Gespikkelde fenomeen

  • 2

Die eerste poelpetater het laag aangevlieg gekom. Ek en Pa het onder die wilde vyeboom op ons Soekmekaarse werf gestaan. Die vreemde voël se insweef was senuagtig en wankelrig, amper soos dié van ’n Boeing wat wiele vorentoe skop en na vlerkbalans soek.

“Pa, kyk daai snaakse hoender met die blou rubber.”

Pa het saggies gelag en sy wysvinger op my lippe gehou. “Sjuut. Ja – dit is ’n bosveldhoender. Dis ’n tarentaal.” Toe fluister hy opgewonde: “Nogal ’n pers-grys pêrel-tarentaal.” Pa het my saggies op die dieseldrom langs hom opgetel sodat ek beter kon sien. “Mooi kyk,” het hy gewaarsku: “As hy nou-nou padvat moet jy kyk hoe hy opvlieg. Eers maak hy voete-spoed, stadig nes ’n vliegtuig – dan vinniger, lendelam en laag.”

Met die dae wat sou kom, het die res van die tarentaal-familie ook vermeerder. Elke middag drie uur tydens mielietyd het pa my eers op die drom getel. Dan het hy my geleer omtrent voëls. Gesorg dat my 5-jarige lippe eers die woorde duidelik vorm voor hy nuwes gee. Hy het selfs toegelaat dat my onbeholpe vingertjies diep binne in die emmer met koue en harde voëlsade rondwoel. Maar my kosstrooi-arm was te kort. Pa kon egter die gebreekte sade soos reënboogstrepe oor die dordroë pad saai. Daar waar die gesnawelde hongeriges trippelend wag.

Tussen die daaglikse tortelduifies, mossies, mak hoenders en spreeus, was die tarentale met hul gespikkelde vere die aantreklikste en mees interessante. Met verwondering het ek hulle dopgehou en begeer om die wit kolletjies te kon vryf of aan hul gehelmde blou en rooi rubber te trek.

’n Paar jaar later het ek Pa begin inlig: “Pa, hulle is baie lief vir insekte, en bosluise is hulle poeding. As ons Boela wil luisvry hou, moet ons sorg dat hy rustig by hulle gaan lê.”

Dan was Pa weer een voor: “Daar is ’n interessante legende oor die naam van ons bekende Madagaskar-tarentaal. Hy word ook Numida meleagris genoem. Meleager was ’n figuur in die Griekse mitologie en die seun van Odieus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het in ’n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voël was die tarentaal.”

Maar natuurlik was die tarentaal geskape vir ’n veel hoër doel. Ek onthou nog Pa se woorde soos gister. Want saam het ons verknog geraak aan die grond en verlief op die gewemel en vrugbaarheid van die Soekmekaarse plaaswerf. Die gespikkelde fenomeen het ook hul kosbare vrug bygedra met gestreepte kuikens wat al pikkende en skroppende in die ma se voetspore rond hop. Hulle wou egter nooit maats maak met die mak hoenders nie, nog minder toelaat dat ek hulle ronddra of perfekte kolletjies afkrap.

Soms, as hulle wegtol voor my grypende hand, sou hul tog iets agterlaat. ’n Dwarrelende veer waarvan die spikkels soveel kleiner vertoon en die stof van die aandwind die blink daarvan alreeds beroof het. Uitoorlê en frustreerd sou ek myself dan opruk en tranerig die huis instorm.    

Die tarentaal wou vry wees. En so sou hy bly. In ’n klas van sy eie, nes Pa gesê het.

Trienie

  • 2

Kommentaar

  • Trienie,

    Die meng van beskrywings met ander inligting maak hierdie stuk interessant. Die "ek onthou" van uit
    kinderjare sorg dat dit eenvoudig genoeg is om lekker te lees.

    Waar ek woon aan die voet van 'n berg in die Wes-Kaap tussen onbeboude erwe,  loop 'n trop tarentale
    en ek luister van tyd tot tyd na hulle.  Wat ek mis in jou skrywe is beskrywing van die verskeie klanke wat hierdie spikkelvere uiter. Die klanke saans wanneer hulle regmaak om te slaap. Die klanke wat die ma's maak wanneer dit kuiken-grootmaak-tyd is, veral wanneer ' n kuiken iewers in 'n draadheining vassit en die ma dit nie daar kan uitkry nie.

    Dink gerus daaraan om tarentale dop te hou as jy geleentheid kry sodat jy jou assosiasies oor hulle klanke kan registreer in jou kop om dit neer te skryf in nog een strooi wat jy  in hierdie stuk in weef. Jou volwasse waarneming van die geluide wat die tarentaal voortbring.  Probeer om so 'n toevoegsel met dieselfde
    eenvoud as jou bostaande te skryf, want dit lees lekker.

    Vriendelike groete

    Henk Seymore

  • Henk Seymore

    Dankie, ek voel bevoorreg om van 'n taalpraktisyn soos jy sulke goeie raad te ontvang. Jy het iets ingebou wat ek altyd sal onthou. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top