SêNet-briewe | Letters

 
Die gevaar van ideologies-gedrewe logika

Jan Rap

Jy skryf dat jy nie kan verstaan hoekom George oor iets onbenulligs (jou woord) soos die nadelige effek van godsdiens op die wetenskaplike denke van kinders, kan skryf terwyl boere op plase vermoor word nie. Jy insinueer dan dan sommer dat ek en George tevrede is met die situasie in Suid-Afrika omdat ons nie jou, Dan en Steve se bekrompe rasbehepte ideologie deel nie. Ek kan nie, en is nie naastenby bevoeg om namens George te praat nie maar sovêr ek sy skrywes lees verskaf hy genoegsame wetenskaplike bewyse vir sy saak. Lees gerus George se boek: Geloof, bygeloof en ander wensdenkery, om die saak vir jou vêrder op te klaar. Jou stelling dat Dan en Steve se pogings heilsaam vir Afrikaans is, is volgens my bloot ’n aanduiding daarvan dat jou ideologiese bril verhoed dat jy die skade wat julle aan Afrikaans aanrig, kan raaksien – ek sou baie graag die wetenskaplike bewyse vir jou bewerings wou sien.

Ek gaan hierdie keer stadig tik dat jy behoorlik kan lees wat ek skryf. Ek is uiters ontevrede met die stand van sake in Suid-Afrika. Die 1994 oorgang was onvermydelik en ons het die potensiaal om binne die raamwerk van die grondwet, dié land uitnemend te ontwikkel. Die ANC word egter, net soos jy, eerder deur ideologie gedryf as deur rasionele denke en beste praktyk. Dit het veroorsaak dat feitlik alle staatsinstellings in duie gestort het. Dis absoluut ontstellend dat boere op hulle plase uitgemoor word – die syfer is glo 10 keer hoër as vir die res van die bevolking. Die boere is sagte teikens en hierdie onaanvaarbare situasie is onder andere te wyte aan ’n wanfunksionerende polisie- en justisie-stelsel. Die ongekende geweld wat met sommige moorde gepaard gaan dui vir my op ’n woede by die misdadigers wat heel moontlik geperpetueer word deur ’n ideologies gedrewe regering wat die grondwet, media, boere en groot besigheid as vyande beskou eerder as bondgenote (hierdie is bloot ’n persoonlike opinie waarvoor ek geen bewyse het nie). Die situasie in die onderwys is ewe ontstellend wat dui op ’n wanfunksionerende onderwysstelsel. Weereens verhoed ideologie dat die fout intern gesoek word en word die blaam hardnekkig op universiteite gepak wat spartel en swoeg om swak opgeleide skoliere hoër onderrig te gee. So kan ek aangaan en aandui dat met enkele uitsonderings na, die ANC ’n disfunksionele regering geword het – alles die gevolg van ’n ideologie-gedrewe logika.

Die ANC as ideologies-gedrewe organisasie moet hervorm word of vervang word as regerende party. Terwyl daardie stryd ontvou moet ons onderwysstelsel dringend hervorm word om denkende kinders wat logies kan redeneer, op te lewer. Dit is hoekom dit nodig is dat godsdiens, wat op ideologie en onlogika gefundeer is, uit onderwys gehou moet word – gewone boere-logika lei my om daardie kolletjies te verbind.

Godsdienstige ideologie is ’n gevaarlike ding en kan selfs blindheid veroorsaak – Kobus de Klerk kan byvoorbeeld glad nie meer die mane van Jupiter raaksien nie as gevolg van ’n gestremdheid wat deur sy godsdienstige ideologie van kreasionisme veroorsaak is.

Groetnis
Thomas


Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Frans
2013-01-28 @10:03
Om godsdiens te blameer vir onlogiese denke is absoluut so absurd dat die skrywe geen verdere kommentaar werd is nie.
Delete Comment
avatar
Thomas
2013-01-28 @15:03
Frans
As ek jou kommentaar so kyk lyk dit so al vir my of godsdiens 'n mens se leesvermoëns ook aantas.
Thomas
Delete Comment
avatar
Thys Human (PTA)
2013-01-29 @22:31

Ek is 'n militante ongelowige (ateis verby!) maar ek stem saam met Frans. Ek dink bv die onlogiese denke van sommige filosowe, paleontoloe en joernalistieke dosente aan US het meer met hulle politieke skeefheid as hulle godsdienssieninge te doen.

TH 

Pretoria

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address