Wouter,
Ek sien wat jy sê. Maar daar is waarskynlik ’n punt wat jy oor die hoof sien wanneer jy praat van die aanwending van die bronne so sonderling aangewend. Jy sê byvoorbeeld: “Stawende bronne vir die standpunt gehuldig deur jou is volgens jou oordeel opgelos en daarom nie ’n probleem nie. Die probleem is egter dat dit nie so eenvoudig opgelos is nie en hangende bly. Nie in die konteks van hierdie gesprek nie, maar dalk in alle debat, nasionaal en globaal van die vroegste tydperk tot en met die huidige …
Watter redes en stawende bronne sal beskou word as geldig? In die lig van dit wat alreeds bespreek is tussen ons, is dit duidelik dat dit nog nie opgelos is nie.” Maar die kwessie is dat die nie vir jóú (en ander wat soos jy oor die Woord dink) opgelos is nie. Dit bly slegs vir jou (julle) ‘hangende’, ‘onopgelos’. Maar vir die ware gelowige bly daar niks hangende of substansieel onopgelos nie. By daardie gelowige is daar nie twyfel nie. Hy wéét God bestaan. Hy wéét dat hy ’n verhouding met God het. Hy wéét dat God se Woord betroubaar is. Hy ervaar die Hand van God in sy lewe – onmiskenbaar.
Maar vir jou? Is niks daarvan kennis nie. Vir jou is alles daarvan ’n lakune, wat jy poog te vul met allerlei bronne wat self in die lakune ronddelf. Daarom is die bronne wat jou basis van argument vorm, nie betroubaar nie, want dit breek nooit uit die lakune nie, né, poog nie om dit te doen nie. Daarom dat daar vir jou (julle) geen vordering is nie, behalwe net regressief al dieper indie lakune in. Julle vermy gewoon die bronne wat aandui en verklaar dat daar inderwaarheid nié ’n lakune hoef te wees nie, dat die lakune ’n keuse is, van jóú, nie ’n noodwendigheid nie. Dan vra jy die kruksvraag - wat sal deur beide van ons as ’n aanvaarbare stawende bron aanvaar word? Ervaring, Wouter. Welkom tot my wêreld met God! Hartlik welkom. Daar is vir jou ’n geopende deur… Maar as jy nie (wil) inkom nie … sal die labirint van die wêreld jou nog lank kan rondslinger.
Groete,
Kobus de Klerk

