Geloof onder die vergrootglas
Beste Angus,
Met jou skrywe oor "Die Geskiedenis van die Christendom" van 2012-01-26, het jy die verwagte histeriese reaksie uitgelok van diegene wat kies om met oogklappe en tonnelvisie die Bybel lees. Jou karakterisering van die Jode-stamgod van die Ou Testament is op die punt af, en vervul die kriteria van volksmoord, van 'n Oosterse despoot wat sy uitverkore volk opdrag gee om die "gelofteland" skoon te vee van al die nasies en stamme wat reeds daar gewoon het. So vervul die aksies en hierdie god van die Ou Testament die Verenigde Volke se definisie van "genocide", gedefineer as " acts committed with intent to destroy, in whole or in part, a national, ethical, racial or religious group, as such ... 'n Mens sou ten minstens van 'n intelligente god verwag om sy uitverkore volk 'n land binne te lei wat onbewoon was. Was dit dan nodig om al daardie kindertjies en vrouens dood te maak?
Eintlik is daar geen Christelike geloof as sulks nie maar 'n Joodse-Christelike geloof. Sonder die Ou Testament sou daar dan geen Nuwe Testament kon bestaan nie. En die grootste gros Christene raak heeltemal deurmekaar omdat hulle met twee Jode-gode in hulle psige sit, beslis 'n skisofreniese toestand van twee antagonistiese gode, een uit die Ou, en een uit die Nuwe Testament. Om dinge nog meer te kompliseer is daar ook 'n Derde God betrokke, by name, die Heilige Gees. Ons word vertel dat ons net maar moet glo dat al drie Gode verskillende persona van die een God is, en dat dit tog nie 'n kwessie van politeïsme is nie, maar watter een dominee op die ou end in die lewensbeskouing van Christene? Die aanhitser van "genocide", wraak en straf, of die God van genade en Liefde?
Konstantyn was geen pragbeeld van 'n Christen-mens nie maar 'n uitgeslape politikus en pragmaticus wat sy mag gekonsolideer het deur uniformiteit af te dwing op al die destydse Christelike sekte in sy ryk, en daar was honderde van hulle.
Onlangs het ek van 'n Anglikaanse dominee gehoor dat mens nie meer vandag van 'n jonger geslag kan verwag nie om die Nicea-geloofsbeleidenis, soos dit tans staan, te pappagaai nie.
Ja, dit is moeilik om eerbied, respek en agting te toon vir gelowiges wat nooit die grondslag van hulle geloof onder die vergrootglas ondersoek het, en al die feëverhale en mites van die Bybel vir soetkoek opvreet.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys