Wouter en geloof

  • 0

Wouter

Jesus Christus die HERE die opstanding het met die val van die Romeinse Ryk niks te make nie. Christus is nie ’n politieke figuur nie en Hy hou Homself uit die menslike politieke debakels.

Maar dié soort van redenasie van jou wys daarop hoe jy die rol van die Christus nie verstaan nie. Die Romeinse geskiedskrywers het oor die algemeen nie veel oor die HERE geskrywe nie, omdat HY baie duidelik vir hulle geen politieke bedreiging ingehou het nie en daarvoor het die verhoor deur Pilatus behoorlik gesorg. Ek dink nie jy begryp die belang van daardie verhoor vir die Romeine van die tyd nie – die Jode van destyds het ’n messias verwag, ’n politieke stryder wat die Romeine polities sou verslaan, nie ’n Spirituele Verlosser nie – hulle het mos juis gedink hulle het alle skennis in pag ... Dít was vir die Romeine belangrik toe die Jode die klagtes teen Christus gaan lê het – van sogenaamde hoogverraad. Maar Pilatus het Christus deeglik verhoor en in daardie verband is Johannes 19:10-12 van deurslaggewende belang – geen politieke aspirasies. Daarmee is die Romeinse belangstelling in Jesus Christus van staatsweë afgehandel. Waarom sou Romeinse geskiedskrywers hulle verder daaroor skrywe?

Maar Christus se ingryping op die lewens van mens is op Spirituele vlak en daarom word daar in die Spirituele bronne, waarvan die Woord die belangrikste en die maatstaf is, breedvoerig oor Christus Jesus geskrywe. Rome se ondergang is nie polities bewerkstellig nie, maar Spiritueel. Die Romeinse ryk het tot ’n val gekom weens losbandigheid en korrupsie, welke alles uitkristalliseer na spirituele sondes – rebellie teen God en hebsug. Die ondergang van Rome is spiritueel al eeue voor die val daarvan deur die profeet Daniel geprofeteer, nes Persië en Alexander die Grote, ens.

Wat die res van jou brief aanbetref en spesifiek na jou verwysings na Lewis ens, kan dit maklik afgehandel te word deur daarop te wys dat God se Woord inderdaad onveranderlik is, want God se Woord is universeel relevant en verteenwoordig alreeds álle kennis, en terwyl omstandighede en kennis vir die mens met sy beperkte vermoëns voortdurend “verander”, is dit nie só met God nie. Daarom sal die Woord van God wat duisende jare gelede reeds uitgegee is, vandag nog net so relevant wees, omdat God tydloos is en Sy Woord derhalwe universeel mutatis mutandis altyd ewe relevant is, uitgegee met voorkennis. God in Sy Woord is nie gebonde of onderhewig aan menslike sosiale en kultuurveranderinge nie en ook nie wetenskaplike “vooruitgang”, nie, maar andersom. Aan God behoort alle kennis wat bestaan en dit is die mens wat met die verloop van tyd gewoon besig is om dié kennis stukkie vir stukkie baas te raak … die mens is só nietig. Daarom is dit ongekend dwaas dat die mens sal beweer dat ware geloof en ware Godsdiens, welke eintlik direk handel met en omtrent onveranderlike kennis van en verhouding met God in Sy alwetende tydloosheid, moet “aanpas by veranderende tye”, of erger nog, irrelevant is. Die ironie is dat sommige mense wat beweer dat hulle kennis nastreef (wetenskap), verseg om die ware Bron van Kennis, van naderby te leer ken.

Dit is die mens wat moet aanpas, want God (Ek Is – Yâhovah hayah), ís reeds álles en is daar gewoon geen sprake van Goddelike of ware Godsdienstige “aanpassing” nie. God is volkome onafhanklik van die mens, terwyl die mens volkome afhanklik is van God.

Dit is egter die bogenoemde aspekte en dit wat dit vir jou persoonlik as mens inhou, in jou “moderne” lewenstyl, wat maak dat jy stry teen jou natuurlike behoefte om God te aanvaar en te dien.

Groete

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top