Poësie | Poetry

 
Die Verleier

Dis nie die verbolge Meester wat ek soveel vrees;
maar die een wat kom met ’n maklike stap
met die dokke langs geklee in ’n glimlag,
heel broederlik arm-om-die-skouer,
onder ons wat die oseane navigeer.
Die een wat sag dog selfversekerd praat,
vertroostende stem soos stadige reën,
oor die ou wette wat van die begin
die weg in sterre en getye wys.
“Rots wat met die tyd tot sand verbrokkel het,
korrels wat jy deur jou hand kan tregter
en strooi op die strome van jou eie hart,”
gesels hy, die een wat weet dat harte,
soos wilde water, die mees toegewende
baan volg en aan geen Absolute geanker
sal verdwaal op seë van relatiwiteit.

En naglank breek sy woorde, breek en spat,
hoog oor die dyke van ons polderland.


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Adriaan Coetzee
08 February 2012 @06:56 PM
Ek hou altyd van 'n gedig wat 'n mens op 'n woord of twee wys wat jy moet opsoek in die woordeboek.
   om te reageer | to comment