LitNet Akademies-gespreksruimte | Seminar Room

 
“Die politiek van die estetiese in ’n postkoloniale konteks: menswaardigheid en vryheid van uitdrukking in die debat rondom Brett Murray se skildery The Spear” en etiese feministiese kritiek
Yvonne Jooste reageer op die LitNet Akademies-artikel "Die politiek van die estetiese in ’n postkoloniale konteks: menswaardigheid en vryheid van uitdrukking in die debat rondom Brett Murray se skildery The Spear" deur Jaco Barnard-Naudé en Pierre de Vos.


Gegewe die skadelike en naïewe geslagstereotipes, sowel as polities onverantwoordelike vroulike representasie, wat voortgevloei het uit die verkragtingsaak van president Zuma, die daaglikse verkragting van vroue en kinders, en die opvallende en voortdurende tekens van die manlike aard van dominante benaderings, paradigmas en denkwyses, is artistieke uitbeelding wat krities staan teenoor patriargie en al sy skadelike gevolge, noodsaaklik en kan dit kritiese denke ontlok en moontlike kragtige teenstand bied. Jaco Barnard-Naudé en Pierre de Vos se onlangse LitNet Akademies-artikel in verband met Brett Murray se kunswerk The Spear bring menige betekenisvolle punte vir bespreking na vore. In ’n poging om moontlike verdere punte vir bespreking, kritiek en perspektiewe bloot te lê, stel ek voor, deur ’n etiese feministiese benadering aan te hang, dat The Spear, as politieke werk, nie ’n voorstel van radikale verandering van bestaande veronderstellings van geslag openbaar nie.

Ek ondersteun derhalwe die outeurs se uitgangspunt dat dit nie binne die postkoloniale konteks wys of verbeeldingryk is om patriargie te kritiseer deur die gebruik van kategorieë wat aangewend is (en word) om die swart liggaam te ontmens nie. ’n Etiese feministiese benadering kan hierdie uitgangspunt verdiep. Vanuit ’n etiese feministiese oogpunt (wat maar een oogpunt is van waaruit die werk beskou kan word) is die werk nie suksesvol in sy kritiek teen die manlikheid van die heersende hegemonistiese kulturele orde nie en derhalwe slaag The Spear nie as betekenisvolle kritiek teen patriargie nie.

Etiese feminisme, oorspronklik geformuleer deur Drucilla Cornell, is as benadering geleë in ’n poging om aan dit wat as die “vroulike” gedefinieer word, stem te gee binne die dominante Westerse diskoers.1 Die dominante Westerse diskoers word beskryf as ’n hiërargiese fallusgesentreerde orde wat die “vroulike” uitsluit. Die “vroulike” kan geassosieer word met die politiese posisie van vroue, maar ook  met die politiese posisie van gemarginaliseerdes in die algemeen. Dit sluit persone in wat onderdruk of gemarginaliseer word op grond van ras, geloof en kultuur. Etiese feminisme veronderstel ’n benadering wat sensitief is vir konteks, pluralisme en verskil. Dit poog om dit wat uitgesluit word uit dominante kulturele ordes, sisteme en paradigmas aan die lig te bring deur middel van die gebruik van dekonstruksie en die deurgaanse simboliese en metaforiese bevestiging van die “vroulike”.2 Die representasie van die simboliese  en metaforiese “vroulike” word getoets aan die hand van politiese en etiese gronde: “[T]he criteria for judgment are both ethical and political. Does one interpretation rather than another expand and enhance the way ‘Woman’ is seen, so as to lift the stereotypes that justify the continuing oppression of women?”3 Die “vroulike” behoort vanuit ’n etiese, gemarginaliseerde posisie voortdurend die dominante paradigma of sisteem waarbinne sy verkeer, te ontwrig. Op hierdie manier word feminisme die politiese en etiese stryd teen hegemonistiese betekenisse en instansies wat enigiemand volle menslikheid ontsê.4 Feminisme is, volgens Cornell, veronderstel om die nabye verhouding tussen moraliteit en die dominante sieninge van “Man” uit te daag.5 Die dominante siening van “Man” is nie net gewortel in die eng Eurosentriese siening van “men” nie, maar ook in die konsep van beskawing wat in sy aard verwit en vermanlik is.6  Beskawing as konsep sluit nie net sekere vroue uit die gebied van betekenis en representasie uit nie, maar word ook gebruik as regverdiging vir sekere vorme van geweld. Dit sluit nie slegs direkte fisieke geweld in nie, maar ook die meer genuanseerde vorme van geweld wat magsverhoudings, misbruik en ras- en geslagstereotipes onderhou.

Feminisme is dus die stryd teen die proses waardeur persone as Ander gemaak of omskep word.7 Hierdie proses plaas sekeres buite die gebied van humaniteit en registreer hulle as minder menslik. Die outeurs verwys na Emmanuel Levinas se werk en die Westerse gewelddadige poging om die Ander te bedink.8 Feminisme moet altyd aspireer na ’n niegewelddadige verhouding met hierdie Ander en andersheid in die wydste moontlike sin van die woord.9 Aan die hand van Cornell is daar geen feministiese stryd sonder die gelyke stryd teen rassisme, neokolonialisme en gedurige vorme van imperialistiese onderdrukking nie.10 Feminisme sal haar eie politiese en etiese oogmerke ondergrawe en benadeel indien dit nie sensitiwiteit teenoor koloniale en rasrepresentasie daarstel nie.

The Spear slaag nie as radikale ontwrigting van die kulturele en simboliese ordes wat patriargie aanvuur en aan die gang hou nie. Nou verweef aan hierdie dominante ordes en denkwyses is ander vorme van onderdrukking, insluitende die deursypelende oorblyfsels van gewelddadige koloniale representasie en onderliggende rassistiese veronderstellings. Die dominante verstaan van beskawing as manlik kan nie geskei word van die verstaan van beskawing as wit nie. Geweld is inherent aan die dominante kulturele orde en slegs ’n problematisering van die oorkoepelende orde as geheel sal betekenisvolle verandering of kommentaar kan meebring.

Die feministiese projek, soos bedink vanuit die oogpunt van etiese feminisme, is ’n projek wat onderdrukking, stereotipering en geweld as sodanig probeer aanspreek. Dit eis niks minder as voortdurende versigtigheid en sensitiwiteit vir konteks (in hierdie geval spesifiek die postkoloniale konteks soos voorgehou deur die outeurs) in die poging om gewelddadige en skadelike sieninge en onderdrukking teen te staan nie.

Dus: The Spear (met etiese feminisme as benadering) stel nie ’n verantwoordelike uitbeelding daar nie, aangesien dit koloniale representasie bestendig en nie sensitief is vir konteks of ’n betekenisvolle ontwrigting van die oorkoepelende ordes en fallisme wat patriargie daarstel, meebring nie.  In hierdie opsig slaag dit nie as feministiese kritiek nie.

In ooreenstemming met die outeurs se voorhou van ’n komplekse benadering is dit egter belangrik om te noem dat ’n etiese feministiese benadering maar een benadering van baie benaderings is wat gebruik kan word om The Spear te bedink. Die bespreking van hierdie benadering verteenwoordig nie ’n finale oordeel oor The Spear en die diskoers daarrondom as sodanig nie, maar verteenwoordig eerder die poging, soos genoem, om verdere moontlike punte vir bespreking, kritiek en perspektiewe bloot te lê. Dit is dalk juis hierin dat The Spear ’n kragtige uitbeelding raak: in die werk se vermoë om debat en politieke geskil mee te bring en derhalwe ’n tydelike spasie vir demokrasie te skep. De Vos en Barnard-Naudé se inneem van ’n posisie van kompleksiteit is egter van belang hier. Nie net om die debat en bespreking rondom The Spear aan die gang te hou nie, maar ook om verantwoordelike gesprek mee te bring. Die erkenning van die kompleksiteit van die diskoers en debat rondom The Spear en die uitgangspunt dat hierdie kompleksiteit behoue moet bly, raak integraal gegewe ’n aantal kommerwekkende reaksies in verband met die werk wat op duidelike lyne van rasverdeeldheid dui. Kompleksiteit kan moontlik die sekerheid en sekuriteit wat saam met die gemaklike keer na rassistiese versteksposisies kom, weerstaan. Dit impliseer ’n meer etiese omgaan, aangesien dit menige perspektiewe en pluralisme toelaat, asook afsluiting weerstaan. In hierdie verband stel Cornell, deur op Njabulo Ndebele te steun, dat die enigste wyse waarop ’n gemeenskaplike humaniteit bereik kan word, deur die aangryping van onsekerheid en nederigheid is.11 Dit is ook dan ’n tipe nederigheid wat ek in De Vos en Barnard-Naudè se bydrae opmerk: “Met beskeie posisies bedoel Cilliers refleksiewe posisies wat versigtig omgaan met die bewerings wat gemaak word. In hierdie opsig wil hierdie artikel dus ’n beskeie posisie inneem deur te beklemtoon dat meerdere perspektiewe op The Spear van toepassing is.”12

Humaniteit lê in die opoffering van sekerhede (of dan die onderhouding van kompleksiteit):

I have reflected much on this. What seems to happen it this situation is that, at the point at which you recognise mutual vulnerability between yourself and an adversary that will not go away, you signal preparedness to recognise that there might be new grounds for a common humanity, whose promise lies in the real possibility that you may have to give up something of what has defined your reality, handed down from a past that cannot entirely meet your best interests now and in the future. It is the humility that arises when you give up certitudes around what was previously uncontested terrain of your value system and unsustainable positions derived from it. It is the willingness to embrace vulnerability of the kind that faces you when you learn to unlearn because there is so much more that is new to learn. Your new sense of comfort comes from the confidence that others, who are on the opposite side, are doing so too, and also experiencing vulnerability. It is about the capacity to abandon certitudes acquired through a history of habit.13



Bibliografie

Cornell,  D. 1990. The Doubly-Prized World: Myth, Allegory and the Feminine. Cornell Law Review, 75:644-708.
—. 2010. Rethinking Ethical Feminism through Ubuntu. Ongepubliseerde skrywe. Kopie by outeur.
—. 2009. Clint Eastwood and Issues of American Masculinity. New York: Fordham University Press
Ndebele, N. 2001. Fine Lines from the Box: Further Thoughts About Our Country. Cape Town: Umuzi.



Eindnotas

1 Cornell (1990: 644-708).

2 Cornell (1990: 696-98).

3 Cornell (1990:682).

4 Cornell (2010:3) .

5 Cornell (2010:3).

6 Cornell (2010:3).

7Cornell (2010:4-5).

8 Barnard-Naudé en De Vos (2012, par 4).

9 Cornell (2010:3).

10 Cornell (2010:3).

11 Cornell (2009: 187); Ndebele (2007:221).

12 Barnard-Naudé en De Vos (2012, par 5).

13 Ndebele (2007:221).



Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Nico
2012-09-22 @18:11

Cornell en Jooste se poging om feminisme op te saal met die oorkoepelende stryd teen die marginalisering van die Ander, maak geen (logiese) sin nie. Dit het ’n erg politiek-korrekte geurtjie wat sterk herinner aan die neiging deesdae om alles wat nie met die pseudo-demokratiese doelstellings van Africanism en die NDR strook nie verdag te maak, en om ’n kollektiewe skuldgevoel by almal te skep wat nie daardeur op sleeptou geneem wil word nie. Feminisme is mos ’n etiese stryd teen verontmensliking, dan nie? 

Hulle verkaf geen rede waarom die "feministiese projek" per se "minder" eties is – want dit is die eenvoudige, volg-die-dotjies gevolgtrekking wat mens moet aflei uit die premis van hul argument – as die stryd teen die  marginalisering van minderhede as sodanig, of enige ander stryd teen diskriminasie van watter vorm ookal nie.  En waarom sou kritiek teen misoginie in Afrosentiese kulture minder geldig wees as kritiek teen misoginie in Eurosentriese kulture, of misoginie in die algemeen? Al is dit dan met ’n Skildery-as-Bom. 

Dit is gruwelik paternalisties (en simptomaties van ’n onderdrukte rassisme – sal een van Litnet se sielkunde-boffins asseblief ’n analise doen?) vir wittes om ’n tog te vreeslik sensitiewe, suutjies-trap houding teenoor die verdrukking van vroue deur Afrika-tradisionalisme aan te neem, ten einde nie rassistiese aanstoot te gee nie. Dit smaak na die beskeidenheid en nederigheid van onderdruktes.  Praat van die rassisme-kaart speel! Ressorteer Ayanda Mabulu se Umshiniwam' ook onder die hofie "neo-colonialism"? Indien wel,  waar is die moewiese, landswye protes daarteen? Hy moet mos onmiddelik gedaag word om na vore te kom sodat hiper-sensitiewe Ethical Feminism hom as ’n as ’n Coconut kan identifiseer. Sorry Ayanda, just joking! 

Zuma is ’n stamgebonde tradisionalis – en terloops ’n afstammeling van swart "kolonialiste" – wat sy manlike suprematisme wegsteek agter ’n front van kamma-gender-egalisme. Sy veelwywery en traak-my-nie-agtige promiskuiteit demonstreer die misoginie van ’n oer-patriarg, en enige poging om dit uit te wys en te beveg is intrinsiek feministies. Dieselfde geld vir sy Afrika-manlike outoritarisme en obskurantisme wat op ’n onderbou van vrouehaat staat maak. Hy is ’n rolmodel vir miljoene en staan aan die stuur van ’n komplekse, moderne staat met ’n Grondwet wat ons universeel beny word. As hy en sy soort nie die problematiek van moderniteit en sekularisme kan hanteer nie, moet hulle elders in ’n Bantoestan-agtige utopie – soos Swaziland – hul heil gaan soek. 

Hy en die patriargie wat hy verteenwoordig verdien elke hou wat hulle kry, of dit nou van "neo-colonial" kunstenaars kom, of nie.     

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address