
Foto: Canva
Woordskerwe
skerp punte,
sinne aan’t sterwe,
waardelose munte,
wat kosbaar is,
wat niemand wil hê,
wat ’n uitveër uitwis
op ’n stukkie papier, wat nou eenkant lê.
Ek weet selfbejammering
sal geen indruk maak
op ’n leë gemoedskakering,
sonder kleur en saak.
Luister liewer na Heavy Metal eerlik
as ballades in discord vals,
wat musiek is besweerlik
en net pyn op kan dans.
Wat is al dít dan
behalwe ’n golf,
wat die lewe omslaan as hy kan
en jou omdolf?
Moenie worry nie bloed gee die glas kleur
en word ’n roosvenster heilig hoog gehang in ’n katedraal.
Woorde en daai stukkie papier lê nou opgeskeur,
sonder betekenis – kaal.


Kommentaar
Nice! Solank jy net nie na Iron Maiden luister nie, Jannie! Hulle is uitgesproke ondersteuners van poetin en rusland. Laasgenoemde laat baie glas breek en vlek met bloed in Oekraïne. Maar ons moet inderdaad worry, want voor dit egter roospanele in die heilige hoogtes van die katedraal kan word, moet die Erebus eers verslaan en oorwin word. Die Christendom, waarop die westerse wêreld en demokrasie gebou is, se fondasie rus op beendere en bloed. In die skadu van sy glorie is daar geen waarborg dat die kloktoring sal bly staan nie, dat die skerwe nie op die ashoop sal beland nie. Die barbaarse bees lig weer sy kop, en skud aan die poorte.
Goeiedag Chris. Ek sou graag 'n bron wou sien ter stawing van jou opmerking. Iron Maiden is 'n Britse swaarmetaal rockorkes. Hulle het klomp ondersteuners in Rusland, omdat hulle soort musiek baie gewild is daar. Dit op sig self beteken nie dat hulle vir Putin of die oorlog steun nie. Ten spyte van talle soektogte op die internet kon ek nie een berig of bladsy opspoor wat vir my bevestig dat Iron Maiden vir Putin of die oorlog steun nie. Mens sou dink dat, sou die lede van die orkes so posisie handhaaf, daar heelwat reaksie daarop sou wees van reg oor die wereld. Ek is natuurlik oop vir oortuiging. Verskaf gerus 'n betroubare bron, dan kan ek ook ingelig wees.