LitNet Akademies: Ena Jansen in gesprek met Marisa Botha

  • 0
Ena Jansen gesels met Marisa Botha oor haar LitNet Akademies-artikel "'ek het ’n liggaam, daarom is ek": Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif'".


Baie geluk met die onlangse verwerwing van jou doktorsgraad en ook die Eybers-beurs wat jy dié jaar as jong Suid-Afrikaanse navorser gewen het.

Baie dankie vir die gelukwense en die weldeurdagte vrae. Ek is dankbaar dat my DLitt voltooi is en ook dat ek as NRF postdoktorale genoot bevoorreg is om my navorsing oor Krog voort te sit. ’n Voorreg wat ook te danke is aan die toekenning van die Eybers-beurs. Dit is werklik ’n eer om dié beurs te ontvang.

Is poësie op sig jou eerste navorsingsliefde of is jy meer geïnteresseerd in die outobiografiese genre?

Die outobiografiese genre is beslis my fokuspunt, juis omdat dit ’n wye veld met diverse vorme van persoonlike memoires insluit – poësie, dagboeke, kreatiewe niefiksie en selfs foto’s kan geanaliseer word.

Vir die doel van jou baie deeglike artikel fokus jy op Antjie Krog se sogenaamd direkte en indirekte outobiografiese gedigte. Jy wys daarop dat die direkte variant name of plekname bevat wat met die digter skakel, terwyl jy gedigte wat deur agtergrondskennis van die digter se lewe ’n outobiografiese dimensie verkry, indirekte outobiografiese gedigte noem. Jy wys daarop dat daar talle nuanses in hierdie kategorieë is weens digterlike vryheid en die onbepaalbaarheid van feite.

Om hierdie verskille uit te pluis is sekerlik boeiend, sowel vir jou as ondersoeker as vir jou lesers. My vraag is nou of jy regtig dink dat dit saak maak vir ’n goeie begrip en waardering van gedigte om hierdie verbande te ken.

Dit is dalk nie nodig vir ’n waardering van die gedigte nie, maar soos enige teorie dra dit by tot die begrip van die verse – kuns kan natuurlik bloot as estetika evalueer word, maar teorie en agtergrondskennis plaas die kunswerk binne ’n raamwerk wat dikwels ’n addisionele dimensie aan so ’n werk verleen. Mens kry sodoende ook ’n groter waardering vir die kunstenaar se tegniek. My kategorisering kan kunsmatig voorkom, maar dit vorm deel van ’n groter studie om te bewys dat Krog se poësie wel outobiografies gelees kan word.

Kom ons trek jou ondersoek na die outobiografiese kode ’n bietjie wyer. Onlangs het ’n diskussie op Versindaba ontstaan na aanleiding van Ronelda Kamfer se gedigte. Pieter Odendaal het in ’n blog oor haar  geskryf: “Selfs wanneer sy in die eerste persoon dig, gaan dit selde om haar ‘persoon’ – daar is min sprake van ’n geïsoleerde individu wat eenkant van die bondel staan en haar eie beeld narsisties betrag. Die gemeenskap (waarvan die self onlosmaaklik deel is) speel ’n kardinale rol in haar oeuvre. Dit is ook om hierdie rede dat ek die motto van haar debuut aangehaal het – dit dien as ’n bevestiging van my argument dat sy ’n digter is wat wegskryf van die illusie van die individu.”

Volgens my lê hierdie uitsprake in die verlengde van die werk wat jy doen, is dit van die kwessies waarmee jy jou besig hou. Wil jy op Pieter Odendaal se opmerkings kommentaar lewer? Ek wonder byvoorbeeld wat jy dink van sy formulering “illusie van die individu”.

Ek kon ongelukkig nie hierdie bespreking op Versindaba opspoor nie, maar ek antwoord na aanleiding van my eie studie. Die bepaling van identiteit is soms problematies in outobiografiese poësie. Die liriese ek en outobiografiese ek kan nie summier aan mekaar gelykgestel word nie, maar net soos by die betrokke genres van poësie en outobiografie, is daar by die sprekende subjek ’n oorvleueling. Daar bestaan grade en dubbelsinnighede in identiteitsvoorstelling, wat misken word in ’n binêre verdeling tussen outobiografies en fiktief. Die plek waar hierdie twee genres, die digkuns en die outobiografie, oorvleuel, staan bekend as die “outobiografiese ruimte” (Lejeune, On Autobiography,1989). In dié ruimte word die twee genres in verhouding tot mekaar geanaliseer. Kristeva se “tekstuele ruimtes” sluit hierby aan. Volgens haar beskouing is taal polivalent en die sprekende subjek se betoog is deurentyd “in proses”. Hierdie nimmereindigende proses open tekstuele ruimtes in die teks waarin lesers die weersprekings en splete inherent aan alle tekstuele oefeninge kan sien en analiseer.

Odendaal verwys tereg na ’n “illusie van die individu”, want dit is inderdaad so dat identiteit nie outonoom ontstaan nie, maar in verhouding tot jou naastes, die gemeenskap en mens se sosiaal-maatskaplike omstandighede. Om hierdie rede is daar etiese dilemmas in die vertel van ’n lewensverhaal, want die “storie” behoort nie slegs aan die skrywer nie. By Kamfer is dit merendeels omgekeerd. Sy skyn die gemeenskap se verhale te verbeeld in haar poësie, maar deur die keuse van watter materiaal om te benut, asook haar eie byvoegings/weglatings, verkry die verse ’n persoonlike lading. Die persoonlike voornaamwoord ek dui nie noodwendig op die digter nie, maar kan as tegniek gebruik word om die leser persoonlik by ’n vers te betrek. Dit is ’n ingewikkelde taak om die digterlike konstruksie van die digter te skei.

Marisa Botha


Het Antjie Krog nie ook dalk ’n illusie van die individu geskep deur byvoorbeeld soveel feitelike name, leeftye en plekname in haar gedigte te gebruik nie?

In alle waarskynlikheid het sy (gedeeltelik) ’n illusie geskep, want deur die skryfproses kies mens ’n bepaalde selfbeeld om na vore te bring. Met ander woorde, deur die skryfproses word die “self” ’n konstruksie. Dit is juis hierdie element wat bydra tot outobiografiese geskrifte se boeiende en ingewikkelde ontleding. In my studie het ek deurentyd geworstel met die illusie, die fiktiewe aspek, en daarom het ek die verse ontleed volgens grade van feitelikheid wat Krog in die media oor haarself bekendmaak. In die outobiografiese genre, asook in ander letterkunde genres, is daar nie absolute van feit of fiksie, wit of swart nie, slegs skakerings van grys.

Krog se oeuvre lees sterk outobiografies, met elke bundel wat koppel aan ’n nuwe fase in haar lewe. Dit is egter nie ’n geval van slegs op die individu fokus nie. Veral in Kleur kom nooit alleen nie skakel sy met die Afrika-digters (griots) en die integrale rol wat hulle in die gemeenskap speel – om aan die mense ’n stem te gee deur hulle verse. Ook in Begging to be Black is Krog bewus van die “interconnectedness” van mense, oftewel ubuntu. Tog is hierdie teks ’n outobiografie wat haar verhaal vertel. Dieselfde geld vir Verweerskrif, waarin sy haar ervaring van oudword beskryf – dit is nou wel ’n universele tema, maar die perspektief is haar eie.

Met die dekades lange weerstand teen die “mens agter die boek” was die soort outobiografiese ondersoekmetode van jou tot baie onlangs nogal ondenkbaar binne die establishment van ons universiteite se ondersoekprogramme. Kan jy jou indink dat daar juis as gevolg van jou soort ondersoek nou miskien wéér ’n “backlash”, ’n weerstand kan kom teen die aanbring van verbande tussen outeur en werk; dat daar dus ’n terugkeer kan kom na die standpunte van die New Critics, van iemand soos Van Wyk Louw?

Ek dink ons leef nou in ’n ander wêreld, waarin mense op webwerwe, blogs, Facebook en deur ander sosiale media hulle persoonlike ervarings met die publiek deel. Die outobiografiese genre het ook baie gegroei in die afgelope paar dekades. Daar is altyd ’n risiko van sensasionalisme en daarom moet ’n outobiografiese studie met omsigtigheid aangepak word. Etiese handeling is van kardinale belang en alle uitsprake oor die geskryfde moet toetsbaar wees. Die voordeel is dat dié soort lesing tot meervlakkige interpretasies lei wat nie andersins ontsluit sou word nie.

Van Wyk Louw se standpunt teen outobiografiese ontleding is alombekend. In die vyftigerjare het hy sy opinie gelug oor die netelige kwessie van “buite” die teks soek vir antwoorde oor die teks in sy reeks artikels, “Die ‘mens’ agter die boek” (later ’n boekpublikasie). Hy skryf dat die mens agter ’n werk “nie met enige mate van sekerheid uit te ken [is] nie”. Hy hou vol ’n “kunswerk kan nie ‘verklaar’ word uit enigiets behalwe sy eie struktuur nie” en “die biografiese feit kan nooit ’n rol speel by die eerste groot taak van die literatuurbeskouing nie: die begryp van die werk as estetiese geheel.” Dit is egter ironies dat Van Wyk Louw jare later in Rondom eie werk (1970) sy ontevredenheid uitspreek oor die alewige estetiese interpretasies van gedigte, asof dit die enigste moontlike beweegrede vir die digter is:

Vir die digter is dit eintlik vernederend wanneer byna elke vers wat hy skrywe, teruggevoer word tot “poësie óór die poësie”, tot “soek na die skoonheid” – asof hy iemand is wat niks anders te doen het nie as om óór poësie te skryf; iemand wat met stywe oë net loop en prewel: poësie, poësie, poësie; skoonheid, skoonheid, skoonheid. (1970:74)

Ten slotte, as Van Wyk Louw, ’n voorstander van teksgerigte outonomiese ontleding, kan insien dat daar wel voordele aan ’n outobiografiese lesing is, dan behoort ander akademici (dekades later) sekerlik ook dié meriete te erken.

Anders gestel: Is ’n terugkeer na ’n streng en dikwels kunsmatige skeiding tussen kunstenaar en werk eintlik nog moontlik in ons tyd van Facebook, blogs en twitters wat openhartigheid en ekshibisionisme tot die normaalste saak van die wêreld gemaak het?

Nee, daar is beslis ’n oorvleueling tussen kunstenaar en kunswerk. Kunstenaars woon meesal nie in isolasie nie en deur onderhoude en dies meer is daar al hoe meer oor hulle bekend. Hierdie mededelings is ook nie noodwendig geloofwaardig nie. Iemand soos Krog het in haar oeuvre ook die fyn kuns bemeester om feit en fiksie te verweef in ’n ryk tapisserie van perspektiewe. Ek dink nie dat die punt is om ’n streng skeiding te maak tussen kunstenaar en kuns nie – die twee is intiem verweef, want kuns onstaan uit persoonlike ervarings en nie in ’n vakuum nie.

Wat is jou toekomsplanne op die gebied van sowel outobiografiese ondersoekmetodes as poësie-analise? Of gaan jy ’n heeltemal ander ondersoekkoers inslaan?

Op die oomblik spits ek my toe op die outobiografie; soos ek reeds genoem het, is daar baie fasette aan hierdie genre om te verken. Ek was onlangs vir ’n semester by die Universiteit van Pennsylvania, waar ek fassinerende kursusse geloop het by Rita Barnard en Liliane Weissberg. Barnard se kursus oor Suid-Afrikaanse letterkunde was insiggewend, veral om ons letterkunde deur die oë van Amerikaanse studente te bestudeer. Na aanleiding van daardie besprekings broei daar in my agterkop ’n paar idees vir toekomstige artikels. Dit is egter Weissberg se kursus oor geheue, trauma en kultuur wat inpas by my belangstelling in outobiografiese tekste, maar in die besonder tekste wat handel oor trauma. Ooglopende voorbeelde uit die Krog-oeuvre wat hul met die saak bemoei, is Country of My Skull en There Was This Goat. Dus is my toekomsplanne om binne die outobiografiese genre tekste met aspekte van geheue en trauma te bestudeer. Daar is boeiende skakels tussen die twee elemente en hoe hulle op mekaar inspeel. Ek is bewus van Chris van der Merwe se werk oor trauma, asook die hernude belangstelling in die tekste van mans wat destyds diensplig gedoen het en oor hulle wedervaringe skryf, soos in Batley se versameling van tekste deur ouddienspligtiges. Ek sal noodwendig by hierdie debatte inskakel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top