ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
CJ Langenhoven (1873–1932)

Sêgoed van CJ Langenhoven

“In Afrikaans ... het ek gevind my pêrel van groot waarde waarvoor dit ’n goedkoop prys sou gewees het as ek tot die betaling geroepe was, om al my ander besittings af te staan.”

“Mense wat niks doen, doen nie niks nie: hulle hinder die wat werk.”

“Soek om jou gelykes en jou meerderes te oortuig. Jou minderes sal jy onvatbaar vind.”

“Ons betaal ons onwillige knegte altyd te veel, ons gewilliges altyd te min.”

“Soos ’n skeermes in die hand van ’n aap, so is geleerdheid in die kop van ’n dwaas.”

“’n Man wat sy neus in ander se sake steek, soek nie dié op wat lekker ruik nie. Sy eie het hom nie aan die beste geure gewend gemaak nie.”

“Die engel wat my eendag huis toe kom haal, moet kan sê: ‘Ek het hom by sy werk gekry.’”

“Die skrywer moet voortdurend die leser in gedagte hou. Hy moet so te sê skryf met die een hand op papier en die ander op die pols van sy leser. Want hy skryf om gelees te word; as hy nie gelees word nie, of gelees en nie begryp word nie, het hy eenvoudig sy werk verkwis.”

“Ek sukkel nooit met wat ek te sê het nie en dit is die een groot rede waarom my lesers nie hoef te sukkel om my te volg nie.”

“Ek was so besig om kanse te soek dat ek my geleenthede een vir een laat verbyglip het.”

“Daar is nie ’n ding soos logika by ’n vrou nie. Sy vlieg tot gevolgtrekking sonder rede. En op die ou end blyk dit dat sy gelyk had.”

“Die verkwisterige man eet die vrugte van sy lewe groen op; die inhalige man laat hulle sit tot hulle vrot is.”

“Maak jou vriendelikheid goedkoop en jou vriendskap duur.”

“Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.”

Gebore en getoë

Cornelis Jacob Langenhoven is rondom middernag van 12 tot 13 Augustus 1873 (daar is ietwat onsekerheid of dit op 12 of 13 Augustus was) op die plaas Hoeko in die distrik Ladismith in Suidwes-Kaap gebore.

Sy oorgrootvader was Pierre Guillaume Langenhooven met die o’s in die ope lettergreep, skryf Langenhoven in U dienswillige dienaar (Tafelberg, 1973). Die “Guillaume” is daarna in die familievoorname bewaar, somtyds in die vorm van “Gulhelmus”. Die “Pierre” het “Piet” of “Pieter” geword. Sy grootvader, Philip Hendrik Morkel Langenhooven, is in Hottentots-Holland, naby vandag se Somerset-Wes, in 1812 gebore. Hy was getroud met Margarita van Koppen van Mosselbaai van die plaas Hamelkop.

Langenhoven se vader, Cornelis Jakob Zetuin Langenhoven, is in 1842 op Hamelkop gebore. Langenhoven heet na hom, maar by sy doop het die derde naam op een of ander manier agterweë gebly.

Langenhoven het in U dienswillige dienaar oor sy pa geskryf: “Wat ek van hom sal sê, sal nie veel wees nie. Van die allerbegin af het ons paaie uitmekaar geloop. Hy was my vader maar ek het hom altyd genoem ‘Anderpa’. Sy ouer broer was my Pappie en oorlede Rachel se suster my Mammie.

“Tot my agtste jaar het ‘Anderpa’, intussen weer getroud, darem op dieselfde plaas waar ek gebore is en groot geword het, aan die oorkant van die rivier gewoon, en ek het heen en weer daar gekom, kan ek goed onthou, en hy by ons, maar hy was maar nie vir my anders as een van die bure-‘ooms’ van die plaas nie. Toe het hy weggetrek, terug na die ou plaas Hamelkop toe, en daar het hy bly woon tot sy dood (...). Daar het ek hom verskeie maal gaan besoek, in my jonger jare met Pappie saam met die kar of met die ossewa, later alleen.”

“Pappie” was Pieter Guillaume Langenhoven en is op 10 April 1836 op Hamelkop gebore. Hy het ook daar grootgeword. Hy is op 2 Julie 1919 oorlede. Hy is later met ’n weduwee, Margaritha Susanna Petronella Blignault (gebore 1826), getroud. Sy was van Ladismith en ’n mooi vrou; sy is op 85-jarige ouderdom oorlede. Haar huwelik met Pieter was kinderloos en hulle het, buiten Langenhoven, nog vier aangenome kinders gehad. Die kinders se paaie het egter vroeg geskei.

Toe Pappie met Mammie getroud is, het haar jonger suster Rachel by haar in die huis gebly. Anderpa het van Hamelkop af by hulle op Hoeko kom kuier, soms maande lank wanneer hy met die boerd
ery gehelp het. Hy het op Rachel verlief geraak en sy op hom. So is hulle getroud. Hulle oudste kind, Philip, is op Hamelkop gebore.

Na ’n brand op Hamelkop is Anderpa en Rachel met die klein Philip terug na Hoeko, waar hulle op ’n stuk plaas wat Pappie intussen bygekoop het, gaan boer het. Anderpa en Rachel het op Hoeko nog twee kinders bygekry, naamlik ’n dogter en ’n seun. In nog ’n brand-treurspel is hierdie seuntjie oorlede en is die moeder, Rachel, ook oorlede – vyf dae nadat sy geboorte geskenk het aan Cornelis Jacob Langenhoven.

In sy biografie van Langehoven, Langenhoven: ’n lewe, skryf JC Kannemeyer dat die ware feite rondom Langenhoven se geboorte en sy moeder se afsterwe redelik duister is. Nêrens kon vasgestel word presies waar Langenhoven gebore is en waar Rachel oorlede is nie. Langenhoven self het egter geglo dat hy op Hoeko, in die huis waar Anderpa gewoon het, gebore. Volgens Kannemeyer kan ’n mens dit dus as feitelik korrek aanvaar.

Langenhoven was ’n klein en tenger baba by geboorte en volgens hom moes hy “nooit kon lewe nie, maar het tog geleef”. Hy het by sy pa se broer en dié se vrou gaan woon.

In 1881 het Anderpa as gevolg van ’n langdurige droogte in die Ladismithse distrik teruggetrek na Hamelkop. Langenhoven het vertel dat Anderpa nie skoolopleiding gehad het nie, maar hy was vlug van verstand en “kon die essensiële grondslae (van) ... een of ander vraagstuk” onmiddellik raakvat “en tot hulle logiese konsekwensies uitredeneer”.

Kannemeyer skryf dat dit eintlik ’n geluk by die ongeluk was dat Langenhoven by sy pleegouers beland het. Sy pleegvader was reeds besig om ’n vermoënde man te word en die bodemgesteldheid van Hoeko het die moontlikheid vir verdere ontwikkeling gebied wat op Hamelkop nie moontlik was nie. Daar was ook ’n klein skooltjie vir die opleiding van die kinders uit die buurt op die plaas. Langenhoven was dus veel beter daaraan toe as sy broer en halfbroers en -susters van Anderpa en sy tweede vrou op Hamelkop.

As gevolg van sy tenger bou en omdat hy by geboorte so swak was, het Langenhoven gou die bynaam Petiet by sy pleegvader gekry.

Sy eerste onderrig het hy tuis ontvang van ’n paar “goewernantes” deur middel van Engels. Oor hierdie onderrig het Langenhoven gemeen dat vir hom “minder werd as glad niks nie” was. “Die heel eerste een, maar toe was ek nog ’n skone babetjie byna, onthou ek met liefde. Sy had my lief en ek vir haar. Die drie of vier opvolgers het hulle neus opgetrek vir die boere-omgewing wat goed genoeg was vir hulle gasie, maar nie vir hulle smaak nie, en opgelei was hulle self nie.”

Die omgewing waar Langenhoven grootgeword het, was totaal Afrikaans. Sy “ouers” kon geen Engelse woord praat nie en die bure ook nie. Maar van die begin af was die hele onderwys van A tot Z in Engels. “Ek onthou ek het ’n grammar gehad en geleer dat sy doel was om my te leer van Etymology, Orthography, Syntax en Prosody. Ek het selfs geparse. Elke noun was third person, singular number, masculine gender, nominal case. By rekenkunde het ek lang somme gekry, ’n lei vol, en slae as daar ’n foutjie is – maar enige probleem om my te leer dink, nooit. Die leesboeke en leerboeke was bokant my begrip. Toe ek nog nie twee woorde uit die drie kon verstaan nie, moes ek die Tien Gebooie en die Geloofsbelydenis in Engels uit die hoof leer.”

Meester Bloemkolk het egter hoof van die goewermentskool (derde klas) op Hoeko geword en daarmee was die bewind van die goewernaunties op ’n end. Die mense het self die skoolgebou opgerig en toe dit klaar was, was dit klaar betaal. Marthinus Paulus Bloemkolk was ’n Nederlander van geboorte wat in 1880 op ’n middeljarige leeftyd na Suid-Afrika verhuis het, en, skryf Langenhoven, al het hy so oud geword soos Metusalem, sou hy nooit ’n Afrikaner van spraak of uitsig of maniere geword het nie. Hy het eers onderwys op Anysberg in die distrik Montagu gegee voordat hy in 1883 na Hoeko is.

Aanvanklik het die kinders van Hoeko probleme ondervind om meester Bloemkolk se Nederlandse uitspraak te volg, maar hulle het gaandeweg daaraan gewoond geraak. Sy onderrig was deur medium Engels al was sy aksent afgryslik. Hy het gekonsentreer op Arithmetic, Geography, Cape and English History, English Grammar en Nederlandse Grammatika. Na skool het hy ook die katkisante onderrig en sommige van die meisies musiek op ’n huisorreltjie leer speel.

Wat meester Bloemkolk se onderwysmetodes betref, was dit, pedagogies beskou, “metodes sonder metode”. Hy het hom aan die sillabus van die onderwysdepartement nie veel gesteur nie, totdat hy besef het dat daar “opklimmende standerds was met bepaalde vereistes”. Sy rapporte was egter altyd uitstekend.

Dit was egter die ekstra dinge wat meester Bloemkolk buite die sillabus gedoen het, waarvoor Langenhoven baie dank aan hom verskuldig is. Elke Woensdagoggend is daar een algemene klas vir die hele skool gehou. Elke leerling moes ’n brief of ’n opstel bring, een slag Nederlands, ander slag Engels. Dan het Meester een vir een hardop gelees en die korreksies algaande gemaak. “My skooldae van AB tot BA was vir my ’n tronkstraf omrede van die dwang daarvan,” skryf Langenhoven. “Waar ander mense op daardie tyd van hulle lewe as ’n besonder gelukkige terugsien, beny ek hulle. Maar daardie Woensdagoggende met letterkundige voortbrengsels en letterkundige kritiek van so ’n al-omvattende gehalte, was ’n sirkus. As ek Woensdag siek was, het ek my gesond gehou soos ek my ander dae nou en dan siek gehou het toe ek gesond was.”

Daar was nog ’n vorm van taaloefening waarvoor Langenhoven vir meester Bloemkolk ewig dankbaar sal wees. En weer was dit ’n stuk skoolwerk waarmee die departement niks te doen gehad het nie. Dit was gedurige vertalings, mondeling en skriftelik, van Engels in Nederlands en van Nederlands in Engels. Dit was dalk nie die regte manier om die vreemde Engels of die minder vreemde maar meer moeilike Nederlands aan te leer nie, maar dit het aan Langenhoven op doeltreffende wyse taal geleer.

“Ek dink nie daar was ’n ander moontlike metode wat my dieselfde insig sou verskaf het in die saamstelling van ons taalpatroon, die waarde van woorde en die kuns van woordverbindings as gereedskap om aan gedagtes uitdrukking te gee nie.”

Thys Kleynhans van Ladismith het in 1959 aan Die Burger vertel dat hy en Langenhoven saam op Hoeko skoolgegaan het. Hulle juffrou was mejuffrou Sinclair en die eerste dag toe Langenhoven uit die skool uit gekom het en hulle huis toe geloop het, kon hy die hele ABC agterstevoor-om opsê.

En hoe ouer Langenhoven geword het, hoe meer het hy die Bybelonderrig wat hy van Bloemkolk ontvang het, waardeer. Die gesin het gereeld die oggend- en aanddienste in die kerk bygewoon en hy het ook van kleins af die Bybelverhale aan “Mammie se knieë geleer”. (Sy het geen fairy tales gehad om te vertel nie, maar hy weet van geen sprokies wat mooier sou gewees het as die Bybelverhale nie.) By Bloemkolk in die skool is hierdie onderrig voortgesit.

Daardie kennismaking met die Nederlandse Bybel wat hy aan Bloemkolk te danke gehad het, het aan Langenhoven op sy ontvanklikste trap van ouderdom ’n letterkundige besitting besorg wat van meer waarde was vir die vorming van sy smaak en uitdrukkingsvermoë as al die kunsklassieke, van watter taal ook al, van die ou tyd of die nuwe tyd, waarmee hy ooit in sy latere lewe kennis gemaak het.

Aan die begin van 1888, op sy vyftienjarige ouderdom, is Langenhoven na die dorpskool op Ladismith. Hy is elke naweek huis toe, al moes hy soms huis toe loop. Die hoof van die skool was meneer JR Frylinck. Hy was nie gematrikuleerd nie, maar ’n “uitstekend-deeglike” onderwyser. Ten opsigte van metode was hy presies die teenoorgestelde van Bloemkolk. Frylinck se skool het soos ’n goed-geoliede masjien geloop en hy het nie ontsien om te slaan nie. As hy geslaan het, het hy nie gespeel nie, maar gelukkig het Langenhoven nooit onder sy lat deurgeloop nie.

Langenhoven het omtrent geen maats op Ladismith gehad nie. Met sy intree daar het die dorp se skoolkinders hom gespot oor sy plaas-gesnyde klere, sy boeremaniertjies en -houdinkies en sy ellendige Engelse uitspraak, “hoewel ek selfs toe,” skryf Langenhoven, “dank sy Bloemkolk, beter Engels kon skryf as wie ook van hulle uit hulle Engelse huise, om nie van Hollands eens te praat nie. Snaakse meerderwaardigheid. In hulle eie skool het ek hulle in elke vak uitgeklop. My vader kon hulle ouers een vir een uitkoop, en hy had meer grond as ’n Engelse Duke. Ons eie natuurlik Afrikaner-kultuur van die plaas was oneindig hoër as hulle nageaapte Engelse van die dorp. Maar in daardie dae het die bluf geslaag. In alle geval, so het hulle my ontvang, en ek was te hoogmoedig om in te dring, met die gevolg dat ek myself meer eenkant toe vreemd gehou het as waar húlle op die lange duur my sou geplaas het. Ná ses maande het ek hulle almal by die Elementary Examination uitgestof en twee jaar later was ek nommer een op die lys by die School Higher.”

By Frylinck het Langenhoven geleer om probleme in wiskunde op te los deur te dink. Hulle het nog Euklides in sy oorspronklike vorm gebruik, waar elke probleem met streng en formeel logiese stappe van gegewens tot gevolgtrekkings uitgeredeneer is. “Die bygaande oefeninge by Euclides was die lus van my lewe. Toe ek die honderde almal gedoen het wat daar in my teksboek was, en nog ’n teksboek wat meneer Frylinck my gegee het, was dit vir my ’n verdriet dat hulle op was – ’n leemte wat ek opgevul het deur self oefeninge op te stel vir denkbeeldige leerlinge.

“Verder skuld ek Frylinck my eerste bewuste begrip van taal – nie dié taal of daardie taal nie, maar enige taal – as ’n logies inmekaar-gepaste masjien. Met sy perfekte onderrig in die vakke van woordontleding en sinsontleding het hy my laat insien dat dit nodig is om net so sekuur te wees met die samestelling van ’n sin as wat hy was met die metodiese handhawing van sy roosters aan die muur.

“Vernaamlik het die teorie van die sintaksis praktiese toepassing gevind by die grondslag wat hy by my gelê het met die studie van Latyn – daardie ideaal by uitnemendheid van ’n byna matematies-logiese taal.”

Langenhoven het so ’n liefde vir Latyn ontwikkel dat hy behalwe die vier voorgeskrewe “lewens”, die hele Nepos vir sy plesier deurgewerk het totdat hy naderhand paragrawe kon lees sonder ’n werkwoord en sonder om die werkwoord eers op die end te gaan soek en daarvandaan terug te snuffel na die onderwerp en voorwerp en uitbreidings.

In 1890 is Langenhoven na die destydse eersteklasskool op Riversdal onder CFW Rosenow wat, volgens Langenhoven, ’n grondige kennis van die klassieke tale, twee, drie moderne tale, matesis en verskeie natuurkundige vakke gehad het. “Wat ek aan hom verskuldig is, kan ek byna nie vertel sonder dat dit na oordrywing sal lyk nie. Wat my verdere verstandsontwikkeling betref kon ek net so goed daar by sy skool, toe ek in 1892 gematrikuleer het, omgedraai het en my verdere opvoeding self voortgesit het – soos ek trouens omtrent maar gedoen het ook. (En dis geen refleksie op die destydse hoogleraars van Stellenbosch nie.)”

Meneer Rosenow het voortgegaan om Langenhoven se liefde vir Latyn te bevorder en meer en meer het hy Latyn vir die jong man ’n lewende taal gemaak. Maar ongelukkig was selfs Rosenow se invloed nie sterk genoeg om Langenhoven met ywer en volharding te laat leer soos hy op Ladismith geleer het nie. Dit was ’n ongeluk vir sy toekomstige lewe dat hy homself gewoond gemaak het om vakke en dele van vakke te kies waarvan hy gehou het en wat hy sonder inspanning kon leer. En hy het botweg geweier om aandag aan die studies te bestee waarvan hy nie gehou het nie. “Hierdie tugtelose gewoonte om te leer soos ek lekker kry en verder nie, het my volharding en selfbeheersing ondermyn en in later jare moes ek my swaar teësit om ’n deel daarvan terug te verwerf. Daar kan nie ’n skadeliker ding vir ’n jongeling wees nie as so ’n gebrek aan beide dissipline en selfdissipline.

“Maar dan, ek het twee vaste ankers makeer (...). Die een was my nooit voorsien nie: die bewuste drang van vaderlandsliefde en besef van die adel van burgerplig deur lidmaatskap van ’n nasionale organisme. Die ander anker was los deur geloofstwyfel en godsdiensstryd.”

En so het Langenhoven hom vir matriek voorberei net maar om deur te kom.

Terwyl hy op Riversdal op skool was, was hy die stigter van ’n skooldebatsvereniging waar hy ’n prominente plek ingeneem het. Daardeur het hy natuurlik spreekoefening ontvang en nie skryfoefening nie, maar die twee vul mekaar aan. Daardie oefening het hom nuttig te staan gekom in sy latere lewe as openbare spreker. Die skool het ook ’n weeklikse skoolblad gehad wat in manuskripvorm aan die muur gehang het. Langenhoven was ’n gereelde bydraer en ook redakteur. “Dáár was my roeping, sou ek toe reeds besef het – as my taal daar was. Die medium vir beide vereniging en joernaal was Engels.”

Verdere studie en werk

Na skool is Langenhoven in 1893 na die destydse Victoriakollege op Stellenbosch (vandag die Universiteit Stellenbosch). Hy het op Riversdal besluit om hom as predikant te bekwaam, aangesien dit die droom van sy ouers was, maar hy kon dit nie met sy gewetensoortuigings, of gebrek aan oortuigings, versoen nie en het teen die teologie besluit en ten gunste van die regte. Daarvoor moes hy eers ’n BA-graad verwerf voordat hy tot die LLB toegelaat kon word. Aangesien Stellenbosch destyds nie oor ’n regsfakulteit beskik het nie, sou hy ná die BA by die South African College in Kaapstad moes inskryf of hom verder met selfstandige studie as prokureursklerk moes bekwaam.

Hy was in 1893 ingeskryf vir Engels, Nederlands, Latyn, Grieks, logika en aielkunde. Met die uitsondering van Grieks en sielkunde, waarin hy geen eksamen afgelê het nie, was sy uitslae in die meeste van dié vakke “moderately good”.

Kannemeyer skryf dat die afwesigheid van enige eie dryfkrag en van stimulerende leermeesters soos hy op skool gehad het, daarvoor verantwoordelik was dat Langenhoven ná sy eerste jaar glad nie terug is Stellenbosch toe nie. Indertyd kon ’n student, as hy wou, net inskryf vir die eksamen wat deur die University of the Cape of Good Hope afgeneem is; bywoning van klasse was nie noodsaaklik nie. In 1894 het Langenhoven besluit om nie terug te gaan Stellenbosch toe nie en het hy vir ’n “jaar op die plaas rondgelê om dáár te leer of te maak nes iemand wat leer”. Só kon hy wel op ’n manier met Nederlands en Engels voortgaan, maar die Griekse vraestel het hom nie net gewys dat hy dáár sou druip nie, maar sy moed vir die res gebreek.

Hy is dus in 1895 weer terug na Stellenbosch, al het hy steeds geweier om die voorgeskrewe kurrikula te volg en hom by voorkeur op die aangename gedeeltes van sy vakke toegelê.

Om die probleem met Grieks te bowe te kom, het hy vir hom ’n Griekse Nuwe Testament aangeskaf en begin lees, iets wat vir hom maklik was omdat hy die Nederlandse Nuwe Testament feitlik woordeliks geken het. Daarna het hy Homeros eers met behulp van ’n “key” en later daarsonder begin lees en op dieselfde manier ook Xenophon en Plato gepak. Hy het meegevoer geraak met die Griekse letterkunde en kon die onvoorbereide gedeeltes van die eksamen (die sogenaamde “unseen paper”) met die grootste gemak beantwoord.

Om hom met die voorgeskrewe prosa en poësie te help het hy net voor die eksamen “’n nooientjie wat hom baie goedgesind was” gevra om die ooreenkomstige Engelse vertalings in haar tuin onder ’n vyeboom te lees terwyl hy die oorspronklike volg. Saans het hy dan die annotasies en inleidings bestudeer, met die gevolg dat hy in die eksamens niks te vrese gehad het nie.

Langenhoven vertel verder: “Nou ja, ek het so gou as moontlik my solder skoongemaak van Grieks om plek te maak vir wat nuttiger was. Maar uit al die jare van ergernis en weersin straal daar vandag vir my nog toe met ’n onuitspreeklike soete herinnering, die drie en enigste Griekse lesse wat ek geniet het, daar onder die vyeboom. Dit was nie die eerste Eva wat vir ’n Adam vyeblare aangesit het om sy naaktheid te bedek nie.”

Langenhoven het iewers in 1892, of dalk in 1893, een aand by ’n Jongeliede-debatsvereniging op Ladismith vir Helena de Vries ontmoet. Hulle het onmiddellik op mekaar verlief geraak. Sy was net vir een jaar op Stellenbosch en dit is waarskynlik as gevolg van sy verhouding met Helena, bespiegel Kannemeyer, dat Langenhoven nie in 1894 terug is Stellenbosch toe nie. Hulle het rondom die middel van 1894 verloof geraak.

Hy het sy BA-graad in 1895 behaal, en was daarna onderwyser, vanaf 8 Julie 1895 tot Maart 1896, by ’n eenmanskooltjie op die plaas Langlaagte in die distrik Heidelberg in die destydse Transvaal wat in 1889 geopen is. Langenhoven was egter nie ’n sukses as hoof van hierdie skool nie en in Maart 1896 is hy terug op Hoeko. Hy het by geleentheid nog vir Helena opgesoek, maar hulle verlowing is kort na sy terugkeer in 1896 beëindig.

Na sy terugkeer van Langlaagte na Hoeko in Maart 1896 het Langenhoven ’n tyd lank op die plaas gewoon voordat hy hom op Ladismith gevestig het, waar hy aanvanklik privaat onderwys gegee het en ook as klerk by Th CW Johnson, prokureur en notaris op die dorp, begin werk het. Die idee was om tydens sy termyn as prokureursklerk tot kandidaatprokureur te vorder en deur selfstudie die graad LLB te behaal, iets waarmee hy nog dieselfde jaar begin het. Die werk as klerk was terselfdertyd praktiese voorbereiding vir sy toekomstige beroep.

Na sy terugkeer na Hoeko het Langenhoven aanvanklik vir Anna, dogter van die weduwee Lenie van Velden, gaan kuier, maar baie gou het daar ’n vurige liefdesverhouding tussen hom en Lenie, wat tien jaar ouer as hy was, ontstaan.

Lenie, gebore as Magdalena Maria Hugo, is op 12 Mei 1863 naby Victoria-Wes gebore. Sy het ’n baie deeglike en fyn opvoeding ontvang, onder meer in naaldwerk, sang, klavier en orrel. Sy het ’n baie keurige Engels gepraat en ’n groot liefde vir die Engelse literatuur otnwikkel terwyl sy ook Frans en ’n bietjie Duits geleer het. Na voltooiing van haar skoolloopbaan het sy gaan onderwys gee in die skooltjie op haar vader se plaas en daar het sy verloof geraak aan ’n kêrel van die Murraysburg-omgewing. In Port Elizabeth het sy egter vir Anthonie van Velden, ’n jong prokureur, ontmoet, met die gevolg dat sy haar verlowing verbreek en met Anthonie getrou het. Hulle het hulle op Ladismith gaan vestig en vyf kinders is uit die huwelik gebore, van wie een oorlede is. Anthonie is elf jaar na hulle huwelik oorlede.

Die verhouding tussen Langenhoven en Lenie het vinnig gevorder en op 23 Februarie 1897 is die twee in die pastorie op Ladismith deur ds JW Louw in die huwelik bevestig. Hy het haar later as Madeline aangespreek. Sy is in 1950 oorlede.

Toe hulle getroud is, was Langenhoven nog ’n brandarm prokureursklerk. Hoewel sy vader ’n vermoënde man was, was dit teen sy beginsels om ’n jongman aan geld te help. Na die huwelik het die egpaar dus hul intrek geneem in Madeline se huis op Ladismith. Die vier Van Velden-kinders het by hulle gewoon. Daar was ongelukkig nie ’n baie goeie verhouding tussen Langenhoven en sy stiefkinders nie, maar dit het nie verhinder dat Langenhoven en Madeline (Vroutjie soos sy later bekend gestaan het) se huwelik aan die begin baie gelukkig was nie.

Tydens hierdie tyd op Ladismith het hy as gevolg van druk werksaamhede op kantoor en sy selfstandige studie maar min tyd gehad het vir sy eie skryfwerk. Van die oorgelewerde manuskripte is daar net twee waarvan met sekerheid gesê kan word dat dit op Ladismith geskryf is. In 1899 het hy ’n ongetitelde onvoltooide handleiding in Engels geskryf oor die regte van die individu en die relevante regsbepalings, in die besonder regte in verband met eienaarskap, besit, vervreemding, gebruik en gevangehouding.

Die tweede manuskrip was getiteld The life history of an ostrich, wat die verhaal van ’n volstruis vertel vandat hy uit die eierdop loskom tot by volwassenheid en vereplukstadium, alles in die trant van die diereverhaal gesien vanuit sy belewing van dinge. Dit is in 1953 in ’n klein boekie by Standard Press in Kaapstad deur Langenhoven se stiefskoonseun, Allan Pocock, gepubliseer.

In Junie 1899 het Langenhoven die LLB-eksamen met sukses afgelê by die ou University of the Cape of Good Hope en het hy gekwalifiseer om beide as prokureur en as advokaat diens te aanvaar. Hy kon dus dadelik tot die balie toegelaat word om as advokaat te praktiseer en in die hooggeregshof op te tree, maar hy het verkies om in die sybalie as prokureur te werk en daardeur ’n groter verskeidenheid gebiede te betree.

In die prokureurspraktyk op Ladismith waar Langenhoven gewerk het, was daar nie plek vir ’n derde prokureur nie; dus het hy begin uitkyk vir ’n ander firma waar hy as vennoot kon aansluit. Gelukkig was daar juis in daardie tyd ’n vakature by ’n prokureurskantoor op die nabygeleë Oudtshoorn en sy aansoek vir die betrekking was suksesvol. In Augustus 1899 het hy as prokureur in die kantoor van JA Foster begin werk. Hy het aanvanklik alleen na Oudtshoorn gegaan, maar op 18 Oktober 1899, ’n week nadat oorlog tussen die twee noordelike republieke in Suid-Afrika en Engeland verklaar is, het Madeline en die Van Velden-kinders hulle by hom in ’n huis in Hoopstraat aangesluit.

Kannemeyer skryf dat Langenhoven ook in Oudtshoorn, soos in Ladismith, weer skeppend begin skryf het. In 1900 het J & H Pocock The Resident Magistrates of the Cape Colony in their capacity as judges, sy eerste publikasie in boekvorm, gepubliseer. In 1901 het hy begin met Reminiscences of Clifton Brown, wat ’n vervolgreeks vir ’n Engelse tydskrif was. Dit het gehandel oor die ervarings van ’n skrander prokureur wat as ’n soort Sherlock Holmes-speurder met sy intellek en redeneervermoë sy teenstanders uitoorlê. Hy het dit in 1902 voltooi en laat tik, maar kon dit nie aan oorsese tydskrifte verkoop kry nie.

Langenhoven het egter besluit om sy vennootskap met Foster te beëindig en om, sonder die nodige aanvoorwerk, sy hoër graad in die regte te benut en in die hooggeregshof in Kaapstad as advokaat te gaan praktiseer. Dit was nogal ’n drastiese besluit, aangesien Madeline reeds vyf maande swanger was en besluit het om in Oudtshoorn agter te bly. Op 15 Augustus 1901 is Langenhoven as advokaat in Kaapstad toegelaat.

Langenhoven het haas geen werk gehad sedert hy in Augustus 1901 in die Kaap geland het nie en in Oktober 1901 was hy terug op Oudtshoorn by Vonkies, soos hy sy vroutjie genoem het. Hy het besluit om daar aan te bly tot die geboorte van hulle enigste dogter, Margarita Rachel Engela, wat op 22 Desember 1901 gebore is.

Engela, soos hy hulle dogter van vroeg af genoem het en haar ook as karakter in sy romans en verhale ingevoer het, was van die begin af haar pa se oogappel. Kort na haar geboorte het hy sy bekende wiegeliedjie “Liefdesonsin” vir haar geskryf, die Afrikaanse gedig by uitstek waarin die taal se moontlikhede tot verkleinwoorde geïllustreer word en die eerste gedig van Langenhoven wat in Versamelde werke opgeneem is. In die finale teks in die tweede deel van “Ons weg deur die wêreld” lui die eerste strofe so:                         

Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie!
                   Moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
                   Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie:
                   Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
                             “Doedoe bladertjies,
                             Slapenstyd nadertjies;
                             Doedoe blommetjies,
                             Nag is aan ’t kommetjies:”
                   So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Engela is later met Niko Brümmer, ’n tandarts, getroud en hulle het een seun, Guillaume, gehad. Engela is op 20 Julie 1975 in die hospitaal op Ladismith oorlede. Guillaume, wat in 1971 ’n PhD in wiskunde aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, is getroud met Leatitia Conradie en hulle het drie seuns en ’n dogter.

 

Langenhoven is aan die einde van Januarie 1902 terug na Kaapstad, maar dit het hierdie tweede maal ook nie beter gegaan met sy praktyk nie en teen die helfte van Junie 1902 is hy weer terug by Vroutjie op Oudtshoorn, waar hy een saak behartig het, en teen Augustus was hy weer terug in die Kaap.

In briewe wat gedurende hierdie tyd geskryf is, het dit duidelik geblyk dat ‘n ander probleem besig was om kop uit te steek: Langenhoven se oormatige gebruik van alkohol. Sy alkoholisme het al erger geword en as gevolg daarvan het sy huwelik met Vonkies in Oktober 1902 ’n laagtepunt bereik – in so ’n mate dat hy in ’n brief aan sy vrou regsadvies gegee het met die oog op ’n komende egskeiding.

Daaropvolgens het Langenhoven op 13 November 1902 die Kaapse Hooggeregshof gevra om sy naam van die advokaterol te skrap en hom as prokureur te herstel, en in die tweede helfte van November is hy weer terug op Oudtshoorn as prokureur, weer saam met Foster. Hy het die titel “advokaat” in die omgang behou, al was hy nooit in werklikheid weer advokaat nie.

Hierdie skuif Oudtshoorn toe was net die regte ding om te doen, want met Vroutjie se ewewigtigheid en praktiese ingesteldheid was sy vir hom die anker wat hy nodig gehad het om sy drankprobleem in toom te hou.

Gedurende dié tyd (November 1902 tot Maart 1912), toe Langenhoven vir die tweede keer as regsgeleerde op Oudtshoorn gepraktiseer het, het hy algemene sake wat gewoonlik op ’n plattelandse prokureur se pad gekom het, hanteer. Dit het sake soos testamente en erfenisse, boedelprobleme, koop- en huurkontrakte, invorderings van agterstallige skuld, dagvaardings en enkele gevalle van diefstal, bedrog, egskeiding en naamskending ingesluit.

Selfs nadat hy in Maart 1912 nie meer voltyds in die praktyk was nie, het hy nog sporadies sake behartig, tot ongeveer 1918 nog. Anna van Velden, sy stiefdogter, het hom bygestaan in sy kantoor in Kerkstraat en later het Allan Pocock, wat met sy stiefdogter, Bessie, getrou het, as kandidaatprokureur by hom en Foster ingeskryf. Langenhoven was tot 1928 as prokureur geregistreer tot hy die Wetsgenootskap van die Kaap die Goeie Hoop versoek het dat sy lidmaatskap beëindig word.

Langenhoven het gedurende hierdie tyd veral naam gemaak nadat hy betrokke was by ’n aantal groot watersake in die omgewing. In hierdie sake het sy pleitstukke getuig van ’n beredeneerdheid en ’n welsprekendheid wat in enige hof indrukwekkend sou wees. Dit het die indruk van baie van sy tydgenote bevestig, naamlik dat hy sy betoog ongelooflik briljant, met ’n presisie in woordkeuse en met ingeboude gevathede as ruspunte, kon opbou, dikwels deur sy illustrasiemateriaal uit die bekende boerewêreld van die Klein Karoo te haal, skryf Kannemeyer. CGS de Villiers het Langenhoven onthou as ’n redenaar wat oor ’n volmaakte segging beskik het, met ’n mimiek wat lewendig en net mooi reg was. Alhoewel hy logies kon betoog en sy gehoor kon meevoer, was hy ook ’n “meester-improviseerder” wat dikwels ’n sypad ingeslaan het.

Hoewel Langenhoven groot sukses met sy watersake gehad het, was hy steeds nie gelukkig in sy vennootskap met Foster nie. Tydens een van die watersake het hy lank op Ladismith gebly en het hy dit op ’n stadium ernstig oorweeg om weer by Johnson se firma aan te sluit. Uiteindelik het hy egter besluit om op Oudtshoorn te bly en ’n mens kan aanneem, soos Kannemeyer skryf, dat Vroutjie besluit het dat dit in almal se beste belang sou wees om dit te doen, veral aangesien die kinders al in die skool was; en dan het Vroutjie ook in 1903 ’n huis vir die gesin gekoop. Hierdie huis, wat aanvanklik Woodbine geheet het, is later tot Arbeidsgenot herdoop en sou vir die res van Langenhoven se lewe sy tuiste wees.

Op Oudtshoorn het Langenhoven weer sy pen gewend tot werke van regskundige aard, sowel as skeppende werk. En hoewel hy op daardie stadium nog geen toekoms vir Afrikaans kon sien nie, het hy aktief aan debatsaande deelgeneem. Hy het hom ook organisatories met debatsverenigings bemoei en reeds in hierdie tyd bydraes in Afrikaans gelewer. In Stukkies en brokkies (1911) en Ons weg deur die wêreld (1914) het hy samesprake opgeneem wat later verval het, soos die samespraak tussen ’n boer, Engelsman en Duitser wat hy onder die titel “’n Weergalmpie van Babel” gepubliseer het. In bogenoemde twee boeke het hy ook “’n Modelletjie vir ’n debat” opgeneem met voorbeelde van toesprake, debatsonderwerpe en ’n eenvoudige modelletjie van reëls vir ’n debatsvereniging.

Vanaf 16 Januarie 1905 het Die trouwbelofte as vervolgstuk in Het Zuid-Westen verskyn en is dit in 1910 in boekvorm gepubliseer. Voor 1910 het hy ook “Ons almaal se erfenis” geskryf wat in die manuskrip die titel “Rein geluk” gehad het”, asook “Die grijsaards jeug”. Een van Langenhoven se vroegste geskrifte in Afrikaans was “Die tweetalige vonnis” wat sir Henry Juta in sy Reminiscences (1912) opgeneem het. Hierdie samespraak het uit 1906 gedateer en is later in verwerkte vorm in Ons weg deur die wêreld opgeneem.

In 1906 het hy by die Zuid-Westelijke Drukpers en Uitgevers op Oudtshoorn Iets over arbiters en arbitraties uitgegee, ’n kort pamflet wat hy op versoek saamgestel het. Daarin het hy die tipe geskille wat ’n arbiter kan besleg, uiteengesit, asook wie as arbiters aangestel kan word, wie hulle aangestel het, watter mag hulle het en hoe ’n arbiter sy plig moes doen. Volgens Kannemeyer was die stelwyse en pittige sêgoed reeds tipies Langenhoven.

Nog voordat Langenhoven bewustelik tot die taalstryd toegetree het, het hy reeds in Afrikaans geskryf. In 1909 is De waterzaak gepubliseer en in 1912 ’n verwerking daarvan as Die wêreld die draai. Dit was duidelik dat hy van die konsep van hierdie toneelstuk gehou het, aangesien hy dit telkens in verwerkings heruitgegee het. In 1926 het hy weer daaraan gewerk en het dit as Die laaste van die takhare verskyn.

Kannemeyer skryf: “Met die sonde-met-die-bure, die stryd tussen die tale en die verandering in die maatskaplike patroon werk die drama (Die laaste van die takhare) met motiewe wat later bekende konstantes in Langenhoven se werk sou wees.”

In 1910 het Langenhoven tot die taalstryd toegetree. Dit was ietwat onverwags, aangesien hy in sy studentejare ’n hartstogtelike bewonderaar van Engels was en verklaar het dat Engels die toekomstige taal van Suid-Afrika sou wees. In 1893 het hy geskryf: “For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature, and a very poor vocabulary.”

In Maart 1910 het die “tydelike tydskrif” The State ’n artikel van Langenhoven getiteld “The problem of dual language in South Africa” gepubliseer en oor die artikel was die Engels in hulle “knoppies” soos hy dit gestel het, aangesien hulle geglo het dat hy hulle standpunt, die besware teen staatsgedwonge tweetaligheid, beter verdedig het as wat hulle dit self ooit gedoen het.

Langenhoven het egter in U dienswillige dienaar geskryf: “[V]an die begin af dat ek my aandag aan die saak gegee het, het ek met volkome helderheid ingesien dat die stryd in die eerste plaas nie teen Engels was nie, maar teen die onbruikbare, onleerbare, in Suid-Afrika morsdooie Hooghollands wat juis in die Engelse voordeel was omdat hy met sy plaaslik lompe magteloosheid self nie teen Engels kon stry nie en net in die pad gestaan het van die regte aanval wat sou slaag. En daarvandaan, as ’n onverbiddelike logiese noodsaaklikheid, (...) was ’n groot deel van my stryd vir Afrikaans nie soseer ’n stryd teen Engels nie as ’n stryd teen Nederlands.”

Soos die Engelse blaaie die stuk opgehemel het, so het die Nederlandse blaaie Langenhoven aangeval. Hy was die “Jingo-renegaat” wat teen ons “moedertaal” te velde getrek het om die Engelse welbehaaglik te wees – terwyl hy in die werklikheid “ons moedertaal” glad nie bespreek het nie. “En,” skryf hy verder in U dienswillige dienaar, “van daardie aanval af dateer my besieling om vir Afrikaans te stry. Dit het die mokerhoue van my partygenote en kant-genote gekos om my warm te maak. En die geveg wat gevolg het, het self gesorg dat die warmte nooit weer afgekoel het nie.

“Had die Engelse minder gejuig en die Dietsers minder gevloek oor my stuk in ‘The State’, dan heel moontlik was Langenhoven vandag nog in die geregshof besig met die besteding van sy kunstelose skryftalent aan die opstel van Engelse en Hooghollandse testamente en kontrakte. En sy boeke sou nie daar gewees het vir die gebruik van die volk en tot gruwel vir die kunsgesag nie.”

Een van die eerste take wat Langenhoven na 1910 in belang van Afrikaans gedoen het, was die publikasie van The royal road to Cape Dutch. Gedurende hierdie tyd was daar baie Engelstaliges en Jode in Oudtshoorn wat nie Afrikaans kon verstaan nie. Om hierdie mense in sy eie vriendekring, asook die algemene Engelstalige bevolking van Suid-Afrika, te help, het hy hierdie handleiding in drie “stages” opgestel: deel I is ’n “grammar”, terwyl deel II bedoel is as “a reading primer being the farce Die trouwbelofte with notes and exercises and vocabulary”. Die eerste twee dele het ook by Pocock verskyn, maar die derde deel is nooit gepubliseer nie.

In 1911 het J & H Pocock Die familie zaak gepubliseer, ’n geestige klug verwant aan Die wêreld die draai.

In September 1912 is Langenhoven se Afrikaanse verjaardagboekie in Oudtshoorn uitgegee en dit is in 1924 grootliks gewysig en opnuut as Ons geliefde verjaarsdagboekie uitgegee. Hy het in 1922 die 366 spreuke in hierdie boekie met kritiese opmerkings aangevul en die aantal spreuke verder uitgebrei vir opname in Ons weg deur die wêreld.

In 1912 het Langenhoven in die joernalistiek beland. Destyds was daar op Oudtshoorn ’n tweemaal-weeklikse tweetalige nuusblad, Het Zuid-Westen, wat tydens of net voor die Anglo-Boereoorlog tot stand gekom het onder die redakteurskap van Nico Hofmeyr. Die berigte was almal in Nederlands, maar die mense het nie vir hulle plesier die koerant gelees nie. En daar het omtrent nooit ’n Afrikaanse woord in Het Zuid-Westen voorgekom nie.

Na Hofmeyr se bedanking was daar verwisselings van redakteurs. By een so ’n verwisseling het Langenhoven aansoek om die redakteurskap gedoen. Daar was twee hoofbesware teen sy aanstelling, naamlik dat hy daarop sou staan om te skryf wat hy wou en nie wat hom voorgesê word nie (wat, volgens Langenhoven self, heeltemal gegrond was); die ander een was dat hy te slim was, “en hierdie beswaar was ’n onregverdige, ongegronde en valse en snode laster. Hemel. Daar is nie ’n skrywer of ’n spreker wat my in eenvoud en helderheid oortref nie; teen alle vorms van subtiliteit en kasuïstery en sofistery het ek ’n ewige renons. Ekself vind dit onmoontlik om te beslis met watter klas mense ek nog die meeste sonde in my lewe gehad het, die dommes of die slimmes.”

Intussen het Langenhoven gereeld bydraes aan veral De Volkstem, wat in Pretoria gesetel was, gestuur. Dit was ook as gevolg van die berugte artikel in The State. De Volkstem het Langenhoven, na sy mening, met meer eerlikheid behandel as ander Nederlandstalige blaaie en hy het die redaksie in ’n persoonlike brief bedank. Hulle het hom genooi om bydraes te stuur, waarop hy geantwoord het dat hy hom voorgeneem het om nooit weer Nederlands te skryf as dit nie Afrikaans kon wees nie. Maar hy het nie besef dat Afrikaans in die noorde al baie verder gevorder was as in die suide nie. Hy het dus gereeld bydraes gestuur, asook aan Die Brandwag.

Op daardie tydstip het die redakteur van Het Zuid-Westen, JH Malan, vir ’n maand met verlof gegaan het en is Langenhoven gevra om in sy afwesigheid hoofartikels te skryf. Hierdie artikels was uit die aard van die saak in Afrikaans – die eerste Afrikaanse artikels wat ooit in die redaksiekolomme van Het Zuid-Westen verskyn het. En die mense het gelees en die lees was vir hulle ’n openbaring. Selfs die direkteure het tot ontnugtering gekom, skryf Langenhoven. Toe Malan vroeg in 1912 as redakteur bedank het, het die direkteure “my aansoek met volhartige gewilligheid aangeneem”.

“En van toe af het die land gedreun – want die nuutherbore Zuid-Westen was spoedig wyd en syd bekend as ’n blad met ’n lewende persoonlike siel daarin – van toe af het die land weergalm van Afrikaans-propagandakrete soos nooit tevore gehoor is nie,” het Langenhoven in U dienswillige dienaar geskryf. “Die nuwe redakteur wis waar hy wou heen; hy had die logiese aanvalpunt raakgesien en daarop het hy gekonsentreer met ’n vuurspuwende geesdrif, somtyds met ’n woeste geweld van onbeteuelde taal, wat vir geen gesag of tradisie of rang of stand teruggedeins het nie. Moenie glo dat ek destyds die sagte, nederige, bedaarde skrywer was, sleg van goeiigheid, wat ek in later jare geword het en tot vandag toe gebly het nie. (...)

“Met Het Zuid-Westen had ek my wapen in die hande gekry, en my hart en siel was in die stryd. Nooit tevore en nooit daarná het ek op die lang aanhou so hard gewerk dag en nag aanmekaar nie.”

Gou moes Langenhoven assistente aanstel om hom te help. Die eerste was ’n “vars-ingevoerde Hollander; en buiten dat hy, nes ’n vak-unionis, sy eie werkure wou kies”, het hy ook niks van Afrikaans geweet of van geken nie. Die tweede assistent was Sarah Goldblatt, ’n Joodse dame, wat gou Afrikaans geleer het en ’n huisvriendin geword het. Sy het later sy vertroueling, sy klankbord en waarskynlik ook sy minnares, en as kuratrise van sy literêre nalatenskap het sy die Langenhoven-mite tot met haar eie dood in 1975 met drif en toewyding aan die gang gehou.

Die politiek in die koerant was bysaak; nuusberigte, rampe en geboortes en sterfgevalle, huwelike en egskeidings was maar aanvulling; die hele Zuid-Westen was nommer vir nommer een aanhoudende dawerende geskal van Afrikaans-propaganda, met teorie en praktyk, met voorskrif en voorbeeld.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die ineenstorting van Oudtshoorn se volstruisbedryf het Het Zuid-Westen wat van sy ontstaan af ’n skuldlas gehad het, nog enige maande voortgesukkel en is toe, op 9 Januarie 1915, gestaak. “En daarmee het een van die gelukkigste tydperke van my lewe op ’n end geloop,” het hy geskryf.

Tydens sy redakteurskap van Het Zuid-Westen het hy in 1913 ’n opdrag van die Oudtshoornse vieringskomitee ontvang om ’n toneelstuk te skryf wat geskik sou wees om op Dingaansdag opgevoer te word. Hy het Die hoop van Suid-Afrika binne twee middae en twee aande geskryf. Binne drie weke nadat hy daaraan begin werk het, op 8 November, is dit as ’n spesiale bylae tot Het Zuid-Westen gepubliseer. Die eerste produksie was onder Langenhoven se spelleiding in die Oudtshoornse Teatersaal. Hy het self die rol van Retief vertolk, terwyl sy stiefdogter Antoinette Lilienfeld die rol van Hoop en Allan Pocock die rol van goewerneur Stockenström gespeel het.

Op 24 Oktober 1913 het Tobie Muller, ’n predikant en sterk voorstander van Afrikaans, ’n lesing voor die Afrikaanse Taalvereniging op Stellenbosch gelewer getiteld “Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalist”. In hierdie lesing het hy onder andere voorgestel dat die Afrikaanse kind tot by die tweede of derde standerd Afrikaans moet leer lees en skryf en daarna Nederlands leer lees. Hierdie uitspraak was vir Langenhoven die dryfveer om langs die politieke weg die posisie van Afrikaans te bevorder en het dit sy daadwerklike optrede vroeg in 1914 verhaas.

In ’n brief aan Het Zuid-Westen van 19 Januarie 1914 het Langenhoven ’n sterk pleidooi gelewer dat daar ’n nuwe lid vir Oudtshoorn in die komende Provinsiale Raadsverkiesing verkies moet word. Hy het gemeld dat hy heelwat name kon voorlê wat bekwaam sou wees, maar “daar is ’n laaste naam wat in mij gedagte kom en dié is mij eie. Ik sal nie die ou eleksie-storie van weersinnige opoffering herhaal nie. Vir mij sou dit geen opoffering wees om aan die wétgewing van mij land deel te neem nie maar ’n voorreg. En als dit ’n opoffering was dan sou ik dit van harte gun en nie daaroor kla nie, of anders dit glad nie maak nie. Ik sien daar geen roem in om die altaar van mij land te ontheilig met ’n ongegunde brandsiekbok nie. Ik gee vrijwillig, of ik gee in ruil, of ek gee glad nie.”

Die wyse waarop Langenhoven hom as kandidaat vir die Provinsiale Raad verkiesbaar gestel het, was nie alleen hoogs ongewoon nie, maar iets uniek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika. Daar was egter seker dinge wat in sy guns getel het. Die kiesers was nie tevrede met die sittende lid nie en almal was moeg vir die outokratiese optrede van die administrateur, sir Frederic de Waal, en die raadslede se vrees om hom teen te gaan. Langenhoven se potensiële kiesers het geweet dat hy nie op hom sou laat trap nie.

Op 2 Maart 1914, nominasiedag, is Langenhoven deur Atties Fourie voorgestel as kandidaat vir die Provinsiale Raad as lid van die Suid-Afrikaanse Party. Daar was geen verdere nominasies nie; dus is hy onbestrede as verkose lid verklaar.

Aan die begin van April 1914 het Langenhoven per trein na Kaapstad vertrek vir die eerste sitting van die Provinsiale Raad. Hy het in Kaapstad in die Royal Hotel tuis gegaan.

Sommer dadelik het hy besluit om sy “pogingkie” vir Afrikaans te doen en op 23 April 1914 het hy die volgende mosie ingedien:

De heer Langenhoven stelde voor, gesekondeerd door de heer van Rooy: Dat deze Raad goedkeuring hecht aan de toenemende handhaving door het Onderwijs Departement van deze Provincie van het gezonde beginsel van onderwijs door medium van de moedertaal der leerlingen, zoals neergelegd in de Onderwijs Ordonantie, en verder aanbeveelt dat dat beginsel verder uitgebreid worde door het gebruik van het Afrikaans-Hollands als medium op onze lagere scholen tot en met de Vierde Standaard waar het Hollands volgens wet de voertaal is: Mits dat geen leesboeken, in het Afrikaans geschreven, voorlopig worden toegelaten tenzij dezelve voorzien zijn van een getuigschrift van goedkeuring door een of meer personen van erkende bevoegdheid, daartoe benoemd door hetzij Superintendent van Onderwijs, hetzij, “de Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst”: en mits het gebruik van zodanige leesboeken niet toegelaten worde waar het betrokke schoolkomitee er bezwaar tegen heeft.

Hierdie mosie is sonder een enkele teëstem aanvaar. In 1917 is Afrikaans in die hele laerskool ingevoer en vanaf 1920 ook in die hoërskool. 

Langenhoven het Oudtshoorn ses jaar lank in die Provinsiale Raad verteenwoordig. Nadat hy aanvanklik onbestrede verkies was as lid van die Suid-Afrikaanse Party, het hy in 1915, nadat Smuts en Louis Botha Duits-Suidwes-Afrika binnegeval het, die “vloer gekruis” in die Provinsiale Raad en aan die begin as enigste Nasionalis die politieke rigting van genl Hertzog gesteun. Hy was die enigste lid wat teen ’n voorstel gestem het wat waardering uitgespreek het vir Botha se inval in Duitswes. Toe daar ’n voorstel ingedien is dat die name van onderwysers wat aan die Rebellie deelgeneem het, van die rol geskrap word, het hy weer daarteen gestem. Sy kiesers uit De Rust het hom in sy besluite gesteun. SP le Roux, wat in daardie dae ’n jong advokaat met boerderybelange in De Rust was, het aan hom ’n brief van gelukwensing gestuur. Dié twee het baie gou politieke maats en hegte vriende geword. Toe Le Roux se seun Stephen (later Etienne Leroux) gebore is, is Langenhoven as sy peetvader aangewys.

Langenhoven se verbintenis met die Nasionale Pers, die uitgewershuis wat met die stigting van Die Burger tot stand gekom het, dateer ook uit sy jare as politikus. Sy eerste publikasie by Nasionale Pers was ’n pamflet van 24 bladsye, onder die skuilnaam Paddastoel, wat ’n Vriendelike woord aan die Zappe geheet het.

In 1919, ten tye van die vredesonderhandelinge van Versailles na die Eerste Wêreldoorlog, het Langenhoven ’n stuk vir genl Hertzog geskryf oor die posisie van die klein nasies teenoor ’n verswelgende imperialisme. Hierdie stuk, “’n Paar algemene oorweginge omtrent geskiedenis-studie”, is saam met ’n stuk van GS Preller gepubliseer onder die titel Twee geskiedkundige opstelle.

In 1919 het Langenhoven ook twee werke in Engels geskryf – albei met die oog op die vredesonderhandelings. Op 18 Januarie 1919 het hy ’n telegram van dr Malan ontvang met ’n opdrag vir die boek Republicans and sinners. Op 1 Februarie 1919 het die boek onder die skuilnaam A Loyalist verskyn – ’n illustrasie van hoe vinnig hy ’n boek kon afhandel. Dit is opgedra aan pres Woodrow Wilson van die VSA, en daarin het Langenhoven dít wat hy as die kenmerkende eienskappe en ideale van die twee blanke bevolkingsgroepe in Suid-Afrika beskou het, weergegee.

Later in 1919 het Langenhoven The everlasting annexation geskryf wat hy half ironies opgedra het aan JC Smuts. Dit is aangebied as ’n toekomsfantasie waarin die wêreld, uitgesonderd Suid-Afrika en die res van Afrika, deur ’n ontploffende ster weggeskeur word. Die Britse Ryk is daarmee heen, dus is dit die einde van die Britse oorheersing en kom die Nasionale Party aan die bewind, onder meer met die herstel van taalregte van die Afrikaners en met die behoud van taalregte van die Engelse.

Vanaf 2 tot 4 Julie 1914 het die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst hulle vyfde jaarvergadering in Bloemfontein gehou. Langenhoven, wat in 1913 tot lid van die Akademie verkies is saam met mense soos DF Malherbe, TH le Roux en J Kamp, het hierdie vergadering bygewoon. En daarby die geleentheid gesien om sy saak vir Afrikaans te bevorder en sy ideale te verwesenlik. Hy het ’n drieledige voorstel voor die Akademie ingedien:

I. (Die Akademie) neemt met belangstelling kennis van die besluite wat daar gepasseer werd door die Provinsiale Rade van die Kaap, Vrijstaat en Transvaal met betrekking tot die aanwending van Afrikaans als voertaal bij die lagere onderwijs, en heg sijn goedkeuring aan die Redes wat die Provinsiale Rade gelei het tot gemelde besluite ... II. Die Akademie besluit om met die oog op die resolusies, insonderheid van die Kaapse en Transvaalse Provinsiale Rade, waarvoor sijn medewerking ingeroep word, uit sijn midde ’n kommissie te benoem om die departement van onderwijs behulpsaam te wees insake leermiddele in Afrikaans ... III. Die Akademie besluit als ’n voorlopige maatregel om eenvormigheid van spelling te verkrij, om die regels wat hier bijgaan en onderteken is deur dr TH le Roux en andere, aan te beveel aan skrijwers van skoolboeke in Afrikaans; en benoem ’n Kommissie om die regels te redigeer en te formuleer, latende die inhoud en grondslag daarvan onveranderd.

Hierdie voorstel is na bespreking, veral oor die eerste punt, met 19 stemme teenoor 2 aanvaar.

Op die laaste dag van hierdie vergadering van die Akademie het Langenhoven sy rede “Afrikaans als voertaal” gelewer. Hierdie lesing is later opgeneem (met spellingverskille) in die derde deel van Ons weg deur die wêreld. Kannemeyer skryf dat wat ’n mens in hierdie rede veral opgeval het, is weer Langenhoven se afwisseling van stelling en illustrasie of betoog en beeld, alles gerugsteun deur kragtige logika wat die hele lang rede van 57 bladsye stewig bind.

Hierdie rede het ’n geweldige impak gehad. Nie alleen het lede van die Akademie wat aanvanklik nog getwyfel het, hulle nou heeltemal ten gunste van Afrikaans uitgespreek nie, maar ook lede wat met hulle aankoms in Bloemfontein nog baie sterk ten gunste van Nederlands as landstaal was, is deur dié rede oorgehaal om ten gunste van Afrikaans te stem.

Gedurende hierdie tydperk in sy lewe het Langenhoven ernstige gesondheidsprobleme ondervind. Dit kon toegeskryf word aan sy harde en ongereelde arbeid wat gelei het tot hoofpyne en senuweeprobleme. Ook kon sy oormatige drankgebruik dalk tot sy swak gesondheidstoestand bygedra het. Hoe dit ook al sy, dit het nie inbreuk gemaak op sy werkvermoë nie. Hierdie indrukwekkende werkvermoë van Langenhoven het nóú saamgehang met sy gemoedstoestand wat gewissel het van depressie tot opwinding – iets wat tekenend is van iemand wat bipolêr is.

In 1918 is Langenhoven se eerste werk (uitgesonderd politieke pamflette) in drie jaar gepubliseer, naamlik Die vrou (in die eerste uitgawe vrouw) van Suid-Afrika. Hy was gedurende daardie paar jaar baie besig met die taalstryd en politieke sake, maar vanaf die twintigerjare het daar jaarliks ’n stroom publikasies uit sy pen verskyn, partykeer soms twee per jaar en soms tot vier.

Die vrouw van Suid-Afrika is aangedui as ’n vervolg op Die hoop van Suid-Afrika, en as ’n “dramatiese fantasie”, en met “treurende liefde opgedra aan die nagedagtenis van my ontslape pleegmoeder, Maragrita Susanna Petronella Langenhoven, geb Blignault, ’n vrou van Suid-Afrika”. Terwyl Die hoop van Suid-Afrika die geskiedenis van Suid-Afrika van 1650 tot en met 1838 met die Slag van Bloedrivier vertel, handel Die vrou van Suid-Afrika oor die periode van 1842 tot 1902, die einde van die Tweede Vryheidsoorlog.

In ’n resensie in Die Huisgenoot van November 1918 het HA Fagan, wat ’n vriend van Langenhoven was, ernstige kritiek op Die vrou uitgespreek. Hy het gemeen dat die politieke karakters en twisgesprekke die poëtiese kwaliteit van die stuk skaad. Die drama lyk volgens Fagan asof dit oorhaastig geskryf is, ook wat die taalgebruik betref. Hy het egter gemeen dat dit by ’n opvoering indruk sou maak.

Langenhoven was baie heftig in sy kommentaar op hierdie kritiek en het die redaksie van Die Huisgenoot versoek om voortaan alle vermelding van sy werk te staak. In die 1920’s het sy gevoel teen kritiek só opgelaai dat hy die woorde “Geen resensie word gevra nie” voorin sy publikasies geplaas het.

In Die onmoontlike tweeling, ’n drama wat in 1920 gepubliseer is, het hy aangesluit by Die wêreld die draai. Daar is egter ook iets van sy sonde-met-die-bure-motief aanwesig. Die stuk werk basies met ’n reeks verwarrings. Met Vrouetrou (ook ’n drama) het Langenhoven weer aangesluit by ’n vroeëre werk van hom, naamlik Die verlore soon, wat in voltooide vorm slegs in Het Zuid-Westen verskyn het en een van sy mislukkings was. In Die Brandwag het Eugène Marais dit gehad teen die “onberijmde versmaat” en die feit dat die skrywer nalaat om sy gehoor te verras. In ’n brief aan Sarah Goldblatt het Langenhoven geskryf dat hy meen Vrouetrou is van die beste werk wat hy ooit gedoen het, hoewel hy sy eie oordeel al meer begin wantrou.

Die eensame hoop (1922) is weer ’n soort vervolg op Die hoop van Suid-Afrika en Die vrou van Suid-Afrika, met dieselfde allegoriese karakters. Dit is op kinders gemik en vertel die geskiedenis van die vroeë vaarders om die Kaap tot die koms van Jan van Riebeeck. Dit is ’n eenvoudige vertelling wat geskryf is in ’n tyd toe klein geskiedenisse van dié aard nog nie in Afrikaans beskikbaar was nie. Dit toon weer Langenhoven se meelewing met sy eie mense. En Langenhoven as opvoeder en didaktikus.

Langenhoven het reeds in 1915, kort na die stigting van die Nasionale Party, ’n tak op Oudtshoorn gestig. Hy het die eerste voorsitter geword en redelik gou is hy in die hoofbestuur van die Kaaplandse Nasionale Party en van 1929 tot sy dood voorsitter, terwyl hy van die begin af lid was van die Federale Raad. In 1915 het hy hom verkiesbaar gestel vir die Volksraad, waar hy Oudtshoorn sou verteenwoordig. Hy is aangewys as die Nasionale Party se kandidaat, maar het in die verkiesing van Oktober 1915 met 281 stemme teen die Suid-Afrikaanse Party se kandidaat verloor.

Dit was egter ’n ander saak met die Volksraadsverkiesing van 1920. Langenhoven het die setel met ’n meerderheid van 225 teen die Suid-Afrikaanse Party se AH Mulder verower. Wat Langenhoven se vriend SP le Roux gevrees het, is bewaarheid. Hy was bang Langenhoven sou nie die nodige geduld aan die dag kon lê as hy in die koukus nie sy sin kon kry nie. Langenhoven was ongelukkig in die Volksraad en gefrustreerd as hy nie sy oogmerke gou genoeg kon bereik nie. Kort na die verkiesing het hy op Ladismith aan SP le Roux gesê hy wil terug na die Provinsiale Raad en dat sy vriend hom dan in sy plek vir die Volksraad moet beskikbaar stel. Le Roux wou egter niks weet nie.

Maar al het Langenhoven voorbehoude gehad oor die Volksraad en sy verrigtinge, het hy baie gou uitgeblink as een van die mees indrukwekkende sprekers van die Nasionale Party. Hy het feitlik nooit met ’n uitgewerkte toespraak of selfs notas voor hom gepraat nie. As hy begin praat, was dit of jy ’n sterk sydraad uit ’n gesponne kokon sien afrol, het MER gesê. Weens hierdie redenaarsvermoë en sy insig in sake het Langenhoven ’n gewilde spreker by allerlei geleenthede geword. ’n Klein aantal van sy toesprake is in Versamelde werke opgeneem en daaruit kan ’n mens duidelik sy wye belangstellingsveld en kundigheid sien. Hy kon oor onderwerpe praat wat gewissel het van letterkundige styl tot kwessies soos inkomste en uitgawe en die vooruitsigte van die Britse Ryk.

Vroeg in Februarie 1921 was daar weer ’n Volksraadsverkiesing en hierdie keer moes Langenhoven Oudtshoorn se setel aan die Suid-Afrikaanse Party afstaan nadat hulle dit met ’n meerderheid van 115 stemme gewen het. En hoewel hy vooraf besef het hy staan eintlik nie ’n kans nie, was die uitslag tog vir hom ’n pynlike ervaring.

Na Langenhoven se toetrede tot die politiek was sy salaris as politikus sy enigste vaste inkomste. Sy uittrede uit die politiek het beteken dat hy hierdie inkomste verloor het. Hy het dus probeer om ander werksgeleenthede te soek, aangesien die politiek ook maar wisselvallig was. In 1921 het hy sy oog op die professoraat in die regte aan die Universiteit Stellenbosch gehad, maar dit het nie gerealiseer nie.

Intussen het SP le Roux met ander jong Nasionaliste gepraat oor die moontlikheid om Langenhoven as senator verkies te kry. Aanvanklik wou Hertzog en Malan nie byt aan die idee nie, veral omdat Langenhoven bekend was as ’n individualis en sy sporadiese drinksessies en die probleme wat dit meebring, daarby ook welbekend. Uiteindelik het Hertzog tog ingestem en in 1921 is Langenhoven tot senator verkies – ’n posisie wat hy, met ’n herverkiesing in 1929 – tot sy dood beklee het.

Langenhoven het hierdie “opgang” van die laerhuis na die hoërhuis van die politiek geniet, want as senator was hy nie só betrokke by die politieke rompslomp nie en kon hy meer aandag aan sy skrywery wy. Hierdie verhoogde status het by geleentheid aan Langenhoven heelwat vermaak verskaf. In sy “Parlementaire bydraag” vir die Nuwejaarsnommer van Die Burger in 1922 het die volgende limeriek verskyn.

Die bontspan het kwaai Langenhowe
Van sy vorige bakleiplek berowe;
Toe word hy senater,
En kwater en kwater
Oor sy val van benede na bowe. 

In sy hoedanigheid as senator het hy ’n belangrike rol gespeel in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal in 1925. Aan die begin van 1925 het almal in die Parlement, op enkele uitsonderings na, óf Engels óf Afrikaans gepraat, terwyl die wetgewing self in Engels en Nederlands opgestel moes word. 1909 se grondwet het bepaal dat Engels en Hollands die twee amptelike tale is. Maar met die Nasionale Party se oorwinning in die verkiesing van 1924 was die tyd ryp vir ’n verandering.

In sy hoedanigheid as senator het hy ’n belangrike rol gespeel in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal in 1925. Aan die begin van 1925 het almal in die Parlement, op enkele uitsonderings na, óf Engels óf Afrikaans gepraat, terwyl die wetgewing self in Engels en Nederlands opgestel moes word. 1909 se grondwet het bepaal dat Engels en Hollands die twee amptelike tale is. Maar met die Nasionale Party se oorwinning in die verkiesing van 1924 was die tyd ryp vir ’n verandering.

Op 18 Februarie 1925 het dr DF Malan, die nuwe minister van onderwys en binnelandse sake in die Paktregering in die Volksraad, voorgestel dat ’n gesamentlike komitee van die Volksraad en Senaat benoem word “om de kwestie te overwegen, of, en indien wel, in hoeverre, de Afrikaanse vorm van de Hollandse taal in plaats van die Nederlandse taal-vorm van Hollands gebruikt zal worden ten aanzien van Wetsontwerpen en Wetten van het Parlement, asook ten aanzien van officiële dokumenten van beide Huizen”.

Hierdie mosie is deur beide huise aanvaar en ’n gesamentlike komitee van die twee huise is benoem om die mosie te ondersoek. Uit die Senaat is Langenhoven saam met Reitz en Schweizer benoem en uit die Volksraad dr Malan en CJ Krige en AG Barlow.

Na die ondersoek afgehandel is en al die nodige getuies ondervra is, het die komitee ’n aanbeveling aan die twee huise gemaak waarvolgens Afrikaans een van die amptelike landstale van Suid-Afrika sou word. Die konsepwetgewing is op ’n gesamentlike sitting van die Senaat en die Volksraad goedgekeur en op 27 Mei 1925 is Afrikaans amptelik as ’n landstaal erken. Dít waarvoor Langenhoven in 1914 tot die politiek toegetree het, is na meer as tien jaar uiteindelik verwesenlik.

Wanneer Langenhoven in Kaapstad was vir die Parlementsittings of Kaapstad om ander redes moes besoek, het hy gewoonlik by Sarah Goldblatt (eers in die Tuine en later in Mowbray) tuisgegaan. Sy moes hom telkens, met eindelose geduld en teerheid, fisiek uit die ellendes van sy drankverslawing red, soms deur hom letterlik in die huis in te dra en te verpleeg.

Hoekom sy haar hele lewe feitlik aan Langenhoven gewy het, het altyd ’n ope vraag gebly. Dit kon gewees het dat sy die soort mens was wat só ’n groot bewondering vir Langenhoven se skryftalent gehad, asook vir die mens wanneer hy nugter was, dat sy bereid was om alles vir hom te doen. Die skrywer wat met woorde kon toor, en sy ywer vir sy taal en sy stryd in belang van Afrikaans, het haar ook aangevuur en betekenis aan haar lewe gegee. Op hierdie wyse het ’n dissipelskap ontstaan wat ’n hele lewe lank sou duur.

In Sarah het Langenhoven ook ’n geestelike maat gevind wat ’n mens selde in ’n leeftyd kry. Sy was die persoon buite sy huislike kring wat sy hartstog vir sy ideale verstaan het, wat sy kunstenaarsiel begryp het en vertroetel het en vir wie hy ten volle met sy werk kon vertrou.

Die twee het deur die jare ’n drukke korrespondensie gevoer en uit die korrespondensie is dit duidelik dat daar ’n baie hegte en diep vriendskap tussen hulle was. Sarah kon die geweldige eise wat Langenhoven aan haar gestel het, asook sy wispelturigheid, hanteer en die vriendskap kon dus deur al die jare behoue bly. Maar almal, ook na albei se afsterwes, het altyd gewonder of hierdie vriendskap meer intiem was. Vriende van Sarah, soos Audrey Blignault en Alba Bouwer, was verstom oor die oorgawe waarmee Sarah haar pligte as letterkundige administratrise nagekom het. Elsa Joubert, wat ook ’n vriendin van Sarah was, was oortuig daarvan dat hierdie ywer en oorgawe, wat aan fanaties gegrens het, voortgespruit het uit seksuele frustrasie, skryf Kannemeyer. Die praatjies het voortgevloei uit die feit dat Langenhoven so gereeld by Sarah in Kaapstad tuisgegaan het. Na Sarah se dood was daar gerugte van ’n seksuele verhouding tussen die twee, maar Jan Scannell het hierdie gerugte as onwaar afgemaak. Kannemeyer meen egter dat Scannell die kodes wat daar in die korrespondensie tussen Langenhoven en Sarah was, kon misgekyk het. In ’n brief van 11 Januarie 1926 het Sarah geskryf dat sy alle briewe van hom noukeurig nagegaan het. Alle briewe te make met sy manuskripte, politiek en die pers het sy gehou en die ander tot niet gemaak. Terwyl sy hiermee besig was, het sy “seergekry”, want elke brief “hou ’n intieme skakel uit die verlede voor my oë, en dit vind dadelik weerklank in my geheue en hart”.

Daar is vir seker kodes wat gereeld in briewe tussen hulle na vore kom wat nie begryp kan word as dit nie op ’n intieme verhouding tussen hulle dui nie. Telkens in die briewe is daar ’n soort refrein wat daardeur loop: “Alles is beuselagtig op die een ding ná wat ek nie kan skryf nie” (7 Julie 1924); “Daar is nie ’n ding wat ek sou kan sê nie of ek moet stilbly daarvan” (13 November 1924); “Jy weet, Sub, daar is niks hiervandaan te skryf nie, of ek moet skryf wat ek nie kan skryf nie” (7 Januarie 1925); “Maar ek kan nie vir jou skryf nie want oor die een ding waar my hart vol van is moet ek nie skryf nie” (16 Junie 1925).

Benewens die los praatjies en gerugte was daar ander inligting wat meer lig op die hele saak werp. Die Pococks was doodseker dat daar ’n verhouding was. Die rede waarom hulle nie van Langenhoven gehou het nie, was volgens Joyce Pocock (in 1991) “because he was always drunk ... and then, that terrible business with Sarah Goldblatt”. Vroutjie se kleindogter, Marjorie Pocock, was veral uitgesproke en het meer as een maal gepraat oor Langenhoven se seksuele onversadigbaarheid en onstuimighede, insluitend ’n insident met Sarah in die kantore van Het Zuid-Westen.

Dan het Guillaume Brümmer, Engela se seun, sy ouma en moeder een aand hoor gesels. Hy onthou sy ouma uit sy kinderdae as ’n baie wyse en liefdevolle vrou wat haar in die donker dae van Engela se eie drankprobleme baie oor haar dogter bekommer het en haar op alle moontlike wyses probeer help het. Toe hy ongeveer elf of twaalf jaar oud was, het Vroutjie by hulle op Beaufort-Wes gekuier. Hy het by sy ouma in die kamer geslaap en wakker geword tydens die gesprek sonder dat die twee vrouens dit geweet het. Langenhoven se verhouding met Sarah het ter sprake gekom. Op Engela se vraag hoekom haar ma dit alles verduur het, het Vroutjie geantwoord: “Ek het hom liefgehad.” Sy het ook aangedui dat ook dít nie genoeg was om ’n breuk tussen hulle te bring nie, selfs nie die keer toe sy haar man en Saartjie in Arbeidsgenot op heterdaad in ’n bed betrap het nie. Langenhoven het vir Vroutjie baie liefgehad en in Arbeidsgenot, met Vroutjie wat die huislikheid verskaf het, kon hy sy skeppingsdrang uitleef. Sy kon met haar waardigheid, liefde, helende kalmte, wysheid en bestuursvernuf aan hom ’n vervullende huwelik en gelukkige tuiste bied, terwyl Sarah vir hom ’n intellektuele stimulus was. Hy sou nooit vir Vroutjie gelos het nie, al het hy Sarah se geselskap ook hoe geniet en al het hy haar ook op ’n ander manier bemin.

Toe Langenhoven aan die einde van Mei 1918 op Oudtshoorn aangekom het ná die sitting van die Provinsiale Raad, was hy ontsteld oor die manier waarop die amptenary van die provinsie die besluit oor moedertaalonderwys van 1914 in die praktyk toegepas het. Op Maandagaand 30 Mei 1918 het hy oudergewoonte by die tafel in die eetkamer gaan sit en werk en só het die eerste drie strofes van “Die Stem van Suid-Afrika” ontstaan. Die vroegste weergawe, so ver Kannemeyer kon vasstel, lui as volg:

Deur die blouw van onse hemel, in die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.

Koor

Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe ons sal sterwe – ons vir jou Suid-Afrika.

In die merg van ons gebeente, in ons bloed en in ons vlees,
In die diepte van ons siel en in die hoogte van ons gees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf –
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trouw ons af.

Koor
Vaderland! ons sal onthou met eer en trouw ons naam te dra:
Ons s’n joue-Afrikaners, kinders van Suid-Afrika.

In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rouw,
Bij die klink van huweliksklokkies, bij die kluitklap op die kis –
Streel jou stem ons nooit virniet nie, weet jij waar jou kinders is.

Koor
Op jou roep seg ons nooit nee nie, seg ons altijd altijd ja –
Om te lewe en te sterwe – ja, ons kom Suid-Afrika!

Langenhoven het hierdie gedig aan Sarah Goldblatt gestuur met die opdrag om ’n ooreenkoms met die oog op uitgawe met De Burger of HAUM aan te gaan sonder om kopiereg af te staan. Hy sou self bereid wees om £25 in te betaal sodat die verkoopprys laag kon bly. Sy moes ook die gedig aan Fagan, op daardie stadium assistentredakteur van De Burger, wys.

Langenhoven het self musiek daarby geskryf, maar Fagan, wat wel van die gedig gehou het, was nie ingenome met die musiek nie. Toe Langenhoven weer in die Kaap kom, het hy Fagan ontmoet en met Langenhoven se toestemming het hy die gedig in De Burger afgedruk met die outeursnaam KRN (vir KeRNeels) daarby. Drie weke later het die teks en musiek by HAUM verskyn.

Die lesers van De Burger was baie ingenome met die teks, maar die musiek het nie inslag gevind nie. Een briefskrywer het vir KRN gevra of hy nie nog ’n strofe kon bysit waarin die godsdienssin van die Afrikaner tot uiting kom nie. Dieselfde aand het Langenhoven by Goldblatt aan huis die vierde vers geskryf:

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.

Koor
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

Langenhoven het hierna self komponiste genooi om nuwe musiek te skryf. Die Vlaming EL Hullebroeck het ’n melodie geskryf, asook Victor Potgieter, Gideon Fagan en Stephen Eyssen. Potgieter s’n is ’n tyd lank in die Vrystaat gesing, terwyl Fagan s’n deur Betsie de la Porte op ’n plaat gesing is.

Reeds in Mei 1919 het ML de Villiers ’n toonsetting op die vleuelklavier in die Koffiehuis in Kaapstad vir Langenhoven gespeel, maar dit was aan die begin nie suksesvol nie. Hy het egter aanhou verbeter en sy pogings aan deskundiges soos Charles Weich, musiekkritikus van De Burger, voorgelê. Uiteindelik was Langenhoven tevrede en het hy aan De Villiers verlof verleen om die melodie te laat druk. Met die eerste amptelike vlaghysing op 31 Mei 1928 het ds De Villiers die lied gedirigeer. Dit is uitgevoer deur ’n koor van 500 kinders van skole in Kaapstad en ’n blaasorkes op die oop terrein voor die Senaat in Kaapstad.

Dit is baie paslik dat dit Langenhoven was wat aan Suid-Afrika sy volkslied gegee het: “Die Stem van Suid-Afrika” het in 1957 die amptelike volkslied geword.

In Desember 1920, terwyl Langenhoven met die trein op pad was van Oudtshoorn na Kaapstad, het hy begin werk aan Die pad van Suid-Afrika, of Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika soos dit in boekvorm getiteld was. Op 12 Januarie 1921 was dit voltooi en Maart en April 1921 het dit in Die Huisgenoot verskyn.

Dit sluit met die verwerking van historiese boustof en met die aksent op die wording van ’n nuwe nasie regstreeks aan by Die hoop en Die vrou van Suid-Afrika. Dit was egter nie ’n drama nie, maar ’n epos in meestal onberymde versmaat, ’n tipe poësie wat met weinig bindmiddele na die prosavorm neig.

Weer eens was dit Eugène Marais wat dit gehad teen “die breë, onberijmde verse waarin Langenhoven hier sing”, terwyl EC Pienaar meen dat Langenhoven se hartstogtelike gevoel hom dikwels verlei “tot ’n oordaad van klanke wat soms ontaard in bombas”. Langenhoven self het dit as een van sy belangrikste werke beskou. Hy het in 1923 ’n dramatisering van Die pad van Suid-Afrika klaargemaak en aan Goldblatt geskryf: “Met die lees van gister af was die hele ding vir my nuut, en tussen ons – ek het my verbaas dat dit ek is wat dit geskryf het. En die eerste uitgaaf uitverkoop – en dít vir poësie!”

Terwyl Langenhoven nog by Het Zuid-Westen redakteur was, is enkele gesange wat hy in Afrikaans vertaal het, in die koerant gepubliseer. Hy het daarna ’n stuk of dertig van die gesange vertaal, waarvan die meeste in sy Aan stille waters-rubriek in Die Burger verskyn het. Saam met enkele ander godsdienstige liedere is dit in September 1922 as Gesange in Afrikaans uitgegee.

GBA Gerdener was nie baie vleiend oor Langenhoven se pogings om die gesange te vertaal nie, en ook in kerklike kringe was die kommentaar redelik afwysend.

Langenhoven se vertalingsvernuf was nie net beperk tot die gesange nie. Hy was nog altyd ’n bewonderaar van Edward FitzGerald se verwerking van Omar Khayyám se Rubáiyát, ’n digbundel wat sedert sy eerste publikasie in 1859 in Brittanje ’n soort kultusteks geword het en deur veel meer mense as net gewone liefhebbers van die digkuns gelees en waardeer is.

Die spoed waarmee Langenhoven ’n stuk werk kon afhandel, was verbluffend, veral as hy begeesterd oor iets was. Op Kersdag 1923 het hy ál 75 kwatryne van FitzGerald se eerste oorsetting vertaal. In die weke daarna het hy nog ’n paar keer verbeteringe aan Goldblatt gestuur en haar laat weet dat hy dit oorweeg het om die kwatryne in Die Burger te publiseer indien Nasionale Pers dit nie in boekvorm wil publiseer nie. Maar Nasionale Pers was baie opgewonde en die Afrikaanse Rubáiyát is in Maart 1924 as die eerste van ’n reeks sitkamerboekies uitgegee.

Langenhoven het ook Thomas Gray se “Elegy written in a country churchyard” vertaal. Hierdie gedig was lank die gewildste gedig in Engels en hoewel Langenhoven nie altyd 100 persent reg was in sy keuse van Afrikaanse woorde nie, was sy vertaling merendeels in die kol.

Sy geliefkoosde vorm van die poësie was beslis die limeriek. Hierdie versvorm het uitstekend by Langenhoven se geestigheid en spel met woorde aangesluit. En elke geleentheid en feesviering was vir hom ’n kans om ’n limeriek te skryf. So het hy met sy politieke vriende Jaap Hugo en AJ Stals oesters gaan eet en was die volgende limeriek die resultaat:

’n Sekere Hugo van Worcester
was siek van ’n galsterige oester.
Sy vriend, dr Stals.
gee hom ’n dop wilde-als,
en toe gaan dit woester op Worcester.

Dit was egter met sy romans wat hy in die 1920’s geskryf het dat Langenhoven die Nasionale Pers en die Afrikaanse letterkunde se gewildste skrywer geword het. Sy boeke is telkens herdruk en duisende eksemplare van elkeen is verkoop. Hierdie werke het in 1921 begin met Sonde met die bure. Binne ses jaar het hy nog sewe soortgelyke romans geskryf: Doppers en Filistyne (1922), Loeloeraai (1923), Die lig van verre dae (1924), Herrie op die óú tremspóór (1925), Mof en sy mense (1926), Donker spore (1926) en Die wagtende wêreld (1927). Twee bundels spookverhale, Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930), is uitgegee, asook boeke vir kinders, soos Brolloks en Bittergal (1925), Die Krismiskinders (1926), Die boekie sonder naam (1928) en Jantjie Muis en Jakob Slang (1931). Dramas wat in hierdie tyd uit sy pen verskyn het, was Die laaste van die takhare (1926) en Petronella (1931), terwyl hy sy Ou-liedjies, ’n verwerking van bekende volks verse, in 1928 gepubliseer het.

Die romans waarna hier bo verwys word, het Langenhoven in sy briewe aan Goldblatt “schnipes” genoem. Hierdie verhale speel almal af in die bekende wêreld van die Klein Karoo en hy self is meestal as die ek-verteller in die verhale aanwesig. Hy het ook vir Vroutjie, Engela en homself as karakters gebruik. Dit alles het aan hom die geleentheid gegee om ’n sterk persoonlike stempel op die verhale af te druk en die vertelling te voer in die rigting wat hy verkies het. Soos vroeër in die stuk genoem, is die “sonde-met-die-bure”-motief een van die konstantste, deurlopendste en oudste motiewe in sy werk en vind dit gestalte in van sy vermaaklikste en geslaagdste verhale.

Loeloeraai is die eerste voorbeeld van die tipe wetenskapfiksie wat Langenhoven leer ken het uit Jules Verne se Die reis na die maan en HG Wells se The first men in the moon. In sy aantekeninge het Langenhoven gemeld dat hy in Loeloeraai twee dinge uit Wells se werk oorgeneem het, naamlik die kwessie van sfeer en swaartekrag en die holligheid van die maan. Loeloeraai, die man van Venus, land met sy ruimteskip in Oudtshoorn en bly ’n tyd lank by Kerneels, Vroutjie en Engela. En Loeloeraai raak liries oor die gemaklike hantering van Afrikaans, wat hy in rekordtyd aangeleer het: “Laat ons liewers Afrikaans praat,” sê Loeloeraai. “Dis ’n doeltreffender en verstandiger geleimiddel om jou gedagtes uit te druk. Ek is van plan om hom op Venus te gaan invoer vir internasionale omgangs gebruik.”

In Loeloeraai gebruik Langenhoven weer die bekende huislike karakters en die landskap van die Klein Karoo, maar voer hy Loeloeraai in soos hy ook vir Herrie die olifant ingevoer het. Hy het self hieroor geskryf: “Die skrywer bring kastig homself en sy vrou en dogter in as deelnemers aan die gebeurtenisse wat hy beskryf. Dit is natuurlik bloot om kleur en geloofbaarheid aan die verhaal te gee. Wanneer ’n mens ’n onmoontlike, ongelooflike storie het om te vertel, is die aangewese weg om met gewone dinge te begin en soveel alledaagse dingetjies, toneeltjies en voorvalletjies in te vleg as moontlik. Skrywers soos Poe en Verne en Swift was meesters by die aanwending van hierdie plan.”

Langenhoven se eerste verhaal vir kinders, Brolloks en Bittergal, het sy ontstaan gehad na ’n briefie wat hy van die agtjarige Jacques Kriel van Maclear ontvang het. Kriel het Langenhoven vertel dat sy vader vir hom Sonde met die bure gelees het, asook Aan stille waters wat in Die Burger verskyn het. Dit het Langenhoven laat besef dat daar nie kinderstories in Afrikaans is nie. Op 3 Maart 1924 het hy in Aan stille waters Jacques se brief afgedruk en daarna het sy storie gevolg: “Die eensame huisie: Kosie en Rosie was ’n tweeling, en hulle was nog baie klein ...”

Brolloks en Bittergal het ook in Langenhoven se bekende wêreld afgespeel: die Grasveld, die gebied tussen die berge en die see met sy klowe, houtbosse en spelonke; en die Groot Karoo anderkant die Groot-Swartberge met sy vlaktes en klipkoppies en kort vaal bossies. Omdat hy vir kinders geskryf het, was sy styl eksplisiet, vraagstellend en vertellend, met beeldspraak uit die kind se ervaringswêreld.

Langenhoven se verhouding met die Suid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Lettere en Kuns was redelik omstrede. Hy het gesê dat die Akademie hoofsaaklik uit “Akademiese Fariseërs” met buitelandse doktorsgrade bestaan het, maar ten spyte hiervan het hy tog in 1913 lid van die Akademie geword.

Hy het egter nooit ’n baie aktiewe rol daarin gespeel nie. Vir die jaarvergadering van 1922 het hy gevra dat die Akademie die wenslikheid moet bespreek dat skrywers nie (soos tot in daardie stadium die geval was) hulle werk vir bekroning met die Hertzogprys voorlê nie, maar dat ’n keuse gemaak word uit al die werk wat in die betrokke jaar verskyn het. Langenhoven het nie die vergadering in Pretoria bygewoon nie en Gustav Preller het die besprekingspunt gelei. Die voorstel is aangeneem en genl Hertzog is versoek om toestemming te gee dat “alle letterkundige werke wat in ’n bepaalde jaar in Afrikaans verskyn het, vir die prys in aanmerking sal kom”.

Langenhoven het onverwags op 15 April 1925 uit die Akademie bedank. Die rede daarvoor is onbekend. Kort ná sy bedanking het hy ’n heftige aanval op die Akademie gedoen insake Nederlands as leestaal. Op die Akademie se jaarvergadering van 9 Oktober 1925 het hulle besluit dat Nederlands by die onderwys erken moet word, daar dit in belang sou wees van die gesonde ontwikkeling van ons Afrikaanse taal. Langenhoven het in Aan stille waters van 18 Januarie 1926 skerp te velde getrek teen hierdie besluit van die Akademie. As sy lewenslange teenstand teen Nederlands in ag geneem word, asook sy stryd om die erkenning van Afrikaans op skool, is sy heftigheid oor dié besluit te verstane.

Sy tweede botsing met die Akademie het gekom met die toekenning van die Hertzogprys in 1926. In die verslag van die beoordelingskommissie vir die Hertzogprys 1925–1926 is aanbeveel dat Die meulenaar van DF Malherbe, Gedigte van AG Visser en JFW Grosskopf se As die tuig skawe en Drie eenbedrywe bekroon word. “Onder ander werke wat meegeding het, verdien veral die volgende eervolle vermelding: Chrissie en Joey (Hettie Cillié), Mof en sy mense (CJ Langenhoven), Patrys-hulle (EB Grosskopf) en Jannie (Oom Sarel).”

Langenhoven was glad nie gediend met die “eervolle vermelding” van Mof en sy mense nie en in Aan stille waters van 4 Januarie 1927 het hy ’n skerp aanval op die Akademie se “Beoordelingskommissie vir die Hertzogprys” gedoen. “Met dié verslag het die kommissie ’n verder en oorbodige bewys verskaf van sy bevoegdheid om as regter oor die skryfkuns op te tree deur die gehalte van redenering en uitdrukking waarvolgens hierdie skryfproduk van sy eie, ’n bloot formele klein dingetjie, opgestel is ...” Volgens die kommissie se verklaring was daar so baie werk om te beoordeel dat die kommissie oorspan is. Die Akademieraad het die lede versoek om tog nog ’n jaar aan te bly, en ’n vergoeding vir hulle vasgestel “van £10 ieder vir die jaar se beoordeling ... Ek veronderstel dat die bestaande lede sal aanbly.”

Hy het voortgegaan: “Waar kry die kommissie die reg vandaan om my nie net te beledig nie, maar te belaster? Ek het nie my werk aan hulle ingestuur om mee te ding nie, hierdie nie, en geen ander nie, nou nie en nog nooit nie. As ek, uit eie beweging, oordeel soek, dan soek ek nie die oordeel van my minderes nie. Ek bedank hartlik vir die smaad van eervolle vermelding deur so ’n kommissie en ek neem sterk eksepsie teen die voorstelling van my werk, wat deur al die jare heen nog te hoog was om hulle uitlandsverknoeide smaak te bevredig, nou besig is om tot daardie peil te verval.”

Prof EC Pienaar was die sameroeper van die Letterkundige Kommissie, en só omgekrap was hy oor Langenhoven se uitlatings dat hy op 18 Januarie 1927 aan die sekretaris van die Akademie geskryf het: “Met referte tot my brief van 30 Okt laaslede versoek ek die Akademieraad nou definitief om my voorlopig te onthef van diens op die Prysvraag-kommissie. Na adv Langenhoven se uitbarsting (Die Burger, 4 deser) en veral die veragtelike insinuasie dat bestaande lede sal aanbly terwille van die £10 vergoeding, sien ek nie kans om die werk vanjaar te doen nie.”

In 1927 het Langenhoven weer ’n hou teen die Akademie ingekry. Sy Skaduwees van Nasaret, Jochem van Bruggen se Ampie II en Diamantkoors en Twee fortuinsoekers van Sangiro is gesamentlik met die Hertzogprys bekroon. In die brief skryf die Akademieraad: “Namens die Raad wil ek u van harte gelukwens met die welverdiende onderskeiding. Ek sluit hierby in ’n tjek van £25, synde eenderde gedeelte van die Hertzogprys van £75. Sal u so vriendelik wees om die ontvangs te erken?”

Langenhoven het op 24 Desember 1927 as volg ontvangs van die brief erken: “Met vriendelik dank erken ek die ontvangs van u skrywe van 20 deser met aankondiging van toekenning van die Hertzog-prys en tjek vir £25. Daar ek egter die prys nie kan aanvaar nie, stuur ek u tjek hierby ingesluit terug, natuurlik sonder bedoeling van onbeleefdheid.”

Die Akademie het egter nooit sy naam van die lys van bekroondes verwyder nie. Langenhoven het dus geweier om die prys te aanvaar, terwyl die Akademie op sy beurt geweier het om Langenhoven se afwysing van die prys te aanvaar.

Maar Langenhoven was nog nie klaar met die Akademie nie. Arthur van der Lingen de Villiers het in sy testament duisend versekeringsaandele aan die Akademie bemaak, met die opdrag dat die Akademie vyf jaar na sy afsterwe die vyf beste letterkundige werke in Afrikaans aanwys, en die aandele as prysgeld aan die skrywers toeken volgens verdienstelikheid.

Die Akademie het ’n komitee benoem om die vyf beste letterkundige werke uit te soek. Hulle kon dit nie doen nie en het ’n groslys saamgestel. Deskundige advies is buite die geledere van die komitee gesoek en die vyf werke in die volgorde van verdienstelikheid gerangskik: Ampie I en II deur Jochem van Bruggen; Uit oerwoud en vlakte van Sangiro; Oom Gert vertel en ander gedigte deur C Louis Leipoldt; Die vlakte en ander gedigte van Jan FE Celliers en Ons weg deur die wêreld deur Langenhoven.

Soos dit toe moes gebeur het, het Langenhoven se boek heel laaste op die ranglys verskyn. Hy was duidelik omgekrap en van versoening met die Akademie was daar nie sprake nie. Op 21 Oktober 1929 het hy aan die hoofbestuurder van die betrokke lewensversekeringsmaatskappy geskryf: “Ek hoop dit maar net as my oortuiging aan te meld dat as die Akademie regstreeks as prysregter opgetree had, hy my die eer sou gelaat het om volgens sy standaard, of gebrek aan standaard, geen werk van my onder die eerste 50 te plaas nie ... Met die meeste hoflikheid moet ek dus die aangebooie oordrag van aandele van die hand wys en stuur dit onverwyld terug.”

In die twintigerjare het Langenhoven se drankmisbruik en alkoholisme weer sterk inbreuk op sy lewe gemaak. Hy het hom op ’n stadium kragtens artikel 93 van die Drankwet deur die magistraat tot dronkaard laat verklaar sodat alle drankwinkels in die distrik Oudshoorn verbied is om enige alkoholiese drank aan hom te verkoop. Dit was veral op sy gereelde besoeke aan Kaapstad dat hy hom so aan die drank oorgegee het.

Teen April 1927 was Langenhoven se gesondheid haglik en het Vroutjie hom so ver gekry om weer na die magistraat te gaan. Na hy nie wou instem tot onthouding van meer as drie maande nie, het Vroutjie haar humeur verloor en het hy tot ses maande ingestem. En al het Langenhoven hom in sy leeftyd gereeld teen die oormatige gebruik van drank uitgespreek, het hy tot aan die einde van sy lewe met die probleem gesit.

In 1931 het sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, hom met die graad Doctor Litterarum honoris causa vereer. Langenhoven was kinderlik ingenome met hierdie toekenning, veral omdat dit van sy geliefde Stellenbosch gekom het. In die commendatio het EC Pienaar in sy aanbeveling gesê dat Langenhoven “’n algemene bekendheid verwerf het soos geen ander Afrikaanse skrywer vandag besit nie ... Want Senator Langenhoven skryf nie, maar hy praat, ook waar hy die pen hanteer. Sodat met waarheid van hom gesê kan word dat hy sy volk leer lees het.”

CJ Langenhoven is op Vrydag 15 Julie 1932 in sy slaapkamer in Arbeidsgenot op Oudtshoorn oorlede. Hy het vier dae vroeër teruggekeer vanaf Colesberg in die Noord-Kaap, waar hy moes help om ’n tussenverkiesing vir die Nasionale Party te veg. Hy is op 30 Junie eers per trein na Kaapstad en vandaar, op 3 Julie, na Colesberg. Op Beaufort-Wes het sy dogter Engela en haar man Niko Brümmer hom kom groet.

Hy is heel moontlik op 7 Julie weg uit Colesberg en in snerpende koue moes hy lank op De Aar se stasie wag. Daar het hy ’n geoloog, WP de Kock, raakgeloop en is hy gereeld na die hotel oorkant die pad om “verversings” vir die koue te geniet. Toe hy op die Kaapse stasie aankom, was hy baie siek, waarskynlik aan longontsteking, maar hy het geweier om dokter toe te gaan.

Op Maandag 11 Julie het sy gereelde rubriek Aan stille waters in Die Burger verskyn – ’n bydrae wat hy van 24 April 1922 elke Maandag, met slegs enkele uitsonderings, soos klokslag gelewer het. Toe hy die middag vieruur op Oudtshoorn se stasie afklim, het hy aan Vroutjie gesê dat hy glad nie lekker voel nie. Hy het dieselfde Maandagaand begin werk aan sy rubriek Aan stille waters vir die volgende Maandag.

Gedurende daardie week, sy laaste, het hy nog gewerk aan sy roman Die mantel van Elia, wat later in faksimilee uitgegee is. Die huismense moes die Vrydagoggend halfdrie die dokter laat kom, en toe hy teen ongeveer tienuur weer kom kyk hoe dit gaan, is Langenhoven omtrent tien minute later oorlede.

Die eerste ding wat Vroutjie gedoen het, was om ’n telegram vir Sarah Goldblatt te stuur. Sarah se “verwoestende smart” was ontstellend om te aanskou.

Daarna moes die reëlings vir die begrafnis getref word. Die begrafnis het op Sondag 17 Julie om drie-uur die middag uit die NG Kerk Oudtshoorn plaasgevind. Sedert sy dood die Vrydag het Langenhoven in staatsie gelê.

As ’n mens die koerantberigte van daardie tyd nagaan, is dit duidelik watter impak Langenhoven se skielike dood op Suid-Afrika gehad het. Onder die telegramme was daar dié van JBM Hertzog, die premier en sy vrou, DF Malan, Kaaplandse leier van die Nasionale Party, mevrou president Steyn, genl en mevrou Smuts, en die Studenteraad van Stellenbosch.

Dit was nie net in Die Burger waar daar huldeblyke en artikels van eerbetoon verskyn het nie. Ook Die Vaderland het geskryf dat Langenhoven meer as enigiemand anders gedoen het om ons publiek hul eie taal te leer lees en waardeer. In Die Volksblad se hoofartikel is geskryf dat daar “in ons leeftyd nog nooit so ’n spontane opwelling van volksgevoel oor die dood van ’n skrywer plaasgevind (het) as by die volksliefling Langenhoven nie”.

Die kerk was stampvol en meer as 1 500 mense het buite gestaan. Ds JG Lochner van Oudtshoorn het in gebed voorgegaan en toe Gesang 67:1 in Langenhoven se eie vertaling laat sing. Hy het ook gepraat uit Prediker en Filippense. Ds CV Nel van Robertson, ’n vriend, het uit Sefanja gepreek. Daarna is die stoet na die begraafplaas en meer as 3 000 mense het die teraardebestelling bygewoon.

Tien dae na sy dood is Langenhoven se testament in ’n berig in Die Burger bekend gemaak. Daarin is bepaal dat hy in ’n “oumode se swart kis” begrawe moes word en dat dit eers op die derde dag nadat hy medies dood verklaar is, moes gebeur. Hy het ’n vrees vir ’n skyndood gehad en dat hy lewend begrawe sou word.

Hy het sy “hoofskedel” aan die Universiteit Stellenbosch bemaak “om dertig jaar na my dood opgegrawe te word” – iets wat in Langenhoven se eeufeesjaar in 1973 vir heelwat vermaak in die pers gesorg het, aangesien dit toe reeds tien jaar ná die gestipuleerde datum was en Stellenbosch nog geen aanstaltes gemaak het om die kopbeen op te grawe nie!

Die opbrengs van die grootste deel van sy letterkundige produkte het hy aan Vroutjie bemaak, en Sarah Goldblatt is benoem tot “administratrise” van sy boeke en geskrifte en dat dit aan “haar goedgesinde diskresie” oorgelaat is om in oorleg met Vroutjie en Engela in dié verband op te tree.

Huldeblyke

  • JBM Hertzog: Die verlies aan die Afrikanervolk is onherstelbaar. Ek sal steeds aan hom dink in innige liefde en vriendskap.
  • DF Malan: Die opbouende werk, die inspirasie en die liefde van een van sy getrouste en begaafdste seuns sal die Afrikanervolk nooit vergeet nie.
  • Mev president Steyn: Gelukkig hy wat, wanneer hy sterf, onsterflike vreugde verwerf.
  • FEJ Malherbe: Met sy satire en sy humor het Langenhoven die gebondenheid, kortsigtigheid, misverstand, aanstellerigheid, vooroordeel en waan van die mense onder hande geneem en hul in liefde probeer bevry.
  • FA Venter: Langenhoven het as mens en skrywer ’n geliefde man geword omdat hy moed had vir die lewe. Hy was grootliks ’n blymoedige optimis en nie ’n swartgallige intellektueel wat hom met dood en verwording en degenerasie bemoei het nie. Vir Langenhoven was die lewe nog die moeite werd en hy het hom so daaroor uitgespreek: “My kuns is die kuns van die lewe en nie die kuns van die dood nie.”
  • John Vorster in 1973: Langenhoven is inderdaad Oudtshoorn se geskenk aan Suid-Afrika, en deur hom aan Suid-Afrika te gee, het Oudtshoorn meer aan Suid-Afrika gegee as die meeste ander dorpe van die land. Dis hier waar hy gewerk het, immers hier het hy ook die fondamente van sy stryd gelê. (...) Ons sal sê hy is ’n man wat in wese in opstand gekom het teen die onreg van oorheersing en die onbetwisbare gawes van sy talent gewy het om reg vir sy kinders te verkry, en hy het dit ook gedoen. Hy was ’n man wat saam met sy mense geleef het en hul deugde en ondeugde geken het.
  • Adv CR Swart: Om met Langenhoven om te gaan en in sy geselskap te verkeer, was ’n groot en benydenswaardige voorreg, ’n genot en ’n opvoeding. Gedurig het daar pêrels van wysheid, knap gesegdes en diepe waarhede wat in die eenvoudigste taal uitgedruk is, oor sy lippe gerol. Sy simpatieke menslikheid was ’n hulp en ’n troos vir dié wat dit nodig gehad het. (...) Môre of oormôre sal ons seker eers kan begin besef wat ’n onherstelbare verlies die volk van Suid-Afrika gely het. Later eers sal ons weet dat ’n man heengegaan is wie se naam en werk sal bly voortleef solank die Afrikaanse taal bestaan.
  • Ds JD Kestell: Dit is moeilik om uitdrukking te gee aan wat daar deur my gemoed gegaan het toe ek berig ontvang van die heengaan van Langenhoven. Dit is sekerlik daaraan toe te skrywe dat hy so veelsydig was. Ons het in hom so veel verlore. Hy het op ons van alle kante beslag gelê. Waarin het hy tog nie gepresteer nie! Hy kon met gesag skrywe oor die regte, die politiek; oor sosiale en finansiële vraagstukke; oor die kuns en die lettere. Maar dit is die letterkunde dat hy eintlik geleef het. Daar is min skrywers wat soveel gedoen het vir die opbou van ons literatuur as hy. Daarvoor sal hy deur die nageslag in dankbare herinnering gehou word.
  • Dr DG Conradie: Hy sal gemis word in die Senaat en in die parlementêre kringe waar sy heldere logika, sy politieke deursig en sy pittige humor hom geliefd en gerespekteerd gemaak het; hy sal gemis word op die publieke verhoog in die land, waar hy vir sy party ’n krag en ’n inspirasie was, terwyl hy teenoor ander partye ’n mees gewaardeerde en taktvolle diplomaat was; hy sal gemis word in die kolomme van die pers, waar sy groot Afrikanerhart, sy onwrikbare liefde vir Suid-Afrika en sy volk, en sy tere godsdienssin altyd in sy artikels deurgestraal het; hy sal veral gemis word deur die jeug van sy land, by wie hy ’n aangebede held en liefling was; maar veral sal hy gemis word deur die volk van Suid-Afrika wat deur sy dood verloor het ’n volkseun, wat begaafd was met natuurlike gawes van verstand en oorspronklikheid soos weinig andere vóór hom, waarvan daar, Goddank, belangrike bewyse in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly voortleef. As skrywer, denker, redenaar sal sy leë plek nie maklik gevul word nie.
  • CM van den Heever: Sy werk het hy nagelaat as ’n monument vir ons volk met sy opkomende kultuur. Dat hy die ontwikkelde met verfynde smaak en die weinig ontwikkelde albei op so ’n hoë peil as volksopvoeder kan dien sonder om die opvoeding te verlaag, bly sy onverganklike verdienste. Die vormende krag van sy persoonlikheid, sy skeppende mag vir en onder die volk, laat ons met diepe eerbied dink aan sy heengaan, maar een troos bly daar: Daar was loon vir sy arbeid. Werk wat so diep in volk wortel, sal lewe saam met die volk.

Langenhoven se afsterwe was egter nie die einde van sy pad in die Afrikaanse letterkunde nie. ’n Bietjie meer as ’n maand na sy dood het die Nasionale Pers, Vroutjie en Goldblatt briewe begin ontvang om sy werke in ’n eenvormige band en formaat beskikbaar te stel. Op die eerste uitgawe van twaalf boekdele het 3 000 mense ingeteken en was die uitgewers verplig om die lys te sluit. In sy testament was gestipuleer dat slegs 2 000 eksemplare per oplaag gedruk mag word, dus is twee oplaes gedruk. Die eerste twee drukke is in 1933 tot 1935 gepubliseer en in 1936 en 1937 het twee verdere dele verskyn wat onderskeidelik sy drie Engelse werke en sy nagelate werke bevat het.

Die publikasie van Versamelde werke was die grootste enkele produk waartoe Sarah Goldblatt se toewyding as administratrise van Langenhoven se nalatenskap gelei het. In die laat 1940’s en 1950’s, en weer in die eeufeesjaar, 1973, is dit herdruk en betreklik gou uitverkoop. In 1955 is Aan stille waters II as deel XV herdruk en in 1958 is deel XIV bygevoeg wat bestaan het uit dokumentasie oor “Die Stem van Suid-Afrika”, “Ons eie vlaglied”, Langenhoven se ontwerp vir ’n sonwyser, vroeë stukke in Nederlands, Engels en Afrikaans, die reeks Ou-liedjies en verspreide gedigte wat nie in een van sy vroeëre bundels opgeneem is nie.

Langenhoven se belangrikheid vir Afrikaans en Suid-Afrika

  • Die Volksblad-hoofartikel, 11 Augustus 1973: Die grootheid van enigiemand word getoets aan sy dade en woorde. Soms is dit net die daad wat spreek, want dade kan so groot wees dat hulle selfs bokant woorde uitstyg. CJ Langenhoven (...) was een van daardie besonder begenadigde mense van wie nie net sy dade nie, maar ook sy woorde tot sy volk, die Afrikaners, spreek. (...) Tereg is al gesê dat Langenhoven op sigself ’n hele taalbeweging was. Hier ook weer in die daad sowel as die woord. Dit is nou eenmaal so dat selfs die allergrootste dade, gesien in hul historiese perspektief, dikwels in die geheue van ’n volk vervaag, selfs in die vergetelheid raak, veral as die stryd reeds lank verby is. In Langenhoven en ander taalstryders se geval word gelykberegtiging sowel as erkenning en bestaan van Afrikaans vandag so vanselfsprekend as ons bloue hemel, diepe see, ewige gebergtes en verlate vlaktes aanvaar. En of sy dade nie genoeg was om hom vir altyd aan die vergetelheid te ontruk nie, sou Langenhoven nog sy woorde oor ’n tydperk van slegs twintig jaar in bykans veertig werke nalaat. Dit was strydig met Langenhoven se hele wese dat hy sy mede-Afrikaner deur woorde tot dade sou oproep terwyl hy self nie in die daad handel nie, maar toevallig was dit so dat Langenhoven se dade ook woorde was.

Woorde, ’n stortvloed van woorde, het hy uit sy pen laat vloei, nie om homself te verryk nie, trouens nie eers altyd om aan sy kunstenaarstalent uiting te gee nie, maar woorde gedra deur “humor wat in liefde kasty” en satire “met ’n traan van simpatie” om sy mense in hulle eie taal te laat lees. Mens kan die Afrikaner se volkskarakter van die jare twintig en dertig nie sonder sy invloed peil nie.

  • Die Burger-hoofartikel, 11 Augustus 1973: In sy wese was Langenhoven ’n baanbreker, en baanbrekers is beeldebestormers, in lewe minder gelief as in hul dood. Is sy aard was hy eenling, in volslae verset teen modedenke. Om hierteen op te werp dat hy volkskrywer was, is geen weerlegging van die feit dat hy opstandeling teen die geldende orde en apart in sy benaderinge was nie. Dit beklemtoon alleen maar dat hulle wat namens “die volk” gepraat het, in belangrike opsigte buite voeling met die volk was, en dat Langenhoven teen daardie opset ’n rebellie gelei het wat hom naderhand eers volksheld gemaak het. 
  • PD van der Walt: Langenhoven die woordkunstenaar was en is ongetwyfeld een van die helde wat ons volk voortgebring het. Heldedom word op baie maniere gekonkretiseer; Langenhoven s’n was op die gebied van die gees, in besonder: die woordkuns. Langenhoven se heldedom lê nie net daarin dat hy onverdrote vir die erkenning van Afrikaans gestry het nie, dat hy ’n monumentale hoeveelheid literatuur in daardie taal tot stand gebring het nie, dat sy kreatiewe omgaan met die taal ’n steeds boeiende daad bly nie. Sy heldedom lê veel meer daarin dat hy die essensiële en waaragtige werklikhede van sy tyd kon onderskei van die onwerklikhede, of van die skynwerklikhede, en dat hy die moed van sy oortuiging gevolg het om vir die nog onsigbare en onerkende werklikhede te stry: “As Hollands ons taal is, waarom praat ons dit dan nie; as Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons dit dan nie?”
  • DF Malan: Langenhoven was sonder teenspraak een van Suid-Afrika se oorspronklikste en ryk-begaafdste seuns. Hy was ’n gebore genie op elke gebied waarop hy hom begeef het – as denker, as redenaar, as politikus en as skrywer het hy uitgeblink. Maar Langenhoven sal leef omdat daar by hom nog iets basies groters, nog iets oneindig diepers was as die vermoë om te skitter. Hy het ’n lewensdoel gehad om na te streef. Hy het ’n taak gehad om te vervul. Hy het ’n volk gehad om lief te hê en te dien. Hy het daarvoor geleef om die Afrikanervolk van sy minderwaardigheidsgevoel te verlos. Hy het vir hom selfrespek ingeboesem en geïnspireer. Hy het sy taal uit die ashoop gehaal en in die plek van eer gesit. Hy het hom geleer om nie skaam te wees vir sy eie land nie en om nie kruiperig te wees vir enigeen nie.
  • Dirk Mostert in 1937: Vandag is Langenhoven dood. Sy gebeentes rus in die boesem van sy eie ou Karroo. Maar hoe langer dit duur nadat hy dood is, hoe meer en groter lewe hy. Sy gees is met en onder ons. Aldag praat hy tot ons. Ons hoor nog steeds sy boodskap. Die stem wat ons vandag roep, is nie meer die angskreet van ’n verdrewe vlugteling nie, en dis nie meer die strydkreet van die vegsman nie, maar die stem is vandag die oorwinningskreet van ’n groot, groeiende, lewende Afrikanerdom wat op die hooglande van sy volksbestaan voortmarsjeer van oorwinning tot oorwinning, van krag tot krag. Die stem wat ons tot hierdie nuwe heerlikheid geroep het, is die stem van Langenhoven, en die stem van Langenhoven het vir ons geword: Die stem van Suid-Afrika.
  • Elsa Nolte in Hoofstad: Langenhoven is die kunstenaar wat die taal tot lewe gewek het. Deur sy boeiende verteltrant, geestigheid, humor en spot, sy pittige taalgebruik en veral sy woordspelings, was hy by uitnemendheid ’n kunstenaar wat die soepelheid en die ratsheid van Afrikaans geïllustreer of in aksie getoon het. Daarom dat een van sy aforismes byna ’n profetiese klank kry: “Onsterflikheid kan maar na die dood kom. Onthou dit, o kunstenaar en wees getroos.”
  • André P Brink: Hoewel Langenhoven telkens na stille waters van rus verlang het, was daar in sy werke byna altyd ’n duiwel onderkant die stille waters. Hy eksperimenteer met vertellers en vertelsituasies om iets totaal ongerymds in reliëf te stel teenoor die gewone of die ernstige. Hy wil met ander woorde die leser tot nadenke skok deur die verrassende te omraam met die alledaagse, of – omgekeerd – die gewone met die heeltemal onverwagte. Langenhoven was ver voor sy tyd as ’n benoude, Calvinistiese, Christelike samelewing in ag geneem word. Die manier waarop Langenhoven skryf, is basies postmodernisties. Hy doen dit anders – op die teenoorgestelde manier eerder as die konvensionele manier – en dit wys dat hy by die gewone kon verbykyk en die onverwagte kon sien. Langenhoven het baie oor kwantumteorie van daardie era gelees en dat dit ook bewyse is van sy moderne uitkyk op die lewe. Ek sou graag wou gehad het dat hy saam met Steven Spielberg gewerk het. Dit sou baie interessante dinge opgelewer het.

Na sy dood het die publiek voortgegaan om Langenhoven se boeke te lees en het sy boeke menige herdrukke beleef – selfs tot in die 21ste eeu. In 1935 is al beplan om ’n sonwyser volgens Langenhoven se plan op Stellenbosch op te rig, maar die ideaal is eers in 1973, die Langenhoven-eeufeesjaar, verwesenlik toe dit op die Jan Marais-plein opgerig is. In 1931 het hy in Aan stille waters geskryf: “Ek wens ek had die tyd, en die uitnodiging, om so ’n datumwyser by my ou universiteit op te sit.” ’n Langenhoven-Studentesentrum is ook in die 1970’s op Stellenbosch gebou ter nagedagtenis aan Langenhoven. In 1983 is feitlik al sy dokumente deur die Langenhoven-trust aan die Universiteit Stellenbosch oorhandig.

In 1973 is ’n landwye Langenhoven-fees gehou om sy 100-jarige verjaardag te vier. Die feesvieringe was hoofsaaklik rondom Oudtshoorn gesentreer, waar 6 000 skoolkinders van Kaapland aktief aan die fees deelgeneem het. Beide Kruik en Truk het verskeie van sy werke gedramatiseer en op die planke gebring. Die SAUK het van sy dramas aangebied en voorlesings uit sy werk uitgesaai. Daar is ook ’n nuwe uitgawe van Langenhoven se Versamelde werke deur Tafelberg uitgegee, asook nuwe uitgawes van verskeie van sy vroeëre werke.

Arbeidsgenot, Langenhoven en Vroutjie se woonhuis op Oudtshoorn, is op 24 Julie 1987 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en daar is dadelik begin met fondsinsameling om dit te restoureer. Daar is ook ’n Vriende van Arbeidsgenot gestig om met die poging behulpsaam te wees. Vandag is Arbeidsgenot ’n gewilde besoekplek vir toeriste aan Oudtshoorn.

In 1995 het Eric Nobbs in ’n meesterlike solovertoning die ergernis van die dorpslewe uitgebeeld soos gesien deur die oë van ou Stoffel Gieljam, ’n gesoute Sap. Die solostuk Doppers en Filistyne is deur ou Stoffel geskryf en hy spog dat dit “net hier en daar” deur sy neef Sagmoedige Neelsie, die skrywer CJ Langenhoven, “in die haak gesit is”. Ou Stoffel word deur sy rustelose jong vrou, Soetlief, gedwing om na die dorp te trek en Stoffel moes maar sy “voorvaderlike eenvoud” op die plaas agterlaat.

Ou Stoffel (Nobbs) vertel die gehoor van al die sake wat so swaar op sy hart druk. Nobbs se karakterisering van die kyfagtige vrou, die vertelling van politieke sensitiwiteit en die beterweterigheid van ou Stoffel was uitstekend. Die vertellings van sy interaksie met mense van ander kulturele agtergronde word met groot deernis gedoen. Ou Stoffel openbaar deur sy vertellings ’n soort onopgesmukte, aardse wysheid en 'n verlange na die eenvoud van menswees. Nobbs se toneelspel getuig van lewenskragtigheid en oortuiging. Hy slaag uitstekend daarin om die lagspiere te prikkel in sy unieke
voordrag van die tradisionele Afrikaanse humor.

In 1998 het Cobus Rossouw Langenhoven in ’n stuk getiteld Die laaste strooi op die KKNK gespeel. Ilse van Hemert het hierdie stuk saamgestel vir die gedenkjaar vir Oudtshoorn.

Langenhoven het op die een of ander wyse altyd sentraal gestaan in Cobus Rossouw se loopbaan. Die verbintenis of geestesverwantskap met die skrywer het ontstaan in 1959 “toe mense soos ek en Jannie Gildenhuys begin skoolwerk doen het, toe die voorgeskrewe werke soms so ’n bietjie bleek en oninteressant was. Ons het Langenhoven ingesleep omdat hy iemand was wat toe eintlik nie baie bekend was onder dáárdie geslag nie en om die program te lig en dit meer humoristies te maak. Dit is daar waar my bekendheid met Langenhoven begin het. Op skool het ek maar min met hom te doen gehad.

“In 1964 het ons vir Truk ’n program saamgestel waarin ek ou Neelsie gespeel het: Modes van voor, skuld van agter. Toe, in 1973, met die honderdjarige herdenking van Langenhoven se geboorte, het ons in die Johannesburgse Stadskouburg Sagmoedige
Neelsie
aangebied met ’n teks wat saamgestel is deur Bartho Smit. In dieselfde jaar het ek ook ’n eenmanprogram vir Sukovs onder regie van Robert Mohr gedoen.

“En toe volg in 1983 ’n reeks van twaalf episodes oor Langenhoven op TV in samewerking met oorlede Manie van Rensburg. Johan van Jaarsveld het die teks saam met Van Rensburg geskryf.”

Rossouw het opnuut deeglike navorsing gedoen oor die karakter van Langenhoven, veral na aanleiding van John Kannemeyer se biografie oor die skrywer. Daarin kom dit duidelik na vore dat hy ’n moeilike lewe gehad het: sy depressies, sy kleptomaniese geaardheid, sy drank en dan die enorme passie wat hy vir Afrikaans en in sy politieke loopbaan geopenbaar het.

“My belangstelling van destyds het nooit getaan nie. En nadat ek Kannemeyer se boek gelees het, het dit weer as’t ware ’n inspuiting gekry,” vertel Rossouw. “Daarom sou ek, en ons het almal lank hieroor gepraat, graag ’n biografiese verhoogwerk oor Langenhoven wou sien: die verhoudings met sy vroue en sy werk, die persoon wat hy was teen die agtergrond van ’n baie wonderlike tyd.”

Dit is Langenhoven se betrokkenheid by Afrikaans wat hom uniek maak. Hy was aanvanklik anti-Afrikaans, maar het ’n intense passie vir die taal ontwikkel. Vir, soos die skrywer dit genoem het, “ons pêrel van groot waarde”.

Ook by die KKNK in 1998 is ’n pantomime van Brolloks en Bittergal op die planke gebring. Dit is geskryf en geregisseer deur Lizz Meiring en Hannes Müller.

Op 30 Maart 2003 is Langenhoven en Vroutjie, presies 100 jaar nadat die Langenhoven-egpaar by Arbeidsgenot (of Woodbine, soos dit eers geheet het) ingetrek het, weer huis toe gebring en in Arbeidsgenot se huismuseumtuin herbegrawe. ’n Diens in die NG Kerk Oudtshoorn gelei deur ds Solly Ozrovech het die herbegrafnis vooruitgegaan. Daar is op hierdie herbegrafnis besluit nadat daar skendings van grafte in Oudtshoorn se ou munisipale begraafplaas was.

Publikasies

Publikasie

Iets over arbiters en arbitraties: een haastig opstelletjie op verzoek geschreven

Publikasiedatum

1906

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: Zuid-Westelijke Drukpers en Uitgevers Maatschappij

Literêre vorm

Regspublikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die famielie saak / Die familie saak: ’n ongeskikte maar tog geskikte perses: Afrikaanse blyspel

Publikasiedatum

  • 1909
  • 1911
  • 1917

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J & H Pocock

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die water zaak, of, Engelsch versus Hollandsch: Afrikaansche blyspel

Publikasiedatum

1909

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J & H Pocock

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The Royal road to Cape Dutch. First stage: short but sufficient grammar, intended for the use of English students whose time is valuable

Publikasiedatum

1910

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J & H Pocock

Literêre vorm

Taalboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The Royal road to Cape Dutch. Second stage: a reading primer, being the farce: Die trouwbelofte, with notes, exercises and vocabulary

Publikasiedatum

  • 1910
  • 1920

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J & H Pocock

Literêre vorm

Taalboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eenvoudige stukkies en brokkies: om in die huis te lees en om in debatsverenigings te gebruik v’r resitasies, voorlesingkies, voordraggies, opvoeringkies

Publikasiedatum

1911

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: De ZW Drukpers

Literêre vorm

Bloemlesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wêreld die draai: eenvoudige komedie

Publikasiedatum

1912

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J & H Pocock

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die hoop van Suid-Afrika (geskryf op versoek van die plaaslike vieringskomitee vir opvoering te Oudtshoorn op Dingaansdag 1913)

Publikasiedatum

  • 1913
  • 1917
  • 1926
  • 1936
  • 1937
  • 1960

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Oudtshoorn: J & H Pocock
  • Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons weg deur die wêreld en ander stukkies en brokkies, oue en nieuwe

Publikasiedatum

  • 1914
  • 1918
  • 1919

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Het Westen
  • Pretoria: De Bussy
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrouw van Suid-Afrika = Die vrou van Suid-Afrika: dramatiese fantasie

Publikasiedatum

  • 1918
  • 1921

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: HAUM
  • Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die stem van Suid-Afrika [gedig]

Publikasiedatum

[1918]

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Burger Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die onmoontlike tweeling: ’n klugspelletjie

Publikasiedatum

  • 1919
  • 1920
  • 1923
  • 1931
  • 1941
  • 1965

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: HAUM
  • Kaapstad: De Nasionale Pers Beperkt
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Klug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The everlasting annexation: a false prophecy. By A Loyalist

Publikasiedatum

1919

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee geskiedkundige opstelle. Saam met Gustav S Preller

Publikasiedatum

1919

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sonde met die bure: ’n verhaaltjie uit ons weelde-dae.Deur Sagmoedige Neelsie

Publikasiedatum

  • 1921
  • 1922
  • 1926
  • 1928
  • 1930
  • 1936
  • 1943
  • 1945
  • 1950
  • 1959
  • 1960
  • 1961
  • 1962
  • 1964
  • 1983
  • 1991
  • 2009

ISBN

  • 0624020150 (hb)
  • 9781869193232 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika

Publikasiedatum

  • 1921
  • 1947

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt
  • Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrouetrou: toneelstukkie

Publikasiedatum

1921

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Doppers en Filistyne.Deur Stoffel Gieljam (nagesien, gekorriseer en persklaar gemaak deur Sagmoedige Neelsie)

Publikasiedatum

  • 1922
  • 1924
  • 1926
  • 1938
  • 1952
  • 2010

ISBN

  • (hb)
  • 9781869193768 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die eensame hoop

Publikasiedatum

  • 1922
  • 1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gesange in Afrikaans

Publikasiedatum

1922

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Gesangebundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons weg deur die wêreld. Deel III

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1934
  • 1938
  • 1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Loeloeraai

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1924
  • 1926
  • 1932
  • 1939
  • 1941
  • 1954
  • 1960
  • 1961
  • 1992

ISBN

  • (hb)
  • 0624031349 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Wetenskapfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die opdraende pad

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Rubáiyát van Omar Khayyam. Vertaal deur CJ Langenhoven

Publikasiedatum

1923

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: CJ Langenhoven

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lig van verre dae 1752

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1927
  • 1928
  • 1929
  • 1931
  • 1934
  • 1937
  • 1944
  • 1949
  • 1961
  • 1972

ISBN

0624002942 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons weg deur die wêreld. Deel I

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1929
  • 1933
  • 1935
  • 1936
  • 1937
  • 1938
  • 1939
  • 1952
  • 1955
  • 1957

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Bloemlesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geeste op aarde: merkwaardige verhale uit die versameling van Gideon HH Koertzen

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1925
  • 1927
  • 1928
  • 1930
  • 1936
  • 1943
  • 1954
  • 1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Bonatuurlike verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Herrie op die óú tremspóór. Deur Sagmoedige Neelsie

Publikasiedatum

  • 1925
  • 1932
  • 1937
  • 1938
  • 1940
  • 1943
  • 1951
  • 1953
  • 1957
  • 1963
  • 1972
  • 1973
  • 1976
  • 1990
  • 2009

ISBN

  • 0624003930 (hb)
  • 0624029816 (sb)
  • 9781869193270 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die Krismiskinders

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1938
  • 1946
  • 1957
  • 1969
  • 1978

ISBN

0624011674 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste van die takhare. Verwerking van Die wêreld die draai

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1927
  • 1929
  • 1931
  • 1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Klug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A first guide to Afrikaans

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Taalboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donker spore: ’n verhaal uit Ladismith

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1928
  • 1929
  • 1930
  • 1931
  • 1935
  • 1937
  • 1941
  • 1953
  • 1955
  • 1957
  • 1959
  • 1961
  • 1973

ISBN

0624003507 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kinderparlement: klugvoorstelling van ’n Volksraadsitting vir opvoering deur die jongspan

Publikasiedatum

1927

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Klug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van die aarde na die sterre. Deel 1 en 2

Publikasiedatum

1927

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Sterrekunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skaduwees van Nasaret. (In 1972 heruitgegee ter herdenking van Langenhoven se 100ste verjaardag)

Publikasiedatum

  • 1927
  • 1928
  • 1930
  • 1931
  • 1939
  • 1972

ISBN

0624003248 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brolloks en Bittergal: wonderstories vir die kindertjies

Publikasiedatum

  • 1927
  • 1931
  • 1935
  • 1938
  • 1963
  • 1965
  • 1977
  • 2008

ISBN

9780798149983 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Ou-liedjies

Publikasiedatum

1928

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Liedere

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die boekie sonder naam met Tant Effie se wonderstories vir die kinders

Publikasiedatum

1928

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad:Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Water en sy aard: eerste geselsie met skoolleerlinge

Publikasiedatum

  • 1928
  • 1943

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Wetenskap

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goeie burger: eerste lessies in die vak Burgerplig

Publikasiedatum

  • 1928
  • 1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Sosiale wetenskappe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die witman se pand: die naturelle-vraagstuk en die kieser se verantwoordelikheid. Mede-outeur: JH Conradie

Publikasiedatum

1929

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Rassevraagstukke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die badwater van Bethesda: ’n verhaal van Mof en sy mense

Publikasiedatum

  • [19-?]
  • 1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

ABC hondjie gaan mee: tel hulle op, speel daarmee pop. Deur Elspet

Publikasiedatum

1930

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wandelende geraamte en ander verskynings

Publikasiedatum

  • 1930
  • 1932
  • 1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Aan stille waters: ’n boek vir ledige half-uurtjies

Publikasiedatum

  • 1930
  • 1931
  • 1932
  • 1934
  • 1941
  • 1951
  • 1955

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

U dienswillige dienaar: twee stukkies rekenskap

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1932
  • 1935
  • 1973

ISBN

0624004104 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Skrywerskap en taalstryd

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Petronella: ’n tragedie van verarming

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1933

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Goud of papier? Eenvoudige kort begrip vir die gewone kieser

Publikasiedatum

1932

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Ekonomie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoe om te skrywe: hulpboekie by die studie van stelkuns. Mede-outeur EC Pienaar

Publikasiedatum

  • 1932
  • 1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Skryfkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die mantel van Elia

Publikasiedatum

1933 (Faksimilee-uitgawe)

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My aandeel aan die taalstryd. (Uitgegee vir die Senior sertifikaat-eksamen 1937)

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Taalstryd

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The life history of an ostrich

Publikasiedatum

1953

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: Allan Pocock

Literêre vorm

Dierkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Essays uit Versamelde werke

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1959
  • 1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste van die takhare en ander verhoogstukke (bevat ook Die onmoontlike tweeling)

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee novelles (Mof en sy mense en Donker spore)

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624002012 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al skrywend. Saamgestel deur Sarah Goldblatt

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973

ISBN

0624001970 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jantjie Muis en Jakob Slang en ander verhaaltjies (Inhoud: Kootjie Totjie en die twee oorlosies; My sewe maters; Dirkie Mens en Snytjie Brood. Dit het oorspronklik in drie afsonderlike boeke verskyn.)

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1982

ISBN

0624009416 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrolike vlam: ’n versameling van stukke vir lekker lees uit die werke van CJ Langenhoven. Saamgestel deur JP Scannell en GCL Brümmer

Publikasiedatum

1979

ISBN

062401245X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die beste spookstories: ’n keuse. Saamgestel deur Danie Botha

Publikasiedatum

  • 1992
  • 2008

ISBN

  • 062403139X (hb)
  • 9780624039624 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Spreuke van Langenhoven: ’n keuse. Saamgestel deur Jan Scannell

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2008

ISBN

  • 0624026817 (sb)
  • 97890624039617 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Spreuke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

... die erwe van ons vaad’re

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1975

ISBN

0624001865 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van mens tot mens: ’n keur van gesegdes uit die Versamelde Werke. Saamgestel deur JP Scannell

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013391 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Spreuke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pittige sêgoed en raak antwoorde van Sagmoedige Neelsie

Publikasiedatum

2000

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: Herrie Advertensie en Nuusblad

Literêre vorm

Spreuke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sagmoedige Neelsie praat padlangs: keur uit artikels wat sedert 2005 in die Oudtshoorn Courant verskyn het

Publikasiedatum

2006

ISBN

(sb)

Uitgewer

Oudtshoorn: J Olivier

Literêre vorm

Artikels

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kootjie Totjie

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869193133 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor CJ Langenhoven beskikbaar op die internet:

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address