Dis 'n prentjiemooi dag op Stellenbosch: so mooi dat jy voel asof jy binne-in een van die poskaarte by Oom Samie se Winkel beland het. Dis ook die eerste Maandag na die jaarlikse Jool-naweek. Die studente is vandag weer terug voor die boeke en die dorp wemel van toeriste wat nuuskierig die historiese geboue bekyk en heeldag op die restaurante se stoepe sit en wyn drink.
Maar vandag moet jy veral mooi trap vir glasskerwe in die strate. 'n Man sit op die bankie langs die Eersterivier en pak 'n inkopietrollie vol glasbottels, wat hy waarskynlik weer sal inruil vir 'n vol bottel of twee. Hy is nie alleen nie, want sy kamerade sit om die draai en hou by nog twee trollies wag. Hulle is al douvoordag by al die koshuise en restaurante se vullishope verby. Beslis nie 'n toeris of Dalsig-inwoner se idee van poskaartmooi nie.
Adrian van Wyk, bekend as die slam poet Adrian Different, se eerste klas is eers om 16:00, maar hy is al vroeg op. Hulle is hard besig met voorbereiding vir die Universiteit Stellenbosch se Woordfees, wat in Maart plaasvind. “Dis net om die draai, man!” herinner hy my toe ons vir 'n ystee by een van die boetiek-koffiewinkeltjies in Ryneveldstraat ontmoet. Ons sit langs die Joodse sinagoge en ek luister met een oor na die Amerikaanse uitruilstudente wat langs ons opgewonde gesels oor die beeldskone kampus. Oorkant die straat lê 'n man in geskeurde jeans, sonder 'n hemp, en slaap op die grasperk. Hy lyk nie in staat om vanoggend te skarrel nie – nog minder ‘n swaar trollie te stoot nie.
Adrian Different Foto: Chrizane van Zyl |
“Ja, Stellenbosch nè,” kyk Adrian my stip aan. “Ek dig gereeld oor die dorp en my experiences hier.”
Sy gedigte gaan meestal oor sy soeke na identiteit as jongman. En op die verhoog vra Adrian Different niemand om verskoning as hy moeilike onderwerpe soos ras en armoede aanspreek nie.
Pieter Odendaal |
Rimestein |
Adrian, Rimestein en Pieter Odendaal is van die digters en musikante wat tans aan 'n produksie genaamd Barakat werk. Die geselskap, wat op 10 Maart by die Boeketent optree, het gisteraand hulle eerste repetisie gehad. “Dit klink ongelooflik,” sê hy opgewonde.
Barakat is ’n samewerking tussen woordkunstenaars. Hulle verse word getoonset op jazz, hip-hop, blues en reggae dub-musiek. “Ons gee vir mense pitkos deur ons woorde.” Barakat is die Arabiese naam vir ’n seëning. “Dis gewoonlik ’n kospakkie wat iemand vir jou na ’n groot feesviering gee, met padkos om huis toe te vat.
“Jy kan jou kom verlustig aan ons woorde.” Hulle tree vanjaar vir die eerste keer by die US Woordfees op. “Ek’s op my senuwees, maar ook baie opgewonde,” vertel die 24-jarige van Kuilsrivier.
Sy ma het hom geleer om sy mond oop te maak as iets pla. “Dis sleg om goed onder die mat in te vee. As jy ’n kritiese denker is, en veral die geleentheid het om te studeer op hierdie dorp, dan kan jy nie stilbly oor die realiteite om ons nie,” sê hy.
“Kyk, ek is al baie keer ’n hotnot genoem en ek kon net nie langer stilbly nie.” Hy dig toe daaroor en die video is gou op YouTube en sosiale netwerke gedeel. “Baie mense was ontsteld, maar ek steur my nie daaraan nie. As jy nie hou van wat ek te sê het nie, moenie die video gaan kyk nie.”
“Maar jou verse is eintlik baie humoristies,” sê ek.
Hy lag effens skaam. “Ek probeer rêrig nie snaaks wees nie,” sê hy. “Ek hou daarvan om oor uncomfortable goed te praat en dis hoekom mense lag.”
Sy noemnaam, Adrian Different, kom al ’n lang pad saam. “Op skool was ek gespot omdat ek ’n groot kop het. Hulle het my Difkop genoem. Die naam het gestick en ek het op die mure in badkamers begin skryf: Diff-erent. En so het ek Adrian Different geword.”
Adrian studeer vir ’n honneursgraad in geskiedenis, maar in sy vrye tyd is hy aanbieder en koördineerder van die inZync-poësiesessies wat by die AmaZink LIVE township-restaurant gehou word. Hulle moedig oud en jonk aan om op hierdie platform gedigte te deel. “Ons doen nie net slam poetry nie. Daar’s tradisionele digters en hip-hop rappers ook.”
Hy was ses jaar oud toe hy vir die eerste keer van poetry slams en hip-hop hoor. “Dis soos rap sonder ’n beat,” verduidelik hy. Adrian het toe al begin skryf en op 17 sy eerste slam poetry-kompetisie gewen. Op 19 is hy genooi om twee jaar lank in China vir ’n graad in internasionale uitsaaiwese te gaan studeer.
Sy eerste ontmoeting met plaaslike hip-hop was op agtjarige ouderdom, toe sy broer vir hom ’n kasset gegee het. Daarop was ’n opname van The Head Warmers Show, ’n plaaslike hip-hop-programwat in die laat 1990’s op Bush Radio uitgesaai is. So het hy kennisgemaak met Prophets of the City, sy eerste hip-hop-helde, en ook die eerste Afrikaanse Kaapse groep, Brasse Vannie Kaap.
“My pa was ’n Afrikaans-onderwyser. Hy het op universiteit klas geloop by Adam Small en hy het van kleins af gedigte met my en my broer gedeel. Veral Peter Snyders en Vincent Oliphant het ’n groot invloed op sy lewe gehad.
“As dit nie vir daardie gedigte was nie, sou ek nooit geleer het om my taal te waardeer nie,” sê hy.
Dis nie vir hom maklik om op ’n verhoog te staan en oor hierdie onderwerpe te dig nie. “Ek wil ander mense aanmoedig om oor goed te práát,” sê hy. “Die dorp is honger vir innoverende denke en vars geleenthede,” sê hy. “Kom beleef die pitkos uit die Barakat en jy sal tien jaar jonger voel!”
Die gedig wat opslae veroorsaak het. |
Adrian tydens die Zapiro Colloquium in September verlede jaar, waar hy “Hier staan ek”voorgedra het. Die gedig is ook deel van die Barakat-produksie. |
Barakat | 10 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R20 by die deur |
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.