Die Heuwels Fantasties: "Die album is ’n breë storielyn ..."

  • 0

Die Heuwels Fantasties het pas ’n nuwe album, Ja. Nee. Lekker., vrygestel. Hoofsanger Pierre Greeff beantwoord ’n paar vrae oor die album en die koers wat dié groep deesdae inslaan.

Goeiedag, Pierre. Hoe's dinge deesdae?

Gaan lekker, man. Tans op toer in die noordelike deel van die land. Kan nie wag om later op die kus te speel nie, dan voel dit soos vakansie.


Pierre Greeff, Fred den Hartog en Hunter Kennedy
Foto: David Branson

Geluk met die vrystelling van Ja. Nee. Lekker.! Dit kom ’n (relatiewe) lang tyd sedert jul vorige vollengte-albums, Alles wat mal is (2012) en Wilder as die wildtuin (2011). Hoe het dit gebeur dat hierdie album bietjie meer tyd geneem het om te verskyn, en hoe vind jy weerspieël die inhoud en aard van die album dit? Was daar noemenswaardige verskille in hoe julle Ja. Nee. Lekker. aangepak het vergeleke met die vorige albums?

Dit voel dalk soos ’n rukkie as jy kyk na die uitreikdatums, maar tussenin het ons ’n live DVD vrygestel en ’n deluxe met die naam Wens jy was hier ... dié slag was ons maar net weer lus om musiek op te neem en soos met die ander albums gebeur dit die maklikste as ’n mens bietjie weggaan en jouself afsonder. Dié keer het ons in die Laeveld in die klowe naby Lydenburg gaan sit, met geen selfoonsein, en dit was die saadjie vir so sewe van die liedjies op Ja. Nee. Lekker. In terme van die inhoud is die album ’n breë storielyn deur al tien liedjies wat ’n paar karakters volg oor ’n tydlyn … maar daaroor sal ons later uitbrei ;-).

Dit is natuurlik nou nie ’n besonder nuwe verwikkeling nie, maar trommer Philip Erasmus het die groep op ietwat omstrede wyse verlaat. Te oordeel aan die album cover en die persfoto's vir 'Ja. Nee. Lekker.' is ’n permanente nuwe trommer (nog?) nie gevind nie. Watter soort impak het daardie hele episode terugskouend op die dinamiek van die band gehad? Hoe ’n soort impak het dit op die inhoud, samestelling of opnameproses van Ja. Nee. Lekker. gehad?

Dit het glad nie die skryf- of opnameproses verander nie. Ek, Hunter en Fred was nog altyd verantwoordelik vir die skryf van die musiek ... ons het wel kort ná Philip die band verlaat het, met ’n nuwe drommer begin speel en sy naam is Sheldon Yoko. Hy het al vir baie van ons musikant-pêlle gespeel en is nou by, waar ook al ons speel. Hy het ook op sewe van die liedjies op die nuwe album gespeel ... in terme van die reklamefoto’s: Ons het vroeër dié jaar gaan toer in Amerika en ’n video gaan maak en Sheldon was maar net nie saam nie. Hy speel nou voltyds saam met ons.

Die album voel in die algemeen of dit ’n besonder 'upbeat' inslag het – tog voel baie van die lirieke, soos Hunter Kennedy op die persverklaring uitwys, asof dit van ’n baie persoonlike plek kom en dui selfs plek-plek op neerslagtigheid of sinisme (soos reeds op die eerste snit, "Die Skemer Skema"). Dié kontras is natuurlik iets wat DHF nog altyd goed kon regkry. Word dit met opset so geskep en gepleeg? Met ander woorde, is daar ’n doelbewuste kontras wat in die liedjieskryfproses ingebou word, of kom die musiek eerste en die lirieke bo-op, of hoe werk dit vir julle?

Nie een liedjie het dieselfde oorsprong-storie nie. Partykeer is daar liriek en later musiek, of andersom, soms gebeur dit op dieselfde tyd ... ek dink dit is baie persoonlik en as ek terugkyk oor al die lirieke wat ek en Hunter saam geskryf het, was dit nog altyd so. Ons probeer wel konsepsueel verseker dat daar altyd ’n goue draad is, maar hou ook daarvan as die luisteraar self kan interpreteer waar toepaslik.

Soos gewoonlik verskyn heelwat innoverende elektroniese elemente op die album, en soos met Alles wat mal is, is daar interessante stories agter van die ongewone instrumente wat opgeneem is. Die vraag is bietjie tweeledig – eerstens, kan jy vertel wat die agtergrond is van byvoorbeeld die fluitspel op “Kom haal my”? En tweedens, hoe ’n groot rol speel die innoverende elektroniese of tegnologiese elemente in die musiek wat julle wil maak (veral wat live betref) en ook hoe julle julself as band beskou?

In terme van die fluitspel op “Kom haal my”: Ons was by ’n buitelug beeldhouwerk-kunsuitstalling in Nevada net buite Vegas en het daar die opsigter ontmoet. Hy is ’n inheemse fluitmaker en portretskilder, asook ’n fotograaf. Hy het die fluite vir ons gewys en sommer ietsie gespeel. Ons vra hom toe of ons dit mag opneem op die selfoon sommer en hy sê toe ‘Reg’ ... toe ons terug by die huis kom was ons besig om “Kom haal my” klaar op te neem en kom toe agter dat wat hy gespeel het in die selfde toonsoort is as die lied, en siedaar ... heel lukraak en so lekker! Op “Die Volkslied” het ’n jong ler in Ierland mos doedelsak gespeel, so dis nogal ’n ding, lyk dit my!

In terme van ander produksie-elemente en elektroniese klanke gebruik … dis nie regtig eers iets wat ons oorweeg in terme van enigiets anders nie, behalwe: Wat kan van die liedjie waarmee ons besig is, die beste weergawe moontlik maak, sonder om dit te oorkompliseer? 

’n Interessante keuse vir ’n cover op die album is Pieter van der Lügt se "Voëlvry". Dit klink uiteraard heel anders as die oorspronklike, onder meer met ’n inleiding-gedeelte wat ’n mens byna met Pete Townshend se "Let my love open the door" wil laat lostrek! Wat is jou of jul filosofie rondom covers en hoe ’n mens iets nuuts daarby moet voeg, maar tog die oorspronklike lied moet eer en reg daaraan laat geskied? Hoe het julle dit in hierdie opsig aangepak, en hoe het julle in die eerste plek besluit om dit te cover?

Ons is mal oor die liedjie en met die oorspronklike wat basies net op ’n kompilasie-album is wat uit druk uit is, wou ons maar net hê ons gehoor moet dit hoor, eerstens, en geniet ... met covers glo ek ’n mens moet die oorspronklike liedjie se melodieë in die sang vir seker hou en net ’n nuwe jas vir hom aantrek. Ek dink ons het dit reggekry.

Frieda van den Heever en Laudo Liebenberg maak gasverskynings op die album – onderskeidelik op "Nodig" en "Laat hy val waar hy wil". Dis natuurlik kunstenaars met wie julle voorheen ook al saamgewerk het – hoe word die besluit gemaak dat bykomende kunstenaars betrek moet word vir sekere liedjies en hoe het julle byvoorbeeld met hierdie twee snitte besluit daar moet uitgebrei word? En hoe besluit ’n mens spesifiek wie se stemme of inslag nodig is vir dié versterkings?

Beide Laudo en Frieda is baie goeie vriende van ons, al vir jare, en dit maak dit baie maklik om saam te werk, want ons verstaan mekaar musikaal baie goed ... soos vroeër genoem: Ons kyk na die liedjies op hul eie en probeer dit die beste maak as moontlik. In “Nodig” was die dialoog tussen die man en vrou belangrik, dus Frieda, en “Laat hy val waar hy wil” was heeltemal saam met Laudo geskryf, so wat jy daar hoor is regtig ons almal se kollektiewe klank saam met hom. 

Terwyl die Ja. Nee. Lekker.-album uitgereik word, vind daar ook ’n semi-afsonderlike uitreiking deur DHF plaas – ’n langspeelplaat, Deuntjies vir die draaitafel, met (grootliks) ’n versameling treffer-snitte van vorige albums daarop. Hoe het julle besluit om dít te doen en wat is die waarde van só ’n uitreiking vir julle? In dieselfde asem – die landskap van musiek uitreik, versprei en verkoop voel of dit byna konstant aan die verander is. Hoe pak julle graag dié onsekere bedryf aan, en hoe dink jy gaan dit verander oor die volgende paar jaar, veral vir Suid-Afrikaanse musikante?

Ons wou nog altyd plate maak, maar dis duur en jy moet dit invoer. Musica kom toe en sê hulle wil dit toets en ons was baie opgewonde, want daar was dus geen risiko betrokke nie – hulle koop 1 000 en versprei dit. Plate kan net 22 minute vat per kant en ons ander albums is te lank. Toe besluit ons op die kompilasie-idee: Een kant rustig, een kant meer rock.

In terme van die verspreidinglandskap gebruik ons als wat beskikbaar is – iTunes, ons app, al die gratis dienste, BitTorrent, CD’s … hoe makliker jy dit maak vir aanhangers om jou musiek te hoor, hoe beter! 

DHF het oor die afgelope paar jaar besonder baie bereik, besonder baie musiek uitgereik en die land keer op keer platgetoer. Wat is die volgende mikpunt vir die band? Hoe dink jy gaan die band klink oor, kom ons sê, vyf jaar, en het julle langtermynplanne in terme van toerskedules en nog uitreikings?

Ons beplan om bietjie in Holland en Australië te gaan kuier volgende jaar. En wie weet, dalk sommer nog musiek of ander mediums om die draai … ons sal definitief nog plate wil maak van al ons albums op hul eie.

Oor vyf jaar gaan DHF klink soos ons voel op daai stadium – dis maar gewoonlik ’n spieël.

Wat is die sin van die lewe?

Om gelukkig te wees met waarmee jy jouself besig hou en om te probeer die beste weergawe van jouself te wees daagliks. 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top