Wraaklied

  • 0

(vir akkordeon en perdebye)

In die omtes van die slaap
is ’n dooie wesp die naald
en vreemde musiek
klink uit ’n ou, ou plaat:
geen fluite, geen strykers
net hoewe en ruiters.

Deur riete en dale haas ek my weg
die donder van hoewe en ruiters wat veg.

Op ’n ashoop daar naby skyn soos noodlot die son.
Dit wys aan ’n boom hang ’n akkordeon.

Perdebye vlieg in en uit sy kiere.
Ek hoor hulle woede soos duisende liere.

Sonlig kan net dans as skadu's bokspring.
Ek wag nou vol angs dat ruiters my omring.

Perdehoewe trap onrustig aanvanklik.
Wespemusiek is van hul applous afhanklik.

In die skadu en maling begin die trekklavier hyg.
Die skerpste note is wespe wat styg.

’n Ruiter stort neer, word modder, dan skim.
Die eerste konsert was maar net die begin.

Die karnivoor-kunslied hou aan met sing.
’n Verterende liefde vir musiek kry sy sin.

Sonlig kan net dans as skadu's bokspring.
Ek wag nou dat ruiters my weer moet omring.

My smaak vir musiek raak goed ontwikkel.
Ek voel ruiters aan, dan's hul ver, is maar spikkels.

Dan hyg en dreun reeds die akkordeon.
En als word ’n rooi wilde heuning voor die son.

Na die konsert hang ek hom op in ’n boom
waar die note terug na toe stroom,

Sonlig kan net dans as skadu's bokspring.
Ek wag dat die ruiters my weer moet omring.

Grynslaggendes roep: Gee jou nou oor.
My kunslied wil egter niks daarvan hoor.

Die aanhef van my lied is hul einde se begin.
Nog skaduwees val, gee oor en word skim.

Ek en my lied reis saam met die son.
My reis is van kim na horison.

Wat anders kan ek en die akkordeon maak?
My lied van vryheid is ’n lied van wraak.

Sonlig kan net dans as skadu's bokspring.
Ek wag dat die nag my met vrede omring.

In die omtes van die slaap
is ’n dooie wesp die naald
en vreemde musiek
klink uit ’n ou, ou plaat.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top