… Wouter. Jy kan nie ’n mening uitspreek en dan daarop aanspraak maak dat dit ’n bewys is nie. Jy sê byvoorbeeld "... in twee vorige briewe is daar aangedui hoe dit gebeur het dat Afrikaans sy bevoorregte plek in Suid-Afrika verkry het en hoeveel wetgewing dit geverg het om dit moontlik te gemaak het".
Niks van die aard nie. Jou redes vir die bevoorregte posisie skyn die wette van 1953 (Bantoe-onderwyswet) en 1959 (een of ander wet wat swartes aan Afrikaanse en Engelse universiteite sou verbied) te wees maar jy sê nie hoe dit Afrikaans nou ’n bevoorregte posisie sou gee nie. Hoekom sou dit dan nie ook aan Engels ’n bevoorregte posisie gee nie; jy sê dan self volgens daardie wet is swartes ook aan die Engelse universiteite verbied?
Afrikaans was nog nooit in ’n bevoorregte posisie nie maar, soos ek jou al gevra het, sou hy gewees het, is dit dan nodig om vandag se skoliere en studente te verkwalik omdat hulle voorouers iets bereik het, reggekry het om Afrikaans te vestig? En wat bedoel jy in elk geval met die “triomf” van ’n taal; die feit dat hy ’n grammatikaboek en ’n stel spelreëls het? Indien wel, het Duits, Frans, Nederlands, Zoeloe, Sotho, Sweeds en Russies, om nou maar net ’n paar te noem, “getriomfeer” ten koste van ander tale? Indien wel, hoekom Afrikaans uitsonder?
Jy kon ook nie antwoord oor hoekom Afrikaans nou ander sou uitsluit, soos byvoorbeeld op Stellenbosch, maar nie Engels nie, veral in die lig van die syfers wat jy self verskaf het naamlik dat Engels 6de op die lys van huistale is en Afrikaans 3de. Ek, almal, stem saam universiteite moet oop wees en sover is daar niks wat jy kon aanvoer wat bepaal dat ’n Engelse universiteit nou meer oop as ’n Afrikaanse een sou wees nie.
Die enigste grond mag wees dat die swartes Engels verkies, wat hulle vrye reg is maar dan kan niemand verwag Afrikaanse instellings moet verdwyn oor ’n nuk van die swartes nie. Engelse en swartes mag saamstem daarmee, bloot uit leedvermaak maar as Afrikaanssprekendes saamstem is dit aanduidend van erge breinspoeling.
Ek stel dit nou aan jou, in die lig van die lyflose redes tot dusver deur jou aangevoer oor hoekom Afrikaanse instellings moet verdwyn, jy gekondisioneer is. Dit is ’n soort van ’n hipnose; jy weet glad nie hoekom jy ’n sekere idee aanhang nie maar jy gooi jou hele gewig daaragter.
Groetnis
Jan Rap

