Zille op Twitter

  • 0

Wat soek Zille op Twitter, behalwe moeilikheid?

Konteks: Helen Zille se soveelste Twitter bekgeveg.

Na nog ’n belaglike, onnodige en heel moontlik rassistiese Twitter-uitval met plaaslike “sterre” Simphiwe Dana en Lindiwe Suttle kan ’n mens net wonder hoekom die DA as party Zille nie vra om op te hou met hierdie belaglike en kinderagtige gedrag nie. Is Zille dan die party? Kan Zille doen wat sy wil ten koste van die party se beeld? Was DA MP Masizole Mnqasela (wat nou tugstappe deur die party in die gesig staar) reg om te sê sy beheer die party soos ’n Afrika-diktator? Tony Leon was ook destyds toegelaat om te sê en doen wat hy wou, wat sê dit van die DA se politieke kultuur?

Hoekom kan Zille nie net sekere vrae op die sosiale netwerke beantwoord en dan die uitlokkende vrae ignoreer, soos enige ander volwassene sou doen nie? Daar is geen rede hoekom die Premier van die Wes-Kaap hoef te daal tot op die vlak van verveelde musieksterre of mense wat haar net wil uitlok nie.

Met die vele DA verkiesingsveldtogte was dit duidelik dat die DA homself wou wys as ’n party met wie mense kon praat. Goed en wel, die aanlynplatform gesprekke het mooi gewerk en Zille het menigte beïndruk met haar toewyding. Die DA het immers die Wes-Kaap ingepalm in die nasionale verkiesing en ook baie beter gedoen in die vorige munisipale verkiesing. Die heen en weer debatvoering hoef egter nie verewig aan te gaan nie. As die party die interaktiewe debat aan die gang wil hou, moet hulle dalk net fokus op diensleweringsvrae en nie op uitlokkende snert wat juis opgedink is om die party te laat sleg lyk nie.

Die DA het oorspronklik sy verkiesingstrategieë op Obama se verkiesingstrategie, wat baie op sosiale media platforms gefokus het, gebaseer. Die verskil is dat jy sien nie meer deesdae vir Obama obsessief rondgaan op Twitter nie. Inteendeel, jy sien hom die wêreld vol besig om sy werk te doen. Dit is wat Helen Zille moet doen.

Vir ’n party wat die swart stem probeer werf en behou is dit onwys van haar om met populêre plaaslike bekendes soos Dana en Suttle in die openbaar te baklei en veral om frases soos “professional black” rond te gooi. Zille was dalk heel moontlik reg, maar dit is polities onkorrek, onvanpas, onsensitief om dit te sê, veral in die konteks van die DA wat swart steun wil uitbou. Verder, beantwoord Zille ook omtrent elke twee minute ’n tweet, ek het probeer tel hoeveel keer sy getweet het op een dag, maar het laterhand opgegee, aangesien daar so baie was.

Kaapstad het nouwel die New York Times se lys van 10 Hippest Cities gehaal, maar dit beteken helaas nie dat die premier heeldag op haar Blackberry of iPhone hoef te sit en heen en weer te klets soos ’n tiener popster nie ... Nie eens Justin Bieber tweet so baie nie.

Charl Linde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top