Bomskok – onderhoud met Tinus Horn

  • 0
Taal: Afrikaans
Druknaam: Penguin
Regte: Suidelike Afrika
Omvang: 173 bl
Publikasiedatum: Maart 2014
ISBN: 978-0-14-353848-6

 

Joernaliste gaan elke dag dood. Want hulle woorde veroorsaak 'n rimpeleffek. Tinus Horn was self een, hy wéét. Hy vertel Naomi Meyer van sy boek Bomskok.

Hallo Tinus, dankie dat jy tyd maak vir gesels. Wie is Tinus Horn?

Dis ’n moeilike vraag, maar ek sal my bes probeer. Ek skilder en skryf en maak kort animasieflieks met karaktertjies wat ek uit hout kerf . Ek lag maklik en huil seker nie genoeg nie. Ek hou nie baie van partytjies nie en my hond se geselskap is gewoonlik vir my genoeg.

Is Bomskok 'n storie oor die laat tagtigerjare of 'n storie oor 'n joernalis, of nie een van bogenoemde nie? 

Ek sou dit anders stel: dis ’n storie wat in die laat tagtigerjare afspeel en die meeste van die hoofkarakters is joernaliste. Vir my gaan dit meer oor die menslike intriges; pyn en lyding, pret en plesier, liefde en verlies. Maar die karakters bevind hulle in die middel van ’n bloedige politieke omwenteling wat alles versnel en verskerp.

Bomskok. 'n Boek oor nagevolge. Indien wel, van wat alles?

Nee, flippit, dis ’n lang lys daai. Kom ons sê maar die nagevolge van die besluit om die baarmoeder vir die wye wêreld te verlaat. Ek het dit in die mond van een van die karakters in Bomskok gelê, so ek mag dit seker weer leen.

"Dis moeilik om te sê wie die land regeer, maar FW de Klerk is dit nie." Kan jy nie die politikus hier ter sprake se naam vervang binne vandag se konteks ook nie? Waarom dit in die verlede laat afspeel? Was dit vir jou 'n meer intrigerende tydperk om oor te skryf?

’n Oorgang is altyd interessanter as ’n gevestigde regime, hoe korrup en verrot laasgenoemde ook al mag wees. Daar was doerie tyd ’n desperaatheid wat mense tot vreemde optrede gedryf het. Daar is niks aan vandag se politieke speletjies waaroor ek selfs ’n kwatryn wil skryf nie, wat nog te sê ’n roman van 60 000 woorde.

"Ons wou die boere sien bloei," is 'n sin wat een van die hoofkarakters bybly; hy is amper obsessief met hierdie trefsin. Kan joernaliste ook, net soos grensoorlogsoldate wat agterna wonder of als sinneloos was, die opofferings vir volk en vaderland, terugkyk op 'n sin wat grondverskuiwend gevoel het en wonder of alles verniet was, al die baie woorde?

Dit hang maar af aan watter kant van die magspel jy jou bevind. Ek was nie ’n struggle-joernalis nie; ek het by Vrye Weekblad stront kwytgeraak oor boks en rugby. Maar ek strip moer saam met mense soos my destydse kollega Charles Leonard as mense vra of die struggle-joernalistiek tevergeefs was. Donnerbliksem nee! Dit het die val van apartheid versnel. Meer kan ’n mens nie maklik in jou bedryf, wat dit ook al mag wees, bereik nie.

En in die proses verloor die joernaliste ook hul lewens, nes grensoorlogsoldate. Maar hul behou nog hul ledemate. Hul raak dalk wel verslaaf aan seks en dwelms, en dronk van drank en woorde. Lewer jy sosiale kommentaar met die boek? Of vertel jy sommer net 'n storie? 

Eers wil ek noem: joernaliste word ook soms doodgeskiet, soos Ken Oosterbroek, en verloor ledemate, soos João Silva. Wat die vraag betref: ek probeer nie regstreeks kommentaar lewer op dit of dat nie. Ek wil die lesers prikkel en vermaak en aanmoedig om om te blaai. As hulle boonop oor iets nadink, is ek bly.

Spoiler alert ... Boet Dala namens ons almal – is sy die boek se sondebok? 

Nee, nee. Soms is die lewendes se lot erger as dié van mense wat regstreeks in die spervuur beland. Soos Mark Twain geskryf het: “Why is it that we rejoice at a birth and grieve at a funeral? It is because we are not the person involved.”

"Deur die loop van die aand huil twee mans. Christelle somebody swem kaal en Jas is bly. Iemand val tussen die dahlias." Is Bomskok een storie, of 'n hele boek vol kleinverhale, of dalk 'n mikrokosmos wat blootgelê word, die heelal in 'n sandkorrel?

Ek wens rêrig dit kon so groots wees soos die mikrokosmos/sandkorrel-ding wat jy daar beskryf. Vir my is dit ’n klompie stories wat ek so behendig moontlik aanmekaargevleg het om ’n hegte geheel te probeer vorm. Klein storietjies, ja.

Jy skryf soos mense werklik praat. Gaan daar wel mense wees wat oor die vloekwoorde kla?

Ek gee nie om nie. Of anders gestel, ek voel ’n vet fok.

Wat lees jy op die oomblik en wat skryf jy op die oomblik?

Ek lees The Tokyo-Montana Express van Richard Brautigan, vir die soveelste keer. Kortverhale, waarvan sommige uit ’n enkele paragraaf bestaan. Ek skryf aan ’n nuwe roman met die naam Boas Mei is Verward, ook vir Penguin. Iets heeltemal anders as Bomskok. Hy begin so: “Boas Mei is verward – en dis amptelik.’n Verpleegstertjie het so pas ’n etiket om sy linkerpols kom sit, en daarop staan dit duidelik in ’n ronde, kinderlike handskrif geskrywe: ‘confused’.” As alles mooi uitwerk, verskyn hy in Februarie 2015.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top