Word verhale vertel of geleef?

  • 1

Ek het hierdie week ’n baie insiggewende en interessante essay van die Franse fenomenologiese filosoof Paul Ricoeur gelees, naamlik “Life: A Story in Search of a Narrative” (1991). Daarin maak hy ’n bewering wat ek nie kon verhelp om onmiddellik woord vir woord in my notaboek af te skryf nie: “Stories are told and not lived; life is lived and not told.”

Wat bedoel hy daarmee? Ricoeur verwys met so ’n uitdrukking na die gaping tussen die wêreld van die teks en die wêreld waarin ons leef buite die teks. Hy beweer dat die lewe in stories nie dieselfde is as die realiteit nie en dat die teks nie die realiteit kan “representeer” nie.

Tog sou mens kon sê dat ons sosiale lewe ’n vorm van ’n storie of narratief is. Die “self” is immers ’n sosiale wese wat net deur narrasie sin en betekenis kry (deur verhale oor daardie self te konstrueer). Mense maak sin uit dit wat met hulle gebeur deur te probeer om gebeurtenisse binne een of meer verhale te integreer. So wys advertensies nie net vir ons produkte nie, maar vertel vir ons verhale van mense met selfone, mense met splinternuwe motors, mense wat eet, slaap, liefhê, werk en speel. Ook sou mens kon kyk na die verhale wat politieke partye vertel om meer stemme te werf. Die verhaal van die party word op so ’n manier vertel dat ons in ons verstand ’n verhaal daarvan konstrueer – ’n verhaal van ontbering, onderdrukking, revolusie en opkoms, byvoorbeeld in die geval van die ANC. En wat is facebook anders as ’n platform waarop ons die verskillende gebeurtenisse van ons lewe as ’n tipe verhaal kan konstrueer?

Narrasie beteken om verhale te vorm. Dit organiseer insidente of gebeurtenisse in ’n verstaanbare geheel – ’n enkele verhaal. Daarom is dit so dat wanneer ons tekste, stories of verhale lees, die illusie van verenigde identiteit geskep word. ’n Verskeidenheid ervarings word in reeks/opvolging geplaas met betekenisvolle konneksies. Wat ook al gebeur is nie net toevallig nie. Elke gebeurtenis dra by tot die ontwikkeling/voortsetting van die storie. Word die chaos van die lewe deur taal, deur narratief, getem – die narratief wat daardie chaos representeer en die illusie van eenheid skep? Elke facebook-blad, sou mens kon sê, is ’n platform wat die illusie van die eenheid van ’n identiteit aanbied.

So sien Ricoeur “taal” as beide die fondament én die ontwerp van mens se ontmoeting met realiteit. Taal is die poging om sin te maak van die wêreld. Is dit wat met ons gebeur, of ’n reeks episodes in ons lewe die ankerpunte van ons lewensverhaal? So is die lewe, aldus Ricoeur, ’n aktiwiteit op soek na ’n narratief.

Volgende week meer oor dié ingewikkelde, dog fassinerende tema.

Rentia

Bibliografie

Ricoeur, P. 1991. Life: A Story in Search of a Narrator. In MJ Valdéss (red), A Ricoeur Reader: Reflection and Imagination. Toronto: Universiteit van Toronto.

 
  • 1

Kommentaar

  • Hallo Rentia

    Aanvulling tot:  "Stories are told and not lived; life is lived and not told" die volgende:  ontelbare "stories" in nuusmedia,  wat eintlik glad nie "stories" nie,  is  verslae oor gebeure wat  heeltemal teenoorgesteld is tot  "fabels, feeverhale of  sprokies, kortverhale en sages in fiksie," maar word nietemin deur joernaliste "stories" genoem. Dus kan ons maar  knippies sout neem met  verorbering van Ricouer se bewering dat die lewe in stories nie dieselfde is as die realiteit nie, en dat  die teks nie die realiteit kan "representeer" nie.

    Representasie van realiteit is juis wat tv-nuus poog om te doen, veral nuusdiense soos "eyewitness"-news, en met 9/11 het groot gedeeltes van die mensdom op aarde dieselfde dag nog gesien hoe word geskiedenis gemaak toe twee wolkekrabbers ineenstort!  Die realiteit  was die storie!  "Representasie" was onnodig en ongevraagd. 

    Op Valentynsdag vanjaar het Suid-Afrika en ook groot gedeeltes van die wêreld via die internet kennis  geneem van word 'n wêreldbekende held binne ure 'n "moordenaar" per aanklag en per verloop van gebeure. Weer eens was die realiteit die storie.

    Dit is juis ook wat veral Hollywood (en selfs ook Bollywood by uitsonderlike gevalle) poog om te doen  in sommige flieks wat gemaak word van verhale wat in die werklike lewe afgespeel het. "The intention is for reality to be artivated - not represented!"
                                                                                                                                                  

    Met ander woorde: sommige stories is nader aan gebeure wat aanleiding gee tot sulke stories, bv verslae in nuusmedia as "stories in sepies" op tv.  

    Sommige, nie alle nie, "stories" word gestruktureer sodat hulle die "waarheid lieg". Google gerus "ik liegt de waarheid" en stel ondersoek in waarna hierdie woorde u lei.  Ek reken sodanige soeke, veral die
    "blog" daarna vernoem sal vir u net so interessant as Ricouer se bewering wees.

    In sommige gevalle word nie alle nie, maar slegs een aspek van 'n storie se "waarheid gelieg". Sodanige ervaring het ek beleef met 'n reklameveldtog. Ek het  twee dekades lank professioneel reklame geskryf, dit was lank genoeg om uit te vind dat reklame se verkoopskuns meestal gebruik maak van versigtig uitgesoekte aspekte in samestelling van enige "stories" wat gefrabiseer word ten einde doelbewus en doelgerig versinde beelde saam te kan saamstel. Vergeet van "teks wat nie realitiet kan 'representeer' nie". In reklame word die teks "die realiteit" ten spyte daarvan dat dit glad nie verband hou met werklikhede nie.

    Advertensies is die teenoorgestelde van nuusmedia se verslae oor die lewe  (of te wel "stories"), want reklame-"stories" maak baie dikwels nie gebruik van suiwer logika nie, maar laat doelbewus een of twee aspekte van suiwer logika weg ten einde meer imposant te wees en sodoende gedagtegange te kan manipuleer ten einde iets te kan verkoop.  Tweedens word  reklame vir verbruikers in die algemeen gemik op intellektuele vlak en begripvermoëns van twaalfjariges, (enigiets meer gevorderd werk nie). 'n Radioveldtog vir Early Bird TV hersteldiens wat ek in Afrikaans geskryf het , het byvoorbeeld gebruik gemaak van dieselfde byklanke as die Engelse veldtog vir dieselfde kliënt, maar is gegrond op PG du Plessis se Kooperasie-stories soos op tv gesien. Die stel  byklanke en die volgorde daarvan het die verloop van gebeure in die radio-veldtog se "stories" bepaal, maar die verteller die aktrise, Marie Pens, was lewensgetrou tot die manier waarop sy die oorspronklik stories geskryf  deur PG du Plessis vir tv-kykers vertel het.

    Dit is nie net die teks wat ter sprake is nie, maar veral  wat met die teks gedoen word, en dit is juis die geval in uitsaai-media!

    In ander gevalle, soos byvoorbeeld  in die Japanese film Rashoman word gespeel met die relatiwiteit van waarheid deur drie karakters wat elk 'n ander weergawe van die "waarheid lieg". In ander woorde, gestel, die teks van die dialoog soos geskryf in die draaiboek "repressenteer" die realiteit doelbewus op drie verskillende en drie  baie uiteenlopende weergawes.

    Vriendelike groete

    Henk Seymore
    10 Augustus 2013
     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top