Nasionale Boekenweek 2013 is, soos van ouds, dié literêre hoogtepunt van die jaar. Tog word die ekonomiese krisis ook hierin sigbaar. Die “week” is verkort en strek nou van Saterdag 16 Maart tot Sondag 24 Maart. Tradisioneel was die Boekenweek altyd vanaf die Woensdag. Daar is nog veranderings vanjaar, maar ander tradisies, soos die Boekenbal, bly voorbestaan. Die Boekenweek (die 78ste) word weer daarmee geopen op Vrydagaand 15 Maart. Die tema is Gouden tijden, zwarte bladzijden. Dit verwys na Nederland se beroemde, maar ook berugte, tye in hulle geskiedenis. Kees van Kooten skryf die boekeweekgeskenk en Nelleke Noordevliet skryf die boekeweek-essay. Sedert verlede jaar word die Boekenweekook amptelik afgesluit met ’n nasionale fees. Vanjaar is dit in Tilburg.
Die tema Gouden tijden, zwarte zijden is veronderstel om die aandag te vestig op nuwe literêre werk wat daaroor handel. Dis vanjaar egter ook gekies sodat uitgewers gebruik kan maak van hulle “ou fonds”, met ander woorde om eerder romans te herdruk wat hieroor gaan. Dis goedkoper om te herdruk. Dit lyk asof die oes van nuwe werk vanjaar dus skraal gaan wees.
Kees van Kooten is ’n veelsydige skrywer en komediant, maar is veral ’n groot televisie-persoonlikheid. Arjen Fortuin skryf in die NRC-Handelsblad dat Van Kooten as skrywer van die boekeweekgeskenk in lyn is met Tom Lanoye van die vorige jaar, vanweë albei se bekendheid. Hy beskryf Van Kooten as ’n liggewig skrywer met ’n swaar tema, die vaderlandse geskiedenis. Hierdie geskiedenis getuig van heldedade en verraad, van glorieuse gebeurtenisse en van rampspoed. Die Boekenweek draai om de nuanses en die dilemmas van die geskiedenis in boeke soos Max Havelaar van Multatuli, Hoe duur was de suiker? van Cynthia McLeod, Koninkrijk vol sloppen van Auke van der Woud, Grijs verleden van Chris van der Heijden, 1953 van Rik Launspach en Koerier voor Sarajevo van Tomas Ross.
Kees van Kooten. Foto: Keke Keukelaar
Die 71-jarige Van Kooten is in Den Haag gebore en het in 1968 debuteer met Treitertrends. Hy verwerf bekendheid as Wim de Bie van die televisieduo Van Kooten & De Bie, wat oor ’n tydperk van 26 jaar uitgesaai is. Met hierdie program het die akteurspaar drie maal die televisieprys die Zilveren Nipkowschijf gewen. As skrywer is hy bekend vir sy outobiografiese prosa, soos Koot droomt zich af (1977), Koot graaft zich autobio (1979), Veertig (1982) en Zwemmen met droog haar (1991). In 2004 is die Gouden Gansenveeraan hom toegeken vir sy besondere bydrae tot die Nederlandse letterkunde. Sy boekeweekgeskenk is De Verrekijker. Daarin vertel hy die verhaal van ’n verkyker wat hy by sy pa geërf het. Dit word gratis uitgedeel sodra mens gedurende die Boekenweek ’n boek van duurder as €12,50 koop.
Nelleke Noordevliet is in 1945 in Rotterdam gebore. Sy het met Vrij man ’n ambisieuse en meeslepende historiese roman oor die 17de eeu geskryf. Hierdie boek staan op de kortlys van die Libris Literatuurprijs 2013. Dit sluit dus naatloos aan by die tema van die Boekenweek. Met haar boekeweek-essay doen Noordevliet verslag van die verlede in De Leeuw en zijn hemd.
“In het Boekenweekessay zal ze ingaan op onze dubbelzinnige omgang met het verleden en verbaast ze zich over onze neiging nu eens de wijsvinger, dan weer die middelvinger te heffen” (persberig CPNB).
Sy vra daarin ook vrae soos hoe “goud” die Nederlanders nou eintlik hulle tye vind, hoe “swart” hulle bladsye. Waarop was hulle trots gewees en waarvoor het hulle hulle geskaam? Oor dinge soos Nederland se posisie as handelsmag kan Nederlanders trots én skaamte voel, omdat slawehandel ook deel was daarvan.
Gedurende die Boekenweek word verskillende lesings, debatte en tekensessies met skrywers dwarsdeur die land gehou. Die UA bied in aanloop tot die tema Gouden tijden, zwarte zijden reeds op 14 Maart ’n aandprogram aan oor die dubbelsinnigheid in die literatuur van Indië, Suriname en Suid-Afrika in tye van slawerny. Die skrywer Jan Siebelink sal in die Letterkundig Museum optree en Jan Cremer in die Scheepsvaartmuseum.Tom Lanoye bied op verskillende plekke in die land sy program Sprakeloos op de Planken aan.Beide Van Kooten en Noordevliet se week lange optredes deur die land is uitverkoop.
Die tradisionele gratis treinreis met ’n boekeweekgeskenk het verskuif van die eerste na die tweede Sondag van die week. Dit was al lankal die wens van boekwinkels en -verkopers, omdat hulle in die verlede ’n stormloop in boekverkope ervaar het direk voor die spesifieke gratis reis op Sondag en daarna vir die res van die boekeweek met ’n ineenstorting van boekverkope gesit het. Deur die gratis reis na die tweede Sondag te verskuif, hoop die boekwinkels dat verkope geleidelik deur die week sal styg.
Boekenweek 2013 word afgesluit met ’n fees in die popverhoog 013 van Tilburg. Nege stadsrade het aansoek gedoen om die afsluitingsfees te organiseer. Die eer het Tilburg te beurt geval, miskien vanweë die literêre TiLT-fees wat sedert sy ontstaansjaar in 2011 vinnig groei in bywonersgetalle. Op die oorvol program vir hierdie aand staan ook Kees van Kooten se naam.
Luister hier na hoe Kees van Kooten De Verrekijker bekend stel as boekeweekgeskenk.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.