Breking in die Karoo

  • 1

’n Ganse wêreld kan binnekort net in fiksie en skilderye teruggevind word as die planne vir breking in die Karoo op dreef kom. En dit is potensieel deel van ’n veel groter netwerk van mensgemaakte natuurvergrype wat argeloos as ons gedeelde erfenis uitgekerf word.

Die debat oor planne vir breking in die Karoo woed reeds geruime tyd. Belangegroepe is erg ontstoke oor Shell en ’n handvol ander maatskappye se aansoeke om soekregte vir ’n enorme deel van die binneland om na skaliegas te soek. Die regering se moratorium op dié aansoeke het tydelik vrese besweer, maar is, soos verwag, sedertdien opgehef. Daarvoor lyk die onontginde fossielbrandstofrykdom net eenvoudig té belowend.

Jonathan Deal

Emosies hieroor loop steeds hoog, soos blyk uit die bespreking hieroor op die pas afgelope Franschhoekse Letterkundefees. Hier het Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure Karoo Action Group (TKAG), en Ivo Vegter, omstrede skrywer van Extreme Environment, mekaar onder meer kaalvuis hieroor gepak.

Dié debat het nie veel nuuts opgelewer nie. Wat dit wél illustreer, is hoe wydlopend sienings oor ’n potensiële skaliegasstormloop steeds is. Wêreldwyd woed die debat rondom die impakte van breking (ondergronds, bogronds; op waterbronne, landbou, toerisme en sensitiewe ekosisteme) en die behoefte aan energiesekerheid, asook klimaatsverandering (en die rol wat skaliegasontwikkelings hierin kan speel). Gesprekke hieroor word ingekleur deur belange met gróót geld en/of politieke steun, nasionale energiebehoeftes, stygende kragpryse, ekologiese vrese en korporatiewe gierigheid.

Is daar ’n middeweg?

Vir diegene wat nie die voortslepende skaliegasdebakel plaaslik gevolg het nie: die oliereus Shell wil kleim afsteek oor skaliegasbronne in ’n enorme gebied wat strek oor groot gedeeltes van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap. Shell staan egter nié alleen by die wegspringblok vir die beoogde skaliegasresies nie. Daar is ander maatskappy wat ook reeds aansoeke vir groot dele van die binneland ingedien het (soos Falcon Oil en Bundu Gas), maar wat hul buite die openbare kollig in die debat hieroor bevind.

Skaliegas, ’n aardgas wat in diep skalierotslae voorkom, word as ’n “onkonvensionele” gasbron beskou. Om dit te ontgin, word ’n tegniek wat bekend as (hidrouliese) breking gebruik. Die gasdraende rotslae is diep in 270 miljoen oue geologiese formasies opgesluit. Dit word onder hoë druk en met spesiale tegnieke “gebreek”. Veral die Amerikaners loop voor met dié tegniek, wat versigtig toegepas moet word om te verhoed dat ondergrondse waterbronne besoedel word. Verskeie deelstate, soos New York, skop egter tans viervoet vas teen verdere skaliegasontwikkelings, na aanleiding van die negatiewe impakte hiervan in onder meer Pennsilvanië.

Die soekregte-aansoeke hier is niks nuuts nie. Wêreldwyd steek energiemaatskappye hul kleim af in gebiede wat beloftes van groot skaliegasneerslae inhou, onder meer in Afrika. Hulle stel nie net in die skaliegas belang nie, maar ook in olie wat in skalierots vasgevang is. In Amerika het skaliegasbronne energievooruitsigte reeds wesenlik verander. Of ons dit wil weet of nie, die era van skaliegas is met ons. Dit is besig om die internasionale energielandskap te verander.

Aardgas word as die “skoonste” van die fossielbrandstowwe bemark en deur voorstanders daarvan as ’n oplossing vir die energiekrisis voorgehou. Groot volumes water – die Karoo en res van die droër binneland se kosbaarste hulpbron – word egter benodig om breking toe te pas. Drukgroepe soos TKAG hou vol dat daar ’n wesenlike gevaar van ondergrondse waterbesoedeling is wat veral die landbousektor in dié streek kan knel.

Die Karoo-kom se gasbronne is welbekend, maar in die afgelope 40 jaar of wat het weinig soeke daarna plaasgevind. Tot betreklik onlangs is dié koolwaterstowwe nie as ekonomies vatbaar beskou om te ontgin nie. Aanvraag, opportunisme en gierigheid voed nou ’n ander siening in eksplorasiekringe. Kortom, die koors loop só hoog dat dit die aandag kan aflei van hoe dringend Suid-Afrika na hernubare energiebronne moet oorslaan.

Suid-Afrika het nié onkonvensionele gasbronne nodig om in sy energievraag te voorsien nie. Daar is genoeg lewensvatbare en volhoubare energie-opsies beskikbaar terwyl ons wegbeweeg van ons afhanklikheid van steenkoolbronne. Die risiko’s verbonde aan breking oorskadu op dié stadium die potensiële voordele daarvan, reken omgewingsgroepe. Die totale produksiestroom van skaliegas (onder meer wanneer dit vervoer en verwerk word) moet onder meer in ag geneem word, sê hulle. Beleggings in skaliegas-ontginning nóú kan as erge hindernis dien om hernubare energiebronne te vestig. Wanneer die skaliegasbronne na ’n paar dekades leeggetap en die Karoo se mense en landskap vol letsels agtergelaat word, sal só ’n stormloop betreur word.

Dit kan jare duur voordat ons die impak van die beoogde breking in die Karoo behoorlik kan verstaan. Aan markkragte alleen kan dié stormloop nie oorgelaat word nie. Want al sou planne vir skaliegas-ontginning ekonomies lewensvatbaar voorkom, beteken dit nie dat dit op lang termyn maatskaplik en ekologies lewensvatbaar gaan wees nie. Onkonvensionele gasbronne is koolstof-intensief en gaan met groot kweekhuisgasvrystellings en ’n legio ander risiko’s gepaard. Mens moet ook baie naïef wees om al die beloftes van grootskaalse werkskepping te glo waar eksplorasiewerk en later mynbou plaasvind. En selde word plaaslike werkloses hierdeur bevoordeel of vind behoorlike omgewingsrehabilitasie plaas. Hiervoor hoef mens net deur die Richtersveld te ry, waar diamantmynbou onherroeplike letsels gelaat het.

Die debat oor breking is natuurlik deel van ’n groter klimaatsdebat. Verskeie klimaatsaanwysers is rééds buite die patrone van normale veranderlikheid waarby ons samelewing en ekonomie aangepas is. Verskeie klimaat- en energie-scenario’s toon dat ons eenvoudig nie kan bekostig om al die fossielreserwes wat tans ondergronds is, te ontgin nie. 

Dié debat het gewis ook raakpunte in die gesprek oor hoe ons natuurkapitaal benut. Die impak van mynbou in Mpumalanga op sleutel-waterbronne en die enorme suurmynwaterprobleem wat deel van ons mynbou-erfenis is, is enkele voorbeelde van die netwerk van ontvouende mensgemaakte rampe waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word.

Ekologiese infrastruktuur en biodiversiteit hét ’n markwaarde, as dit dan as sodanig regverdig moet word. Dit dra jaarliks sowat R73 miljard tot die staatskas by en skep meer as ’n miljoen werksgeleenthede, het minister Edna Molewa dié week by die bekendstelling van riglyne oor biodiversiteit en mynbou gesê. Mynbou dra ongeveer 8,8% tot die staat se geldkoffers by.

Ons sal slim te werk moet gaan met die natuurlike hulpbronne waaroor Suid-Afrika beskik terwyl ons ’n nuwe ekonomie vestig wat minder koolstof- en hulpbron-intensief is as tans. Ons sal dit moet doen om ekonomies mededingend te bly. Beperkte geleentheid is beskikbaar om grondige groen-ekonomie-ingrypings daar te stel, in ag genome die verband tussen die klimaat, energie-sekerheid en nywerheidsontwikkeling.

Die feit dat daar aardgas in die Karoo is, beteken ook nie dat dit uitgehaal móét word nie. Grootskaalse skaliegasbeleggings kan nie net die landskap van skrywers en dromers skend nie, maar kan ook ’n gevaarlike weerligafleier wees vir langtermynpogings om ’n lae-koolstof-ekonomie te vestig. Teen die tyd dat Suid-Afrika in elk geval skaliegas op groot skaal ontgin, het die markwaarde daarvan moontlik reeds drasties afgeneem, wat ook beleggingsrisiko’s kan inhou.

Daar is tot vyf keer soveel fossielbrandstowwe (steenkool, olie en gas) beskikbaar as wat navorsers sê ekologies veilig sal wees om te verbruik, word berig. Ons (internasionale) “koolstofbegroting” vereis dat meer as 80% van bekende fossielbrandstofbronne sal moet bly net waar dit is – diep ondergronds. Hoe Suid-Afrika sy potensiële skaliegasbronne bestuur, kan daarom as lakmoestoets dien vir sy verbintenis om klimaatsverandering te takel.

As ek deur die Karoo reis, wil ek dit nie graag as ’n ekoramptoeris doen nie. Daarom kan ek net hoop dat owerhede ná behoorlike studies en oorleg met die publiek die kumulatiewe effek van eksplorasie en ontginning sal bereken.

Emosies alleen gaan nie die boorwerk stop nie. Ons het grondige, onafhanklike wetenskaplike data en nugter beleidmakers hiervoor nodig. ’n Skaliegas-gelukslag is immers nie gewaarborg nie. In elk geval nie vir almal nie.

Read an interview about fracking.

Kyk na foto's oor 'n betoging teen hidrobreking.

Support the Treasure the Karoo Action group.

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jorisna

     
    Ek is ook erg gekant teen hidrobreking en ek is bekommerd dat ons energie-gulsigheid sal maak dat dit tog kom. Jy sê dat daar genoeg lewensvatbare en volhoubare opsies is.  Ek is egter nie so seker oor die "volhoubare opsies" nie.  Wind en son is baie wisselvallig (die wind waai nie altyd nie en die son skyn nie in die nag of as dit reën nie). Suid-Afrika het nie noemenswaardige hidrokrag (die enigste bron wat nie wisselvallig is nie. 
     
    Termiese en kernkragstasies kan 'n konstante basislas voorsien en bied saam met hernubare krag 'n oplossing. In Europa kan krag oorgrens uitgeruil word. In lande soos Australië en die VSA word hernubare krag gekombineer met aardgas.
     
    As ons nie kernrkrag of steenkool wil gebruik nie word die goedkoper aardgas (hidrobreking) al hoe aantrekliker vir die ekonome wat die land wil laat groei en wins wil maak.
     
    Koos Holtzhausen
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top