Om iemand oor ’n snelstrik te waarsku of nie

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mnr Robertson van Pretoria was goed die swernoot in toe hy een middag in 1952 in ’n snelstrik betrap is. Hy het, volgens getuienis, ná die voorval weer vier keer deur die lokval gery. Dit was ’n afgemerkte gebied, en ’n mens kan aanneem dat die verkeersmanne die snelheid van motors binne daardie gebied nog op die ou manier – dit wil sê met stophorlosies – gemeet het.

Ewentwel, by een van die geleenthede wat mnr Robertson deur die lokval gery het, het hy sy arm by die venster uitgesteek en vir twee aankomende motoriste gewaarsku om stadiger te ry. Hoewel die verkeersbeamptes wat die lokval beman het, daarvan oortuig was dat die twee aankomende motors in elk geval nie oor die snelperk gery het nie, was hulle ook al moeg vir mnr Robertson se manewales, en is hy op ’n klagte van regsverydeling in hegtenis geneem: hy sou na bewering die beamptes in die uitvoering van hul pligte belemmer het.

Mnr Robertson is in die plaaslike landdroshof skuldig bevind en tot ’n boete van tien rand of sewe dae gevangenisstraf – nogal mét dwangarbeid! – gevonnis. Hy het na die hooggeregshof in Pretoria geappelleer.

Sy advokaat het die hof gevra om tussen twee omstandighede te onderskei, naamlik waar ’n onskuldige persoon gewaarsku word teen die moontlike pleging van ’n misdryf en waar iemand gewaarsku word terwyl hy besig is om ’n misdryf te pleeg. In die eerste geval kan tog nie gesê word dat die persoon wat waarsku, die polisie in die uitvoering van hul pligte hinder nie, want die persoon wat gewaarsku word, is immers op daardie tydstip nog nie besig om ’n misdryf te pleeg nie. Die polisie het geen belang by so ’n persoon se handel en wandel nie. Waar ’n persoon egter reeds besig is om ’n misdryf te pleeg, en hy word dan gewaarsku, sou met reg gesê kon word dat die persoon wat hom waarsku, dan besig is om die polisie in die uitvoering van hul pligte te verhinder. Dit klink tog baie logies, nie waar nie?

In sy uitspraak van 2 Junie 19521 – ook al 62 jaar gelede (dit was kort na die Van Riebeeckfees in die Kaap) – het regter Price nie veel simpatie vir mnr Robertson gehad nie. Die regter was van mening dat die doel van ’n spoedlokval juis is om vas te stel of motoriste die bepalings van die wet nakom of nie. Enigiemand wat hom met hierdie aksie van die verkeersmanne bemoei, verhinder hulle om vas te stel of iemand die wet oortree, en is dus skuldig aan ’n misdryf.

Hierdie uitspraak van regter Price het heelwat kritiek uitgelok – nie alleen deur akademici2 nie, maar jare later ook deur ’n volle regbank van die destydse Transvaalse hooggeregshof. In Staat teen Perera3 was die klagte teen die beskuldigde ook een van regsverydeling. Perera het heeltemal veilig deur ’n snelstrik gery en ongeveer 300 tree verder ’n aankomende vragmotor van die snelstrik gewaarsku deur sy motor se hoofligte ’n paar keer te flits. Agter die vragmotor het ’n provinsiale verkeersbeampte gery en toe hy sien wat Perera aanvang, het hy hom net daar voorgekeer en van regsverydeling aangekla. Die spoedperk was 80 kilometer per uur en die vragmotor het ten tye van Perera se waarskuwing ongeveer 60 kilometer per uur gery – dus heelwat minder as wat toelaatbaar was. Die hof het regter Price se uitspraak van 1952 omvergewerp en beslis dat waar ’n motoris geen rede het om te glo dat die bestuurder van ’n aankomende voertuig besig is om te vinnig te ry nie, hy hom nie aan regsverydeling sou skuldig maak as hy die bestuurder van die aankomende voertuig teen ’n snelstrik sou waarsku nie.



1 R v Robertson 1952(3) SA 291(TPA)

2 Vgl 1952 Annual Survey, bl 169 en 1953 SA Law Journal, bl 18

3 1978(3) SA 523 (T)

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top