Geradbraakte nuanse van die feetjies en dwergies

  • 0

Trieng ... trieng ... trrriiieeennngggggggg ...

Die deur klak oop. Sy vaak ogies rys afgetrokke van haar enkels af op tot by die sigaret in die hoek van haar mond. Sy glimlag net, draai om en loop geruisloos binnetoe en kom terug met 'n worshond onder die arm.

"Here you go, Truan," glimlag die slanke Indiërvrou en gee vir hom die hond aan.

"Jislaaik! Skoppel! My blafmonsterhond! Stoute Skoppel! Stou-te Skoppel!" keffer hy, gryp die hond, draai pront om en loop skeef-skeef deur haar tuin en klim boggelsukkelrig met die hond oor die tuinmuurtjie.

“’Kie tannie Kapoor!“ skreeu hy opsêerig vir sy buurtannie oor die muur. Sy wuif grasieus vir hom, sigaret in die hand.

Half bukkend staan hy tussen hulle groenteblare en soek sy haas. Naderhand gil hy so hard na die ding dat Abel sy kop lig van die skottelgoed waardeur sy vingers spons. Kyk op deur die kombuisvenster na sy twintigjarige boetie.

Lyk of hy die haas gekry het. Hardloop wye sirkels op hulle agterste grasperk agter Skoppel aan wat nou die haas jaag. Naderhand is Truan handeviervoet. Skreeu hees en kees laf.

Abel se kop ruk op. 'n Verwoede gil van sy broer laat hom met druppende hande die huis uithardloop om te kyk wat fout is.

"Kom hier jou bliksem! Kom hier jou fokken hond!" Truan is bloedrooi geskreeu en skop die hond die hoektuin in. Abel gryp stoterig sy broer se polse agter sy nek vas en dwing hom gras toe en fluister toe in sy oor: "Vertel my van die dwergies, Truan. Hei boetie, vertel my van die dwergies, toe?" paai Abel saggies.

Truan ontspan effe en ruk los, waggel dieper die tuin in, gaan hurk en krap saggies tussen die blare rond. Hy kyk om na sy ouer broer en sê met deernis in sy oë:
"Hulle kom eers weer later. Die feetjies paar nou. Dan word hulle vlerkies so pers en rooi en geel. En hulle ry op hulle torre na die troues toe. En daar is baie troues. En hulle drink doutjie dou dou. Dou dou dou. Hulle drink doutjies. Maar die simpel fokken hond het nou hulle weggejaag. Stoute Skoppel! Stout!”

Stilte.

“Ek wil roomys hê. Kan ons vir roomys gaan, Abie?”

Na 'n gesukkel om Truan se nuwe wessie te kry is hulle fort en sit later in die warm kar by ? robot op pad terug huis toe. Die bak roomys op Truan se skoot. Hy knip die hoek van die deksel oop en grou met sy vinger 'n diep keep tussendeur die strepe.

"Los dit tot ons by die huis is," maan Abel hom.

Truan lig sy wenkbroue en sy boonste lippe op. Skewe tande zombie afgetob na Abel. Druk die houer weer half toe. Toe Abel wegtrek by die robot knik Truan die bak weer oop en grou sommer 'n handvol reg uit die middel en prop dit vol in sy mond. Streepsels stroperige melk loop skaamteloos by sy kiewe af.

"O nee dooie dônner. Vandag soek jy weer vir my, Truan! Ek sê mos: wag tot ons by die huis is! Is jy lus vir ? lammie? Hei bra? Komaan, dude. Ek gee jou sommer ? lammie man. Jou klein snot."

Terstond skreeu Truan gemaak-histeries en hou sy kop vas. Klap dit baldadig.

"Ysseer! Ysseer!" skreeu hy. Abel begin kook van woede en wys gemaak-geduldig vir hom dat hy sy duim en wysvinger op sy neus waar sy oë se binnepienk sandgaatjies is, moet druk en moet konsentreer sodat die hoofpyn kan weggaan.

"Lat jou ska-pies stap-stap-stap ... stap-stap-stap … stap-stap-stap …" begin Truan herhaaldelik opsê tot by die huis terwyl hy taffe-teffie met sy wys- en middelvingers in sy handpalm slaan.

Die week het gekom en gegaan. Soms kyk Abel na die ou foto‘s van hul ouers. Daar is een op Tafelberg geneem. Dis mistig en die wind waai koud op die foto. Dis half uit fokus en almal probeer glimlag. Op 'n ander een sit hulle onder die sambreel op die strand. Die groot blompatrone op die strandsambreel gooi rooi en groen strepe op hulle gesigte. En almal glimlag. Niemand het ooit in hulle foto’s ook regtig gelag nie. Net soos by hulle begrafnis. Daar was natuurlik rooi oë, afsydige oë, simpatieke oë en glimlagte. Net glimlagte. Dis asof hy stil deur die wêreld gaan en baie maskers sien met halfdooie oë en baie glimlagte.

Abel werk die Saterdag by die troeteldierwinkel en miesies Kapoor moet babysit. Sy maak vir Truan op die mat van die TV kamer sit en gee vir hom 'n legkaart wat hulle twee saam kan bou. Sy verdwyn eers in die kombuis om vir haar nog 'n martini te gooi. Toe sy terugkom sit Truan heel omgeëllie op die mat.

"Waar is my leeu-puzzle?"

"I gave it to Suzi next door to play with. I thought we would try another one, sweetie. A bigger one."

Truan lyk heel ingenome met die antwoord. Sy gly halfmas die nuwe puzzle vir hom op die mat neer, gooi die martini heel in haar keel af en loop om vir haar nog een te kry.

Oomblikke later lui die voordeurklokkie.

Hy sien haar by die kombuis uitstrompel om te gaan kyk wie dit is met 'n glas vol ys en 'n long-time-no-ash sigaret in die hand. Truan sit nog op die mat, leun oor en skakel die radio aan. Die skerp geur van ampers oordonderende Indiese musiek slaan op vanuit die donkerbruin mat en deur die TV-kamer waar dit die kombuis binnesweef. Hy verbeel hom hy hoor 'n gekibbel en begin solank die hoeke van die puzzle soek. Toe kyk hy op.

Al wat Truan kon sien, was spatsels bloed wat teen die muur skiet. Asof in stadige aksie trek hy homself op met ‘n verblindende vrees agter sy oë. Die dronk vrou strompel hangend aan die muur en ‘n hand klap haar dat sy vooroor steier. Sy val. Lê. Lê net. Die radio speel nog laf aan.

Truan haas hom huilerig teen die trappe op. Kruip-val na die badkamer en sluit die deur. Die swaar badkamergordyne is toe, wat die badkamer skemerig maak. Kloppende angs dryf hom blindelings teen die teëls op … op, op … Toe sak hy neer. Kruip badkamerkassie toe. Rukkerig flerts hy die deurtjie oop in ‘n desperate poging om te probeer inklim. Hy’s te groot.

In die kassie op die middelste rakkie sien hy ‘n klein blou stofie met ? potjie vol geel pilletjies. Hy neem die sigaretaansteker wat op tannie Kapoor se wasgoedmandjie lê. Hy draai die gas oop, korrel versigtig en woeps! – ? vlammetjie. Hy draai die vlammetjie groter oop, net soos sy ma dit altyd gedoen het. Gou vul die geur van smeltende was die bedompige badkamer en hy is nie meer so bang nie.

‘n Kras gekerm en resonante geskel infekteer die donker. Dan hoor hy glas breek – dit klink so naby. Die deurknop ruk verbete. Truan spring beangs op sodat die stofie omval op die badkamermat. Adrenalien jaag hom deur die gordyne, deur die badkamervenster.

Bloed sypel stadig oor sy geskaafde maermerries soos wat hy aan die geut hang? Hoe lank hy daar in opgekropte styfheid gehang het, weet hy nie. Die rook wat by die badkamervenster uitkom dwing hom af teen die pyp. Toe hy grond raak hardloop hy paniekerig tot hy sy bene nie meer kon voel nie.

                                                          *

Loerend na die lekkende pyp, lag Truan met gespanne asemteugies. ‘n Rot skarrel in die walglike water van ‘n ondergrondse afvoerpyp. Hy skrik. Dis Abel. Abel weet – dis altyd waar Truan sy wonde kom lek.

“Kom. Kom ons gaan huis toe”, sê Abel in ‘n lae, kalmerende stem.

Abel sal meer as dit moet doen.

“Die son begin al opkom jong … die dwergies ry nou op hulle torre … en die dou … die dou is nou lekker nat … en die feetjies hou mos van die dou so om hulle vlerkies?”

Truan bly tjoepstil. Abel beweeg stadig nader in die naar-stank en donker al dieper die koepel in na die skewe figuur met die kraphandjies.

“As jy nou kom … kan ons hulle nog sien. Dis nou-nou so warm dat hulle dieper die tuin sal ingaan.”

Geen reaksie.

Truan strek hom uit en vee sy hand ‘n paar keer onseker deur sy olierige heuninghare.

“En die geel en groen van hulle vlerkies is hierdie tyd van die dag op hulle helderste,” probeer Abel.

“Geel en oranje,” klink ‘n hoë gebreekte gefluister van Truan.

Vir ‘n oomblik vul ‘n hol gedrup die swaar, humiede lug. Abel kom versigtig nader.

“Ek het van daardie lekker duur Italiaanse roomys gekoop … die sjokolade een met daai kepe toffie in ... wat jy so van hou.”

Truan begin gespanne giggel. Dan raak dit harder en hy kees en sanik – swetend, skreeuend. Abel veg om hom teen hom vas te druk. Gooi ? blou kombers oor Truan se skouers en help hom die lig in.

Toe hulle by die huis aankom, staan mevrou Kapoor se huis gitswart met verlate rame en plek-plek witgrys mure. Die geel lint van die polisie lok belangstelling.

Abel verdwyn met Truan by hulle agterdeur in.

“Ek is lus vir ‘n bosuitstappie. Wat sê jy?” vra Abel toe hulle hul huis binnegaan. Truan swyg. Abel begin angstig te pak. Hy neem vir elkeen van hulle ‘n rooi slaapsak, die gasstofie, waterbottels, sakkies neute en biltong en droëvrugte. Truan sit half op die bed en wieg net vorentoe en agtertoe.

“Ons gaan nou lekker op ‘n bosuitstappie en ons gaan voëltjies en bokkies kyk … en miskien as ons gelukkig is …”

Truan se gesig verhelder en sy half omgedopte oë beginne lag. Abel stop hom ‘n rugsak in die hand en verdwyn ongesiens met Truan by die agterdeur uit.

Diep in die bos kom hulle op ‘n treinspoor af. Dwarslêer vir dwarslêer stap hulle al dieper die kloof in. Die son brand strykysterstil in hulle nekke en Abel kan sien dat die moegheid Truan begin vang.

Die koperbandjie om sy handjie skitter in die son, en agter sy kop, waar sy hare opgesny is, blink die sweet. Sonder ‘n woord loop hulle verder.

“Wat het by tannie Kapoor gebeur, Truan?” vra Abel na ‘n ruk.

Stilte. Miskien het hy hom nie gehoor nie.

Hulle stap die kloof in. ? Kolk wind ontmoet hulle gretig.

“Het jy my gehoor, Truan? Het die tannie jou kwaad gemaak? Het julle gebaklei?”

Truan stap voor hom uit en hy weet nie of die wind dalk sy stem wegwaai nie. Sê niks. Hulle loop verder in die stilte. Die wind koel hulle stofsweet af.

? Treinspoorbrug strek hom voor hulle uit en verdwyn in ? vou van die kloof.

Truan lig sy kop stadig op en sy oë skuil bang tussen die slierte hare. Sy een oog spring en hy vra hees maar vasbeslote: “Abie, dink jy dat daar dwergies aan die ander kant van die treinbrug is? Dalk vir ons wag?”

Abie sê niks. Hulle loop aan oor die nou brug. Dwarslêer vir dwarslêer.

Die geluid van ? vinnig naderende trein verlam hulle vir ? oomblik. Toe sien hulle die rooi van die trein uit die kloof gly en vasberade aangedraf kom. Hulle staan bot in die middel van die brug. Hulle sal dit nie maak nie.

“Truan, hoor nou mooi hier: ons moet nou dapper wees. Sal jy dapper wees vir Abie?”

Truan antwoord nie.

“Ons gaan nou Power Rangers speel. Wat sê jy? Kom saam met my. Moenie bang wees nie. Truan is nie ‘n bangbroek nie, nè?”

Abel klim versigtig onder deur die balke langs die treinbrug en swaai grasieus af sodat sy vingers stewig aan ‘n dik sport onder die brug klou. Truan raak bang. Die trein is nou in die pylvak.

“Ek is bang, Abel! Ek wil nie doodgaan nie!”

“Gly net onderdeur. Ons sal dit nie maak na die ander kant toe nie. Die trein is hier teen ons man! Komaan, Truan! Jy moet nou braaf wees vir Abie! Dis maklik! Dis maklik! Komaan!”

Truan begin nou kliphard huil en skreeu histeries toe die trein begin toet en snel vir moord. Hy lê ruk-ruk langs die donkergrys spoor en laat sy been gly-gly langs die kant af.

“Moet net nie afkyk nie! Komaan! Ek is hier!”

Dan hel Truan oor en sy lyf val.

Voor hy sy hande om die stuk hout kon klem, gly sy koperbandjie af. Truan beleef ? pyn wat stadig sy been intrek en Truan skreeu-gil onstellend: ”My bandjie! Abie! Abie!”

Die trein kom onverskrokke nader en is vinnig bo hulle. Abel skree hard bo die geraas uit: “Sharrap nou! Sharrap!”

Truan bedaar ‘n bietjie.

“My hande pyn … Ek kan nie langer vashou nie … Die trein is lank! Help Abie! Ek gly! My band het afgeval! Ek is bang Abie … Ek is …”

Abel is vier treinsporte van Truan weg en hy sien die vrees wat die kind se oë oorgeneem het. Hy kan nader kom. Maar hy kom nie. Die kind swem voor hom … spartel …

Hoekom Abel dit gesê het, weet hy nie. Maar hy het. Hard bo die geklak van die trein. “Hoekom Truan? Hoekom het jy weer so kwaad geword?”

“Ek gly! Ek gly! Ek kan nie meer nie!” skreeu Truan so hard as wat hy kan.

Dan begin Abel versigtig swaai … dwarslêer vir dwarslêer. Totdat hy een sport van Truan af is. En al raas die trein en maal die wind, het hulle oë in stilte ontmoet. ‘n Ontmoeting van teenstrydige laaste versoening, ‘n skeurende konnaat.

“Sy het haar ver-ag, Abie,” is al wat Truan kon uitkry.

“Verkrág, Truan?”

Sy lyf sweef grasieus af, af, af en verdwyn in die kloof.

                                                          *

Die lamppale flits verby. Net een maak vandag saak. Maak vir altyd saak.

“Bediende vermoor werkgewer, brand haar huis af.”

En die feetjies en dwergies was stil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top