Besoek uit Engeland

  • 0

Ek behandel die dowes soos wat mens kinders wat wel kan hoor sou. Toe Claire uit Newcastle, Engeland, kom besoek aflê by die skool wys ek vir hulle waar Engeland op die aardbol is.

Ons praat oor die feit dat dit ver is, en dat sy met ’n vliegtuig kom.

Toe sy by ons klas kom het ’n paar van hulle vrae gehad. Karabo vra of die vliegtuig nie geval en “gecrash” het nie. Sihle vra wat is haar gebarenaam.

Hy is so opgewonde oor die vreemde vrou dat hy wil hê ek moet vir die ouers ook daarvan vertel en ’n brief in die kantoor laat tik.

Die dag voor sy vertrek laat ek hulle prente van vliegtuie en diere teken. En ’n portret van die blonde Engelse vrou . Iets om saam te neem.

Dit het hulle heel oulik gedoen met haar blonde krulle en al.

Op haar laaste dag bly Sihle vir my iets beduie. Al woorde wat ek verstaan is Suid-Afrika, verf, Engels, Claire, ver, vliegtuig. Hy is later vies dat ek nie verstaan nie.

Ek kry vir Promise om te kom tolk.

“He wants to paint a South African flag for Claire, the English lady, and give it to her to take with.”

O, dan ek het tog hier en daar die woorde verstaan, maar nog in gebreke om als in konteks te verstaan.

So gesê, so gedaan.

Promise help hom gou om die verf uit te haal, sy teken vir hom die buitelyne. Hy verf elke deel pynlik netjies. Toe dit klaar is, wys hy vir my dat ons dit in die son moet sit om droog te word.

Ek laat hom ’n briefie agterop skryf: “My name is Sihle. I painted a South African flag for you.”

Hy het dit met soveel toewyding en kreatiwiteit gedoen, dat ek eintlik verbaas was. So ewe die letters in verskillende kleure en fonts geskryf.

Toe hy dit gaan aflewer, kon ek nie help om te wonder of die Engelse Claire ooit sal weet waar die kindgeverfde vlaggie vandaan kom nie. Sal sy ooit weet wie dit was wat dit vir haar met soveel liefde gemaak het? Seker nie.

Ek hoop nogtans dat sy dit ook sal koester en, soos ek, dié gebaar uit ’n kind se hart in haar eie sal bêre.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top