Boek-Krismis by Dennegeur in November

  • 1

Biblioteke maak my van kleins af rasend gelukkig. Ek was 7 toe ons van Kimberley na Pretoria getrek het en ek het amper gehiperventileer van opwinding toe my ma ons neem om by die Brooklyn-biblioteek te gaan aansluit. Die boekrakke wat oor my en my suster uitgetoring het, het my asem weggeslaan soos die wolkekrabbers van New York. Ali Baba se skatkamer sou my kwalik meer kon beïndruk het. Ek onthou nog hoe verstom ek was toe my ma aan my verduidelik het dat ’n mens nie hoef te betaal vir die boeke wat jy uitneem nie. Hoe kan dit wees dat sulke rykdom so gratis met almal gedeel word, het ek gewonder.

’n Paar dekades later dink ek steeds aan boeke as rykdom en aan biblioteke as een van die hoekstene van ’n beskawing.

Dit was dus ’n onverdunde plesier om verlede week saam met Kerneels Breytenbach (PEN Afrikaans se voorsitter) en Bettina Wyngaard, wat ook in die bestuur dien, boeke te gaan skenk aan die Dennegeur-skoolbiblioteek op Elgin. Die vreugde was dubbeld toe ek sien watter goeie nuwe huis die boeke gevind het. Carol Gordon se biblioteek word met liefde en erns netjies gehou en bestuur. En dis nie net die laerskoolkinders van Dennegeur wat die nuwe boeke gaan geniet nie. Carol gaan die romans en niefiksie wat geskenk is, aan die volwassenes van die kontrei beskikbaar stel.

PEN Afrikaans sal graag weer wil gaan boeke aflewer. Met ander woorde, gee asseblief nog en weer. Kinder- en jeugboeke is uiteraard ideaal, maar enige goeie en/of lekker leesstof in enige genre is welkom.

Boeke kan by die hooftoonbank van Louis Esterhuizen se Protea Boekwinkel (hoek van Crozier- en Adringastraat) in Stellenbosch afgegee word. Plaas net asseblief die boeke in ’n boks en merk dit duidelik: PEN Afrikaans – Dennegeur-boekeprojek.

Namens PEN Afrikaans sê ek baie dankie aan Yolanda Bailey, die IMG-bestuurder vir skole in die Overberg, vir haar ondersteuning, en aan al die boekskenkers. Dankie aan Bettina Wyngaard vir die manier waarop sy die inisiatief geneem het. Hartlike dank ook aan almal wat Saterdag 8 November deelgeneem het aan die Ukusela eKapa-projek ten bate van Dennegeur-laerskool in Elgin. Kyk hier na die foto's van dié geleentheid.

Foto's van die boekoorhandiging

Kerneels Breytenbach

Bettina Wyngaard, Kerneels Breytenbach en Carol Gordon

Bettina Wyngaard, Danie Marais, Elina Lukas en Carol Gordon

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top