"Brief aan jou verlore liefde"-kompetisie: Ben Viljoen

  • 0

Geliefde minnares van my oggend, aand en ewigheid,

Ons tyd het uitgeloop, ek weet. Ons liefde het gewag soos ’n brandoffer op ’n altaar, maar onderwyl ons gestaan en talm het met die fakkel in ons hand, het nagdiewe die hout van die brandstapel weggedra en ons met net die koue klipblad gelaat. 

En tog leef jy steeds hier in my hart; lewend, kloppend, werklik soos ’n gloeiende waan van die nou en hier. Net, nou is daar hierdie afstand tussen ons, ’n lugleegte tussen my palms waar jou heupe so perfek gepas het, ’n vakuum waarmee my hande moet vrede maak in hul verbete teruggryp na herinnering. Hoe verwerk ek die onverpoosde terugflits van jou glimlag?

En hierdie voete, my arme twee voete, strompelend in die lomp ritme en vals sweef van ’n weggedroogde wals. Mank in hul najaag van die melodie wat steeds huiwer in die spoor van verdwene liefde.

Opeens leë oë, ontneem van jou beeld, starend in redelose hoop op jou herverskyning, nog één maal, al was dit ook dan net in vae omlyning, daar ver in die mistige newels van alles wat ek en jy vir mekaar kon wees.

Die hemel weet, ek mis jou.

Natuurlik weet ek waarom jy van my moes weggaan. In die onvoldaanheid van verspeelde tyd verloor selfs die diepste hartstog sy aptyt vir die skamele krummels wat van die tafel val. Maar alhoewel ek ten volle verstaan, is daardie kennis geen troos nie, dit is bloot maar begrip vir die verskoning.

Hiérdie is nou my lewe, my nuwe bestaan; nagte van ontvonkelde drome, en eindelose dae deurspek met leë kwinkslae van ontkenning en droefnis. ’n Meter, ’n myl, ’n wye wêreld; waar word die grense van die verlang getrek? Waar begin en eindig die hunker? ’n Sekonde, ’n dag, ’n sug of traan; hoe lank voor die wond ophou drup? En kan ek steeds glo dat dieselfde gang wat sere oopkrap, ook die wonde sal genees?

Delf diep, smagtende gees en smekende bekken, delf diep; die nag het maar pas begin!

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top