Alles wat jy van War Horse moet weet

  • 0

Suid-Afrika en die res van die kontinent het ’n ryk geskiedenis van marionette en toneelpoppe. Maskers en poppe met reusekoppe is gemaak om by tradisionele Afrikafeeste en -rituele te gebruik. Surrealistiese menslike figure met geanimeerde koppe, waarvan die ledemate met ’n stok deur ’n sittende manipuleerder beheer is, is selfs gebruik om wet en orde te handhaaf.

En nou is hierdie erfenis weer in die kollig met die koms van War Horse en hoewel dit ’n Britse toneelstuk is, is die pragtige lewensgrootte marionet-perde wat daarin gebruik word, die werk van die Kaapstadse Handspring Puppet Company wat in 1981 gestig is.

Suid-Afrikaners kan nou op eie bodem in die teaters sit en sien hoe goed ons uitvoerprodukte nou eintlik is. Daar kom gereeld sulke gebeure oor ons pad, wat jou jou Suid-Afrikaanse bors breed laat uitstoot. Jy moet jouself keer om nie jou vingers onder die waaie van jou arms in te druk en vir die wêreld tong uit te steek en te sê “Wêlakapêla! – kyk wat ons reggekry” nie.

War Horse het pas ’n ses-weke-speelvak in Montecasino in Johannesburg voltooi en open op 5 Desember by die Kunstekaapteater.

Dis ook nie net Handspring wat internasionale roem verwerf het vir hul toneelpoppe nie. Die Klein Marionette-geselskap was in die tagtigerjare die eerste poppegroep van Suid-Afrika wat oorsee genooi is. Die groep is saam met 52 ander lande na Frankryk en Oostenryk genooi om hul poppe te gaan vertoon.

Die storielyn van War Horse

War Horse vertel van ’n jong seun, Albert, wie se geliefde perd, Joey, deur die Britse regering opgeeïs word om in die Eerste Wêreldoorlog diens te doen. Die perd word na Frankryk verskeep om daar aan die Britte se kant saam met soldate te veg. Albert is te jonk om by die oorlog aan te sluit en só begin ’n lang, hartroerende reis om sy perd te vind en huis toe te bring.

Die oorspronklike boek is geskryf deur Michael Morpurgo, wat meer as 100 boeke op sy kerfstok het en ook van 2003 tot 2005 Brittanje se “Children’s Laureate” was. Dis vir die verhoog aangepas deur Nick Stafford en staan onder regie van Marianne Elliott en Tom Morris.

Handspring het die afgelope 33 jaar onder leiding van die artistieke direkteur, Adrian Kohler, en uitvoerende vervaardiger, Basil Jones, tot internasionale status gegroei. En dis nie net die plek waar die perde vir die produksie “gebore” is nie, dit is ’n artistieke tuiste vir ’n groep kunstenaars, ontwerpers, teaterkunstenaars en tegnici. Die kreatiwiteit van Handspring se span is al in meer as 30 lande regoor die wêreld gesien.

Hul roem kan teruggevolg word na 1985 toe die maatskappy David Lytton se Episodes of an Easter Rising – hul eerste vir volwassenes – op die planke gebring het.

Die sukses van die produksie het mense laat regop sit en notisie neem. Verskeie bekendes het daarna saam met Handspring begin werk, waaronder Esther van Ryswyk, Mark Fleishman, Malcolm Purkey, Barney Simon en William Kentridge. Hul werk met Kentridge toer vandag steeds die kontinent.

Handspring het ook al saam met kunstenaars van ander dele in Afrika gewerk. Hieronder tel die Sogolon-poppegeselskap van Mali en Koffi Koko van Benin. Soos hul internasionale bekendheid gegroei het, het nog werke ontwikkel met kreatiewe vennote van Europa, Brittanje en Amerika en mense soos Tom Morris, Neil Bartlett en Khephra Burns. Handspring se onlangste produksie, Ouroboros, wat deur Janni Younge geregisseer is, was op die planke by die Baxterteaterin Kaapstad en het daarna verlede jaar na België, Frankryk en Indië getoer.

Met die groei in die gewildheid van toneelpoppe plaaslik en internasionaal, het die druk toegeneem op die maatskappy om met die groeiende aanvraag na hul poppe by te bly. Die volgende stap was dus die uitbreiding van hul permanente personeel en nou staan Handspring onder leiding van Adrian Kohler en Janni Younge – wat in 2010 die Standard Bank Jong Kunstenaar-titel gewen het. Sy is ook die direkteur van die marionettefees, Out the Box Festival.

Intussen is die Handspring-trust vir poppekuns, ’n organisasie sonder winsbejag, in 2010 gestig om die volgende geslag poppemakers te identifiseer, mentorskap te verskaf en werkswinkels en projekte in plakkerskampe en landelike gebiede van stapel te stuur. Tans ondersteun hulle die jaarlikse Versoeningsdag-straatparade op Barrydale en die Masipumelele-jeugontwikkelingsgroep se poppespel Qhawe, wat ook samewerking met die Sentrum vir Geesteswetenskappe by die Universiteit van die Wes-Kaap, Net Vir Pret, die Magpie Art Collective en die Wes-Kaapse regering insluit.

War Horse word in samewerking met Handspring na Suid-Afrika gebring deur die teaterdoyen, Pieter Toerien, die National Theatre van Groot-Brittanje en Rand Aksepbank (RMB). War Horse het in 2007 in die Londen se National Theatre geopen. Die produksie is deur meer as vyf miljoen mense wêreldwyd gesien en ook in 2011 in ’n film omskep met die rol van Albert wat deur Jeremy Irvine vertolk is en waarvan Steven Spielberg die regisseur was.

Dis tans in sy sesde suksesvolle jaar in Londen se Weseinde op die planke, toer deur Noord-Amerika, speel in Berlyn in Duits onder die titel Gefährten en het in Junie in Amsterdam geopen.

Dit het ’n draai op New York se Broadway gaan maak en daar vyf Tony-toekennings, plus ’n spesiale Tony-toekenning vir Handspring se voortreflike marionette, ingepalm.

Chris Harper, die vervaardiger van War Horse, sê: “Die ontwerp, kunsvaardigheid en handwerk van Basil Jones en Adrian Kohler en elkeen by Handspring het miljoene War Horse-gehore regoor die wêreld se harte gesteel. Elke marionet wat in die vertoning gebruik word, is in Kaapstad vervaardig en dis net reg dat hulle terugkeer na die land van geboorte, sodat Suid-Afrikaanse gehore die toneelpoppe eerstehands kan ervaar en geniet.”

Die perde in die produksie is kunswerke op sigself en bestaan uit ’n aluminiumraamwerk oorgetrek met dun lap wat soos ’n vel lyk. Die raamwerk is sterk genoeg om die gewig van ’n ruiter te dra. Die lyf is uit bamboes, leer en ’n sintetiese materiaal gemaak. Die marionet weeg 43 kg en staan 2,5 meter hoog. Die perd-choreografie deur Toby Sedgwick is uitstekend en mens vergeet gou dis nie regte diere op die verhoog nie. Om die perd so lewensgetrou te maak, verg drie marionettemeesters. Een hanteer Joey se kop van buite die perd se lyf. Hy gebruik ’n kontrolestok om die kop, nek en ore te beweeg. Twee ander manipuleerders is gedeeltelik versteek binne Joey se lyf en beheer sy voorpote en asem met ’n handvatsel en sy agterpote en stert met ’n paal wat aan ’n skistok herinner.

Die perd se oë beweeg nie, maar hulle is gemaak van ’n deurskynende hars wat blink gepoets is, sodat die oë ’n nat voorkoms het. Adrian sê die oë is die deel van die perd wat die natuurlikste lyk. “Oë is so ’n belangrike element van toneelpoppe, dat ons ’n hele oogafdeling het by Handspring.”

Pieter Toerien sê hy het verlief geraak op die produksie toe hy sewe jaar gelede die opening in die National Theatre in Londen gesien het. “Die briljante akteurs en die geniale werk van ons eie Handspring het dit ’n ongelooflike aand in die teater gemaak. Ek was oorgehaal om dit na ons gehore te bring, so om hulle hier op eie bodem te sien, is ook ’n droom wat vir my waar word.”

Suid-Afrikaners is geen vreemdelinge vir toneelpoppe nie. Lank voor die koms van geliefde televisiepoppe soos liewe Heksie, die klein prinsie en Repelsteeltjie, wat dié kunsvorm tot in sitkamers gebring het, was daar reeds in die 1800’s poppemeesters wat die Kaap besoek het. Ene mnr Parker het met 500 poppe, almal outomate, deur die land getoer. In die 1940’s het poppeteaters in Suid-Afrika begin open en mense soos John Wright, Lily Herzberg en Keith Anderson het groot welslae met hul poppe behaal.

By vanjaar se US Woordfees, het Marie Kruger van die Universiteit Stellenbosch se drama-afdeling ’n uitstalling van seldsame toneelpoppe geopen. Daar was 200 marionette en staaf- en handpoppe te sien wat die afgelope 40 jaar deur die Klein Marionette-geselskap en eertydse modelbou-afdeling van die SAUK ontwerp en vervaardig is. Marie Kruger se jarelange nagraadse studies fokus op toneelpoppe en veral die manifestasie daarvan in Afrika. Behalwe haar internasionale referate en werkswinkels, is sy sedert 2002 regisseur vir verskeie nasionale en internasionale storieteaterproduksies vir Youth and Puppet Theatre. Sy het uitgewys dat ’n uitstalling van toneelpoppe ’n uitsonderlike gebeurtenis is.

Liewe Heksie (bron: Youtube)
Chester Missing (bron: www.thesouthafrican.com)

Omdat Suid-Afrika so lank in isolasie was, het die lede van die Klein Marionette-geselskap geglo hul werk is nie goed genoeg nie, maar daar was ook ’n vryheid daarin verskuil: Ons poppetradisies was nog nie só vasgelê nie, wat beteken het hulle kon hul kreatiwiteit na hartelus uitleef. Hulle is nog twee maal oorsee om deel te neem aan internasionale poppeteaterfeeste – een maal in Amerika en die laaste keer in Denemarke waarheen hulle Die Reëngodin en Bang vir ’n slang geneem het.

En dan hier op eie bodem is poppekarakters in die tagtigs en negentigs gebruik om sosiale en politieke kommentaar te lewer op die onregte van die regerende party.

Dink maar aan die pittighede in Nuustak met die karakters Ulula die uil en die trapsuutjies, Trappies, wat geëggo het wat om eetkamertafels en braaivleisvure bespreek is, maar nie in die openbaar geuiter kon word nie.

En vandag is dit Conrad Koch se buikspraakpop, Chester Missing, wat politici gereeld warm onder die kraag het met sy uitsprake en nou selfs in ’n hofgeding met Steve Hofmeyr gewikkel is.

Hoewel poppemakers die fisiese ontwerp en maak van die poppe behartig, glo Magda van Biljon dis die teks wat die pop se kern skep, wat die pop lewe gee. Van Biljon se oorlede man, Zack du Plessis, was by die produksie van Nuustak betrokke.

Hansie Visagie van die Klein Marionette-geselskap wat vandag dosent in Kaapstad is, vertel dat die groot geeste van die sewentigerjare mense soos Alida von Maltitz en Ann Bailes was. Dis by hulle wat hy naweke en vakansies gaan leer het.

Hy onthou: “Ons eerste poppe het bestaan uit tennisbalkoppe, oorgetrek met papierpap.”

En toe almal ’n paar jaar gelede dink ons het toneelpoppe vaarwel toegeroep, het kykNET die afgelope paar jaar baie gedoen om die poppe-era te laat herleef. “Ons het poppe vir meer as 400 episodes vir Koowee gemaak, waarvan 240 onder meer vir Tjiff en Tjaff was. Ons weet almal dis goedkoper om programme aan te koop en oor te klank as om dit te vervaardig; so dis lekker as nuwe programme wel die lig sien en jy deel daarvan kan wees,” gesels Visagie.

’n Aktrise en regisseur wat passievol is oor toneelpoppe, is Lizz Meiring. Sy voel daar word deesdae veels te min poppe gebruik. “Sedert daardie aaklige superrealistiese animasie verskyn het, het vervaardigers vergeet hoe lewendig, verbeeldingryk en sjarmant – asook uniek – poppekuns kan wees.”

Sy glo toneelpoppe se effektiwiteit lê daarin dat dit verbeelding vra, en as gehore hul verbeelding inspan, word hulle deel van ’n belewenis. Sy sou wou sien dat poppe op elke vlak van vermaak en opvoeding ingespan word.

Vir Meiring as regisseur is die grootste uitdaging om met toneelpoppe te werk, “om te besef hulle kan alles ‘speel’, oordra en verbeeld, wat akteurs kan. En synde self ’n akteur, mag ek dit sê: Poppe, poppemakers en poppemeesters, (manipuleerders) het nie ego’s nie!

“Ons produksie van Die Reëngodin’is Denemarke toe genooi, nadat ’n Deense agent dit in die Staatsteater gesien het. Dit was ’n reusesukses by die internasionale poppefees, maar bowenal, elke keer wanneer ’n grootmens of kind by ’n poppeproduksie ingetrek word, weet ek wat ons hier doen, maak saak.”

En dis beslis die gevoel wat jy kry elke keer as daardie perdemarionet op die verhoog sy ore wikkel of sy stert swaai. Dit voer jou weg na ’n verbeeldingswêreld wat alte min besoek word.

Source: Washington Post

• Die War Horse se Kaapse seisoen by die Kunstekaap Operateater is van 5 Desember tot 4 Januarie. Kaartjies kos tussen R100 en R450 via Computicket of 0861 915 8000.
• Besoek www.warhorseonstage.com en www.handspringpuppet.co.za vir meer inligting oor die perde en die produksie. By www.handspringpuppet.co.za/south-african-puppetry/ is ’n omvangryke oorsig oor poppeteater in suider-Afrika oor die afgelope eeu.
• Suid-Afrika se eerste marionettefees is in 2005 gehou en is die breinkind van Janni Younge. Die Out the Box Festival het onder leiding van Aja Marneweck en Younge in die grootste internasionale marionettefees op die vasteland van Afrika gegroei. Wat as ’n eksperimentele eendaggeleentheid begin het met vertonings en werkswinkels by Little Theatre in Kaapstad, het geweldig gegroei. Wat die fees merkwaardig maak, is dat dit geskep en onderhou word deur poppemeesters. Dis egter die afgelope twee jaar weens ’n gebrek aan fondse gekanselleer.

Lees ook 'n ander bydrae oor die Hand Spring Puppet Company.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top