ABSA Ketting: Ingrid Winterbach gesels met Eben Venter

  • 0
  1. Waarmee is jy op die oomblik besig?

    Ek is die afgelope jaar en 'n half besig aan 'n nuwe roman. Dis 'n taai ene dié om uit te kry en by tye is die implikasies so donker dat ek voel of ek selfs daarvan wil ondergaan. Ek is nou aan 'n tweede draft besig. As ek formulerings van die eerste lees, klink dit vir my soms na suiwer kaf. Maar na baie skaafwerk kan dit naderhand tog na iets begin lyk en indien ek voel ek het met 'n bepaalde woordorde en formulering daarin geslaag om iets te sê wat tot nou toe vir myself ongesê gebly het, ervaar ek daar en dan my gelukkigste oomblik ooit.

     

  2. Is daar vir jou iets soos 'n taboe onderwerp? Iets waaroor jy graag sou wóú skryf, maar nie durf nie - om watter rede ook al?

    Nee, ek kan en sal oor enigiets skryf, maar nie op enige manier nie. Ek toets byna 98 persent van my sinne en paragrawe vir die verveligheidsfaktor. En ek verpes soet (maar nie sappige nie) beskrywings, iets soos: die deining van haar goue hare.

    Baie lesers meen ek het daarvan weggeskram om die verhouding tussen die hoofkarakters in Ek Stamel Ek Sterwe as 'n openlike gayverhouding uit te beeld. Ek was toe bietjie jonger en 'n raps minder geëmansipeerd, en miskien het ek weggeskram. Maar wat ek in die eerste instansie wou doen, was om die verhouding van die hoofkarakter en die terminale siekte waaraan hy gely het, universeel aan te bied.

     

  3. Jy skryf kortverhale en romans. Ek neem aan jou voorkeur is vir die roman. Wat bied die roman jou as genre/vorm?

    Omdat ek soms ongeduldig raak om 'n stuk skryfwerk af te handel, hou ek van die kortverhaal. Maar ek kry dit nie altyd reg om 'n storie met een, enkele, kragtige skoot uit te vertel nie. (Ek dink dit was AS Byatt wat van die kortverhaal gepraat het as "one single shot".) Ek wil altyd draaie maak en afdwaal, en dis wat die roman my toelaat. Jy kan aan- en aangaan en tot in die holle van die karakters delwe, as ek dit so mag stel. Die aard van romanskrywe is egter 'n marteling. Drie jaar of langer, en dan kan dit nog steeds 'n flop wees en jy verkoop slegs 'n handjievol.

     

  4. Jy het geskryf oor "Erotiese verhulling as invalshoek vir outobiografiese prosa". Is dit vanuit 'n agternaperspektief geskryf, of was jy van hierdie dinge bewus terwyl jy Foxtrot van die Vleiseters geskryf het?

    Die perspektief het eers agterna op so 'n duidelike wyse na my toe gekom. Omdat Foxtrot deels outobiografies was, wou en kon ek onmoontlik grafies skryf oor seks, politiek en dwelms. My familie sou 'n gasket blaas - of liewer, dis wat ek gedink het! Daai boek het ek in Donegal, Ierland geskryf, en op gitswart aande (jy kon die wit van jou tande daar nie sien nie, so donker het dit geword) het ek in my grasdakhuisie gesit en uitdink hoe ek kon verhul. Dis hoe ek by allerhande storietjies en fabels uitgekom het. Byvoorbeeld daardie plaastoneel waar die boer so op sy melkman skree, is verhul as 'n soort fabel met spelers soos Grootman, Drupstert en HoutKind, laasgenoemde soos in die rassistiese "Houtie". Jy sou kon sê dis 'n negering van die wrede werklikheid, of jy sou dit as 'n verdubbeling van die geïmpliseerde wreedheid kon lees.

    Mag ek hier ook iets interessants byvoeg? Die storie van generaal Konstantyn en die sniksanger wat in Chili gaan kuier het, die generaal om martelmetodes met sy Chileense eweknie te gaan uitruil, het ek verbeel. In die werklikheid wás generaal Konstant Viljoen en Mynie Grové (of een van ons sniksangers) op besoek in die Chili van Pinochet. Na 'n voorlesing in Bloemfontein nader 'n grootkop van die destydse veiligheidspolisie my en vra waar op dees aarde het ek aan die inligting gekom. Goeie jêrre, sê hy, dit klop dan met die waarheid. Het ek dalk toegang tot hulle geheime lêers gehad? wou hy toe weet. Hy was verstom. Ek was eweneens verstom, maar heimlik bly oor my klein profesie wat waarheid geword het. Toe die grootkop my vervolgens vir 'n skaakwedstryd op sy plaas net buitekant Bloemfontein uitnooi, het ek egter kleinkoppie getrek.

     

  5. Wat stel jy jou by "die muse" voor?

    My muse is 'n stem wat ek hoor. Die stem het 'n bepaalde toon en aard wat 'n besonderse greep op die lewe uitdruk. Hierdie stem kan 'n variasie op my eie wees, of een wat ek fabriseer, of een wat ek iewers raakgehoor het. As kind is ek nooit toegelaat om terug te praat nie, nie in die huis, nie op skool nie, nie in die kerk nie, en definitief nie in die army nie. Ek het so kwaad en opgekrop begin voel dat ek stemme begin opmaak het waarmee ek wel kon terugpraat, waarmee ek my eie en by tye aggressiewe perspektief op mense en hulle opinies en gebeure kon laat "ontplof".

    Hier is 'n voorbeeld van 'n stem wat ek onlangs raakgehoor het. 'n Jong man, Hennerie, kom span 'n draad om ons groentetuin. Die toilet grens aan my studeerkamer en gedurende die dag slenter hierdie Hennerie daar in om sy besigheid te gaan doen. Nou sit ek aan die anderkant van die muur besig om "hoë kuns" te skep en kan elke liewe ding hoor wat Hennerie kwytraak. Hennerie is 'n man wat nie ophou praat nie. Hy's mal oor rugby. Praat van "ons" as hy oor sý rugbyspan praat. So gaan hy ook die toilet binne, gesels maar voort, lag, fluit, tjorts, hy's byna ekstaties. Sugte en uitroepe en lang asems word uitgeblaas; groot, vet plonse tussenin. Fluitend verlaat hy die badkamer, nie 'n enkele sorg in hierdie wêreld nie. Dáár is 'n stem wat ek gehoor het waarmee ek graag verdere wysies sou wou sing.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top