Vrouedag en veranderende tye

  • 0

Nataniël predik oor die draadloos daaroor, verskeie wêreldwye verenigings en taakgroepe beoog en betoog daarvoor en hier, in die lowergroen lanings van ons beskutte voorstede, hier sal ons braai, ongeag daarvan.

Internasionale Vrouedag (8 Maart), is blykbaar ’n dag waarop die ganse aardbol se ingeligtes die viering van die ekonomiese, politieke en maatskaplike prestasies van vroue van gister se verlede, vandag se hede en selfs moontlik die toekoms, wil gedenk. Selfs in ongeëmansipeerde plekke soos China, Rusland, Viëtnam en Bulgarye, is Vrouedag 'n nasionale vakansiedag. Ek wonder tog of hul vroue dit ooit weet?

Hoekom dan juis Vrouedag; die woord is " stemreg ". Wat beteken om die reg te hê om te mag stem. Internasionale Vrouedag vereer die werk van die vegters vir gelyke stemreg, die vier van vroue se sukses en die herinnering van een-en-ander aan die ongelykhede, wat nog reggestel moet word.

Op hierdie dag, 6 Augustus, het die kalme heer Bob Dylan ’n lied opgeneem wat sy stempel op die musiekbedryf sou verewig. "The Times They Are A-Changin'"

“Come gather 'round people
Wherever you roam
And admit that the waters
Around you have grown
And accept it that soon
You'll be drenched to the bone
If your time to you
Is worth savin'
Then you better start swimmin'
Or you'll sink like a stone
For the times they are a-changin'.”

Dit was 1963. Dit was lank voor ons aan vroueregte gedink het. (Noudat ek daaraan dink, dit was ’n seisoen of elf voor Moeder aan my geboorte gedink het!) Dit was beslis baie lank voor Trustbank ’n vrou as bestuurder aangestel het. Of ondenkbaar lank, voor ’n vrou as minister in ons regering gedien het. En wie sou ‘n vrou in die kerkraad of op ’n preekstoel die skape van die pale ter slagting kon sien wegkeer? Sommige eenogiges sien dit nou nog nie; in alle geval nie sonder om die handboek van tug en sensuur nader te pluk nie!

In 1963 het ’n kriewelstemsanger soos Dylan sy aanhoorders die geleentheid gegee om, terwyl hulle op die slaafse ritme swymel en wig, te leer dink of te verdrink. Ek wonder of die tye van verandering waaroor baie vrouens en mans gepredik en gedroom het, tog werklik plaasgevind het. Of die sogenaamde bevryde gemeenskap se “winkelpop-uitstaltegnieke” deur ‘n wil tot verering en menswaardige gelykheid begrond word en of dit nie maar net ’n middel tot die heilige doel van wins, mag en belang is nie?

So dan-en-wan trek ek die klawers nader om die een of ander saak of gebeurtenis te bedink en te bespreek en soms te besing. Maar, in ’n wulpse terugblik oor ’n aantal jare se skrywers se doen en late, is dit egter ’n treffende werklikheid dat die wese en gebeure in en om my lewe verryk word deur ‘n vrou en soms vroue, wat reg in die middel van elke ervaring staan, sit of selfs lê.
My dierbare beter helfte is ’n verhemelde wese, ver bo die blote aantyging dat sy die seuns versorg en die huis aan die gang hou.

My alombekommerde Moeder is die verteenwoordiging van liefde en versorging en omgee ver bo hierdie seun se verdienste.

My Skoonmoeder, die ander een se Moeder, wie se geduld, gesindheid en ontvanklike hart tot by Oom Daantjie in die kallerhok en weer terug vernuwe is.

Die baie beperkte aantal vorige liefdesmensies in my lewe, wat elkeen in haar eie besondere wyse ’n gravering op my boompie van die lewe gemaak het. Die voorreg wat ek het om in deernis aan hulle te dink en dan in stilte, dit nét met myself te deel!

Die meisies van alle geure en posture met die skrapse bo-en-onder-klede, hul opelug sakepersele en MANNE-wales op ons dorpies se voorstedelike verkeersroetes.

Ja, dit is gewis waar: die vrouens wat ons mans in ons lewens raaksien, trap nie net spore op die sandstrand van ons bestaan nie, maar beslis in ons belewing daarvan.

Destyds, in die dae voor Lucas Maree ernstig siek geraak het, het ek en paar warm vriende (lees: naby, knus en gelukkig) ’n optrede van hom met ‘n kuier aan ons tafel afgesluit. Lucas het net vir ons, of so wou ek dit graag glo, gesing. Alhoewel sy “Doen met ’n miljoen” en “Victoriabaai” in daardie dae die trefferslys van elke amper-Afrikaanse radiostasie gehaal het, was dit die sagte melodie en woorde van “Droomvrou”, wat in die jare wat sou volg, sy ware romantiese sy kon beklemtoon.

In hierdie lied is daar, myns insiens, die waardigheid waarmee ’n man na ’n vrou moet kyk vasgevang. Ook, die menslikheid waarmee ons na mekaar moet kyk ...

“...en ek moet erken ek was tot in my siel verstom
die soektog na my droomvrou was verby
want sy was toe al die tyd maar jy.”

Hoe domverstom sit ek nou. Heelwat van ons manne is onder die indruk dat Vrouedag, of dan Vrouemaand in hierdie woelige Augustus, net ’n verheerlikde samevoeging van Moedersdag-Valentynsdag-Werkersdag-en Jeugdag is; dat die redelike ordentlike optrede teenoor die vrouens in ons lewens genoeg is, of, dat die regte van vroue en ander mense wat nie soos ons staan, loop, eet of praat nie, net in sukkelende lande daar ver anderkant die waters of in die donker woude van die res van Afrika, vertrap en versuur word.

Moontlik is ons ook uitgelewer aan die mistastende erflating dat ’n man ’n man moet wees en ’n vrou op haar plek moet wees – behalwe wanneer ons andersins daartoe instem. Moontlik dink ons nie aan hierdie nare rariteite nie, omdat ons skrikkerig is om ons eie sitplek in die hoenderhok te verloor.

Of moontlik, net sodat ons Saterdag kan braai!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top