Wouter se kaartehuis

  • 0

Dagsê Wouter

Jy klop jouself soortvan op die skouers; sê hoe jy in twee vorige briewe aangedui het hoe Afrikaans aan sy bevoorregte posisie gekom het.

Wel jy het nie want Afrikaans was nog nooit in ’n bevoorregte posisie nie en, met dié dat jou hele betoog op hierdie premis gebou is, val dit, jou betoog nou, inmekaar soos ’n kaartehuis.

Die taal wat nog altyd in ’n bevoorregte posisie was, en nog steeds is, is Engels. Engels is die amptelike taal, desnieteenstaande die feit dat dit maar die sesde plek van mees gesproke tale hier inneem (jy glo tog nie die storie dat hier 11 amptelike tale in die land is nie?). Die wêreldtaalverskoning hou nie water nie; Sagrys van Koekenaap moet sy belasting in Engels invul want dis ’n wêreldtaal? Wat drek.

Maar, gestel nou dit was in ’n bevoorregte posisie omdat dit ’n amptelike taal was; hoekom kla jy nie dat Engels, wat die ander amptelike taal was, ook in ’n bevoorregte posisie was nie?

Verder, as jy die feit dat Afrikaans naas Engels amptelike taal was as bevoorreg beskou, dan was Venda in Venda ook bevoorreg, Tswana in Bophuthatswana, Xhosa in die Transkei, Swazi in Swaziland, Sotho in Lesotho ens.

Nog ’n ding, as die taal nou in hierdie bevoorregte posisie was soos jy reken, is dit dan nodig om hom te versaak? Die “bevoorregte” posisie was in mos elk geval nie deur jou toedoen nie, hoekom beskou jy dit nou as jou plig om Afrikaans te vernietig? Is dit ’n soort van ’n selfopgelegde boetedoening omdat jou voorouers geveg het vir iets wat hulle toekom?

Om Engels so te omhels en Afrikaans te versaak is per definisie joinerisme.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top