“Dis donker en dis lig en dis swaar” – Riette Rust vertel wat die lyf onthou

  • 0

Jy het die frase erotiese kapitaal in Afrikaans gemunt. Waar het dit alles vir jou begin – wat was die sneller tot hierdie verpakking?

André le Roux, toe nog voltyds by Sarie, het die onderwerp raakgelees. Die term erotiese kapitaal, oftewel erotic capital, is deur Catherine Hakim, ’n sosioloog aan die London School of Economics, geskep. Hakim het baie navorsing oor dié vorm van kapitaal gedoen en nou sê sy: as jy erotiese kapitaal het, het jy die belangrikste professionele eienskap wat nodig is vir sukses in die komende dekade. Ek het dié interessante onderwerp nagevors en in 2010, as vryskut, ’n Sarie-artikel daaroor geskryf. Dit het ’n wonderlike reaksie ontlok. Johnny le Roux van Naledi (die uitgewer) het die artikel raakgesien en my gevra om Lang bene & Lipstiek: Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses te skryf. Ek het Suid-Afrikaanse navorsing gedoen: óns kenners geraadpleeg en onderhoude met Suid-Afrikaners (mans en vroue) gevoer. Na dese stem ek absoluut met Hakim saam: as jy erotiese kapitaal (seksualiteit ineengevleg met selfvertroue, sprankel en lewenslus) het, behandel ander jou veel meer positief, behaal jy meer werksukses en word jy as eerliker, meer oortuigend en meer bevoeg beskou. Hakim se navorsing sê ook jou inkomste kan met tot 15% styg!

En ná Lang bene & Lipstiek, waar jy oor erotiese kapitaal skryf, kom toe ’n Lyf onthou. Stories, is ek reg? En alles oor seks? Vertel ons lesers asseblief nog van hierdie boek en waaroor dit handel.

’n Lyf onthou bevat 17 kortverhale oor dinge wat die lyf, en daarom die gees, kan ervaar. Ja, baie van die verhale het seks in verskeie vorme as tema. Daar is sadomasochisme, buite-egtelike verhoudings, seksuele teistering en seksuele molestering. Maar ek fokus ook op die liefde, verhoudinge, siekte en alkoholisme. André le Roux, ’n kortverhaalspesialis – soos jy self weet – sê: “Lyf is nie ’n seksboek nie. Dit gaan eerder oor wat in die psige van mense aangaan, waarvan (vroulike) seksualiteit maar een ding is. Dis donker en dis lig en dis swaar.” Tog het ek geen probleem daarmee as sommige lesers die boek net vir die seks wil lees nie. Hopelik ontdek hulle in die proses dit wat ek by monde van my karakters wou sê. En kyk hulle uiteindelik heel anders na seks in al sy vorme. Dalk nie goedkeurend na alles nie, maar met begrip.

’n “Verskynsel” wat ek baie geniet het, was om dieselfde karakters in verskeie verhale te laat voorkom. Só word die bundel meer van ’n eenheid en is daar elemente van ’n miniroman teenwoordig. Die bundel begin met die ouer Mia en Teo se liefdesverhaal. In die laaste verhaal kom daar ’n nuwe dimensie by.

Wat is jou gunsteling-storie uit ’n Lyf onthou? Of die een wat jou bybly – en om watter rede?

“Onwaarskynlike gerubyn” is my absolute gunsteling. Ek het dit geskryf nadat my oudste dogter, Zahn, vir my ’n storie vertel het. Natuurlik het dit nie net so gebeur nie. Die taak van die kortverhaalskrywer is tog om ’n slice of life te neem en dit in ’n storie wat iets sê, te omskep, dit te fiksionaliseer. Met dié verhaal wou ek sê daar is iets goeds in elkeen, jy behoort dit net aan te wend om só ’n verskil aan ander se lewens te maak. In hierdie verhaal kry ons met ’n moedelose student te doen. Sy reik nietemin steeds uit na iemand. In dié proses verander haar eie lewe ... Lees maar self.

Voltooi die sin op eerste impuls: “’n Lyf onthou ...”

... is ’n jare lange ideaal wat waar geword het. Ek het een aand weens siekte op die badkamervloer flou geword, gedink ek sterf en myself gevra: Wat wou jy nog doen? My bundel voltooi, was die antwoord. Die oomblik toe Protea Boekhuis instem tot publikasie (met heelwat werk wat moes volg), was ’n hoogtepunt in my lewe tot dusver. Byna net so opwindend soos die geboorte van my twee dogters. Ek voel tuis in Protea se stal. Ons het wonderlik saamgewerk. Ek, Izak de Vries en Martjie Bosman.

Watter boek lê op jou bedkassie?

Ivan Vladislavi? se The Loss Library and Other Unfinished Stories. Ek is gaande oor dié Suid-Afrikaner se werk. In hierdie stuk niefiksie vra hy: What happens when a story goes missing or remains unrecorded? Dit handel oor sy stories of idees wat nie wou werk nie en die redes daaragter. Kan nie wag om dit te lees nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top