André Brink. ’n Huldeblyk

  • 1

Die skielike heengaan van André het my diep geskok. Ek het hom 51 jaar gelede, in Maart 1964, leer ken toe ek met ’n beurs van die destydse uitruilskema uit België gekom het om my doktorale proefskrif oor Van Melle onder Rob Antonissen aan Rhodes-universiteit te kom skryf. Dit was dus my voorreg om in die nabyheid van twee groot geeste van die Afrikaanse letterkunde en die literêre kritiek te verkeer en myself geestelik te verryk.

André was net drie jaar ouer as ek, maar soveel meer belese en met so ’n ongelooflike ensiklopediese kennis alreeds in daardie jare. Hy was daarin natuurlik gestimuleer deur Rob Antonissen, wat met sy fenomenale kennis en belesenheid ons albei se mentors was. Wat ons van Rob geleer het, het ons as dosente vir die res van ons akademiese loopbane tot ons voordeel gebruik.

Ek het André se Afrikaanse en Rob se Nederlandse derdejaarklasse bygewoon. Albei se lesings was vir my ’n ongelooflike verryking en so veel waardevoller as die soort lesings wat ek in die Nederlandse afdeling van die Universiteit van Gent in die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare bygewoon het, waar die verouderde histories-biografies literatuurbenadering nog gegeld het en verkondig is. André en Rob het die teks voorop gestel en dit binne die ruimer literêre en kulturele konteks geplaas en sodoende wêrelde oopgemaak. Moeilike begrippe is spelenderwys verduidelik en studente is aangespoor om krities te dink, waardeoordele te formuleer en niemand na te praat nie.

Dit was my voorreg om van 1967 tot 1968 en opnuut van 1972 tot 1983 André se kollega in die Departement Afrikaans en Nederlands van Rhodes-universiteit te wees. Ook die 14 jaar was vir ons almal (onder meer Johan Smuts, Tim Huisamen, Rike Vaughan, Godfrey Meintjies) wat met hom saamgewerk het en die ontstaan van ’n aantal van sy romans en ander werke meegemaak het, ’n onvergeetlike ervaring. Ook sy verhale oor sy ervarings met die polisie wat hom wou intimideer, het ons stomgeslaan.

Ek het ook dikwels van my manuskripte van artikels of boekuitgawes (Literatuur van die Lae Lande, Blokboeke) vir André gewys om sy opinie daaroor te vra. Met sy skerp kritiese gees het hy nie geaarsel om op leemtes in my teks te wys nie, presies soos Rob, wat te vroeg oorlede is, dit gedoen het toe ek aan my skripsie gewerk het.

André het altyd ’n sekere aura om hom gehad, iets besonders wat mense aangetrek het, onder meer tydens die baie Grahamstadse partytjies wat ons bywoon het en waar hy gedurig hoofsaaklik deur ’n groep dames omring was wat aan sy voete gesit en luister het. Die openbare lesings wat hy gegee het, was ook altyd ’n groot gebeurtenis en baie goed bygewoon, omdat jy seker kon wees dat daar weer iets besonders gaan kom, soos die keer toe hy oor Italo Calvino gepraat het wat hy so bewonder het en wat vir my in dié stadium nog onbekend was.

André se veelsydige belangstelling (literatuur, filosofie, musiek, fotografie, skilderkuns, ens) was verstommend en uiters stimulerend vir almal met wie hy sy kennis gedeel het.

Ja, ’n groot gees het heengegaan. Dankie, André, vir alles wat ons van jou, met jou ruimdenkendheid en jou wye belangstelling en kennis, geleer het. Dit was ’n voorreg om ’n paar jaar jou kollega en vriend te kon wees.

Mag jy in vrede rus.

Wilfred Jonckheere

  • 1

Kommentaar

  • Ilze Bruggemann

    En Prof het die letterkunde vir my laat leef! Die LitWet-klasse het ek soos heuning opgesuig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top