tradisionele en gevestigde verteenwoordiging totaal verontagsaam het.

Ook uit die Afrikaanse poësie het Komrij ’n versamelbundel saamgestel. De Afrikaanse poezie in duizend en enige gedichten (1999) het enersyds groot waardering uitgelok en andersyds tot vlymskerp kritiek gelei omdat hy, volgens sommige Afrikaanse literatore, o.a. nie die Afrikaanse kanon gerespekteer het nie en aldus ’n onverteenwoordigende en ongebalanseerde bundel saamgestel het. Komrij se kommentaar destyds by die Klein Karoo Kunstefees was: 'Niks zo interessant als een bloemlezing samenstellen wanneer je de verhoudingen van de literaire wereld niet kent. Ik kende de gedichten, niet de gezichten. Ik hoefde dus slechts rekening te houden met kwaliteit, niet met statussen of een voorgeschiedenis….” En sy kommentaar op die kritiek: “…ik laat niet over me lopen, ik zal de boel hier eens flink opschudden.” En hy het ook.

Die laaste paar jaar het Komrij met sy skerp en bitsige teenwoordigheid ook op blogs en op Facebook sy verskyning gemaak, soos altyd met oorgawe bereid om vyande te maak. Een van sy laaste inskrywings op Facebook was, getrou aan homself: “Alles mag gezegd worden.” Word dit dalk sy grafskrif?, wonder mense al.

Donderdagaand, 5 Julie sterf Komrij op 68-jarige leeftyd na ’n kort siekbed. Sy dood word deur vriend en vyand betreur, want niemand kan ontken dat Komrij ’n uitstekende digter, ’n uitnemende stilis en ’n vlymskerp kritikus was nie.

Getrou aan sy verskeidenheid rolle was Komrij ook ’n man van paradokse. As kritikus en polemis was hy venynig en genadeloos, daarom gevreesd. Sy biograaf en vriend Onno Blom sê: “Onbarmhartig was hij. En hij nam de literatuur zeer serieus. Gerrit Komrij beschouwde een slecht boek als een vervelende brief aan zichzelf. En zo reageerde hij er ook op.” Maar as vriend was hy goedgeaard en geestig, en daarom geliefd, volgens Blom “een van de liefste mensen die ik ooit heb gekend”.

Blom vertel dat hierdie liewe “knorrepot” ook ’n ander paradoks beliggaam het, nl. dié van nabyheid en afstand wat hy ewe veel nodig gehad het en ewe veel waardering voor gehad het. Daarom het hy in 1984 met sy lewensgesel Charles Hofman na Portugal verhuis. Alhoewel nog intens betrokke by Nederland, was hy wel “in één klap verlost van dat gekakel in het Nederlandse literaire wereldje.” Oor sy tyd in Portugal lewer Komrij ’n indrukwekkende verslag in Vila Pouca (2008).

Die paradoks van die verlange na die verlede en die verwondering van dit wat nuut is, was altyd deel van Komrij en kom ook sterk na vore in sy laaste roman De loopjongen. Waar Komrij ook al in die laaste jare sy verskyning gemaak het, hy was altyd omring deur jongmense… soos Fortuin verduidelik, “jonge mensen die aan zijn lippen hingen, luisterend naar zijn zware nasale stem, die al zijn opmerkingen van een ironische laag leek te voorsien.”

Ook Komrij se werk is deurspek met oënskynlike teenstellings. Afbreek om op te bou, en opbou om af te breek - binne hierdie geslote baan vol tweespalt en paradokse het hy ongeveer vyftig jaar aan sy oeuvre gewerk. In sy rol as polemikus en kritikus het hy met ’n striemende sweep van hoon geslaan, maar wel in die verwagting dat slagoffers en omstanders iets daaruit sou leer, al was dit ook net dat kwaliteit en skoonheid, van beide kuns en lewe, respek verdien.

As digter het hy altyd sy uiterste bes gedoen om die indruk te wek dat poësie spel is, weliswaar ’n spel met komplekse reëls wat hoë eise stel, maar nie iets waaraan jy jou hele siel en saligheid moet opoffer nie. Tog het Komrij, die bloemleser ten gunste van tien eeue Nederlandse digkuns, die een na die ander monument opgerig.

Oor Komrij as digter sê Guus Middag: “Komrij was geneigd zich over te geven aan oude romantische impulsen, maar hij bleef de zaak wel degelijk als een constructeur besturen. Hij leed, maar probeerde zijn leed te verbergen achter een masker. Af en toe kwam zijn ware gezicht te voorschijn – en dan zag je leegte, en radeloosheid.”

Maar was daar ’n ware gesig? En wat was dit? Het sy persoonlikheid ál hierdie fasette geherberg of was dit niks anders as karnavalsmaskers nie? Ons kry iets van ’n antwoord in die gedig ’Maskers’.

MASKERS

De man die vrolijk met zijn masker speelde
Totdat het uur sloeg dat zijn waar gelaat
Muurvast één leven met zijn masker deelde:
Als kind al maakte dat verhaal me kwaad.

Zoiets was zuur. Straks, als ik groot zou zijn,
Zou ik bewijzen dat het anders kon:
Dat ieder masker veilig, zonder pijn,
Weer van je hoofd kon, als een capuchon.

En lang heb ik daar heilig in geloofd.
Op niets bedacht hield ik mijn aard verborgen
Opdat die, als mijn speelvuur was gedoofd,
Zuiver zou blijken als de eerste morgen.

Nu ben ik oud, alleen om te erkennen:
’t Verhaal is waar. Het masker gaat niet af.
Het is alsof je aan de hel moet wennen.
Het is alsof je kijkt in een leeg graf.

[Uit: Alle gedichten tot gisteren (1999)]

Komrij het nooit daarvan gehou om geken te wees nie. Hy het ’n uitgesproke weersin gehad teen die verwagting dat daar van ’n skrywer onthullings verwag word. Volgens hom was poësie geen gevoelsuiting nie. Vandaar sy voorkeur vir die parodie en die pastiche. Die intiemste stukkie van sy siel wat Komrij self ooit prys gegee het was ’n pragtige gefiksionaliseerde outobiografie, Verwoest Arcadië (1980) waarin Jacob Witsen die hoofkarakter is. Jacob se lewe toon sekere ooreenkomste met Komrij s’n (onder andere die ontdekking van eie homoseksualiteit) wat natuurlik nie beteken dat die een ’n alter ego van die ander is nie. Witsen is ’n masker, ’n persona wat uiteindelik sy Arcadië as digter verlaat. Singend steek hy sy kop by die dakvenster uit om die wêreld in te gaan, ’n wêreld wat bestem is om op te gaan in ’n boek.

Verwoest Arcadië was Komrij se eerste 'roman'. Daar sou nog meer volg: Over de bergen, Dubbelster, De klopgeest, Hercules en ten slotte De loopjongen.

Maar sy belangrikste bydrae is in sy digterskap te vind. Sy debuutbundel, Maagdenburgse halve bollen en andere gedichten verskyn in 1968 op sy 24ste. Dit was die tyd van die vrye vers en maatskaplike betrokkenheid, maar hieraan het Komrij hom min gesteur en homself voorgehou as ’n ouderwetse digter. Sy handelsmerk was ’n sekere verset teen die heersende poësie van Vyftig. Na sy debuut volg nog sowat vyftien bundels, versamel onder die titel Alle gedichten tot gisteren. Ten tye van sy dood het die bundel Boemerang nog op sy lessenaar in Portugal gelê en op voltooiing gewag; hierdie bundel sal in die Europese herfs postuum verskyn.

Die een aspek van Komrij se digterskap wat altyd die botoon gevoer het was skepping, wat by hom hand-aan-hand het gegaan het met afbreking en vernietiging… ’n tema wat onvermydelik gekoppel kan word aan Venesië as ruimte:

Je zag een roeiboot van het Lido komen.
De roeier had een glazen staaf als roer,
Twee stokvissen als riemen. Door zijn lome
Slagen leek hij je teder, maar ook stoer.

Zijn aanschijn was welhaast van paarlemoer.
Zijn ogen zagen stadwaarts als fantomen,
Zijn lippen rilden woordeloos.
Vervoerd leek hij, vervuld van welke weke dromen?

Je stond te kijken bij de Campanile,
Door een toneelkijker. Je adem stokte.
Hij hees zich, bleek als marmer, op de oever.

Je zag hem zwoegen. Hij bewoog zich stroever
En stroever, totdat hij uiteenviel en
Verging tot zwarte, walgelijke brokken.

Hier manifesteer Komrij homself in sy boeiendste hoedanigheid. Hier dra hy die mantel van onheilsprofeet en praat hy met die stem van die surrealistiese orakeltaal oor die apocalyps, tot in sy diepste vesels vervul van walging en fassinasie vir ondergang en aftakeling. Tog doen hy dit volgens die erkende reëls van die kuns, in die ultieme vorm van die sonnet. Kan dit opbouender?

Sy uitgewer De Bezige Bij het in die aankondiging van sy dood laat weet: “Het literaire landschap is door het tomeloze plezier en de scherpzinnigheid van Gerrit Komrij decennialang in beweging gebracht. Hij heeft het mee veranderd en hij heeft het nu verlaten. ’Van papier zijt ge en tot papier zult ge wederkeren.’ (Uit: Da Capo, Morgen heten we allemaal Ali).”

ALLES BLIJFT

Daar stond een muur die ik heb aangeraakt.
De muur werd afgebroken. Van het puin
Werd verderop een fundament gemaakt.
Ik plantte een fruitboom in mijn oude tuin.

Die werd geasfalteerd. Vijf meter diep
Houdt zich een wortelstronk nog grommend koest.
Vijf eeuwen lang desnoods. De Spaanse griep
Landt ooit op Mars omdat ik heb gehoest.

Er was een vriend aan wie ik heb geschreven,
Een rots waar ik mijn naam in heb gekerfd.
Je bent een deel van alles bij je leven
En alles blijft bestaan wanneer je sterft.

(uit: Luchtspiegelingen, 2001)

BRONNE:
Fortuin, Arjen: “Een literaire kameleon die bereid was vijanden te maken” in NRC Handelsblad, 6 Julie 2012
Freriks, Kester: “Kort huwelijk met de toneelwereld” in NRC Handelsblad, 6 Julie 2012
Middag, Guus: “Romantisch én constructief” in NRC Handelsblad, 6 Julie 2012
Schouten, Rob: “Dandy die Nederland graag draaien om de oren gaf” in Trouw, 7 Julie 2012

Lees Carina van der Walt se huldeblyk aan Gerrit Komrij.

Lees Hendrik-Jan de Wit se huldeblyk aan Gerrit Komrij.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top