Woordverworpe

Foto: Canva
Wanneer ek myself
in die stiltes verloor
en in donkerte tas na my pen,
raak ek beangs oor die vlam
van die drang om te skryf
wat hygend in my versmoor …
… idees vertrap mekaar nie meer
om los te breek nie,
woorde stoei nie meer speel-speel
rondom digreëls wat spook
om sin te maak nie,
karakters sing en dans nie meer
spontaan in my gedagtes
soos voorheen, toe ek hulle
soos ’n skouspel beleef het, nie;
inteendeel vég hulle nou
woordverworpe
deur winde van verwerping
waar lugdigte leemtes
soos donker wolkbanke
oor my skeppingsdrang hang
kaalgat gestroop, van kleur en struktuur.


Kommentaar
Pragtig! Uitsonderlik! Briljant!
Baie dankie Pieter, ek waardeer die mooi woorde en saamlees opreg.