Adam Tas-studentevereniging: Rock shows en poësie

  • 0

Christoff, in ’n neutedop, wat is Adam Tas?

Adam Tas is in wese ’n liggaam waar Afrikaanssprekende studente van alle rasse, gelowe, ideologieë en herkomste op ’n al hoe meer verengelsende kampus hulself kultureel kan uitleef en kan saamkom in ’n gees van versoening eerder as ’n gees van verdeeldheid. Ons poog ook om ’n mondstuk te wees waardeur besware gelug kan word en waarbinne diskoers oor ons identiteit en kultuur, en ook oor ander sake, maar ín Afrikaans, kan plaasvind.

Ons probeer dit alles deur ons inisiatiewe en funksies te fasiliteer.

Wat is die mees prominente verandering(e) wat sedert die ontstaan van Adam Tas in die vereniging plaasgevind het?

Hieroor is daar baie meningsverskille, maar die prominentste volgens my is seker die verskuiwing van ’n aktivistiese organisasie na ’n meer kultuurgerigte organisasie wat in die afgelope stuk of twee, drie jaar plaasgevind het. ’n Fokusverskuiwing het dus plaasgevind van standpunt inneem na ’n meer gematigde benadering van destigmatisering en pret. Ek kan egter nie insien hoekom die een ten koste van die ander moet plaasvind nie, en sal graag die aktivistiese kant weer aan die gang wil kry, DV.

In ’n onderhoud met Carel Taljaard (Adam Tas-voorsitter van 2013) noem hy dat julle ledetal, veral onder eerstejaars, konstant toeneem. Is dit steeds die geval? Hoe werf julle hoofsaaklike lede?

Ek het ongelukkig nie syfers van vroeër jare tot my beskikking ter vergelyking nie. Wat ek wel kan sê, is dat die universiteit se nuwe stelsel toelaat dat mense op die Maties-webwerf aansluit. Ons het dus ’n bestendige instroming van nuwe lede elke dag, waarvan baie eerste- en tweedejaars is.

Die grootste werwing vind egter steeds maar plaas by ons funksies, waar bywonendes die geleentheid kry om hulle by ons poslys te voeg – bladsye vol studentenommers moet elke keer die volgende dag op Outlook oorgetik word!

Julle het verlede week die jaarlikse Adam Tas Rock Show gehou. Die line-up was indrukwekkend en die vertonings1 van Die Skynmaagde, plaaslike legende Valiant Swart en die boheemse Mr Cat & the Jackal was gatskop. Die show was egter nie nét vir die lekkerte nie – vertel ons meer van Laerskool Daniel le Roux en julle bedrywighede daar.

Man, ons het toevallig deur die ATKV met Laerskool Daniel le Roux in kontak gekom. Die idee was dat ons vanjaar ’n projek sou aanpak wat getrou aan ons beginsels van moedertaalonderrig en ’n fokus op Afrikaans as medium van transformasie en opvoeding was, maar wat daadwerklik ’n verskil aan mense se lewens maak en waarby studente betrokke kan raak. Ons samewerking met hulle is nog in die beplanningsfase, maar die oogmerk is om fondsinsamelingsprojekte en moontlik uitreike te organiseer na hierdie gemeenskap toe om te help om ’n klein verskil te maak in hulle lewens en om bewustheid te skep oor die swaarkry wat in baie Suid-Afrikaanse en Afrikaanse gemeenskappe heers.

Tans die gewildste post-apokaliptiese Afrikaanse folk grunge-groep: Die Skynmaagde.
Foto: Vetman Design & Photography

Twee plaaslike blues legendes: Basson Loubscher en Valiant Swart.
Foto: Vetman Design & Photography

Nog een van die items op Adam Tas se sosiale kalender is die Drink, Dig, Eet!-funksie wat julle by die Woordfees aanbied. Wat presies behels dié?

Dit is ’n studentedigkunsaand waar studente die geleentheid kry om hulle poësie voor ’n gehoor van hul portuurgroep voor te dra. Daar is ’n paneel van ernstiger studentedigters wat van hulle werk voordra en dan word die verhoog oopgestel dat amateurdigters uit die gehoor ook kan deelneem. Dit is baie gees, en gratis kos en wyn word verskaf.

Dis nie die eerste keer dat julle hierdie studentepoësiefees aanbied nie. Wat kan feesgangers hierdie jaar verwag?

Ons werk vanjaar saam met VER[r]AS – die Vereniging vir Afrikaansstudente – wat ons gaan help om digters vir die aand in die hande te kry. Gehalte-digters kan dus vanjaar verwag word! En dit is eintlik nog ’n geheim en nog nie vas nie, maar ons hoop om dit te kombineer met ’n e-digkompetisie op ons FB-groep waarin daar pryse te wenne gaan wees wat die aand van Drink, Dig, Eet! oorhandig sal word.

Ek wil net graag byvoeg dat enigiemand wat wil, kan bydra tot die organisasie, hetsy geldelik of met raad of bemarking, of enigiemand wat bloot meer wil weet, welkom is om my te e-pos by adamtas@sun.ac.za.

Drink, dig, eet! Aangebied deur Adam Tas Studentevereniging Studentedigters toor met digwoorde – sluit by hulle aan en swaai jou eie towerstaf! Landgoedwyn en heerlike kaas verskyn (en verdwyn) ook in die niet. Maak dus jou glas vol en gooi daai toortaal!

16 Maart 20:00 | Eikestadnuus Klank-kamer: Boektent | 110min | R20 by die deur

 

1 Ek het The Wheel Again so effens misgeloop.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top